
Saartjie Baartman (Grafika: http://www.up.ac.za/en/news/post_2533094-op-ed-what-womens-day-means-to-me-remembering-saartjie-baartman-and-the-place-of-memory)
Die Universiteit van Kaapstad oorweeg tans die moontlike naamsverandering van die Jameson-saal op die kampus. Een van die name wat in openbare gesprekke opduik, is Saartjie Baartman, met die voorstel dat die saal die Sarah Baartman Memorial Hall genoem word. Die proses is nog nie afgehandel nie, maar Denver Breda laat sy gedagtes gaan oor wat sy gevoelens sou wees indien die keuse op hierdie naam sou val.
Wat is ’n naam? Dit gee mos identiteit, plek, geskiedenis, eienaarskap; baie meer as net ’n paar random woorde wat op identiteitsboekies of op geboue geskryf is.
Ek hoor toe die ander dag dat die Universiteit van Kaapstad (UK) Jameson Hall se naam wil verander na Sarah Baartman Memorial Hall, en met dit kon ek toe nou nie saamstem nie.
Nou dié is nou nie ’n renaming-debat nie, want ons weet daar’s pro’s en cons vir dit. Daar is tog sommige plekname wat beslis nie hoort in die nuwe Suid-Afrika nie, weens sy afbrekendheid en historiese seer, en tog plekname wat wel hoort weens sy historiese weg – name uit die gesamentlike bewussyn van Suid-Afrikaners.
Ons almal weet tog wie “Saartjie Baartman” of “Sarah Baartman” of die “Hottentot Venus” is soos sy ook bekend is. En hier sit ek haar naam tussen aanhalingstekens, want dié was nooit haar regte naam nie, dié was nie die naam wat haar ouers aan haar gegee het nie, nie die naam wat haar gemeenskap, ons KhoeSan-voorouers, erken het in die Gamtoosrivier in die Oos-Kaap nie.
Hierdie Khoekhoe- (Khoikhoi-) vrou was forseer om saam met Hendrik Cesars en William Dunlop die maande lange seetog Londen toe te maak, waar sy sou deelneem, teen haar wil, aan die barbaarse aanskoue van koloniale mense, wat haar en haar mense nie sien as mense nie, maar as diere, waar sy bespot was vir haar natuurlike liggaamsbou en haarself sou ophang, vergooi aan die goedkoop drank, want hoe anders, en sou in armoede en ellende in Frankryk alleen sterf.
Weg van haar mense, haar land, haar taal, die Afrika-son, haar kultuur, vasgevang in ’n tronk van vreemdheid en bespotting.
En dan sou dit honderde jare se stryd wees voordat haar oorskot, wat as museumstuk in die Paryse Museum (Musée de l’Homme, of die Museum of Man) uitgestal was, terug aan haar mense besorg sou word, en sy uiteindelik in Hankey, Oos-Kaap haar finale rus sou kry.
En dan wil die Universiteit van Kaapstad die Jameson Hall nou hernoem na die Sarah Baartman Memorial Hall.

Jameson Hall (Foto: https://www.iol.co.za/news/south-africa/western-cape/watch-arrests-made-after-students-try-to-shut-down-uct-11831621)
Nou wie was Jameson eintlik? Ek dink toe, nou dis die bekende whiskey, maar nee, die man was ’n mediese dokter en alom bekend as Cecil John Rhodes se regterhandman. Jameson is ook bekend as deel van die groep wat besluit het om “small pox” by mynwerkers verkeerdelik te diagnoseer.
En dan dink UCT dat ons as KhoeSan, Saartjie se afstammelinge, nou tevrede moet wees, dat ons moet spring in die lug van blydskap dat UCT die man wat deel was van die koloniale sisteem wat Saartjie lelik uitgebuit, geminag, verkrag en toe weggesmyt het, soos vullis, en met haar dood niks van haar oorskot gedink het nie, dat haar naam sy naam vervang.
Dat ook in Saartjie se dood haar mense nie besluit het oor haar legacy nie. Haar naam, soos haar lyf, sal dan weer in “Brittanje” wees, want al is UCT in Afrika, sy erfenis en siening van die wêreld is hoogs Brits, en by dié instansie word Saartjie dan op ’n koloniale gebou gesmeer.
Want tog, ook as ’n gebou se naam na Saartjie Baartman verander, verander niks tog in daai Memorial Hall nie – daai koloniale portrette, meubels en koloniale karakter, daai memories bly herinner in daai gebou. Is dit gewoonlik iets sleg, want is te veel vergeet tog nie ook gevaarlik nie? Luidens die sêding: mense wat onkundig is van hul verlede is geneig om die verlede te herhaal.
Sou hulle dan die gebou binne en buite verander, omskep in iets wat ons KhoeSan met respek uitbeeld?
In die Khoekhoe-taal is daar die amazing woord “kawakawas”, en dit beteken “restourasie”, en ek wonder of UCT dink dis hulle bydra tot ons restourasie as KhoeSan-mense, terwyl UCT, soos baie ander universiteite, voortbestaan op grond wat deur ons KhoeSan vir duisende jare bewoon was.
Die grond was tog nie leeg toe Cecil John Rhodes dit “skenk” aan UCT nie, maar hoe het hy tog die grond bekom? Tog was dit ons KhoeSan en slawe wat toe die universiteit moes bou. Ons bloed en sweet as KhoeSan, en waar is ons tog vandag op daai universiteit?
’n Plek waar baie min studente en dosente KhoeSan is, waar daar nie een KhoeSan-taal of program in KhoeSan-geskiedenis of -kultuur is nie.
Ek het juis in die begin van die jaar ’n dosent aan UCT ontmoet wat Portugees as taal gee, en ek vra myself, regtig?
’n Koloniale taal, om nie te vergeet wat die Portugese ook aan ons KhoeSan gedoen het nie, word aangebied, maar nie een KhoeSan-taal nie.
Ek het ook die hoof van die departement, Marius Lund, gekontak oor Khoekhoe-taal as vak, maar sy “bekommernis” was dat daar nie genoeg belangstelling in die vak sou wees nie. Bekommernis of verskoning?
En dan sukkel ek ook nou al heel jaar met die hoof van UCT se “renaming committee” oor die regte benaming vir hulle Huri ╪oaxa-gebou, wat UCT verkeerd spel, as Hoerikwagga, wat beteken “die see wat styg” in die Khoekhoe-taal. Ek vra toe nou mooi dat dit reg gespel word met beide die woorde en die klapklanke. Dis mos net reg en uit respek dat die naam reg gespel moet word.
In die verlede was ons maar net tevrede of onbewus van die KhoeSan-tale, maar nou het ons toegang tot bronne, die Khoekhoe-woordeboek, -ortografie en -onderwysers, en eerstetaal-sprekers. Ons kan nie die minagting en verkragting van wat sekerlik een van die oudste tale is, ’n taal wat na 23 jaar steeds nie as amptelik erken word nie, aanvaar nie.
Die laaste kommunikasie was dat hulle ’n Khoekhoe-taal-onderwyser sou kontak.
As UCT waarlik wil kawakawas of restoureer, sal hulle begin met acknowledgement van op wie se grond hulle is, en dan verseker dat alle KhoeSan-studente gratis onderwys ontvang. Dan word verseker dat daar baie meer van UCT se studente en dosente KhoeSan is. Nie wat ons nou sien nie, dat net die meerderheid van UCT se skoonmakers en labourers KhoeSan of bruin mense is soos hulle ons noem.
Ook dat ons KhoeSan-tale ten minste tot op doktorale vlak in Khoekhoe aangebied word, en programme in “indigenous KhoeSan language reclamation en revival” aangebied word, asook studies in ons KhoeSan-kulture, -geskiedenis en -erfenis.
Maar was daar ook konsultasie met ander KhoeSan groepe (ek besef ook hoe problematies dit is met al die oornag-selfaangestelde KhoeSan-chiefs en -konings) oor die besluit, want as hulle ’n KhoeSan-naam wil gee, is daar nie ook name van ander bekende KhoeSan wat in UCT se omgewing is nie, of was die naam Saartjie Baartman net maklik, want almal ken haar en hulle kon ook maar op die Saartjie Baartman “bandwagon” ry?
Ek was ook vertel dat ander KhoeSan ontevrede was dat ek nie dankbaar is vir die olyftakkie nie. Nee, tyd vir krummels is mos lankal verby.
Dan word ek herinner aan die sêding: Mense wat nie hulself respekteer nie, sal nie terugbaklei nie. En baie van ons respekteer nou ons KhoeSan-bloed, en ons sal die stem wees vir “Saartjie” en ons mense. Sementbektyd kan ons nie meer bekostig nie.
Ons weet daar was baie KhoeSan-vroue, -mans en -kinders soos Saartjie Baartman, maar geriefshalwe word die fokus net op Saartjie Baartman geplaas. “Clicko: The Wild Dancing Bushman” – soek hom gerus op. Het die universiteit nie ook ’n verantwoordelikheid om ander soos Saartjie Baartman op te soek en te vereer nie? ’n Universiteit wie se argief 60% van die KhoeSan is.
Nie net UCT nie, maar al die ander universiteite.
En dan lees ek ook van Cacadu-distrik in die Oos-Kaap wat in 2015 herbenoem is na Sarah Baartman-distrik om die “marginalisation” van die Khoekhoe-mense te “redress”. Nou nêrens word daar gepraat dat die herbenoeming enigsins die marginalisering van KhoeSan-mense by UCT gaan aanvat nie, of glo UCT, soos baie in Suid-Afrika, dat KhoeSan-mense net in die Noord-Kaap, Namibië en Botswana bly?
Is dit weer uit “selective memory” dat hulle nie wil erken dat die meerderheid van die Wes-Kaap se bruin mense van Manenberg, Valhalla Park, Parkwood, Ocean View, Heideveld, Lavender Hill, Paarl, Stellenbosch, Worcester ens eintlik KhoeSan-mense is nie?
Is dit ons skuld dat ons voorouers lelike “kleurling”-rasseklassifikasie moes aanvaar? Dat ons onself soek in leuens?
Inteendeel word daar nou gebou aan die Sarah Baartman Remembrance Centre. En dit is nie Sarah se Khoekhoe-naam nie, maar dit is ’n splinternuwe plek wat gebou word om haar te vereer; haar naam word nie gesmeer om koloniale geskiedenis te verwyder en te vergeet nie. Hierdie sentrum is sowaar kawakawas en UCT kan en moet gaan leer by die Sentrum.
Weer eens, wat gedoen was aan ons KhoeSan-mense kan nie net vergeet word deur die oprig van ’n gebou nie, maar hierdie is ’n projek wat ek kan ondersteun.
Kommentaar
Man, ek sou die stuk oorspronklik gevind het, as dit dan ook nou in Khoisan vertaal was en nie in die beweerde koloniale taal van Afrikaans nie.