
Foto: Canva.com
Saam in jou spelonk
(opgedra aan ’n engel wie se vlerk beseer is)
Ek sou graag saam met jou wou sit
en kyk oor die vlakte
waar die mense
rondskarrel
soos miere
in hulle 4x4-motors
om tog net weg te kom
van hulle leë huise
waar die enigste welkomgroet
die matjie op die stoep
by die voordeur is.
Of ons kan saam op ons rûe lê
op die bodem en
die nattigheid van die
eensame aarde
voel
en kyk
na die stalaktiete
wat deur eeue heen
van bo af drup ...
En as die son dit regkry
om na binne op hulle te skyn
kan ons ons verkyk aan
die prisma van kleur
wat dit stuur
na die wande
van jou
grot.


Kommentaar
Dit is besonders Estelle. Kom uit jou hart.
Die beeldspraak is so ryk en kleurvol. Enige grotbewoner kan net dankbaar wees om iemand te ken wat bereid is om ook die spasie te verken. 'n Pragtige gedig.
Hierdie gedig is pragtig. Die lees daarvan raak iets baie diep in die hart.
Dankie Lydia, Marian en Driekie
Baie goed verwoord, Estelle. Dis kosbaar!
Mag daar al hoe meer son en kleur die grot verlig en jou vriendin se seer vlerkie genees.
My vriendin jy en dit is so kosbaar.