
In dieselfde periode wat Donald Trump sy 100 dae in die Withuis gevier het, het daar ook ’n aantal verkiesings plaasgevind wat betekenisvol was. Die verkiesings het in Kanada, Australië en Singapoer plaasgevind en ’n vierde, wat ook merkwaardig was, is ’n tussenverkiesing en plaaslike verkiesings in die Verenigde Koninkryk. Al hierdie verkiesings het dit gemeen dat hulle die Britse tradisie van enkellidkiesafdelings, of variasies daarvan, volg, wat daarop neerkom dat daar in elke kiesafdeling een persoon verkies moet word. Kenmerkend van hierdie eerste-verby-die-wenpaal-verkiesings, is dat persentasie steun op nasionale vlak en verkose lede tot ’n wetgewer nie noodwendig in verhouding is soos met proporsionele verkiesings nie. Tweedens kan die invloed van die Trump-era in al hierdie verkiesings gesien word.
Die Kanadese federale verkiesing het eerste plaasgevind op 28 April 2025 en die nuutverkose leier van die Liberale Party, Mark Carney, het as wenner uit die stryd getree. Met die uittrede van Justin Trudeau as leier van die Liberale Party vroeg in 2025 is algemeen verwag dat Pierre Poilievre en sy Konserwatiewe Party die 2025 verkiesing sou wen. Die optrede van die Trump-administrasie om 25% heffings teen Kanada in te stel en Donald Trump wat na Kanada as die 51ste deelstaat verwys, het Kanadese politiek op sy kop gedraai. In die verkiesing wen die Liberale Party 169 setels (43,7% van die nasionale steun) en die Konserwatiewe Party 143 setels (41,3% van die nasionale steun). Bloc Québécois, wat meestal Franssprekende Kanada verteenwoordig, het 33 setels (23%) ingepalm. Om ’n volstrekte meerderheid te behaal moes Carney 172 setels gewen het, maar met 169 gaan daar meer stabiliteit wees as onder Justin Trudeau.
Op 3 Mei 2025 het die Australiese federale verkiesing ook plaasgevind en al 150 lede van die Huis van Verteenwoordigers moes vir ’n driejaartermyn verkies word. Die huidige premier Anthony Albanese se Arbeidersparty wen ’n tweede termyn met 85 setels uit ’n moontlike 150 (34,8% van nasionale steun), wat as ’n oorweldigende oorwinning beskou word. Die opposisie Liberale-Nasionale Koalisie wat ’n oorwinning verwag het, kry egter net 39 setels (32% van nasionale steun). Australiese kiesers het duidelik gestem vir stabiliteit van ’n regering om hulle deur die Trump-era te lei, ten spyte van nasionale vraagstukke soos lewenskoste en ’n behuisingsnood. Soos in Kanada, was daar min aptyt vir konserwatiewe politici in die Trump-era.
In Singapoer, wat ook op 3 Mei verkiesings gehou het, was die groot kwessie nie wie wen of verloor nie, maar eerder of die dominante posisie van die PPP (Peoples’ Action Party) enigsins sou verander. Die PPP het sedert 2024 ’n nuwe leier in Lawrence Wong en die PPP wen 87 setels (65,6%) teenoor die opposisie Werkersparty se 12 setels. Lawrence Wong het globaal indruk gemaak deur vroeg in die Trump-era vir pragmatisme te pleit in die era van penaliserende tariewe deur die VSA.
In die Verenigde Koninkryk het plaaslike regeringsverkiesings op 1 Mei 2025 plaasgevind. Dit is gewoonlik nie aanduidend van nasionale tendense nie, maar die mate waartoe Nigel Farage se Reform UK die plaaslike rade en setels ingepalm het, moet beide die Arbeiders Party, asook die Konserwatiewe Party baie bekommerd maak. Reform UK het 677 setels uit ’n beskikbare 1650 gewen en verskeie rade en burgemeesterskappe ingepalm. Alhoewel Farage in die 2024-nasionale verkiesing 14% van die steun op hom verenig het, kon hy slegs 5 setels in die Laerhuis kry, wat tipies van enkellidkiesafdelingstelsels is. Dit is duidelik dat die VK nie meer ’n klassieke tweepartystelsel is nie en dat die BREXIT-idees van Farage baie nou aanklank vind by Donald Trump se nasionalisties-ekonomiese benadering.

