SA-illustreerders: Piet Grobler

  • 1

Naam
: Piet Grobler

Skrikkels, deur Piet Grobler  

Wat is jou day job?

Senior lektor in illustrasie aan die Universiteit van Worcester in die West-Midlands, Engeland

Is jou werk al gepubliseer? Noem titels van die boeke/uitstallings waarin jou werk verteenwoordig is. (Net die mees onlangse publikasies is reg as die lys baie lank is.)

Ek sal die laaste klompie noem vanaf die mees resente.

Boeke

Aesop fables deur Beverley Naidoo
All the wild wonders – poems of our earth, saamgestel deur Wendy Cooling
Die mooiste sprokies van Grimm deur Marita van der Vyver
Ballade van de Dood deur Harry Jekkers en Koos Meindert
Colours! Colores! deur Jorge Lujan
Fussy Freya deur Katerine Quarmby
Makwelane en die krokodil deur Maria Hendricks
Het vogeltjes ABC (ek self is die skrywer)
Accidente Celeste deur Jorge Lujan

Uitstallings

’n Reisende uitstalling na vyf stede in Japan van pryswenners van die Biënnale vir Illustrasie, Bratislava (2010 en 2011)

Uitstalling van boeke op die kortlys van die Goude Penseel kompetisie in die Rijksmuseum, Amsterdam. (Ek lieg nie. Die Hollanders is nogal erg oor hulle prenteboeke.) (2010)

Groepsuitstalling: Show and tell: The picture book makers, Anglia Ruskin University in Cambridge (2011)

Groepuitstalling van prenteboekillustrasies, Universiteit van Santiago de Compostelo in Spanje (tans aan die gang)

 

 

In watter medium werk jy die graagste, en waarom verkies jy die spesifieke medium?

Ek wissel dit af na gelang van wat die teks dikteer. Maar ek moet bieg, as ek haastig of lui of laat is, sak ek terug in my gemaksone van ink en waterverf.

Is daar spesifieke genres of tipes tekste wat jy die graagste illustreer?

Ek is geneig tot lawwigheid en ligsinnigheid, maar ek het ook ’n liriese streep. Maar kom ons sê maar humor staan my aan.

Wie is jou illustrasie-helde? Is daar ander illustreerders wat jou ontwikkeling as illustreerder en jou styl beïnvloed het?

Ek is nie bewus van ’n direkte invloed nie, maar ’n paar prenteboekillustreerders bewonder ek om verskillende redes:  Kveta Pacovska vir haar ontwerp- en kleursin; Wolf Erlbruch om die verfrissende  mengsel van meegevoel en spot waarmee hy sy karakters skep; Lisbeth Zwerger om haar onverbeterlike waterverftegniek; Stasys Edrigevicius om sy melancholie. En my boet Diek se magies-realistiese narratiewe en sy belaglike humorsin.

Lees jy graag, en indien wel, wie is jou gunsteling-skrywers?

Ja. Cormac Mc Carthy, Annie E Proulx, Ian McEwan, Marlene van Niekerk en Ingrid Winterbach.

Wat is die een bestaande teks wat jy die heel graagste sou wou illustreer?

Alice in Wonderland spook by my. Aldre Lategan by Human & Rousseau het my meer as tien jaar gelede gevra om André P Brink se vertaling te illustreer. Uit pure vrees en besluiteloosheid het ek soveel jare uitgestel dat iemand anders gevra is (wat dit sonder wroeging in ’n maand of drie kafgedraf het). So vyf jaar gelede het my Nederlandse uitgewer, Lemniscaat, gevra of ek lus is om Alice te illustreer ...

Saam met watter skrywer, lewend of dood, sou jy die graagste wou werk, en waaroor sou die fiksionele boek handel waaraan julle werk?

Ek wil graag met my eie stories werk en ook nog ’n keer ’n boek saam met Philip de Vos maak. Weer ’n klomp Annie MG Schmidt-verse  sal ook lekker wees, dankie.

Het jy ’n ideale leser/gehoor in gedagte wanneer jy ’n illustrasie maak?

Nee. Ek glo nie aan so iets nie. ’n Mens illustreer vir ’n teks, soos jy dit verstaan. Nie vir ’n gewaande leser nie.

Dit lyk of illustrasie ’n familiekwaal onder die Groblers is. Hoe het die illustrasie-gogga jou beetgekry? Teken jy al van kleins af? Hoe het illustrasie in ’n beroep ontaard?

Ek teken vandat ek kan onthou. As klein seuntjies het ek en Diek selfs op die wit spasies in Sarie Marais en Landbouweekblad prentjies geteken. Ons het enige groot koeverte wat vir my pa aangekom het, buite volgeteken en dan oopgevlek en binne ook geteken. Siestog, ons het nie genoeg tekenpapier gekry nie.

In ’n onderhoud met Cape Review sê jy: "I believe that all art is essentially illustration, that all work is narrative." Ek sien op jou webwerf jy het ook ’n Honeurs-graad in joernalistiek. Was jy al ooit lus om self te skryf? Nie net prenteboeke nie, maar dalk ’n roman of so?

Ek is nie geduldig genoeg om ’n roman aan te pak nie en ek sal eers wil weet dat ek baie goed is voor ek kortverhale sal probeer publiseer. Maar ek dink daai droom is nou verby. Ek kry nie eers meer tyd vir my prenteboeke nie en dit grief my.

 

 

Wat is die belangrikste les wat jy as illustrasiedosent by ’n jong illustreerder sou wou tuisbring?

Leer lees.

Dink jy jou agtergrond in teologie het enige spesifieke invloed gehad op jou benadering tot illustrasie?

Nie noodwendig opsigtelik in my werk self nie, behalwe dat mens sekerlik humorsin het as jy jou ooit in die teologie of bediening begeef het. Ek meen daardie agtergrond het wel ’n invloed op die manier waarop ek alle werk aanpak. Die Calvinistiese werksetiek het ek met moedersmelk ingekry. Ek meen ook dat ek nogal deernis het met mense (wat nie uitsluit dat ek hulle ook beleefd kan vloek nie).

Aan watter projekte werk jy tans?

Eintlik aan niks nie, want ek is moeg. Maar ek behoort te werk aan The Bojabi Tree deur Dianne Hofmeyr.


Kliek hier vir Maryke van Velden se illustrasie-album.

Kliek hier vir Diek Grobler se illustrasie-album.

 

  • 1

Kommentaar

  • Maria Hendriks

    Haai daar. My naam is Maria Hendriks. Ek het Makwelane en die Krokodil geskryf.  

    Ek probeer met Piet Grobler kontak maak.  Kan. jul my asseblief help.

    Kontak hom via sy webwerf:
    http://pietgrobler.com/ - LitNet

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top