SA Akademiepryse 2017: nominasies ingewag

  • 0

Graag vestig ons u aandag op die Akademiepryse wat gedurende 2017 vir toekenning oorweeg word. Volledig gemotiveerde voorstelle vir enigeen van hierdie pryse word ingewag. Die volgende geld ten opsigte van die voorstelle:

  • Voorstelle moet verkieslik in Afrikaans wees.
  • Dit moet deur ’n voorsteller en ’n sekondant onderteken wees.
  • Die voorstel moet duidelik motiveer waarom die bepaalde kandidaat/instansie vir die bepaalde bekroning voorgestel word. Daar moet ook duidelik aangetoon word watter spesifieke publikasies/bydraes as bekroningswaardig beskou word.
  • Die voorstel moet gesteun word deur die nuutste curriculum vitae en publikasielys van die kandidaat, indien van toepassing.
  • Die grootste mate van vertroulikheid moet gehandhaaf word. Onder GEEN omstandighede moet die kandidaat bewus wees dat hy/sy vir ’n prys genomineer word nie. Dit het al in die verlede gebeur dat daar by potensiële kandidate verwagtinge geskep is wat vir die betrokke kandidaat en vir die SA Akademie groot verleentheid veroorsaak het.
  • By die toekennings van pryse is die Akademieraad se besluit finaal. In die geval van ’n nominasie wat nie suksesvol was nie, sal GEEN korrespondensie of gesprekke ná die toekenning gevoer word nie – nie met voorstellers nie en ook nie met kandidate nie.

Reglemente vir die onderskeie pryse is op aanvraag beskikbaar.

Die finale sluitingsdatum vir voorstelle is 31 Januarie 2017, behalwe waar anders vermeld.

GEESTESWETENSKAPPE

Stalsprys

Die Stalsprys vir Geesteswetenskappe word jaarliks toegeken vir ’n hoogstaande publikasie of ’n reeks van hoogstaande publikasies, by voorkeur, maar nie uitsluitlik nie, in Afrikaans. Verder word dit toegeken vir individuele of vir gesamentlike wetenskapsbeoefening en/of die lewering van individuele of gesamentlike produkte van hoogstaande gehalte waardeur buitengewone bydraes tot die wetenskapsbeoefening gemaak is. Spanprestasie of bydrae tot spanprestasie, multi- en interdissiplinêre navorsing, uitstekende implementerings- of evalueringsnavorsing kan ook in berekening gebring word. Werk wat voor die bekroningsjaar gelewer is, sal vir die bekroning in aanmerking geneem word.

Die volgende vakgebiede kom in 2017 in aanmerking:

  • Maatskaplike werk; Verpleegkunde
  • Opvoedkunde; Bewegingskunde; Rekreasiekunde
  • Geografie; Demografie; Omgewingswetenskap; Stads- en streeksbeplanning
  • Bestuur

Erepenning vir die bevordering van Geskiedenis

Die erepenning word elke drie jaar toegeken aan ’n persoon uit erkenning vir die bevordering van Geskiedenis oor ’n breë spektrum. Om vir die erepenning in aanmerking te kom, moet ’n kandidaat op die volgende terreine ’n dinamiese rol gespeel het of speel:

  • deur middel van publikasies (boeke en/of artikels) van gehalte in Afrikaans;
  • inisiëring van navorsingsprojekte wat tot publikasies en M- en D-grade gelei het;
  • aktiewe deelname aan en leiding in Geskiedenisvakverenigings
  • die lewering van gereelde referate en lesings oor Geskiedenisonderwerpe van gehalte
  • lidmaatskap van redaksies van Geskiedenisvaktydskrifte
  • bydraes tot die ontwikkeling van die onderrig van Geskiedenis

Sluitingsdatum vir nominasies: 21 Januarie 2017

Toon van den Heeverprys vir Regswetenskap

Die prys word toegeken vir:

  • oorspronklike regskundige werke in Afrikaans en/of
  • vollengte artikels of ’n artikel van hoogstaande gehalte in Afrikaans wat in geakkrediteerde regstydskrifte verskyn het en/of
  • baanbreker-regsuitsprake in Afrikaans.

Louis Hiemstraprys vir Niefiksie

Toekenning van hierdie prys word driejaarliks oorweeg vir ’n oorspronklike niefiksie werk in Afrikaans wat nie tot vakkenners beperk is nie.

Elizabeth C Steijnmedalje

Die medalje kan al om die derde jaar toegeken word aan ’n Afrikaanssprekende onderwyser of onderwyseres wat buitengewoon goed presteer het in praktiese onderrig en opvoeding in enige vakgebied binne, sowel as buite klaskamerkonteks. Kontak die Akademiekantoor asseblief om die kriteria vir beoordeling te bekom.

DF du Toit-Malherbeprys vir Genealogiese Navorsing

Die prys kan elke drie jaar toegeken word vir ’n hoogstaande publikasie of reeks hoogstaande publikasies in Afrikaans op die gebied van die genealogie wat voor die begin van die bekroningsjaar verskyn het. Die publikasie(s) moet bewys lewer van oorspronklike navorsing. ’n Eksemplaar van die kandidaat se werk wat genomineer word, moet die nominasie vergesel.

Protea Boekhuistoekenning

Die prys kan jaarliks om die beurt toegeken word vir die beste Afrikaanse verhandeling, proefskrif of gepubliseerde werk in geskiedenis of kultuurgeskiedenis. In 2017 kan die prys toegeken word vir ’n M-verhandeling. Kandidate wat in 2014, 2015 of 2016 ’n graad (cum laude) ontvang het, kom in aanmerking.

Esther Greeffprys

Die prys word toegeken vir die beste artikel wat in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe verskyn het.

NATUURWETENSKAPPE

MT Steynmedalje vir Natuurwetenskaplike en Tegnologiese Prestasie

Dit is een van die belangrikste eerbewyse van die Akademie vir leierskap op die hoogste vlak op die gebied van die natuurwetenskap en die tegnologie. Die prys span die kroon op ’n lewenstaak en kan net een maal aan ’n persoon toegeken word. Die kandidaat se skeppende bydraes tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van ’n vertakking of vertakkings van die natuurwetenskap of die tegnologie en wat as ’n wesenlike en belangrike bydrae tot die bevordering van die natuurwetenskap of die tegnologie beskou kan word, en die suksesvolle toepassing daarvan in landsbelang, moet aangetoon word. Slegs Suid-Afrikaanse burgers kom vir die prys in aanmerking.

Havengaprys

Die Havengaprys word jaarliks toegeken vir oorspronklike navorsing op natuurwetenskaplike en/of tegnologiese gebied. Die vereistes waaraan voldoen moet word by beoordeling van kandidate is eerstens navorsingspublikasies en tweedens bewys van die bevordering van Afrikaans. Ander prestasies in belang van die wetenskap sal ook in aanmerking geneem word. Die prys kan net een maal aan ’n bepaalde persoon toegeken word. In 2017 kom die volgende vakgebiede aan die beurt:

  • Havengaprys vir Fisiese Wetenskappe (Wiskundige Wetenskappe, Chemiese Wetenskappe, ens)
  • Havengaprys vir Lewenswetenskappe (vir navorsing op lewende materiaal, uitgesluit die mens) (bv Landbou, Biologie, Veeartsenykunde, ens)

Albert Stratingprys vir Voorkomende Geneeskunde

Die prys kan driejaarliks toegeken word vir voortreflike bydraes tot ’n vertakking of vertakkings van voorkomende geneeskunde wat as wesenlike bydrae tot die bevordering van die gesondheid van die gemeenskap en die voorkoming van siekte beskou kan word.

Erepenning van die SA Akademie se Fakulteit Natuurwetenskap en Tegnologie

Hierdie erepenning word toegeken ten opsigte van terreine wat nie reeds ondervang is deur ander bekroningsgebiede binne die Fakulteit nie en waarin enige persoon, binne die doelstellings van die Akademie, as bekroningswaardig beskou word. Dit word toegeken vir prestasies en bydraes ten opsigte van die bevordering en ontwikkeling van die besondere vakgebiede en word net in uitsonderlike gevalle toegeken.

Junior Kaptein Scott-gedenkmedalje vir Plantkundige Wetenskappe

Die medalje kan jaarliks toegeken word vir die beste verhandeling ingedien by ’n Suid-Afrikaanse universiteit vir die MSc-graad, om die beurt in die dierkundige of plantkundige wetenskappe. In 2017 kom plantkundige wetenskappe aan die beurt.

Sluitingsdatum vir nominasies: 21 Januarie 2017

Douw Greeffprys

Die prys word toegeken vir die beste artikel wat in die voorafgaande jaar gepubliseer is in die SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie.

KUNSTE

Hertzogprys vir Poësie

Alle poësie van hoogstaande gehalte wat in die drie kalenderjare wat die bekroning voorafgaan, verskyn het, kom vir dié toekenning in aanmerking.

Eugène Maraisprys

Die Eugène Maraisprys word toegeken vir ’n debuut of vroeë bellettristiese publikasie in Afrikaans. Die prys is jaarliks beskikbaar en kan net een maal aan ’n bepaalde skrywer toegeken word.

Akademieprys vir Vertaalde Werk

Die toekenning van die prys word driejaarliks oorweeg vir vertalings in Afrikaans van bellettristiese werk uit enige ander taal.

Huberte Rupertprys vir Klassieke Musiek

Die prys kan jaarliks toegeken word en enige van die afdelings in klassieke musiek kan in aanmerking kom. Die prys roteer jaarliks in die volgende volgorde:

  1. klassieke sangers (2017, 2020);
  2. opleiers/onderwysers van klassieke musiek (kundiges, beoordelaars en organiseerders ingesluit) (2018, 2021);
  3. instrumentaliste (klawer-, blaas-, snaarinstrumente, ens), blaasinstrumente (fluit, trompet, ens) of kunstenaars wat die volgende bespeel: klawerbord (orrel, klavier, klavesimbel) of strykers (viool, ens) (2019, 2022).

In 2017 kom klassieke sangers aan die beurt.

Erepenning vir ’n dokumentêre televisieprogram in Afrikaans

Die erepenning word jaarliks toegeken. Dit geskied om die beurt vir Afrikaanse televisiedramas (waarby dramareekse ingesluit is) en Afrikaanse dokumentêre televisieprogramme.

In 2017 kom Afrikaanse dokumentêre TV-programme aan die beurt. Programme wat uitgesaai is deur alle uitsaainetwerke in die drie kalenderjare wat die bekroningsjaar voorafgaan (2014, 2015 en 2016), kom in aanmerking.

Erepenning vir visuele kunste

Die Akademie se erepenning is bedoel as erkenning, binne die doelstellings van die Akademie, van besondere prestasie op terreine wat nie suiwer letterkundig of wetenskaplik is nie. Die volgende kunsvorme word ingesluit: skilderkuns, beeldhoukuns, argitektuur, weefwerk, keramiek, mosaïek, fotografie, advertensiewese en animasierolprente.

Erepenning vir toneelkuns en die Gerhard Beukesprys

Die Akademie se erepenning is bedoel as erkenning, binne die doelstellings van die Akademie, van besondere prestasie op die gebied van toneelkuns in Afrikaans.

Erepenning vir radiohoorspele in Afrikaans

Die erepenning word twee keer in ’n siklus van drie jaar toegeken. Dit geskied om die beurt vir Afrikaanse hoorspele (waarby radiovervolgverhale ingesluit is) en Afrikaanse hoorbeelde. In 2017 kom radiohoorspele aan die beurt. Werke wat uitgesaai is deur alle uitsaainetwerke in die drie kalenderjare wat die bekroningsjaar voorafgegaan het, (2014, 2015, 2016) kom in aanmerking.

Deleen Bekker-prys vir beste dokumentêre TV-draaiboek in Afrikaans

Die prys word jaarliks toegeken vir die beste draaiboek in Afrikaans. Die prys roteer jaarliks in die volgende volgorde:

1ste jaar: TV-drama in Afrikaans. TV-draaiboeke kom in aanmerking, hetsy ’n enkel drama of dramareekse (vir laasgenoemde mag slegs een episode uit ’n reeks voorgelê word) wat in die voorafgaande drie jaar gebeeldsend is;

2de jaar: Dokumentêre TV-draaiboek in Afrikaans. Draaiboeke van Afrikaanse dokumentêre TV-programme wat in die voorafgaande drie jaar gebeeldsend is, kom in aanmerking;

3de jaar: Rolprentdraaiboek in Afrikaans. Draaiboeke van Afrikaanse rolprente wat in die voorafgaande drie jaar vervaardig is, kom in aanmerking.

In 2017 kom ’n dokumentêre TV-draaiboek in Afrikaans aan die beurt.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top