SA Akademie wag voorleggings in vir die jaarlikse pryse aan skrywers van die beste Afrikaanse geakkrediteerde artikels

  • 0

AAN: REDAKTEURS VAN GEAKKREDITEERDE TYDSKRIFTE

Geagte Redakteur

I/S GEAKKREDITEERDE ARTIKELS IN AFRIKAANS

In die lig van die afname in die publikasie van geakkrediteerde akademiese artikels in Afrikaans stel die ATKV jaarliks ’n bedrag aan die SA Akademie beskikbaar vir die bekroning van wetenskaplike artikels in Afrikaans wat in geakkrediteerde tydskrifte (papierformaat of elektronies) verskyn het: R40 000 (R10 000 per artikel) vir vier artikels in die geesteswetenskappe en R20 000 (R10 000 per artikel) vir twee artikels in die natuurwetenskappe. Laasgenoemde sluit die ingenieurswese en die mediese wetenskappe in.

In verband met bogenoemde word u vriendelik versoek om een of hoogstens twee artikels (geskryf in Afrikaans) voor te lê wat na die mening van die redaksie beskou word as die beste wat in die gegewe tydperk in u tydskrif verskyn het.

Die volgende reëls geld:

  • Die voorgelegde artikel of artikels moes verskyn het in tydskrifaflewerings tussen Januarie 2013 en einde Desember 2014 – dus artikels wat die afgelope twee jaar verskyn het.
  • ’n Afskrif van die betrokke artikel moet saam met die name van die persone wat as keurders opgetree het, voorgelê word.  Laasgenoemde inligting sal vertroulik gehou word.  Die redakteur moet in ’n begeleidende skrywe kortliks motiveer waarom ’n artikel of artikels (hoogstens 2) hoog aangeskryf word.
  • ’n Kommissie van die Akademieraad sal die ingestuurde artikels beoordeel en indien nodig kenners op die betrokke vakgebied raadpleeg.  Geen korrespondensie sal oor die uitslae gevoer word nie.
  • Die bekroonde kandidaat moet bereid wees om die prysgeld in ontvangs te neem op ’n plek en by ’n geleentheid soos bepaal deur die SA Akademie in oorleg met die ATKV.
  • Die sperdatum vir inskrywings is 30 September 2015.  Geen laat inskrywings sal aanvaar word nie. Uitslae sal aan die einde van die jaar bekend wees. Inskrywings kan gestuur word aan linda@akademie.co.za

In die vorige ronde in 2015 is die prys aan die volgende persone toegeken vir artikels wat in 2012 verskyn het:

  • Prof. Susan Smith, Departement Afrikaans, Universiteit van Fort Hare vir haar artikel: Plek en ingeplaaste skryf. ’n Teoretiese ondersoek na ingeplaaste skryf as ekopoëtiese skryfpraktyk wat in LitNet Akademies, jg. 9, no.3, Desember 2012 verskyn het.
  • Prof. Jan Harm van Wyk vir sy artikel Van Christologie tot Jesulogie? Teologiese gesprek met Sakkie Spangenberg na aanleiding van sy boek Jesus van Nasaret (2009) wat in In die Skriflig, 46(1), 2012 verskyn het.
  • Prof. J.M. (Jannie) Otto, Departement Privaatreg, Universiteit van Johannesburg vir sy artikel Die afkoelreg in die Nasionale Kredietwet en die Wet op Verbruikersbeskerming wat in LitNet Akademies Jg. 9, no. 1, Maart 2012.
  • Prof. Fanie de Beer vir sy artikel Die polemologie vir die gees wat in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe, jg. 52, no. 1, Maart 2012 verskyn het.

Natuurwetenskappe:

  • Prof. Helgaard Raubenheimer, Departement Chemie en Polimeerwetenskappe, Universiteit Stellenbosch vir sy artikel Asikliese karbeenkomplekse maak eerste opslae in goudstormloop wat in LitNet Akademies, jg. 9, no. 3, Desember 2012 verskyn het.
  • Prof. Francois Durand en mede-outeurs vir hulle artikel Die karst-ekologie van die Bakwenagrot (Gauteng) in die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie, vol. 31, no. 1, 2012.

Versoek:
Die SA Akademie en die ATKV wil u graag aanmoedig om in u tydskrif se redaksionele riglyne op te neem dat artikels in Afrikaans ook geplaas sal word.

Die SA Akademie se Tydskrif vir Geesteswetenskappe plaas normaalweg alle artikels in Afrikaans (soms ook in Nederlands of Duits) en is 'n ISI-goedgekeurde tydskrif.

Die Akademie se SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie verskyn as 'n ooptoegangtydskrif en plaas eweneens slegs artikels in Afrikaans. Manuskripte word dikwels afgelaai, ook deur buitelanders wat trefwoorde op Google Scholar vind en dan die outomatiese vertaling op die webblad gebruik om die artikel te lees.

Vriendelike groete

Dr. Dionē Prinsloo
Hoof Uitvoerende Beampte

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top