Ryk Hattingh (1957–2017)

  • 0

Gebore en getoë

Andrew Ryk Hitchcock Hattingh is op 26 Julie 1957 in Benoni aan die Oos-Rand gebore. Sy pa was ’n prokureur en is kort voor Ryk se twaalfde verjaardag oorlede, terwyl sy moeder uit ’n bekende koloniale familie gestam het. Hy het ook sy familiename van sy ma se kant gekry.

Ryk het aan Elmari Rautenbach (De Kat, Julie 1995) gesê dat sielkundiges seker vir ’n mens sou vertel dat as ’n seun sy pa op so ’n jong ouderdom verloor, dit is soos ’n god wat dood is.

Oor Outa Toon, van wie Ryk in sy laaste roman Huilboek vertel, sê hy aan Murray la Vita (Die Burger, 29 April 2016): "Hier is ’n outjie en sy ma teken vier woorde aan en die vierde woord wat ek geleer het, is Te Tô (Outa Toon). Hy was ’n ongelóóflike belangrike figuur in my lewe en dan verdwyn hy net eendag toe ek drie of vier jaar oud was; ek weet nie wat van hom geword het nie. En dink aan daai verlies vir ’n kind. Die onnadenkendheid van die destydse wêreld, van daai ... van my mense. Dit was miskien ’n moderne soort slawerny. Mense het nog hierdie Boesmans ... dis verskríklik.

"Outa Toon dra ek nou ook soos ’n boom saam met my. En toe kry ek dié foto van hóm waar hy met sy rug na die kamera sit. Ek dink dié foto het nogal ’n groot invloed gehad ... Wat ek van die foto hou, is dat ek na hóm kyk; ek kyk nie na my pa nie. My pa was ’n boelie wat nie van my gehou het nie.

"Ek het Outa Toon ontmoet toe ek nog nie kon praat nie en dis amper ’n vóór-taal. En dít is waaroor Huilboek dalk op die ou einde gaan: die verlies wat ek gely het voordat ek kon praat. En dat, toe taal begin kom ... binnekom of intree, is daai wêreld vernietig. So taal het eintlik my paradys vernietig."

Ryk se vroegste onthou van taal is die stories wat sy ma vir hom vertel het – stories soos WO Kühne se Die land van wol en hare en die kerk en die voordrag van die Tien Gebooie "wat die hel onder jou vel laat inkruip het. Huppelkind en die Bybel het met ’n ding begin waarvan ek nog nie die einde gesien het nie" (aan Rapport, 1 Oktober 2017).

Voordat Ryk in 1975 in Benoni gematrikuleer het, was hy ook vir ’n jaar of wat op hoërskool op Groblersdal.

Verdere studie en werk

In 1976 het Ryk aan die Randse Afrikaanse Universiteit (nou UJ) ingeskryf, maar het nie sy jaar voltooi nie. Hy is na die Suid-Afrikaanse Weermag vir sy twee jaar diensplig, waar hy aan die hondeskool op Voortrekkerhoogte verbonde was.

Ná voltooiing van sy diensplig het hy student aan die Universiteit van Pretoria geword en in 1982 sy BA-graad met Afrikaans en Nederlands en staatsleer verwerf.

Ryk is in hierdie tyd met Celia getroud. Hy en Celia het hulle op Knysna in die Suid-Kaap gaan vestig en hy was vir onder andere ’n jaar lank Afrikaans-onderwyser by die Hornlee Senior Secondary School op Plettenbergbaai. Hy het ook in die biblioteek op Plettenbergbaai gewerk.

Hulle baba is doodgebore verloor en daarna is hulle geskei. Aan Elmari Rautenbach: "Ons het die nuus (van die baba se dood) gekry toe [Celia] reeds in kraam was. Ek was by met die geboorte. Op 24, 25 het mens net nie die emosionele vermoë om daardie totale verslaentheid te verwerk nie.

"Kort daarna is my jongste boetie in ’n motorongeluk dood. As ek kyk na my skryfwerk van toe kan ek letterlik die fragmentering van my denke sien. Ek dink nie mens verwerk ooit die dood nie. Tyd genees niks nie. Elke nuwe dood bring alles opnuut terug."

In 1985 het hy sy BA Honneurs aan die Universiteit van die Witwatersrand behaal en in 1986 het hy as vryskutvertaler gewerk. In 1987 het hy sy buiging as joernalis gemaak toe hy by Die Vaderland se redaksie aangesluit het.

Vanaf Februarie 1989 is hy joernalis by Vrye Weekblad en daarna uitgewer by Hond Uitgewers, waarna hy die eerste redakteur van die Afrikaanse pornografiese tydskrif Loslyf geword het. In sy vrye tyd het hy tromme in ’n progressiewe musiekgroep gespeel.

Oor die reaksie wat hy gekry het nadat Loslyf op die winkelrakke verskyn het, was Ryk filosofies: "Ek is deeglik bewus van waarmee ek besig is," het hy aan Elmari Rautenbach (De Kat, Julie 1995) gesê: "’n sekstydskrif in Afrikaans, met diep grawende foto's van meisies in seksueel prikkelende posisies met die soort taal wat in die volksmond vir seks gebruik word. Die koms van só ’n tydskrif sou beslis nie sommer net aanvaar word nie. Daarvoor is seks en die Taal twee heeltemal te sensitiewe onderwerpe vir die Afrikaner.

"Die grootste debat in die laaste paar jaar in Afrikanergeledere was rondom die sogenaamde 'suiwer' hou van Afrikaans en of dit die toekoms van die taal gaan bedonner of verseker. En om alles te kompliseer, is hier skielik ’n tydskrif vol Afrikaanse woorde waarmee geen fatsoenlike Afrikaner vereenselwig wil word nie. Boonop word die taal gekombineer met poedelkaal vroue. Ja, ek het reaksie verwag..."

Ryk het voortgegaan: "Die meeste mense weet nie wat pornografie werklik is nie. Pornografie werk met dieselfde elemente as die populêre whodunnit: ontvlugting, oppervlakkige intriges, fantasie. As jy dink dis abnormaal, is dit nie vir jou bedoel nie. ’n Amerikaanse regsprofessor, Carlin Meyer, het gesê: 'Porn is B-grade fantasy.'

"In ’n normale samelewing sou pornografie seker oorbodig gewees het. Maar daar is nog te veel repressie dat ons van ’normaal' kan praat. Ek propageer nie bandeloosheid nie. Eerder ingeligte keuses."

Ryk is weer getroud, met Marténe Mentis, ’n Engelse meisie van Griekse afkoms. Die gesin het hulle in Kensington in Johannesburg gaan vestig. Hulle was egter slagoffers van die geweldmisdaad in Suid-Afrika en in 1997 het hulle Suid-Afrika vir Nieu-Seeland verruil. Daar het hulle in Auckland gaan bly, waar Ryk die winkel Cobble oopgemaak het – hier het hy skoene reggemaak en sleutels gemaak.

Hy het aan Murray la Vita vertel van sy werk in Nieu-Seeland: "Dit is moontlik om hier klein te lewe en dat jy ’n skoenmaker kan wees en steeds ’n bestaan maak. Die kiosk waarin ek werk, is letterlik twee by vier meter. Dis soos ’n akwarium en ek skuif so ’n groot skuifvenster oop in die oggende en dan is my toonbank waarop ek werk tussen die mense wat na my venster toe kom en ek wat binne staan. Ek werk eintlik op straat.

"Ek het die winkel by ’n Slowaak gekoop nadat ek sonder sukses aansoek gedoen het om werk by koerante. Die man het my twee maande touwys gemaak met skoenmakery, ’n vaardigheid waarmee ek in my jong dae in Knysna al kennis gemaak het.

"Toe ek hiernatoe gekom het, was dit amper asof ek ’n tweede lewe begin het. En dit voel vir my of ek nog energie en lewe in my oor het om dalk ’n dérde lewe te doen. Miskien om na ’n kleiner plekkie te gaan en probeer om sonder ’n verband op ’n huis te leef en die laaste paar jare uit te sien deur dinge te laat groei ... Ek weet nie, ek het nie in my wildste drome ooit kon dink dat ek ooit ’n skóénmaker in blerrie Nieu-Seeland sal word nie."

In 1984 is Ryk se eerste prosawerk, Die tonnel, deur Minotaurus gepubliseer. Minotaurus was ’n onderafdeling van Taurus wat "klein" boekies uitgegee het en jonger skrywers ondersteun het. Hulle het ook MC Botha se eerste boek uitgegee.

In die verhaal word die leser bekendgestel aan Tomas Johannes van Aarde, ’n staatsamptenaar wat 13 telefone wat omtrent nooit lui nie, moet oppas. En ás hulle lui, lui almal gelyk. Hy ry heen en weer tussen sy huis en sy werk met die bus deur ’n "gewelddadige wêreld wat heeltemal apaties belewe word," het André P Brink in Rapport (2 Desember 1984) geskryf.

Wanneer Tomas probeer om kontak met ander mense te maak, is dit ook nie suksesvol nie: "[K]ommunikasie geskied uitsluitlik met homself, in ’n reeks dialoë waarin Tomas Johannes tegelyk spreker en gespreksgenoot is."

Toe Tomas eendag in opstand kom, gaan koop hy vir hom die nodige toerusting en begin grawe aan ’n tonnel vanaf sy huis om uit die wêreld uit weg te kom. "[D]ie onhoudbare van sy optrede – dat hy dit durf waag om nie te konformeer nie – bring ’n byna apokaliptiese reeks gevolge mee."

Vir Brink is daar "werklik pikante" oomblikke in die verhaal en is die "byna stroewe onpartydigheid van die verteltrant" baie goed volgehou.

Brink het egter sy voorbehoude gehad en was van mening dat die tekstuur van Die tonnel ’n bietjie "dun" was en dat te veel van die "betekenis" vooruit aangetoon word "sonder om die verhaal toe te laat om sy eie betekenismoontlikhede oop te skoffel".

"Maar die manier waarop die teks tog ook plek-plek se eie sekerhede ondergrawe, en die skrywer se netjiese greep op ’n stel beelde, is tog van so ’n aard dat mens daarna uitsien om weer iets – en ook iets stewiger – van hom te lees," is Brink se uiteindelike gevolgtrekking.

Johann de Lange se resensie word as volg afgesluit (Die Vaderland, 5 November 1984): "Die tonnel is dan uiteindelik ’n boekie wat handel oor die futiliteit van die tonnel waaroor dit handel; en by implikasie oor die feit dat individuele vryheid ’n illusie is."

Cecile Cilliers (Beeld, 25 Junie 1984) het haar twyfel oor sommige dinge in Die tonnel uitgespreek, onder andere die taalgebruik, maar vir haar kan dit nie sommer eenkant toe geskuif word nie: "Hattingh het ’n skerp sin vir die koddige en sy beskrywings boei. Die leser kan hom gerus dophou."

Vir LJ Venter (Volksblad, 10 November 1984) slaag die novelle nie in sy probeerslag om op satiriese wyse kommentaar te lewer op die mens en die wêreld waarin hy woon nie.

Ryk Hattingh se tweede novelle was Markus vermoed ’n verhaal wat in 1987 deur die destydse "alternatiewe" uitgewery Taurus gepubliseer is. En weer is dit nie ’n "konvensionele" verhaal nie.

In Volksblad van 13 Februarie 1988 noem Riana Botha dit "onnutsig, onthutsend, plek-plek onhebbelik, maar uiters leesbaar". Die titel impliseer al klaar dat die novelle gesitueer word te midde van die bekende spanning tussen skrywer en verhaal.

Botha gaan voort: "Dit gaan egter nie hier oor die 'verhaallose' verhaal van ’n skrywer 'wat voor sy tikmasjien sit en wonder waaroor om te skryf' nie, want tereg word daarop gewys dat 'hierdie plek' (te wete Suid-Afrika) ’n skrywersmekka is.

"Die spanning wat in hierdie verhaal voelbaar is, dring deur tot die wese van die verhaalkuns, naamlik die skrywer wat in sy manipulerende hoedanigheid sy stof moet selekteer, orden en verbaliseer. Hierdie gegewe is by uitstek die tema van die metafiksionele verhaal. Markus vermoed ’n verhaal is die skryfproses in wording. [...]

"Aanvanklik kan ’n duidelike onderskeid gemaak word tussen Figar Figari, verteller, digter en visionêr, Markus die skrywer, en die hele korpus karakters wat sporadies hul verskyning in die teks maak. Dit is ’n uiters self-bewuste verteller wat homself aan die woord stel. [...]

"Die verhaal word die kollektiewe komplekse verhaal van ’n veelheid uiteenlopende gesigspunte, of die visioene van Markus (alias Figar) wat vermoed dat ’n verhaal uit hierdie veelheid kan ontstaan. [...]

"Markus vermoed ’n verhaal is nie bedoel vir die leser wat skrik vir die eietydse afgryslikhede van rassisme, seks en geweld nie. Soos die oog van die kamera verbeeld die verteller, en die karakters self, die skokkende, die banale, die afskuwelike – maar lewer derhalwe implisiet kommentaar op hierdie gegewe. Deur die besondere gebruik van galgehumor word verkragting, owerspel, geweld as ’n 'understatement' aangebied. Hierdie knap novelle kan geen leser onbewoë laat nie."

Volgens André P Brink (Rapport, 28 Februarie 1988) gaan dit in Markus vermoed ’n verhaal oor wat Barthes in sy S/Z in 1970 geskryf het: "Wat vertel word, is die 'vertel' self. Op stuk van sake het die vertelling geen objek nie: die vertelling is net met homself gemoeid: die vertelling vertel homself."

Brink beskou hierdie werk van Hattingh as knap en vermaaklik, "met ’n lakoniese humor waarin ’n mens jou soms kan verkneuter – en ook irreverent genoeg om in sy speelse ondersoek van die relevansie van irrelevansie iets omtrent die 'gewig' van literatuur in die leser se gemoed aan die jeuk te sit", maar dit is ongelukkig nie ’n kragtoer nie.

Joan Hambidge sluit haar siening oor Markus vermoed ’n verhaal af met: "Ryk Hattingh se Markus vermoed ’n verhaal is een van daardie tekste wat soos ’n Rorschach-toets werk: wat die leser oor hierdie boekie te sê (of te skrywe) het ... verraai sy/haar ingesteldheid. Dit is terselfdertyd ook ’n ontstellende teks, maar een wat die moeite loon" (Die Vaderland, 11 Januarie 1988).

Ook Ryk se volgende boek, Ignatius Brand, is ’n novelle eerder as ’n volbloedroman en is ook deur Taurus uitgegee. Ryk het aan Paul Boekkooi (Beeld, 29 Maart 1990) vertel dat sy vertelling in Ignatius Brand nie meer soseer gebonde is aan blote eksperimentering nie, "hoewel dit stylkenmerke van my vorige twee publikasies bevat. Ignatius Brand voel vir my soos die afsluiting van ’n trilogie – die einde van ’n lang tydperk.

"Dit is ’n verkenning van die twee jaar wat ek op Knysna gewoon het; van ’n mislukte huwelik; ook ’n verwerking van die dood (my broer is in dié tyd oorlede). Dit is ’n baie persoonlike geskrif teen die agtergrond van die noodtoestand. Die boek eindig met my Johannesburg-ervaring."

In Beeld van 4 Februarie 1991 het AP Grové vir die leser so ’n bietjie agtergrond oor die verhaal gegee. Dit begin met ’n afgryslike toneel: Rogin Pluim en Ignatius Brand probeer om vasgekeerde varke van ’n verwoestende brand te red, maar Pluim word in die varkhok deur die vlamme verswelg en sterf dan self. "Die hele gebeure, wat in die boek fel beskryf word, sou ’n beslissende rol in Ignatius se lewe speel en telkens in sy gees terugkeer. Vuur en die dood wat daarmee gepaard gaan, staan immers in sy naam geskryf (Ignatius is afgelei van die Latynse woord ignis wat onder meer vuur of brand beteken) en sou hom vergesel tot aan die einde van die boek as hy in ’n granaatontploffing die lewe laat.

"Die begintoneel is dus in meer as een opsig ’n sleuteltoneel. Dit voorspel wat ons te wagte kan wees betreffende die vertelwyse van die skrywer én die rol van die held in die verhaal. [...]

"Dis ’n verhaal wat in meer as een opsig modern aandoen, maar die namelose vermoeidheid en lewensmoegheid wat so dikwels in die moderne prosa opval, is hier gelukkig afwesig. Hattingh se styl, sy taalaanwending en beskrywings is daarvoor te vitaal."

Murray la Vita (Die Transvaler, 10 Januarie 1991) beskou onderdrukking, brutaliteit, onrus en geweld as ’n integrale deel van Ignatius se storie. "Dit word egter nooit ’n politieke roman in die sin dat dit nét handel oor een mens se lewe te midde van onderdrukking en die struggle nie. Ryk Hattingh slaag in dié werk daarin om ’n veel breër en meer ontstellende landskap weer te gee. Hy besin onder meer ook oor die sin van die skryfproses as sodanig."

Ook LS Venter (Rapport, 17 Februarie 1991) is positief oor Ignatius Brand: "Tematies en stilisties is Ignatius Brand geënt of 'ingeskryf" op die vel van ons eie literêre en historiese wetes. Ons herken motiewe en stylmotiewe soos ons die handskrif van die held op die buiteblad van die boek herken. Hoe ons ook al oor dié boek van Ryk Hattingh oordeel, ons is as kennisse geïmpliseer in die dade en lotgevalle van ons vriend. Ignatius Brand is ’n boek wat geen leser koud kan laat nie."

Charles Malan (Insig, Februarie 1991) is ’n bietjie meer krities. Hy was spyt dat die skrywer in hierdie novelle net te veel wou doen wat die styl en tema betref: "Dit is verstaanbaar dat die storie ondermyn word, maar die verwisseling van fokalisering, bewussynstroom- en ander perspektiewe, metafiksionele ingrepe, aforistiese 'prekies' en wat meer, ondermyn ook die samehang.

"Daar moet dadelik bygesê word: talle tegnieke word voortreflik gehanteer. Dit bly ’n merkwaardige novelle, volkome 'geëngageerd', maar vry van politiekery in enige eng sin van die woord. Dit is veral verblydend dat hierdie verteenwoordiger van die jonger geslag nie meer bang is vir Etienne Leroux, die esoteriese, die visionêre en dus vir die spook van ’naskrywery' nie. Dit plaas hom ook minstens tematies, in die geselskap van Umberto Eco."

Met die voordeel van "terugkyk" kan daar gesê word dat Ryk sy "eerste" skryfloopbaan in 1997 afgesluit het met die publikasie van Witskrif by Human & Rousseau. Weer eens is dit ’n verhaal of novelle van net meer as 100 bladsye, wat in 47 onderafdelings ingedeel is.

In Die Burger (18 Februarie 1998) het Johan Smuts geskryf dat die "uiterlik verkapte aanbod saamhang met ’n sentrale gegewe in die verhaal. Die hooffiguur is naamlik ’n skrywer wat rapporteer oor sy probleme terwyl hy skryf, en sy dilemma word daardeur vergroot deurdat sy rekenaar breek en hom vyf jaar se data laat verloor en hy boonop ’n dwelmgebruiker is – gegewens wat die fragmentariese aard van die teks metafories ondersteun. [...]

"Witskrif verg wel redelik intensiewe lees, maar daar word uiteindelik nie ’n besonder veelvuldige teks blootgelê nie. Die ervare en literêr onderlegde leser sal waarskynlik meer diepte verwag van ’n werk wat so doelbewus literêr van aanbod is. Ander lesers sal weer moontlik voel dat die teks te veel leesversperrings bied en dit moeilik is om tot ’n bevredigende interpretasie daarvan te kom."

Vir Gerrit Olivier (Insig, Februarie 1998) is Witskrif ’n "reaksie teen die afgeronde sluitende teks – nie uit ’n behoefte aan eksperimenteer of byderwets-doen nie, maar omdat die skrywersfiguur dit moeilik, selfs onmoontlik, vind om veelseggend oor die onvermoë te praat, of iets te skryf wat slegs nóg ’n kommoditeit sal word."

Hy meen ook dat Witskrif lees "soos die afskeid van literatuur van iemand aan die rand van die stand, sonder ’n gespreksgenoot. Ek hoop dat daar nóg ’n begin mag wees. ’n Mens sou sy eerlike, uitdagende en desperate stem mis."

Cecile Cilliers (Rapport, 22 Februarie 1998) noem Witskrif ’n "ontstellend eerlike vertelling van ’n innerlike wat uitrafel, uitmekaar wil bars, en die moeisame, stotterende poging terug na eenheid, na heelheid".

In Beeld (26 Januarie 1998) beskryf LS Venter Witskrif as ’n "verwarde boek deur ’n verwarde skrywer oor ’n verwarde tyd" waarin die dekadente "hoogty vier". "Dis eerlik en vol passie. Inhoudelik en struktureel is dit egter te veel net nog ’n Ignatius Brand, Hattingh se novelle uit 1990. Wat myself betref: ek sou veel eerder die ongeskryfde roman wou lees."

Oor die samestelling van Witskrif in 47 prosafragmente het Ryk aan Stephanie Nieuwoudt gesê dat dit is hoe hy skryf. "Dis hoe my waansin gekanaliseer word. Dalk het ek net ’n kort aandagspan," het hy laggend bygevoeg. "Ek stel nie belang in die prosa van ouds waar daar ’n natuurlike progressie – begin, middel en einde – is nie. Dit is ook reaksie op die gemak waarmee mense grootse gebeure beskryf en dan vir hulself eien. Skryf in die postmoderne tyd is ’n wapen. Mense wil vinnig iets verwoord en wanneer hulle dit gedoen het, dink hulle hulle besit die gebeure. Dit is dan hulle s’n. Soos die Nuwe Suid-Afrika. Soos Mandela se vrylating.

"Dis ’n reaksie teen al daardie bloemlesings waar almal iets te sê het oor een of ander onderwerp. Dié skryfwyse is my reaksie teen die legio herhaling en na-apings van bestaande formules."

Benewens Hattingh se prosageskrifte was hy ook die skrywer van enkele toneelstukke. In Februarie 1988 word sy drama Sing jy van bomme in die Staatsteater in Pretoria op die planke gebring met ’n rolverdeling wat van die beste toneelspelers in Suid-Afrika ingesluit het: Annette Engelbrecht, Gys de Villiers, Anna-Mart van der Merwe, Tertius Meintjies, Johan Malherbe en André Odendaal. Die regisseur was Lucille Gillwald.

Bomme speel af in ’n chaotiese Johannesburg iewers in die nabye toekoms. Bomme ontplof pal, maar die oorlewendes reageer nie op die ontploffings nie. Dis net nog ’n bom met nog slagoffers wat sterf.

Marc Hosten (Die Transvaler, 24 Februarie 1988) beskryf dit as "betrokke teater" wat gesitueer is in Suid-Afrika ’n enkele klompie jare vorentoe die toekoms in. In die stuk word die jongmens van daardie dae se keuses wat hy het teenoor sy maatskaplike en ander omstandighede ondersoek.

In Beeld van 23 Februarie 1988 het Paul Boekkooi Sing jy van bomme "dié grootste anti-oorlog, anti-geweld, anti-ontmensliking, anti-anargistiese noodkreet wat ooit in die Afrikaanse drama die lig gesien het" genoem. "Ryk Hattingh slaan met ’n groot swaaiende sloopkoeël alle illusies binne ons samelewing plat en kom sommer ook nog baie subtiel ’n paar institusionele vestings by. Sy toekomsvisie, soos in Bomme vergestalt, is verwarrend en sorgwekkend. Die half getikte karakters wat ons ontmoet, is eenvoudig niks anders as die produkte van hulle samelewing nie.

"Lucille Gillwald se orkestrasie van oënskynlik losstaande dramaturgiese konsepte en dikwels sporadies geuiterde dialoogfragmente is tot ’n kernagtige sintese verweef. [...]

"Sing jy van bomme is vanselfsprekend verpligte kykstof vir teatergangers, maar ’n mens sou graag wou sien dat maatskaplike hoogvlieërs ook vir ’n slag kennis sal neem van dié tipe teater, sonder om dit byvoorbaat (soos so dikwels gebeur) al te klassifiseer as ’n vorm van blote proteskuns."

Sing jy van bomme het ook in 1988 onder die wakende oog van die sensuurappèlraad beland toe die direktoraat van publikasies beslis het dat ’n naaktoneel in die stuk "walglik en aanstootlik" is. In die toneel word Ampie, gespeel deur Tertius Meintjies, geestelik "gebore tot ’n nuwe bewustheid" en trek hy sy klere uit om die oorgang na die nuwe toestand te aksentueer.

Op Bomme se openingsaand het Meintjies toe op die verhoog verskyn in ’n babadoek vasgemaak met ’n groot speld. Dit het die gehoor laat skater. Gillwald het aangevoer dat die naaktheid artistiek noodsaaklik is. Weens die besluit van die appèlraad het Gillwald haar van die produksie gedistansieer en gesê dat die doek die "enigste uitweg" was. "Dit is die naaste wat jy die karakter aan geboorte kan kry. Dat Ampie met die 'geboorte' volgens die direktoraat ’n onderbroek moet dra, vind ek so aanstootlik dat ek die parodie van ’n doek verkies om die belaglikheid van die bedekking te beklemtoon," het sy gesê.

Tydens die 2017-Woordfees op Stellenbosch is Sing jy van bomme weer op die planke gebring. In ’n onderhoud op LitNet wou Naomi Meyer by Ryk weet wat die agtergrond was vir die ontstaan van die drama. Ryk het vertel dat dit ontstaan het in die onstuimige jare van die 1980's. "Die ou regime het alles in die stryd gewerp om die populêre opstande te onderdruk en die Suid-Afrikaanse gemeenskap is toenemend gemilitariseer. [...]

"Suid-Afrika was op die rand van die afgrond. In dié neerdrukkende atmosfeer het al hoe meer wit mense begin besef dat hulle nie langer deel van dié moordmasjien wil of kan wees nie. Soldate het begin dros, alternatiewe organisasies is op die been gebring, mense het hul lewens gewaag om hulself teen die heersende orde uit te spreek. Die tagtigerjare was ’n smeltkroes van kulturele en politieke idees wat die stelsel met mening van binne af getakel het. Dis waar Sing jy van bomme vandaan kom."

Vir die opvoering van die stuk in 2017 het Ryk, op aandrang van Saartjie Botha en Gerrit Schoonhoven, die regisseur, die teks weer deurgegaan om dit ’n bietjie aan te pas vir vandag, of, "as dinge in Suid-Afrika verder verval, dalk vir môre." Waar Johannesburg die agtergrond vir die oorspronklike stuk was, speel die "nuwe" Bomme af in ’n "postapokaliptiese, vervalle stad met ’n oorheersende steam punk gevoel".

Sing jy van bomme het vyf Vita-toekennings ontvang, waaronder een vir die mees belowende Afrikaanse dramaturg.

In 1994 word Mynhoop: ’n nokturne by Hond Uitgewers gepubliseer. In sy bespreking van die opvoering in die Johannesburgse Stadskouburg het Barrie Hough (Rapport, 13 Maart 1994) Ryk Hattingh as dramaturg in dieselfde asem as Reza de Wet en Deon Opperman genoem as "een van die beduidendste teaterstemme in Afrikaans". Gerrit Schoonhoven was die regisseur.

Hough het Mynhoop as ’n "intense stemmingsvolle stuk" beskryf. Dit handel oor die verhouding tussen Swart (gespeel deur Marcel van Heerden), "’n gevoelvolle nutsman met ’n belangstelling in ekologie en die sterre; Hanna (Elize Scheepers), ’n bejaarde vrou wie se wye belangstelling die letterkunde, musiek en die lewe self insluit; Elsie (Tanya Swanepoel), ’n slagoffer van ’n gesinsmoord op soek na haar drome; en Peens (Francois Viljoen), Hanna se vervreemde seun wat lid was van die sogenaamde moordbendes. [...]

"Soos Reza de Wet betoog Hattingh teen die ongenaakbare manlikheid in die Afrikaner se psige wat alles doodsmoor en pleit hy vir groter buigbaarheid en begrip wat vroulike intuïsie meebring. Swart en Hanna verteenwoordig die vroulike, natuurlike orde terwyl die militaristiese en gewelddadige Peens die manlike komponent verteenwoordig. Elsie is die speelbal om wie se siel daar meegeding word."

Hough het Ryk beskou as ’n dramaturg wat besonder verbeeldingryk is. In Mynhoop beeld hy die lewe in al sy fasette as ’n eenheid uit. In teenstelling met die teks, wat "vernuftig en briljant" is, was daar vir Hough egter probleme met die produksie.

Vir Marguerite Robinson (Beeld, 14 Maart 1994) word Mynhoop letterlik ’n "ervaring van ’n nokturne: 'Die verklanking van nagindrukke'. Dit het droomkwaliteite, maar dit is geanker in ’n menswerklikheid. Dit is enersyds so Suid-Afrikaans en Afrikaans as wat kan kom, maar dit strek ook veel verder. Daar word gedelf in die psige van die mensdom en die ruimte en lewe rondom hom. Ryk Hattingh se teleskoop fokus nie net op ’n enkele oomblik nie, maar op ’n leeftyd, ’n ewigheid."

Ryk het aan Marguerite Robinson (Beeld, 8 Maart 1994) vertel dat die titel, Mynhoop, ’n tweeledige betekenis het. Aan die een kant kan dit sinspeel op "mijn hoop" en aan die ander kant op die fisiese mynhope in Johannesburg. "Daar is baie verwysings na myne en goud," het Ryk aan Robinson verduidelik. "Ons woon eintlik almal hier tussen die mynhope. As dit nie vir die mynhope was nie, was ons nie hier nie. Dit is miskien ons piramides.

"Ek het ’n bietjie bygewerk aan die drama en hier en daar is iets uitgesny. Maar die dramaturg is maar die eerste skakel in die ketting – die proses van ’n drama word eers voltrek in die kyker se bewussyn."

In 1997 première Ryk se eenvroustuk oor Ingrid Jonker getiteld Opdrag: Ingrid Jonker by die KKNK. Mark Graham was die regisseur, met Jana Cilliers as die aktrise wat ’n obsessie het met Jonker. In 1998 is dit by die Johannesburgse Stadskouburg opgevoer, in 1999 in Kaapstad en in 2002 in die Baxter-teater in Kaapstad.

In The Citizen van 14 Februarie 1998 het Raeford Daniel Ryk se teks as "a brilliantly evolved text" beskryf, en in die Cape Times van 19 Maart 2002 skryf Wilhelm Snyman: "What Cilliers and others (Hattingh and Graham) have achieved is masterful and while Opdrag: Ingrid Jonker may appeal only to those familiar with the events, the times and course of Afrikaans literature, it is a play which ideally all South Africans should understand: it lies at the heart of our collective history and for that reason, as well as its superb execution, it remains as powerful as it was when first performed in Cape Town in February 1999."

In 2001 word Ryk se volgende verhoogstuk, Eensnaar,opgevoer. Dit was ’n opdragstuk, en alhoewel dit veronderstel was om oor Louis Leipoldt te handel, was die uitgangspunt en tema meer gerig op emigrasie en vervreemding.

Die resensies van Eensnaar was nie baie positief nie en dit het vir Ryk baie negatief beïnvloed, skryf Catherine du Toit in Die Burger van 21 Oktober 2017. Sy skryf dat die stuk dalk sy tyd vooruit was: "Dit verweef ’n digte ineenstrengeling van outobiografie en die lewe van Leipoldt met temas wat deur vlakke sny en drade bymekaar trek."

In ’n werk wat sy veelsydigheid beklemtoon, span Ryk in 2000 sy kragte saam met dié van die kunstenaar Conrad Botes om Die Foster bende op skrif te stel. Dit is in die vorm van ’n strokiesverhaal deur Bitterkomix uitgegee. Paul Wessels (Cape Times, 21 Julie 2000) skryf dat die storie van die Fosterbende die leser van hierdie geskiedkundige episode in Johannesburg se geskiedenis vasgenael sal hou: "A story of outcasts and criminals is presented in a very contemporary Afrikaans dialect. Botes's integration of graphics and Hattingh's natural narrative gifts [...] complement one another sublimely."

Tien jaar ná die "mislukking" van Eensnaar het Ryk weer stadig maar seker begin skryf en was dit amper vir hom soos om weer te begin loop het. En dit het hom ook ’n tydjie geneem om te glo dat lesers hom weer sou lees: "Skryf was nog nooit maklik vir my nie. As ek regtig in die zone is en woorde vloei en die hare op my lyf vibreer in hul oksels, kan ek miskien ’n duisend woorde op ’n dag skryf, maar meestal driehonderd of so. Die eintlik ’n wonderwerk dat ek myself nog enigsins bemoei met skryf! Toonaard staan sentraal in my werk. As die toonaard nie reg is nie, is alles verkeerd. Ek sal alles opoffer vir die regte toonaard. Ek is my lewe lank tog so f*kk*n precious ek kan kots daarvan!" skryf hy aan Catherine du Toit.

En toe in 2016, ná ’n stilte van byna 20 jaar, is Ryk se volgende (en wat later geblyk het sy laaste) boek, Huilboek, by Human & Rousseau uitgegee. In 2017 was Huilboek die wenner van die kykNET-Rapport-prys vir fiksie, en Ryk het die prys in ontvangs geneem tien dae voor sy té vroeë afsterwe.

In die commendatio het die beoordelaars geskryf dat daar baie temas in Huilboek aangepak word; een daarvan is taal en verlange, "hoe die taal Afrikaans self ’n uitdrukking word van ’n verlange wat in sy wese onvervulbaar is, en die boek ’n liefdesbrief van ver af, sonder adres.

"Die onheelbare pyn van ’n vader wat nie van sy seun gehou het nie, is miskien die gravitasiekolk, die black hole in die boek waarheen alles neig, maar van waar geen lig kom nie. [...]

"Huilboek presteer deur sy sagkense behandeling van groot dinge, die manier waarop hy persoonlike pyn uiteindelik, sonder politieke grandstandery, vestig in die konteks van ’n hele land se trauma. Dis ’n prestasie in hoe groot kragte in beweging gestel kan word deur ’n minimum van woorde en vertoon" (Rapport, 1 Oktober 2016).

Huilboek is, soos Hattingh se vorige prosawerke, ’n novelle wat in hoofsaak kyk na die Verteller, Ryk, se jare ná emigrasie na Nieu-Seeland, maar ook terugkyk na sy grootwordjare in Benoni en sy verslaafdheid aan dwelms in die 1990's.

Ryk het aan Murray la Vita vertel dat Huilboek ’n tog was wat nie sommer net so gebeur het nie: "Dit was ’n hele tog om nadat ek uit Suid-Afrika is weer my stem te vind, want jy kom op ’n plek aan en álles is vreemd en dit voel vir jou asof die kennis wat jy opgedoen het in Suid-Afrika, veertig jaar se kennis en intense ervaringe, asof dít ewe skielik nie meer betekenis het nie. Dit voel wérklik so, want jy het nie daai verwysings nie. Álles is vreemd, en toe slaan ek eintlik maar toe, dink ek. Ek het stom geword. Ek het wel altyd dagboek gehou en notas gemaak en ek het my verdiep in die geskiedenis van hierdie plek ...

"Ek het definitief op ’n manier my stem weer gevind, dink ek. Ek sal sekerlik nou maar aanhou skryf."

Die boek se titel verwys na ’n voorval uit sy kinderjare toe sy ma vir hom ’n boekie gegee het waarin hy ’n kruisie moes trek elke keer wanneer hy wou huil. Hy was blykbaar ’n huilerige en "mislike" seuntjie.

"Ofskoon dit vir ’n duidelik sensitiewe kind as afleiding moes dien, is dit dan die idee van die huilboek – dus treurmare, lamentasie en hartseer verhaal, maar ook lofsang vir die rykheid van menslike ervarings en herinnerings – wat struktuur aan Hattingh se novelle gee,” skryf Reinhardt Fourie op LitNet.

Ons lees in Rooi Rose oor Huilboek:“'Wie sou kon dink dat ’n stem soos myne ooit gehoor sal word? Waar sal so ’n klank in elk geval vandaan kom?' Só begin die outobiografiese roman van Ryk Hattingh – sy eerste boek ná 19 jaar. Dit is ’n verweefde teks wat hom afspeel tussen die hier van Nieu-Seeland en die verlede van Ryk se kinderjare in die jare sestig aan die Oos-Rand. Wie wás die kind op die stoep saam met sy ma en pa en ouma en boeties en Outa Toon? En wie was Outa Toon? Die man wat vir Ryk gesê het, 'Jy is mos die een met die hart?' Die man wat vra: 'Wie sou ooit kon dink dat ’n stem soos myne gehoor sal word …'

"Huilboek is ’n kragtoer. In een opsig is dit ’n voortsetting van Ignatius Brand en Witskrif, en andersyds is dit ’n losstaande herinneringsroman wat uiteindelik sê – hier is ek. En dís die mens wat ek geword het. Aangrypend." (Rooi Rose, 13 Maart 2016)

Joan Hambidge begin haar resensie in Die Burger van 9 Mei 2016 so: "Selde – indien ooit – het [ek] so ingesluk geraak deur ’n boek. Die roman heet Huilboek. Dit is ’n lamentasie, ’n stuk verdriet, ’n kartering van pyn, van ekspat wees, van terugskryf oor ongeregtighede, oor hoe dit is om jou huis te verkoop, jou land van herkoms te verlaat en jou in ’n vreemde omgewing te bevind. Nieu-Seeland.

"Afwisselend tussen woede en verdriet word hierdie boek voor jou neergewerp. Dit word opgedra aan Tienie du Plessis, onlangs oorlede en ’n vriend en mede-uitgewer. [...]

"Die roman gaan in teen gemoedelike lokale realisme en van meet af aan word daar met die identiteit van die verteller en fokalisator gespeel. Hy het sy stem gevind en dit is bepaald nie ’n oulike streektaal nie."

Vir Hambidge is Huilboek ’n sielkundige reis wat die skrywer terugneem na sy grootwordjare en verlede. "Die boek word ’n soort lydensweg, ’n persoonlike stryd – ’n soort hellevaart van Jan Alleman. [...]

"Op ’n plek praat die verteller van sy metadepressie. En dis presies wat ons hier beleef: ’n koelbloedige analise van pyn, oorlewing, herinneringe terug onder meer na jagekspedisies met die vader, ’n patriarg. Hierdie herinneringe aan jag verloop tussen fantasie en werklikheid. [...]

"Ryk Hattingh se boek werk met hierdie aweregse blik op historiese sake. Die slot het ’n Marais-kwaliteit soos in Dwaalstories – hier is Hattingh, soos aan die begin van die roman, besig om die stemlose stem te gee in sý huilboek.

"Die opstand teen die vaderfiguur en die beskrywing van sy dood en die afloop, is van die pynlikste oomblikke in die boek. Die roman is ’n vars bries. Dit is outentiek geskryf en ons het nie tevergeefs gewag op Ryk Hattingh se nuwe boek ná Witskrif nie. Sjamanisties en intellektueel. Dit wil gedoen wees."

Ryk was in sy lewe diep verbind aan die natuur en dit is baie opmerklik in Huilboek. Daarin skryf hy veral oor bome wat hom "nog nooit gefaal [het] nie". Vandat hy kon onthou, het hy bome geplant, net soos sy pa bome geplant het. "En een van die dinge waaroor ek nogal hartseer is, of oor was," vertel hy aan Murray la Vita, "is dat ek nooit lank genoeg op ’n plek gebly het om die bome wat ek geplant het ten minste opgeskote te sien nie. Knysna ... en dan trek jy verder en dan gaan bly jy in Johannesburg in Bezuidenhoutsvallei en jy plant bome daar en toe op die ou einde in Kensington, en daar het ek ... oooh, ek het daai plek so óórbeplant met allerhande bome.

"En dan neem jy nou ’n besluit om verder te gaan. Maar ek dra op ’n manier al hierdie saam met my. Ek wéét van die witstinkhoute in Kensington en die ysterhoute wat ek in Knysna geplant het ... Dit was die eerste wat ek gedoen het toe ek hier aangekom het, om die bóme te bestudeer, om te kyk watter boomfamilies of -spesies het familielede in Suid-Afrika."

In ’n onderhoud met Naomi Meyer op LitNet sê Ryk dat Afrikaans, asook alle ander tale op aarde, ’n manier is om te kommunikeer: "Maar ’n boek of ’n gedig of ’n stuk prosa, in watter taal ook al, is veel meer as bloot ’n stuk kommunikasie. Dis dit ook, ja, ’n kommunikasie, maar dis ook werk wat met ’n sekere toonaard aangebied word, dis (hopelik) deurdag, veelstemmig, veeleisend, beproewend; dit bied verskeie interpretasiemoontlikhede; dis verweef, woorde en sinne resoneer met ander woorde en sinne, en die dele waaruit die werk bestaan, verwys na ander tekste, dikwels uit ander tye en in ander tale, en op dié manier word die boek of gedig deel van iets groter. Afrikaans is die enigste taal waarin ek iets so kompleks soos ’n boek kan takel. Indien Afrikaans net bagasie is, dan sleep ek dit heel gelate saam met my totdat die kluite begin klap."

RR Ryger wou by Ryk weet of skryf vir hom terapeuties is: "Skryf was nog nooit werklik ’n terapeutiese onderneming vir my nie; in die verlede het skryf die teenoorgestelde invloed op my gehad. Ek moes eers uitmekaar val, uitrafel, ten gronde gaan, om dan, as die boek voltooi is, albeit as wrak, die produk op te hou en sê, siedaar dis klaar. Dan kon ek weer begin tonikums drink om my vervalle gestel op te bou. Maar dit was anders in Huilboek se geval. ’n Groot knieoperasie in 2013 het my vir twee maande buite aksie gestel en ek het dié tyd gebruik om die eerste weergawe van Huilboek te voltooi. So, ja, die skryf van Huilboek was terapeuties in ’n sin" (Sarie, 1 Junie 2016).

Ryger wou ook weet of die skryf van Huilboek na 19 jaar weer sy lus vir skryf lewendig gemaak het, waarop Ryk gereageer het: "Ja, gewis. Ná negentien jaar se stilte kan ’n mens dit dalk as ’n tweede debuut beskou. Dit is in elk geval hoe dit vir my gevoel het toe Human & Rousseau dit vir publikasie aanvaar het. Die verligting! Ja, ek kan weer skryf! Dit laat my dink aan die einde van Samuel Beckett se The unnamable: 'You must go on. I can't go on. I'll go on'" (Sarie, 1 Junie 2016).

Op 10 Oktober 2017 is Ryk Hattingh op sestigjarige ouderdom in Nieu-Seeland aan ’n hartaanval oorlede. Hy laat sy vrou Marténe en drie kinders agter.

Huldeblyke

  • Joan Hambidge:

Ryk Hattingh
All of us have a place in history. Mine is clouds.
Richard Brautigan

"My aard, soos ’n vonk,
is ook onkenbaar," beskryf
jy jouself in
Huilboek
’n laaste testament
ongeteken.
Op Monitor
lewer ek ’n kort huldeblyk
oor jou vroegoggend
in hierdie verraderlike paradys
waar ons steeds sing van bomme.
"Skoenmaker hou jou by jou lees!",
sou jy kon uitroep.
"Wat weet jy van verlange
na ’n vaderland
wat klou soos nga
aan ’n kietiekombers?"
My vooraf geredigeerde
afskeidswoorde
verklap helaas nie
hoe ek nie trane kon keer
oor hoe jy
voor sonsopkoms
in ’n ander tydsone
deur ’n tonnel
beweeg
kaalvoet
tot binne-in my grafskrif. (LitNet)

  • Nèlleke de Jager, uitgewer: “’n Mens het nie woorde nie. Soveel energie, soveel onbevange lewenslus – vir lees, vir bome, vir voëls, vir kosmaak, en ja, vir mooi vroue. Net laas week nog hoor ek hoe sê hy aan ’n medeskrywer: ‘Maar daar is niks anders wat jy kan doen nie. Skrýf. Jy kan niks anders doen as aanhou skrýf nie.’ En om nou te dink ons gaan nooit weer Ryk se stem hoor nie. Dit was ’n groot boom wat geval het. Woorde is daar nie.” (LitNet)
  • Zirk van den Bergh: "Ryk het gesê hy probeer die onmoontlike met Huilboek: hy probeer vir Outa Toon, wat dood is, lewend maak. Ek wens ek kon so iets regkry. Ek wens ek kon vir Ryk terugsit in sy huis, terug in die lewe waarin hy hom so verlustig het. Hy was iemand wat die lewe gevréét het. Alles gebeur in die oortreffende trap. As hy gelukkig is, jubel hy. As hy neerslagtig is, kry hy skaars asemgehaal. Die rebelsheid wat vir die meeste mense ná hulle tienerjare begin wyk, was by Ryk op 60 nog so sterk as ooit. Hy kon een en alles verdoem. Dan praat hy daarvan om in Mongolië te gaan woon. (’n Plek waarvan hy min genoeg weet om niks daarvan te haat nie, vermoed ek.) As hy ’n ding ontdek wat sy verbeelding aan die gang sit, gaan hy voluit daarvoor. Alles word stormenderhand aangepak. (...)

    "Hy was vol planne. Ons het met sy sestigste verjaardag in Julie middagete gaan eet, toe vertel hy my hy kyk na wat hy alles in sy dertigs vermag het, tussen 1987 en 1997. Dit was sy romans en toneelstukke, Vrye Weekblad en Loslyf, die boeke wat hy en Tienie du Plessis by Hond uitgegee het. 'Ek dink ek het nog so tien jaar oor,' het hy gesê, dié dag in Julie. 'Ek wil van hierdie dekade net so ’n groot een maak as toe.'

    "Hy het geskryf, geskilder, musiek gemaak. Heelwat liedjies geskryf hierdie jaar, het hy my vertel. (In sy studentedae het hy sakgeld verdien deur in restaurante te sing.) Sy huis lê vol skryfwerk, lirieke en notas. Maar selfs al daardie flardes, al sy gebundelde en opgevoerde werke, is minder as die man self. Die indruk wat hy gemaak het op almal wat hom leer ken het, dít is wat oor is van sy lewe. Herinneringe en ’n verskriklike leemte." (LitNet)

  • Willem Pretorius: "Hy het ’n voortdurende stryd teen verslawing gevoer. Eers was dit drank, maar later het hy erken hy sal enige ding snuif wat oor sy pad kom. Ook het hy deur ’n stadium gegaan waar hy seksueel enige uitdaging aanvaar het.

    "Later toe hy by Vrye Weekblad gewerk het, was ek by Beeld. Dikwels het ons laataand by die Yard of Ale by die Markteater ontmoet. Hy kon dringend drink. Byna met ’n doel. En die doel was om dronk te word. Daarna kon hy weer vir lang tye skoon wees. (...)

    "Toe hy besluit het om na Nieu-Seeland te emigreer, het hy die middag by ons huis in Kensington in Johannesburg opgedaag met die nuus. Sy vrou was die vorige aand in ’n mislukte motorkaping betrokke. Ons is na hulle huis daar naby op Langermankoppie waar ons lang geheues uitgepak het. En toe, in die middel van baie alkohol en harde woorde, het hy op my vraag oor wat hy in die land van die lang wit wolk en nie veel anders behalwe die All Blacks nie, gaan doen, gesê: 'Ek het uitgewerk hoeveel mense daar in Nieu-Seeland is. Ek het die getal gevat en met twee gemaal en toe uitgewerk hoeveel skoene hulle nodig het. Ek gaan skoene maak.'

    "Hy het dit net so presies aangepak as wat hy ’n sin aangepak het en bekend geword as ’n uitsonderlike vakman. Hulle sal hom miskien onthou as iemand wat ’n besonderse skoen kon maak. Ek sal hom onthou as ’n gefolterde individu wat ’n genadeloos eerlike sin kon skryf." (LitNet)

  • Zirk van den Bergh: "Noudat Ryk dood is, is ek kwaad. Kwaad omdat hy gestuit is juis toe hy so vol idees was, en bes moontlik op die vooraand van nog ’n groot ding gestaan het. Kwaad omdat hy ’n groot teenwoordigheid in soveel mense se lewens was, en omdat die leemte ondraaglik eggo. Die man was larger than life. Sit hom in geselskap, en hy is die voorbok. Wag ’n rukkie en jy sal wel ’n absoluut verregaande stelling hoor wat jou asem wegslaan. Die wag voor sy mond was ’n agterlosige bliksem. (...)

    "Ryk het die hele dorp se skoene reggemaak. Sy hande was permanent swart van die rubber en gom. Stewels in die winter. Sandale in die somer. Soms by wyse van afwisseling narre se belaglike groot skoene, of strippers se ysingwekkende hoë hakke. Kleiner werkies het hy sommer verniet gedoen. So tussen die sole vasplak, het hy klaagliedere aangehoor, veral van aankomelinge uit Suid-Afrika wat nie hul voete in Nieu-Seeland kon vind nie, en dan hul lot by die skoenmaker bekla.

    "Hy was geduldig, besorg, hulpvaardig. Want sy woede vir die bestel, het gespruit uit sy liefde vir mense. Agter die somtydse bravade was ’n deernisvolle, meelewende, goedhartige man. Oor hom wil ek huil. Maar daardie kwaai derduiwel laat my nog steeds lag." Netwerk24, 15 Oktober 2017)

  • "You fixed our soles, you mended our souls." (North Shore Times)
  • Catherine du Toit: "Diep in die kronkels van sy brein het poele konstant geborrel en geprut: Kolkende lawa wat wou vuur spoeg, nuwe wêrelde skep, mooi maak. Aan die ander kant was daar ’n ewe diepgewortelde begeerte na bestendigheid, konstante liefde, ’n tuin waar sy teenwoordigheid die voëls kon laat sing en ryp granate laat groei. En soms weer, was dit af, af in ’n maalkolk, ’n moordkuil, die walvis se buik. Slinger, slinger; donker angs, verblindende lig, verbysterende seisoene.

    "Wat bly nou oor? ’n Skielike vloedgolf herinneringe vul bladsye op sosiale media, koerante, e-pos-kettings. Woorde wat spreek van verstomming, verlies en amper ’n soort verontwaardiging: Hoe durf iemand wat (soos Willem Kloos in een van Ryk se gunstelinggedigte) so graag nog heel, heel veel wou doen, gaan staan en doodgaan? Skrywer, skoenelapper, gesinsman, geliefde, verloopte, verraaier en vriend. Soveel fragmente. En elkeen wat onthou, dra, solank ons leef, ’n stukkie Ryk saam met ons." (Die Burger, 21 Oktober 2017)

En só het Ryk oor homself geskryf aan Catherine du Toit: "Ek moes my lewe lank myself en my geesdrif en my waansin en my begeerte en drifte en drange afskaal, wegsteek, verdoesel om enigsins ’n staanplekkie tussen die ander waansinniges te kry en selfs daar het ek myself dikwels onwelkom gevoel. Op ’n goeie dag het ek meer energie tot my beskikking gehad as ’n gemiddelde tornado. Ek kan mense begeester. Ophits, aanjaag ... Maar op ander dae die teenoorgestelde. Dan rem ek hulle af, vryf hulle neuse daarin ... Dis hoe ek is. (...)

"En ja, alles eindig in die dood. Die klein dood, die groot dood, die doodse dood. (...) Selfmoord bly goddank altyd ’n opsie, maar ’n mens gaan jou asem mors as jy dit ná ’n klein psalmboekie doen. Skryf daai baksteen en doen dit dan. In my geval is selfmoord dus nie op die kaarte nie. Ek leef myself eerder dood. Ek doen dit. Ek leef myself dood." (Die Burger, 21 Oktober 2017)

Publikasies

Publikasie

Die tonnel

Publikasiedatum

1984

ISBN

0620073101 (sb)

Uitgewer

Emmarentia: Minotaurus

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Markus vermoed ’n verhaal

Publikasiedatum

1987

ISBN

0947046143 (sb)

Uitgewer

Emmarentia: Taurus

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Ignatius Brand

Publikasiedatum

1990

ISBN

0947046305 (sb)

Uitgewer

Bramley: Taurus

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Mynhoop (’n nokturne)

Publikasiedatum

1994

ISBN

1874969094 (sb)

Uitgewer

Groenkloof: Hond

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Witskrif

Publikasiedatum

1997

ISBN

079813755X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die Foster bende. Saam met Conrad Botes

Publikasiedatum

2000

ISBN

1770130470 (sb)

Uitgewer

Stellenbosch: Bitterkomix Pulp

Literêre vorm

Strokiesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Huilboek

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780798172493 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

2017 kykNET-Rapport-prys vir fiksie

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor Ryk Hattingh beskikbaar op die internet:

 

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top