Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: Rut en Boas – ’n liefdesverhaal
Skrywer: Barend Vos
ISBN: 9780796322623
Uitgewer: Lux Verbi
Die boek Rut wat in die Ou Testament van die Bybel opgeneem is, is ’n belangrike boek in die Judaïstiese geloof. Die boek word veral gelees tydens die Fees van die Weke, tradisioneel ’n tipiese landboufees uit die antieke tye. Dit is ’n boek wat primêr dus met antieke Israel se kultuur en nasionalisme deurweef is. Dis ’n totaal volksvreemde wêreld vir mense van die 21ste eeu – ’n eienskap wat ook geld vir al die ander boeke in die Bybel. Dis ’n patriargale kultuur waar mans grootliks oor vroue se lewens en doen en late besluit. Nie dat die wêreld vandag volkome van die patriargie bevry is nie, maar vroue mag darem al vandag eiendom besit. Ons weet miskien ook min van hierdie boek, omdat die Christelike tradisie nog altyd maar sterker klem gelê het op die Nuwe Testament (en omdat Suid-Afrika weens kolonialisme meer Christelik van karakter is as enige ander religie). Die Christelike geloof se klem op die Nuwe Testament is geen nuwe verskynsel nie. Daar was vanaf die vroegste tye in die ontwikkeling van die Christendom individue en groepe wat die boeke van wat later die Ou Testament genoem is, bevraagteken het. En tog is dit die Ou Testament wat vanuit ’n letterkundige oogpunt soveel gewigtiger is.
..........
Afrikaans het natuurlik ’n heel lewendige tradisie van die Bybelse roman, met tientalle skrywers wat boeke geskryf het wat die Bybelse verhale as inspirasie het.
............
Afrikaans het natuurlik ’n heel lewendige tradisie van die Bybelse roman, met tientalle skrywers wat boeke geskryf het wat die Bybelse verhale as inspirasie het. Soos dit maar in die letterkunde gaan, lok die verskynsel van die Bybelse roman natuurlik uiteenlopende reaksies uit. Daar is diegene wat voel dat Bybelse romans oorbodig is, want die stories word mos reeds in die Bybel vertel. Maar hierdie soort boeke is nietemin gewild en word deur gretige lesers verslind. Ek het geen idee hoeveel boeke Vos al geskryf het nie. Verskeie van sy boeke is suiwer teologies van aard, soos Bybelse dagstukke en ander godsdienste boeke. Hy is veral ook bekend vir sy humoristiese “pastoriepetaljes” (ook bekend as die Grootseun-briewe), waarvan daar reeds ses volumes verskyn het, volgens my berekeninge. Rut en Boas is egter Vos se derde Bybelse roman. Hy debuteer in 2001 met Eksodus, wat in 2005 opgevolg word deur Kanaän (beide by Lux Verbi). In 2011 verskyn ’n Dorp soos Silwer Streams (Tafelberg), maar dit is nie ‘n Bybelse roman nie, hoewel die hoofkarakter ’n dominee is. Tussen Eksodus en Rut en Boas is daar merkbare verskille in die skryfstyl. Eksodus is byvoorbeeld in die eerste persoon geskryf, terwyl Rut en Boas, wat in die derde persoon geskryf is, veel meer verteerbaar is.
Die tipiese leser sal waarskynlik die Bybelse verhaal van Rut ken, en weet waaroor die storie in breë trekke handel. Die storie begin in die gebied Moab, vandag deel van die land Jordanië in die Midde-Ooste, met Naomi, ’n Israeliet, wat haar en haar gesin in Moab gevestig het, en wie se seuns met Moabitiese vroue getrou het. Na die afsterwe van haar man, Elimeleg, groei die hunkering by Naomi na haar geboorteland al meer en meer, veral ook weens ekonomiese faktore, en sy besluit om uit Moab te trek, terug na haar geboorteland. Naomi se twee skoondogters, Rut en Orpa, se mans, wat ook albei oorlede is, trek saam met haar. Op pad draai Orpa dan egter terug na haar familie in Moab, terwyl Rut dramaties teenoor Naomi verklaar: “U volk is my volk en u God is my God.” Hieruit is die nasionalistiese aanslag van hierdie boek duidelik. In Bethlehem kruis hulle paaie dan met dié van Boas, wat hom oor hulle ontferm en ’n verhouding met Rut aanknoop. Hy tree ook op as die “losser”, ’n gebruik van die antieke Israelse kultuur waarvolgens manlike bloedverwante die verantwoordelikheid moet oorneem om weduwees te onderhou.
............
Vos is ’n vaardige storieverteller, en ek het min twyfel dat Rut en Boas onder talle ywerige lesers ’n treffer gaan wees. Maar lesers wat nie daarvan hou dat daar vryelik met die verbeelding omgegaan word nie, sal heel waarskynlik nie van die boek hou nie, en moontlik voel daar word nie streng genoeg by die Bybelse feite gehou nie.
..............
Vos is ’n vaardige storieverteller, en ek het min twyfel dat Rut en Boas onder talle ywerige lesers ’n treffer gaan wees. Maar lesers wat nie daarvan hou dat daar vryelik met die verbeelding omgegaan word nie, sal heel waarskynlik nie van die boek hou nie, en moontlik voel daar word nie streng genoeg by die Bybelse feite gehou nie. Daar is ook baie karakters, en dit verg nogal soms kophou om sinvol deur die teks te navigeer sonder om hier en daar bietjie verlore te voel.
Die vraag wat onwillekeurig by my opgekom het, is wat is die waarde van die storie van Rut vir die moderne leser? Daar word beweer dat die boek Rut moontlik tot soveel as 2 500 jaar gelede geskryf is, en die interpretasie van die boek het ook oor die tyd verander. Daar word deur sommige gespekuleer dat die boek geskryf was om die Dawidiese koningshuis se aanspraak op die koningskap te regverdig teenoor die aansprake van dié van Saul en sy volgelinge. Die feit dat Rut nie ’n Israeliet is nie, maar ’n Moabiet, speel hierin ’n belangrike rol. Ander kenners beweer weer dat die verband wat tussen Dawid en Rut getrek word, eers ’n latere toevoeging is tot die boek, en die resultaat van redigering, iets wat glad nie ongewoon is aan die Bybelse boeke nie. Nog ander interpretasies wys daarop dat die boek getuig van God se liefde vir alle mense, of hulle nou Israeliete is of nie. Laasgenoemde is veral ’n belangrike interpretasie van Rut vanuit die Christelike perspektief, veral ook dan omdat Rut, volgens die Bybel, ’n voorouer van Jesus sou word. Daar was deur al die eeue verskille tussen behoudende, oftewel konserwatiewe, en liberale interpretasies van die Joodse geloof, identiteit en nasionalisme, soos wat daar in elke ander kultuur op aarde soortgelyke verskille bestaan, ook in ons klompie hier aan die suidpunt van Afrika in 2022. Daar bestaan natuurlik ook goeie interpretasies vanuit die feminisme van die Rut-verhaal, wat die lees van die boek die moeite werd maak.
Die verhaal van Rut het dus waarde vir die gelowige, vir die Christen, maar ook vanuit die sekulêre oogpunt is dit duidelik dat mens hier te make het met ’n literêre interessantheid wat die lees werd is. Alhoewel die samelewing ter sprake in aard en konteks totaal verwyderd is van ons eie wêreld van vandag, is Rut ’n verhaal met elemente soos hoop, vertroue, mededeelsaamheid, liefde en vreemdelinge wat met mekaar moet saamleef. Die boek dokumenteer ook ‘n aantal interessante eienskappe van die kultuur van antieke Israel, en vertel iets van die politiek van antieke Israel. Boeke verklap dikwels meer van die skrywer self as van die stories wat daarin geskryf staan. Miskien is dit hoekom Vos so gereeld treffers oplewer. Sy interpretasie van Rut is ryk aan verbeelding, wat sommige lesers sal afskrik, maar ander weer aansienlike leesgenot sal verskaf.
Kommentaar
Baie netjies gedoen, Barend! Ek sou dit nie naastenby so kon doen uit 'n wye perspektief nie.