Rus in vrede, James Small

  • 3

Foto van James Small: YouTube

Elders gesien. Lukas Meyer skryf op Facebook:

Die afsterwe van die Springbokheld, James Small, is bitter hartseer en skielik, maar dis ook vir my interessant hoe mense op die nuus reageer. Skielik het baie ’n staaltjie oor hom en is die sosiale media vol van mense met foto's saam met die gestorwe held. En dis goed dat mense hom onthou op so ’n positiewe manier. Ekself het as oud-koerantman ’n paar nuusstories oor James gedoen wat minder aangenaam was. Ons interaksie was gevolglik ook nie altyd baie lekker nie. Hy was ’n stoute rakker en was gereeld in die pekel oor sy onnutsige gedrag. Nie dat ek hom enigsins daaroor kwalik neem nie. Ek is self nie die soetste man in die land nie en het begrip vir diegene wat die pad soms byster raak. Daar is n paar dinge wat James anders maak as n gewone sterfling wie se lewe tot ’n einde kom. Bo en behalwe dat hy net 50 jaar oud is met sy afsterwe, was hy ’n aardsrebel in die klas van James Dean van ouds. Die ewige rebel wat op ’n jong ouderdom doodgaan. Sulke mense kry baie keer mitiese status in die oë van diegene wat agterbly. Daar is iets byna romanties, en tog ook tragies, aan hierdie soort woelgeeste wat skielik heengaan. Die tipe materiaal wat goeie rolprente maak. Op ’n meer realistiese vlak is dit tragies om te dink dat James nou – soos Joost van der Westhuizen en Ruben Kruger voor hom – al drie lede is van 1995 se wêreldbekerspan wat reeds oorlede is. Drie van die 15 of 20 persent van daai beginspan is nou dood, wat mens net weer laat besef dat die lewe bitter kort is.

Rus in vrede, James Small. Dankie vir die stories en die drieë. Jou hart was soms groter as wat goed en gesond is vir ’n mens. Maar dis waarom jy nog baie lank onthou sal word.

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    'n Rustelose siel wat die kers aan beide kante gebrand het. Mense vereenselwig maklik met ouens soos hy wat nie voorgegee en perfek was nie. Sy vertonings op die veld sal liefhebbers van die spel altyd bybly. 'n Uitmuntende speler wat 110% gegee het ongeag die trui wat hy gedra het. Tereg duisende se held. Die dood is nooit tydig nie, maar James Small sal altyd voortleef in die gedagtes van sy mense. En eintlik is dit al wat saak maak.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Ek verbeel my Andre P Brink het groot rugbywedstryde vergelyk met letterkunde, veral met drama. Sport is darem ook deel van 'n kultuur. Dink maar aan Mannetjies Roux en Frik du Preez, meer eg Suid-Afrikaans sal jy beswaarlik vind!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top