Rufio Vegas: "Hierdie album is ’n tong-in-die-kies-sinopsis ..."

  • 0

Die “KragPopRock”-sanger Rufio Vegas se debuutalbum, Beste tyd van jou lewe, is onlangs vrygestel. Hy beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Vegas. Hoe’s dinge deesdae?

Geen klagtes. Arm maar gelukkig, soos die ou spreekwoord lui.

Laas toe ons gepraat het, so ’n jaar gelede, was jy RufiYOLO. Voor dit was jy Rufio Vegas. Nou is jy Vegas. Het die verskillende name verskillende musikale identiteite daaraan gekoppel, of hoe beskou jy die evolusie? Hoe pas die nuwe Vegas-identiteit in by die bekendstelling van die debuutalbum, Beste tyd van jou lewe?

VEGAS sal altyd die oorkoepelende hoofrol speel. Rufio verteenwoordig my onuitputbare jeugdige self en RufiYOLO was ’n identiteitskrisis wat ’n sekere persoon met wie ek nou saamgewerk het, ondergaan het. Ek dink met VEGAS het die groeipyne effens bedaar.

Vertel ’n bietjie van die opbou tot die album – hoe het die skryfproses gewerk? Daar’s so ’n algemene heerlike onskuldige-maar-stoute gevoel wat deur al die lirieke loop … Hoe besluit jy op ’n tema en skryf daarvolgens vir elke lied, of beskou jy eerder die hele album as een lang storie?

Hierdie album is ’n kollektief van eksentrieke gedagtes wat oor die jare hulle eie stories in my gedagtes geskryf het. Daar het al vreemde  dinge deur die loop van my lewe gebeur en hierdie album is ’n tong-in-die-kies-sinopsis daarvan. Die meeste van die liedjies vind gedaante terwyl ek in my bakkie ry en word dan gestoor in die argiewe, waar ek hulle dan op ’n latere geleentheid nader hark. Ek sien myself as ’n storieman.

Ek sien al die musiek is deur Fred den Hartog (van onder meer DHF-faam) vervaardig. Hoe het die proses tussen julle gewerk om die regte balans tussen liriek en musiek te vind vir elke snit? En hoe het julle by mekaar uitgekom?

Ek en Fred is goeie vriende en ons werk besonder goed saam. Ek was bevoorreg genoeg om baie tyd saam met hom in sy ateljee te kon deurbring en sou dan meestal met verwysings van liedjies na hom toe gaan. Hy sou dan die liedjies begin vervaardig en terwyl hy die geraamte bou, sou ek dan begin om die storie te skryf.

’n Paar snitte (vernaam “Superfritz” en “Groeipyne”) is al ’n tydjie op die lugweë. Was dit veronderstel om as “teasers” te funksioneer, of wat was die groter gedagte daaragter? Heelwat kunstenaars verkies deesdae om singles deurlopend vry te stel en nie noodwendig op ’n album-vir-album-basis te werk nie – wat is jou gevoel hieroor en veral wat vir die Suid-Afrikaanse musiekbedryf die beste werk?

Ons het “Groeipyne” en “Superfritz” vrygestel voor ek by ’n platemaatskappy geteken het. Om die eerlike waarheid te sê, ek sukkel partykeer om volkome te begryp hoe die Suid-Afrikaanse musiekbedryf werk. Ek probeer maar voortdurend my strategie aanpas om te bepaal wat die wenresep is.

Dit is nogal moeilik om ’n genre op die album te sit … Sommige snitte is heeltemal rap-gedrewe (soos “Groeipyne”), ander voel soos straight-up sokkie-tunes (soos “Gat in Rat”), ander het weer ’n meer toeganklike popmelodie-gedrewe gevoel (soos “Te Jonk”), en daar’s selfs ’n reggae-agtige snit (“Gooi”). Hoe belangrik was daardie soort diversiteit vir jou met die saamstel van hierdie album? As jy jouself in ’n genre moes plaas, wat sou dit wees, of dan eerder, hoe sou jy die album beskryf vir iemand wat dit nog nie geluister het nie?

Ek maak PowerPopRock of KragPopRock. Ek wou eksperimenteer met verskillende genres, tipes musiek wat ek elke dag na luister. Dit was vir my van die begin af belangrik om musiek te vervaardig wat eie is aan my persoonlikheid en die diversiteit van my karakter weerspieël. Dis musiek wat nie voorgee om iets te wees wat dit nie is nie. My doel was om iets maak wat maklik is om na te luister en terselfdertyd die standaard van kommersiële Afrikaanse popmusiek uitdaag. Ek beskryf dit as dans-en-lag-musiek.

Daar’s nogal ’n sterbelaaide lys van kunstenaars wat saam met jou aan die album gewerk het: Francois van Coke, Pierre Greeff, Snake Venter, Duimpie se Maat … en dan natuurlik jou vriend en mentor Jack Parow. Hoe het julle besluit op watter snitte die gaskunstenaars die beste sou werk, en hoe was dit om saam met hulle almal te werk?

Omdat ons almal vriende is, is dit lekker om saam musiek te maak. Ek en Fred sou sit en dan sê: Hierdie koor kort ’n bietjie ... en dan ’n minuut later is ek op die telefoon met Frannie en die dag daarna is hy in die ateljee om “Superfritz” te sing. Ek is bevoorreg dat sulke talentvolle mense bereid was om saam met my te werk

Humor is iets wat deur die hele album sterk feature. Het jy spesifiek besluit dat jy liedjies wou doen wat snaaks en vermaaklik is, of hoe natuurlik is die humor-element vir jou in die skep van lirieke? Dit is interessant dat toe die musiekvideo vir “Gat in Rat” uitgekom het, heelwat mense op die sosiale media gedink het dis skreeusnaakse satire en ander mense gedink het dis maar net nog ’n sokkie-lied. Die musiekwebwerf Pressto.co.za het dit sommer as ’n nool-lied bestempel. Wat is jou gevoel hieroor?

Ek maak musiek wat vir my lekker klink. Ek skryf oor dinge wat ’n glimlag op my bakkies sit. Ek dink dis fantasties dat verskillende mense verskillend daaroor voel. Dit is veronderstel om ironies te wees en as dit te ernstig opgeneem word, laat dit my giggel. Om die mense aan die raai te hou is vir my belangrik. Humor is noodsaaklik vir ’n alledaagse bestaan. 

Jy is al ’n geruime tyd in die ronde op die musiektoneel, onder meer as Jack Parow se bassist. Wat is jou gevoel oor die geleenthede, gapings, die goeie en die slegte van die Afrikaanse (en Suid-Afrikaanse) musiektoneel op die oomblik? Wat werk, en wat werk nie, en wat moet ’n nuwe (of betreklik nuwe) kunstenaar soos jy self doen om die projek te laat wérk?

Dit is ’n uiters uitdagende toneel om by betrokke te wees en soveel moeiliker vir kunstenaars om deesdae blootstelling te kry. Nuwe kunstenaars moet gereeld by plekke kan speel, maar promotors is skugter om hulle te bespreek en bied hulle min of geen geld aan nie. Aan die een kant van die muntstuk probeer ’n mens om die kwaliteit/standaard van vertonings te lig, maar aan die ander kant is daar nie genoeg geld om jouself en jou medemusikante te betaal nie. As jy jou projek wil laat werk, moet jy self die telefoon optel en mense begin bel. Dis al wat werk.

Sommige mense sal dalk reken van jou lirieke, soos byvoorbeeld “ek laaik ’n rustige meisie soms meer as ’n wilde/ beide maeres en die dikkes/ survival of the fittest” (op “Ama get down”) is effens seksisties. Wat sal jy vir daai hôt bokkies en lekker spiertiere sê wat só dink?

Ek sal vir hulle sê: “Chill. Gaan gooi vir jou ’n lekker drankie en moenie te veel daaroor dink nie. Ek wil net hê julle moet die musiek geniet saam met my. Ek probeer nie statements maak nie, my boodskap is eenvoudig: Kom ons dans, lag en wees gelukkig.”

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top