’n Afrikaanse kerkman wat apartheidstrukture laat steier het, word weer onthou

  • 1

Op sy dag het Albert Geyser (1918–1985) se verset teen apartheid in die kerk en politiek die land vir jare in beroering gehou. Min mense uit die Afrikaanse gemeenskap was so dikwels en so lank in die nuus oor hul verset teen rassisme.

Net so bekend en omstrede as wat hy toe was, net so stilweg het hy uit die kollektiewe geheue verdwyn.

Sy naam word nie meer dikwels onthou as een van die vroegste en dapperste Afrikaanse figure wat ’n duur prys betaal het vir hul verset teen die apartheidstyd se rassisme nie.

In die proses het hy die gang van die geskiedenis in Suid-Afrika help bepaal.

Reeds enkele jare na die oorwinning van die Nasionale Party in 1948 het hy as ’n jong predikant in die Hervormde Kerk begin twyfel aan sy kerk se beleid om net wit mense as lidmate toe te laat.

Geyser, afkomstig uit die konserwatiewe, plattelandse Naboomspruit, het ná ’n klomp grade met stringe onderskeidings, onder van die bekendste Nuwe-Testamentiese professore in Nederland gaan navorsing doen. Op 28 jaar is hy as professor in Nuwe Testament aan die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Teologie (A) aangestel, waar hy predikante vir die Hervormde Kerk sou oplei.

Hy was die opkomende ster van die na-oorlogse jeug, van wie sy kerk net groot verwagtinge gekoester het. Maar dit was sy lot om ’n fyn denker te wees in die woelige tyd toe die tierende apartheidsisteem in ’n golf van groeiende nasionalisme uitgebou sou word om die staat, kerk en burgerlike lewe vir die volgende vyf dekades in sy ystergreep te hou. Dit was die tyd toe teenstand gevaarlik was en ware profete soos selde tevore vervolg is.

Spoedig sou die kritiek van die melkbaardprofessor teen sy kerk, maar ook teen die landspolitiek van die Nasionale Party, hom duur te staan kom. Soos die kerk dikwels met sy ongewenste profete werk, het die applous vir hierdie knap jong spreker en akademikus ná sy openbare kritiek opmerklik stil begin raak.

Al het lidmate vertel hoe hy hulle geïnspireer het met sy boodskappe oor die verbondenheid van die rassegroepe in ons land en die nodigheid om ter wille van die Evangelie na mekaar om te sien, het sy kollegas begin sorg dat hy nie meer preekbeurte kry nie. By die universiteit het sy mededosente ook hul visier met allerhande konkelwerk op hom begin instel. Teen die middel van die 1950’s was hy al ’n gebrandmerkte man.

Sy verset het vroeg begin.

As ’n pas aangestelde dosent skryf hy met jeugdige drif hierdie merkwaardige woorde in sy kerk se amptelike blad wat dikwels in Hervormde navorsing aangehaal word en seker een van die mees dodelike vorme van kritiek op ’n volkskerk verteenwoordig:

’n Boerekerk met sy partypolitieke deelname, sy ekonomiese invloed, sy maatskaplike voortreflikheid, mag nasionale Kerk wees, maar hy het opgehou om Christus-kerk te wees. Hy mag ’n gedugte faktor wees in die staats- en wêreldmag, maar hy sal verleë staan in die verkondiging van die Evangelie van vrede en liefde.


  Die kapel van die Teologiese Fakulteit (UP).

Vir sy kerk was dit nog draaglik dat hy die berugte verwydering van die bruin verteenwoordiging uit die parlement saam met 13 Afrikaanse akademici in ’n eerste unieke openbare verklaring teengestaan het. Maar toe hy die teologiese regverdiging van apartheid en sy kerk se artikel 3 met sy verbod op lidmaatskap vir niewittes bevraagteken het, was die waters troebel om hom. Die elemente het woester teen hom gedraai toe hy die anti-apartheid-uitsprake van die internasionale Cottesloe-beraad van wêreldkerke ná die vernietigende Sharpeville-opstande in 1960 openlik en sterk verdedig het. Hy was deel van ’n groep wat tot in die parlement verwoed deur die destydse premier, HF Verwoerd, aangevat is.

Geyser sou vir die res van sy lewe so ’n kritiese, vreeslose aktivis bly. Hy was die flink dinker, die een wat dinge aan die roer gesit het, geskryf en geprotesteer en bly karring het.

In 1960 skryf hy byvoorbeeld saam met prof Bennie Keet uit Stellenbosch die gerugmakende boek met die titel Vertraagde aksie uit protes teen die teologiese regverdiging van apartheid. In Pretoria is terstond massavergaderings van verontwaardigde skares gehou om teen die boek te protesteer en die stemming teen die skrywers as “liberale” en “kommunistiese” opstokers aan te blaas.

Sy praktiese benadering blyk ook daaruit dat hy baie later die Christelike Instituut geïnisieer het en dat hy die een is wat Beyers Naudé genooi het om die Instituut te bestuur.

Hy het duur hiervoor begin betaal. In die kerk het sy kollegas en medepredikante sy studente teen hom opgesteek en is hy ná ’n kerksaak oor sy gewaande kettery uit sy amp geskors. Hulle wou die doring in hulle vlees wegkry. Hy het hom tot ’n burgerlike hof gewend. Die hofsaak, een van die twee grootstes in die 20ste eeu (die ander een was teen prof Du Plessis van Stellenbosch), is weke lank in die media gerapporteer. Geyser het ’n huishoudelike naam in die land geword.

Die hof het uiteindelik beveel dat die kerk hom in sy amp moet herstel.

En toe, ’n ruk later, in nog ’n hofsaak waarin hy verontwaardig beswaar gemaak het dat hy deur ’n kollega belaster is, is gelas dat die oortreder skadevergoeding aan Geyser te betaal. Daar was weer eens nie ’n dag dat die koerante nie vol van verhale oor die hofsaak was nie.

As Geyser toe al ’n doring in die vlees van sy kerk was, sou hy kort daarna die breë Afrikaanse gemeenskap ernstig aanstoot gee toe hy sy vriend Beyers Naudé se vertroulike Broederbond-dokumente aan ’n Engelse Sondagkoerant laat uitlek het.

Die maghebbers in die kerk, politiek en burgerlike lewe was siedend.

’n Mens kan aanneem dat veral hierdie gebeurtenis tot Geyser se verwerping deur sy eie mense gelei het. Die etiket van volksverraaier in ’n tyd van noodtoestande, sanksies, grensoorlog en internasionale afkeer van die land is om sy nek gehang en hy is tot een van die voorste vyande van die Afrikanervolk verdoem.

Selfs getroue medestryders het gemengde gevoelens oor die onthullings gehad, soms besonder heftig. Die onkreukbare prof Ben Marais, ook ’n professor by UP se teologiese fakulteit, het destyds gevoel dat Geyser se optrede oneties was en selfs gegrens het aan verraad. (Marais, wat aan die NG Kerk se fakulteit verbonde was, was self ’n kritikus van apartheid, en nie lid van die Broederbond nie.)

Maar hoe ’n mens ook al oor die etiek van die gebeure sou kon praat, was die gevolge verreikend vir die land, die kerk en die politiek toe die ongehoorde invloed van ’n geheime organisasie en die wye betrokkenheid van politici en predikante daarin bekend geword het. Die land was in 1963 en die daaropvolgende jare, tydens die onthullinge oor die geheime vereniging, in die greep van wat ’n mens alleen maar totale sensasie sou kon noem. Dit was tye wat die hele land in hoogspanning gehad het.

Daar is nie twyfel nie dat die onthullinge, deur Geyser bemiddel, die begin van die einde vir ’n magtige instelling beteken het en die donker kante van die apartheidstyd vir mense duideliker laat word het. Dit sou later ’n rol in die oorgang na ’n demokrasie speel.

Geyser het weens hierdie voorvalle ’n duur prys betaal. Hy is met die dood gedreig, sy foon is afgeluister, sy pos is onderskep, sy bewegings is gemonitor en op ’n stadium is daar met die remme van sy motor gepeuter.

Nog tragieser is hoe sy nabye familie en ou vriende hom begin vermy het. Sy dominee-broer het hom in die openbaar as ’n duiwel in engelgewaad uitgekryt. Sy vrou is ’n paar keer weens spanning vir terapie in ’n hospitaal opgeneem, en sy seun het sy hand aan sy eie lewe geslaan.

Uiteindelik het hy ’n aanstelling by die Universiteit van die Witwatersrand aanvaar, waar hy ’n rustiger tuiste gehad het.

Geyser het op 13 Junie 1985 op die betreklik jeugdige ouderdom van 67 gesterf. Sy einde was anders as dié van sy groot strydgenoot, Beyers Naudé, wat in 2004 op die ouderdom van 89 jaar sou sterf nadat hy met sy eie kerk versoen is en deur politici by sy staatsbegrafnis hoog geroem is.

Albert Geyser (links) en Beyers Naudé (regs).

Geyser is stilweg, op sy eie versoek, in ’n Engelse gemeente van die Hervormde Kerk begrawe nadat hy vir 20 jaar nooit weer ’n Hervormde kerkdiens bygewoon het nie.

En mettertyd gebeur dit toe dat hierdie Afrikaanse kerkman van ywer, insig en energie wat die gang van ons land se geskiedenis help bepaal het, feitlik heeltemal onbekend geword het.

En tog ook nie heeltemal nie. Want hier begin my eintlike storie. Aan al hierdie dinge dink ek toe ek na Pretoria vlieg vir die eerste gedenklesing ter ere van Albert Geyser wat op 17 Februarie 2014 deur die teologiese fakulteit van die Universiteit Pretoria gehou is.

By sy alma mater word nou ereskuld teenoor hom op ’n laat stadium uiteindelik gedeeltelik betaal. Een van die bekende Hervormde teoloë van ons tyd, prof Andries van Aarde, speel ’n groot rol in die erkenning van Geyser se teologiese en kerklike erflating.

Die dag van die gedenklesing is daar ’n stewige klomp mense in die gehoor. Hulle kom sekerlik ook omdat een van ons land se voorste akademici, en ook ’n gesoute stryder teen rassisme, prof Jimmy Loader, die eerste lesing aanbied. Maar die geleentheid staan duidelik voluit in die teken van herinnering aan die werk en lewe van Albert Geyser.

My plesier aan die oomblik is nie ongekontamineerd nie. Voor die begin van die lesing gesels ek met 'n middeljarige teoloog, nou in 'n bestuursposisie van een van die Afrikaanse universiteite. Hy weet nie wie Albert Geyser is nie. Hy het nog net vaagweg van hom gehoor, sê hy vir my.

Ek besef weer met ontnugtering: Albert Geyser, een van die sentrale figure in die stryd teen apartheid, is dertig jaar na sy dood onbekend aan selfs ’n ouer geslag kerklikes en teoloë.

Des te meer, besef ek dus, die nodigheid en paslikheid van hierdie gedenklesing.

Want so ’n geleentheid sal die pad baan om sy gedagtegoed te onthou en ook aan die toekoms te bou. Hy het ’n teologie beoefen wat ingestel was op die soeke na groter eenheid, meelewing en versoening tussen groepe wat op die oog af onversoenbaar skyn te gewees het. Hy het gevra om mense nie op grond van ras te beoordeel en van mekaar af te skerm nie.

Wat saak maak, is menslikheid teenoor mekaar, gefundeer in die goedheid en guns van God teenoor almal.

Geyser het uitgestaan as die vreeslose, vlymskerp denker wat soos ’n bulhond aan sy standpunte vasgehou het en deur sy knaende aktivisme bo vele uitgestyg het. Hy het dit met soveel oortuiging gedoen dat sy optrede dikwels as vernederend en beledigend deur sy opponente, en selfs deur sy medestryders, ervaar is. In dié opsig was sy persoon nie sonder skerp kante nie. Maar, gegewe die tye en gegewe die manier waarop die stryd teenoor hom gevoer is, kan ’n mens ook nie alte veel verbaas hieroor wees nie.

Maar ten slotte is die verhaal van Geyser ook nie altyd so donker nie. Dit is opvallend hoe hy deur sy akademiese geesgenote behandel is. Hy was in hulle omgewing nie die volksvyand wat vermy moes word nie. Hy was in die gerekende Nuwe-Testamentiese Werkgemeenskap van Suid-Afrika ’n aktiewe en gewaardeerde lid en medewerker. Reeds in 1983, dertig jaar gelede, toe ek redakteur van Neotestamentica, die vaktydskrif vir Nuwe Testament in Suid-Afrika was, het ek voorgestel dat ons ons tydskrif vir daardie jaar as ’n erebundel aan hom uitgee. Dit was ’n eregebaar wat sy aftrede by die Universiteit van die Witwatersrand sou gedenk. Die voorstel is sonder teenstem en sonder enige negatiewe kommentaar eenparig deur die vereniging aanvaar – en dit in 'n tyd toe apartheid nog hoogty gevier het en volksvyande gewilde teikens was.

Ek onthou met hoeveel vreugde ons die oorhandiging by ’n feestelike byeenkoms gedoen het en met watter sterk, ingehoue emosie prof Albert die eerbewys in ontvangs geneem het.

‘n Jaar of wat daarna, kort na sy aftrede, is hy oorlede.

Wat my laat besef: met die gedenklesing is hierdie waardering vir Geyser deur sy eertydse vakgenote en kollegas opnuut bevestig en die ruimte geskep om diep na te dink oor sy erflating aan die kerk en land. En uiteindelik wys hierdie gebeure hoe belangrik dit is dat ’n gemeenskap gedien moet word deur ondersoekende, kritiese en dapper denkers. Waar profete tot swye gebring word, broei ongebreidelde kwaad.

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 1

Kommentaar

  • Dankie vir hierdie bondige artikel wat Albert Geyser se lewe en oortuigings in perspektief plaas. Dit is jammer dat hy so gou van die radarskerm van vele Afrikaanssprekende predikante en lidmate verdwyn het. Hy het 'n duur prys vir sy oortuigings betaal, maar het 'n groot aandeel gehad in die besef wat mettergaan gegroei het dat apartheid nie 'n goeie politieke beleid was nie en dat dit nooit kerklike ondersteuning moes geniet het nie. Sakkie Spangenberg

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top