RR Ryger: "Ek hardloop al van geboorte af in daai Tussenwêreld ..."

  • 0

RR Ryger se jongste boek, ’n 101 Bakgat maniere om te lewe en te sterwe, is pas deur Queillerie uitgegee. Ryger beantwoord enkele vrae oor sy ongewone aanslag en hoe die boek as “twee verhale in een” aangebied word.

Goeiedag, RR. Hoe gaan dit?

Dit gaan orraait, dankie. Kom nou net van die gym af waar ek gisteraand se wyn uitgesweet het. Gelukkig was dit min wyn, so ek het nie te veel gesuffer nie.

’n 101 Bakgat maniere om te lewe en te sterwe is pas gepubliseer. Dit word beskryf as “twee verhale in een” – wat het jou laat besluit om dié roete te volg?

Ek het albei die manuskripte gehad en toe ek op ’n dag weer na dit sit en kyk, besef ek al twee pas lieflik in by die aanhaling van Uys Krige uit Sol Y Sombra wat ek voor in die boek as sleutel aanbied. So, waarom nie in een boek gooi nie, veral omdat die meeste van my boeke nie moerse dik is nie. Met so ’n dikker boek voel die lesers hopelik meer tevrede, solank hulle kan sien ek het nie allerhande boktos ingegooi net om die boek dikker te maak nie. Die stories moet steeds vaartbelyn wees en lekker lees.

Daar is verskeie temas wat die twee verhale aan mekaar verbind. Vir my was die mees deurlopende die tema van helde en heldebeskouing. In Kaktushart is die hoofkarakter, die Springbok-afrigter Walter Cronjé, die held wat deur aanhangers ontvoer word. In Bloedlyn is dit Warren Jevon, die leier van ’n groep Sataniste (om dit eenvoudig te stel), wat soos ’n held gevolg en vereer word. Verder word verskeie verwysings na heldefigure soos Steven Seagal en Chuck Norris gemaak. Wat vind jy interessant omtrent heldeverering en wat glo jy is die gevare daaraan verbonde, beide vir die held en vir die volgelinge? Hoe wou jy dít in die twee verhale oordra?

Basies gaan dit vir my daarom dat die neiging daar is om helde te vereer en dan te vernietig wanneer mense besef die helde is ook net gewone mense. Check vir Joost van der Westhuizen. Ons volk is omtrent deur alle emosies op die Richterskaal met sy sage. Van ons leef ons lewens deur ons helde. Helde is nodig, maar helde is ook net mense.

Beide hoofkarakters in die twee verhale – die joernalis Dirk Steyn en Cronjé – het ’n agtergrond van ernstige gesinsprobleme. Hoe ’n groot rol speel dit in hoe dié karakters hul lot (as ek dit mag waag – albei voel vir my betreklik fatalisties) beskou en hoe hulle die mense in hul lewens hanteer of benader?

Wel, vir my is dit net logies dat mense gevorm word deur hulle jonger dae en baie van daai dinge gaan verder aan in hulle lewens uitpop soos ’n ryp pitsweer. Ek dink Cronjé se jonger dae was nie te erg nie – ek meen, hy is lekker gekoester, hy was meer die slagoffer van die weird artists wat hom gegryp het. Oukei, sy seksdrange hou hom ’n wyle vas in die web, dit is so. Steyn is ’n ander storie, alhoewel, noudat ek daaraan dink, besef ek hy het ook ’n paar seksdrange wat met sy kop gesmokkel het …

Dwelmgebruik – willekeurig of nie – en veranderende bewussynstoestande speel ’n groot rol in beide die verhale. Watter elemente hieraan vind jy die mees opwindend om te verken? Het jy persoonlik enige gevolgtrekkings daaroor wat voor, tydens of ná die skryf van die verhale gemaak is?

Daai onderbewussyn wat uitkom met dwelms is scary shit. Ek het self bietjie aangejaag op ’n tyd met dwelms en gou besef met ’n brein en onderbewussyn soos myne moet ek ver weg bly. Dis nie ’n ou grappie daai dwelms nie.

Die element(e) van fisieke marteling en pyn deur ander se toedoen is ook prominent in albei verhale en is grootliks ’n gevolg van die karakters se optrede. In watter mate is dit ’n weerspieëling van die gevaar of moontlikheid van sielkundige marteling (deur die self of die ander) wat verband hou met moontlik onoordeelkundige optrede en die gedagtes wat jy persoonlik daarjeens het?

Jis, ek onthou toe ek ’n laaitie was het ek en ’n tjommie ’n prentjie van ’n terroris geteken. Dan het ons beurte gekry om die terroris te martel. Ek sou kamma ’n riet in die ou se oor druk, dan teken ek hoe die bloed daar uitspuit. Dan rasper my tjommie die ou se wang af en jy sien daar spat die velle. So, ek was nog altyd bewus van marteling en ek is nogal bang daarvoor.

Beide Dirk Steyn en Walter Cronjé se doelstellings en wêrelde word omgekrap ná hulle in die strik van verleiding trap – Dirk met die prostituut Maria en Walter met die kunstenaar Essie. Dís ’n onderwerp wat natuurlik al omtrent so oud soos die literatuur self is – hoe het jy te werk gegaan om dit op ’n unieke manier aan te pak en uit te voer?

Ek weet nie of ek dit op ’n unieke manier aangepak het nie; ek het maar net die stories geskryf soos dit by my opgekom het.

Die tempo van die twee verhale verskil nogal – Bloedlyn vloei besonder vinnig in terme van gebeure, terwyl Kaktushart meer tyd neem om die karakters te verken en meer plek aan lang dialoog afstaan. Hoe het jy besluit om só met die twee verhale te werk te gaan en hul van mekaar te onderskei? Met watter aanslag voel jy gemakliker?

Ek voel gemaklik met al twee aanslae. Onthou, in Kaktushart is die arme poephol nogal vir ’n wyle aan die bed vasgebind, so hy kon nie juis escape van die dialoog nie. Die uitdaging is om die dialoog vermaaklik te maak. Dis interessant wat jy daar sê van die stories wat vloei al dan nie. My vrou, byvoorbeeld, het al twee stories omtrent ewe vinnig gelees. Dit gaan oor hoe jy die leser kan vasvang. Sy het wel die boek ’n paar keer eenkant gesit met Bloedlyn omdat sy bietjie bang was oor die gebeure. Dit gaan vir my oor daai emosies wat ek by die leser opwek – ek wil hê hulle moet gil, lag, als behalwe verveeld wees. Hulle kan maar die moer in raak ook, net nie omdat hulle dink hulle het hulle geld gemors op die boek nie. Ek weet hoe moerig ek raak as ek vir ’n boek betaal en dan doen dit niks vir my nie.

Die volgende aanhaling kom op die agterblad voor: “In Uys Krige se Sol Y Sombra staan daar: ‘En selfs as jy wakker is, is jou gees nie helder nie, maar troebel en verward, voel jy asof jy êrens weg van die aarde af is of in ’n tussengebied hang, beangsd, ylhoofdig.’” Hierdie “tussengebied” word telkens deur verskillende karakters betree – wat is jou persoonlike beskouing en ervaring van hierdie gebied?

Ek hardloop al van geboorte af in daai Tussenwêreld, en dis nie altyd pret nie. Het nou onlangs weer ’n nagmerrie gehad en so op my tande gekners dat ek ’n draai by die dokter en toe die tandarts moes maak. Eers het die bases my mond laat opswel – jy sou sweer ek het Wladimir Klitschko met my gesig in die agterkop geslaan. Toe doen die tandarts ’n root canal en ek moet sê, dit was nou inderdaad ’n interessante ervaring. Absoluut die moeite werd gewees.

Die aanslag in jou skryfstyl en hoe die verhale afspeel, is (dankie daarvoor!) allermins hoofstroom. Wat is die oorsprong en vorming van jou styl en die onderwerpe wat jy aanpak?

Ek lewe maar net, en dan as ek weer sien, skryf ek.

Jou alter ego, Michael Green, is ’n sportverslaggewer by ’n prominente Afrikaanse dagblad. Hoe voel hy oor jou skryfwerk en spesifiek oor 101 Bakgat maniere …?

Hy sou daarvan hou om voltyds boeke/movies/ens te skryf, maar hy sou steeds by sport betrokke bly, dalk as vryskut of so.

Koop ’n 101 Bakgat maniere om te lewe en te sterwe by Kalahari.com.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top