Rou

  • 0

Foto: Canva

Rou

Dit pla haar dat daar al minder verskyn. Daar was ’n tyd waar dit ’n volle blad, selfs meer was. Ses dae ’n week, 52 weke per jaar, vakansiedae uitgesluit.

Sy gaan haal die koerant by haar voordeur. Hoopvol. Dankbaar. Daar is plekke in die land wat nie eens meer gedrukte koerante kry nie.

Dis Maandag. Sy het ’n week om te beplan.

Op die voorblad is daar ’n foto van Saterdag se rugby. ’n Opskrif oor een of ander politieke skandaal. Onder aan die blad ’n artikel oor ’n kompetisie waar die swaarste pampoen aangewys is. Rugby, politiek en pampoene. Net nog ’n naweek in sonnige Suid-Afrika.

Sy blaai nie deur die res van die koerant nie. Sy haal dadelik die bylaag uit. Daar is net drie. Twee het volkleurfoto’s; een ’n aantreklike gryskopvrou en die ander ’n man met ’n pankop en ’n das met een of ander embleem op.

SWART (née DE WAAL) Johanna Elizabeth (Hannie) 1930–2025. Sag heengegaan in die geseënde ouderdom van 82 jaar. “Soos sy gelewe het, so het sy gesterwe.”

Sy wonder altyd wat dit beteken. Het die vrou rustig gelewe en toe rustig gesterwe? Het sy ’n goeie lewe gelei en toe ’n sagte oorgang na die ander kant gehad? Is sy skreeuende die wêreld in en ook so daaruit? Hoe sterwe jy soos jy gelewe het?

Die begrafnis is in Goodwood. Donderdagoggend 10:00. Verversings sal na afloop van die diens in die kerksaal bedien word.

Sy kyk na haar dagboek. Sy sal dit kan bywoon. Daar is reeds een vir die middag, maar dis eers 15:00 en net om die draai in Bellville.

Sy kyk na die foto van die man. Hy het ’n dun snorretjie en glimlag amper.

VAN DER MERWE Jacobus Petrus 12 Februarie 1948–27 Maart 2025. Ons vader, oupa en rots. “I am prepared to meet my Maker. Whether my Maker is prepared for the great ordeal of meeting me is another matter.” – Winston Churchill

Dit is die eerste keer dat sy die aanhaling raaklees. Sy trek haar boek waarin sy sulke spesiale woorde neerskryf nader en skryf dit presies neer.

Die man se begrafnis is Vrydagoggend in Bloubergstrand. Alles werk mooi uit. Daar is dan dus elke dag hierdie week twee en die een Vrydagoggend. Sy kan selfs ná die diens by die see gaan stap. Dis so mooi tyd van die jaar.

Die een sonder die foto is die begrafnis van ’n kind. Net 10 jaar oud. Sy lees die beriggie vinnig. Wil nie te veel van die inligting inneem nie. Sy doen in elk geval nie enige persone onder 18 nie. Daardie een keer, met die motorfietsongeluk wat die ouers se enigste kind, ’n seun met ’n blonde kuif en blou oë, gegryp het, het haar geskeur. Die geluid van die wenende ma, ’n geluid soos geen ander nie, sal sy nooit uit haar geheue kry nie. Die prentjie van die pa wat by die oop graf sy hand moes uitsteek sodat iemand hom regop kan hou. Nooit weer nie, het sy haarself belowe, nooit weer ’n kind nie.

Sy kyk op haar horlosie. Dis skuins ná agt. Daar is genoeg tyd om nog ’n koppie koffie te drink, roosterbrood te eet en dan te gaan stort. As sy so kwart oor nege ry, sal sy betyds wees vir die diens tienuur.

Met haar ouers se begrafnis was sy alleen. Ja, daar was ’n verlangse neef van haar pa, iemand wat gesê het hulle was saam met haar ma op skool en twee vroue wat saam met haar in die koshuis was. Sy vergeet nou hulle name. Ook ’n paar mense van die universiteit, maar eintlik was dit net sy. Enkelkind van ouers wat beide so teruggetrokke was, dat dit ’n godswonder is dat hulle mekaar ooit ontmoet het. Wat nog te sê dat hulle sover gegaan het om haar te verwek.

Hulle het laat in hulle lewe ontmoet, vinnig getrou. Haar ma was 39 toe sy haar gehad het; haar pa 43. Hulle huwelik was soos hulle. Eweredig. Amper gemoedelik. Stemme het nooit hard gepraat nie. Saans het haar pa haar ma se voete gevryf wanneer hulle op die sitkamerbank gesit en lees het. In die oggende het hy vir haar en haar ma rooibostee met heuning in die bed gebring.

Sy was 19 toe hulle 15 jaar gelede in die motorongeluk dood is. Op pad terug van die universiteit waar hulle beide navorsing gedoen het. Die dronk student wat breinskade in die ongeluk opgedoen het, is twee weke later in die hospitaal dood.

Sy het haar studies gestaak toe die prokureur vir haar sê sy het genoeg geërf om maandeliks ’n toelaag te kry om al haar kostes te dek. Haar ouers se huis en oortollige meubels is verkoop en sy het vir haar ’n eenslaapkamer-woonstel in Durbanville gekry en haar stil, saai bestaan gevoer.

Wanneer was die eerste keer dat sy ’n vreemdeling se begrafnis bygewoon het? Sy kan nie onthou nie. 10, 12 jaar gelede? Weet ook nie wat die impuls was wat haar laat besluit het om dit te doen nie. Wat begin het as een uit ... wat? Nuuskierigheid? ... Het mettertyd ’n obsessie geword. Sy sou haar vaal hare in ’n poniestert vasmaak, ’n swart rok aantrek en so onopsigtelik moontlik probeer wees. Sy sit altyd skuins agter in die kerk. So dat sy almal kan dophou, maar ook so dat niemand juis notisie van haar neem nie. Sy kom altyd net betyds by die kerk aan, maar loop laaste uit. Sit kop omlaag wanneer almal uitstap, soms met ’n sakdoek voor haar mond waaragter sy skuil. Elke

 

nou en dan ook ’n hoed, serp of bril. Net as dit groot begrafnisse met ’n honderd of meer mense is, sal sy bly vir tee en toebroodjies. Altyd onopsigtelik, in die hoek of agter ’n pilaar, bang dat iemand met haar kom praat.

Vreemd wat die dood aan mense wat agterbly, doen. Soms sien sy intense hartseer, ander kere ’n traak-my-nie-agtigheid, maar altyd, áltyd ’n aasvoël of twee. Sy kan hulle al uitken. Hulle koppe wat soos naguile draai om te sien wie almal daar is. Flitsende oë wat niks wil mis nie. Hulle wat die trane kan aandraai, die treurendes se hande kan neem en o, so innig kan simpatiseer. Bliksems.

Sy is gewoond aan haar alleenlewe. Daar is niemand nie. Nie eens ’n kat nie. Oor haar sal hulle ook seker eendag skryf: Stil het sy gelewe en stil het sy gesterwe. Maar wie is daar om háár doodsberig te plaas? Sy het soos die jare aangestap het al meer mense begin afsny. Nie dat daar ooit ’n skare was nie. Sy is die produk van haar ouers. Stil, teruggetrokke. Nie noodwendig skaam nie. Skugter. Versigtig. ’n Waarnemer wat op die oog af ’n vaal persoonlikheid het.

Maar wat hulle nie van haar weet nie, is dat sy stukke Shakespeare foutloos kan voordra. Antjie Krog ken sy intiem. Danie Marais, Ronelda Kamfer en Loftus Marais haar gunstelinge onder die jonger digters. Adam Small se gedig “Vryheid” kan sy opsê asof sy dit self geskryf het. Die gedig wat begin: “Die see ruk teen die rotse by Houtbaai ...”

agt sitplekke is oop voor in die bus

vir blankes net

en ’n swanger vrou moet staan, sy’s bruin, nie wit

en deur die ruite

kom die sonskyn oor die akkerbome buite –

deel van die droewe hel van hierdie rit

 

ek vra die kondukteur mag sy maar sit ...

my God, mag sy maar sit

mag sy maar sit!

 

maar watter voorreg is dit tog is jy nie wit

om te mag sit

God ja

net dit

net dit

 

Haar ouers was regverdige mense. Sy is grootgemaak om mense te respekteer. Praat wanneer met jou gepraat word. Wees hoflik. Sê asseblief en dankie vir die tannie was altyd haar ma se laaste woorde voor sy afgelaai is by die min kinderpartytjies waarheen sy genooi is.

Die enigste mense met wie sy deesdae ooit praat is terloopse gesprekke in winkels, ’n groet wanneer sy een van haar bure raakloop.

Sy staan voor haar klerekas ná sy gestort het. Die een swart rok na die ander neem die grootste deel van die kas op. Sy blaai daardeur. Kies uiteindelik ’n swart hemprok wat tot net onder haar knie kom. Dis herfs. Sy sal haar sandale aantrek met die lae hak en die toe tone. Hare soos gewoonlik in ’n poniestert. Swart handsakkie met ’n sakdoek. Nie snesies nie. Altyd ’n sakdoek met ’n stukkie kant in die een hoek.

Sy sit ’n klein bietjie ligpienk lipstiffie aan. Maskara wat amper maar kon gebly het, so min en lig is dit. Sy kyk vir haarself in die spieël. Niemand sal haar raaksien nie.

Wanneer sy haar voordeur sluit, sien sy ’n beweging uit die hoek van haar oog. Sy probeer onopsigtelik kyk. Nuwe intrekker. Dis ’n man wat sukkel om ’n stoel by die voordeur van die woonstel langsaan in te kry.

“Haal die kussings af,” sê sy en skrik vir haar eie stem.

Die man kyk op. Sy skat hy is om en by haar ouderdom. Hy lyk bietjie soos haar pa.

“Ekskuus?” vra hy.

“Haal die kussings af, dan sal die stoel makliker deur die deuropening gaan,” sê sy.

Hy kyk na die stoel. Haal die kussings af en sit dit eenkant. Lig weer die stoel op en draai dit skuins sodat dit by die deur inpas.

Sy glimlag. Sluit die sekuriteitshek en sit die sleutels in haar handsak.

Hy kom uit die woonstel.

“Dankie,” sê hy. “Soms is die mees ooglopende oplossing reg voor jou oë.”

Sy weet nie wat om te sê nie. Staan net en kyk na die man.

“Ek moet gaan,” sê sy eindelik en begin stap. “Sterkte met die trek.”

Sy kan nie vinnig genoeg daar wegkom nie. Klim in haar kar en wanneer sy die sleutel in die skakelaar druk, sien sy haar hand bewe effens.

By die eerste begrafnis van die dag is dit asof haar gedagtes dwaal. Wie is die man? Sy hoop nie sy sien hom wanneer sy later huis toe gaan nie. Sy sal wag tot dit donker is voor sy na haar woonstel toe gaan. Maar hoekom wil jy hom nie sien nie? vra ’n klein stemmetjie in haar kop. Hy lyk tog gaaf. Hoekom nie? hamer die stemmetjie voort. Toe nou. Maak oop. Dis tyd.

Sy probeer die stemmetjie stilmaak, fokus op die begrafnisgangers. Hulle is vandag almal daar. Die treurendes, die huilers en snikkers, dié wat lyk of hulle liefs elders wil

wees, die nuuskierige agies wat daar is vir die drama, die aasvoëls wat wonder of daar ’n aalmoes na hulle kant toe gaan kom.

Wat van die man in die woonstel? Hy lyk soos jou pa, fluister die stemmetjie. Kyk, hy lyk so bietjie soos jou pa.

*

Dis amper-amper donker toe sy voor die woonstelblok stop. Sy sien daar is ’n lig in sy woonstel aan, maar besluit dit is veilig om verby te loop. Hy is sekerlik besig om uit te pak. Sy sluit haar kar en stap na haar voordeur toe. Die sekuriteitshek is al oopgesluit en sy draai die sleutel in haar voordeur. Hy kom uit sy woonstel gestap tot naby haar.

“Ek het bly kyk wanneer ek jou kar sien,” sê hy. “Ek wou weet of ek dalk môre vir jou iewers kan gaan koffie koop?”

Haar binneste skrik. Dit te skielik. Onverwags. Sy kyk na die man wat soos haar pa lyk. Sy dink aan haar dae en aande alleen. Sy dink daaraan dat niemand vir haar ’n doodsberiggie in die koerant gaan plaas nie. Dat daar nie tee en driehoek-toebroodjies ná die diens gaan wees nie. Niemand gaan treur nie. Niemand gaan aas nie. Niemand gaan met ’n sakdoek voor hulle mond sit nie.

“Net koffie,” sê hy en glimlag. “Môre. Enige tyd wat jou pas. Wat van drieuur?”

Sy kyk in stilte na die man. Die sekondes tik verby.

“As jou vrou ver swanger is en julle is op ’n vol bus en niemand wil vir haar opstaan nie, wat sal jy doen?” vra sy uiteindelik.

“Wat?” vra hy met ’n frons, verward.

Sy sug liggies. Blaas haar asem uit.

“As jou vrou ver swanger is en julle is op ’n vol bus en niemand wil vir haar opstaan nie, wat sal jy doen?” vra sy weer met amper ’n klem op elke woord.

Hy frons steeds.

“Wie ry nog bus?” vra hy.

Sy kyk weer na hom. Weeg. Weeg. Weeg. Te lig.

“Ek kan ongelukkig nie gaan koffie drink nie. Ek het ’n begrafnis waarheen ek moet gaan,” sê sy en stoot haar voordeur oop.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top