Rookskerm deur Joubert Odendaal: ’n resensie

  • 1

Rookskerm
Joubert Odendaal
Naledi
ISBN: 9781928426264

Dit verg nogal baie om met groot name in die spanningsfiksiemark mee te ding.

’n Debuutskrywer het baie waagmoed nodig om sy werk daar te stel, veral as lesers in ons moderne era glad nie naïef lees nie. Daarom het ek respek vir Joubert Odendaal, omdat hy ‘n treffende verhaal op die rak geplaas het. Lesers, juis slaafse volgelinge van die whodunnit-kultus, is ingelig en ingeoefen om leidrade en die realistiese waarde van gebeure en situasies te ontleed en daarvolgens te beoordeel. Ongelukkig moet die skrywer daarvoor pa staan as sy spanningsverhaal dan nie die toets van die algemene publiek slaag nie.

Met die lees van Rookskerm is daar heelwat wat beïndruk, maar ook baie wat onder die leser se kraag kan inklim. Die teks voel onafgerond en heelwat steurnisse in die teks maak gemaklike lees moeisaam. Dit is darem nie ’n wroeging nie, maar die uitgewer kon met eenvoudige voorstelle die debuutskrywer beter leiding gegee het om hierdie steurnisse te voorkom. As jy met Deon Meyer, Martin Steyn, Rudie van Rensburg, Madelein Rust wil kuier in hul genre, moet jy kan swem of die publiek gaan jou summier uitspoel op die strand.

Joubert Odendaal het die talent om situasies haarfyn te beskryf sodat jy werklik in vervoering kan raak oor die kleiner besonderhede, maar in ’n spanningsroman kan dit ongelukkig soms die spoed van jou verhaal breek. Juis in spanningsfiksie is dit van kardinale belang dat die skrywer die goue reël van “wys, moenie vertel nie” moet handhaaf. Daar was ongelukkig net te veel kere wat ek werklik nie omgegee het watter klere of motors hierdie karakters besit nie. Ons stel meer belang in wat hulle doen en hoe hulle dit doen. Beskryf die res net as dit tot jou storie bydra.

Die protagonis van die verhaal is ietwat onafgerond. Dit is moeilik om met hom te assosieer as jy nie ’n volledige beeld van hom in jou kop kan skep nie. Daar kan baie meer oor Wouter Wessels gesê word as wat ons lees, en dit word ongelukkig ook nie tussen die lyne versteek nie. Ek het werklik die idee gekry dat net die helfte van die verhaal vertel word, omdat daar te veel storie was vir die woordtelling van die boek. In teenstryd met die hoeveelheid teks wat aan fyner besonderhede gewy word, is dit asof die belangrike oomblikke te vinnig verby flits. Die spanning moet stadig bou tot ‘n klimaks en dit is waar in die kuns lê om hierdie genre te bemeester: Die skrywer moet met die leser ’n kat-en-muis-speletjie speel. Emosionele verbintenisse met ander karakters gaan verlore, omdat daar werklik nie genoeg aandag aan die kleiner klimakse gegee is voor die fulkrum eindelik oor jou breek nie.

Baie vrae het by my ontstaan oor die realistiese waarde van sekere elemente. Geld speel ’n groot rol in die verhaal, maar die manier waarop die protagonis met geld omgaan, het my skepties gelaat. ‘n Ander kwessie wat die leser skepties kan laat, is die natuurlike reaksies op gebeure wat nie noodwendig sal wees hoe ’n redelike man optree nie. As jou sleutelgetuie spoorloos verdwyn, sal jy vir seker stappe doen om die persoon as vermis aan te meld, al het jy dan ook probleme met die gereg. Ons lees om lekker te lees, en ‘n leser moet seker nie alles probeer ontleed nie, maar in hierdie mededingende mark kan ‘n spanningsfiksieskrywer nie bekostig om die geloofwaardigheid van sy verhaal in die voet te skiet nie.

’n Ding wat aanhou krap, is die feit dat amper alle gesprekke wat tussen die uitlanders plaasvind, eers in Portugees is en dan direk na Afrikaans vertaal word. Dit breek geweldige spoed in situasies waar die leser eerder meer oor die slagoffers van hierdie seksslaafkring sou wou weet.

Odendaal doen baie navorsing vir hierdie boek, en dit is duidelik sigbaar in sy kraakvars manier om ook tegniese aspekte in sy verhaal te gebruik. Dit maak die lees lekker vir mense wat ook belangstel in hierdie deel van kriminele ondersoeke. Hy slaag daarin om die tegniese aspekte skelm in sy verhaal in te vleg, sodat die leser verstaan, maar ook nie voel of dit nou eers ’n handleiding is om te lees nie.

Ten spyte van al die bogenoemde tekortkominge, het ek tog die verhaal van Wouter Wessels geniet. 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top