rooimierwoorde

  • 1

Foto: Canva.com

rooimierwoorde

jou woorde is rooimiere – 
dit byt en knyp en pynig my 
jou woorde se venynige knypers 
knaag aan die sagte vlees van my hart 
probeer inkomplek kry 
krake maak in my Jerigomuur 
jou letters word karakters in ’n vreemde taal 
dit verwar my eens korrekte linkerbrein 
letters en woorde word syfers wat nie klop nie 
hoe maak ek sin uit hierdie hope krabbellyne?

jou rooimierwoorde is onwelkom, maar werklik 
U skuimbrandersagte woorde is welkom, 
sink diep vertroostend tot binne 
my strandsagte hart

Here, Vader, Abba … 
U weet alles, dat ek U liefhet 
U ken my sit en opstaan en loop en huil 
ek bakoor my hart en hoor U stem, 
sag maar klokhelder:

Ek is hier, 
kom vind rus in my Vaderhartwoorde

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top