Die veelbekroonde produksie, Rooiland, geskryf deur Tertius Kapp met regie deur Jaco Bouwer, maak na oorweldigende sukses in 2012 vir die eerste keer ‘n Kaapse draai by die Baxter Flipside Teater, vanaf 11 April 2013. Die produksie spog met 4 Fiesta-toekennings, en is genommineer vir beste teaterproduksie, beste akteur en beste regisseur by die Absa-KKNK Kanna-toekennings in 2012.
Sedert die premiere Aardklop in 2011 tref Rooiland gehore en resensente landswyd. By KKNK 2012 skryf Marina Nel: “Die bekroonde produksie Rooiland se reputasie het hom vooruitgeloop, maar nie sonder rede nie. Produksies wat in die afgelope dertig jaar dieselfde indruk gemaak het as die ongelooflike kragtoer, kan ek op my een hand tel: Marthinus Basson se Anatomie Titus: Fall of Rome en Mamma Medea soos vertaal deur Antjie Krog, M. Butterfly met Jeremy Crutchley, Mourning Becomes Electra met Helen Mirren by die National Theatre en Franco Zeffirreli se Turandot by die Metropolitan in New York.” Mariana Malan sê “die grens tussen die werklikheid en teater verdwyn in Rooiland. Die werklikheid slaan jou in die gesig.”
Rooiland vertel die verhaal van verhale wat wapens word in die monde van gevangenes. In ’n beknopte sel spook Fransie (Wilhelm van der Walt), Pastoor (Charlton George), Adidas (Brendon Daniels) en Chris (Leon Kruger) om slaapplek, sitplek, praatplek en dinkplek. Rooilandword ’n drama van onreg binne ’n sisteem van onregte, waar die ryk mitologie van die tronkbendes dien as arsenaal vir ’n konfrontasie in die grys gebied tussen kriminaliteit en politieke aksie.
“Hulle’t ‘n bees gesteel by die wit man Rabie. Die bees se naam is Rooiland. Hulle’t Rooiland geslag en feesgevier. Hulle drink uit die horings: Kilikijan die bloed, Nongoloza die gal. Toe maak hulle ‘n print van die wet op die vel. Op die vel van Rooiland. Daai’s die wet. En daai wet het even survive die dag toe die hemel en die aarde geskeur het – toe Kilikijan die klipwette stukkend gegooi het en die 27’s een pad geloop het en die 28’s ‘n ander pad.”
- Adidas
Rooiland word opgevoer in Afrikaans en Salambom (tronktaal), met Engelse onderskrifte. Die musiek is deur die bekroonde Braam du Toit gekomponeer, en die tegniese leiding word deur Wolfie Britz en Juanita Ferreira behartig.
Resensente oor Rooiland
Marina Nel: Elke aspek van Rooiland is meesterlik. Die outentieke en vreesaanjaende teks deur Tertius Kapp, Jaco Bouwer se deurdagte regie en skeppende ontwerp, Braam du Toit se sprekende musiek en die vier onverskrokke akteurs wat elk hier die beste spel van hulle lewe lewer.
Mariana Malan: Daar was al voorheen toneelstukke en rolprente, sommige selfs met ’n liedjie of twee daarby, wat gepoog het om die werklikheid agter tralies uit te beeld. Hierdie grinterige drama slaan soveel harder omdat dit in Afrikaans te sien is met mense wat deel van jou eie ondervindingswêreld is. Boonop is daar verskeie onlangse nuusgebeure waaraan mens noodwendig terugdink as jy na hierdie stuk kyk.
Wayne Muller: As dit kom by teater wat jou aan die nek gryp en jou skud met die werklikheid, tel Tertius Kapp se Rooiland beslis onder die bestes. Dit werk met ’n realiteit wat dalk ver van jou verwyder is, maar teen die einde is die gegewe so relevant dat jy voel jy’s vasgevang in die sel langsaan.
Rooiland het ‘n ouderdomsbeperking en is nie geskik vir kinders onder die ouderdom van 18 nie. Die voor-vertoning vind die 10de April om 20:15 in die Flipside-Teater by die Baxter-Teatersentrum plaas. Die openingsaand is Donderdag die 11de April om 20:15 en daarna is vertonings daagliks van Dinsdag tot Saterdag tot die 27e April om 20:15. Die kaartjiepryse is R90 vanaf Dinsdae to Donderdae, en R120 vir Vrydae en Saterdae.
Kaartjies kan bespreek word deur Computicket. Skakel 0861 915 8000 of besoek www.computicket.com, of koop kaartjies by enige Shoprite-Checkers winkel.
Vir enige afslag op korporatiewe-, skool-, liefdadigheids- of fondsinsamelingsgeleenthede, asook blokbesprekings, kontak Sharon by 021 680 3962 of sharon.ward@uct.ac.za, of Carmen by 021 680 3993 of carmen.kearns@uct.ac.za.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

