Rooi son

  • 0

Grant se spesialiteit was sy regtervuishou. Daar sou hy staan, bruin gordel om die middel van sy wit karatepak, sy regterbeen na vore, sy gewig na agter op die gebuigde linkerbeen en wanneer sy opponent naderkom, leun hy vorentoe en daardie vuis skiet soos ’n slangpik uit.

Hy het natuurlik ander bewegings geken of hy sou nooit sy bruin gordel verwerf het nie, maar in gevegte het hy nie belanggestel in skoppe of in houe anders as die hou wat hy met daardie hand na voor gelewer het nie. In boksterme kan jy van ’n jab praat. In Japannees is dit kizami-zuki genoem.

Grant was bekend in Kaapse karate-kringe en ek het hom selfs in die koerant sien poseer met ’n trofee wat hy in Mexiko gewen het. Een keer het ek die kizami-zuki gesien gebeur.

Dit was in die sportsentrum by die Universiteit van Kaapstad waar ek ook deelgeneem het sonder dat ek juis ver gevorder het. Ek onthou dat ek, nadat ek na drie gevegte uitgeskakel is, verlig was dat ek nie teen Grant te staan sou kom nie, wat seker ’n aanduiding van my eie bevoegdheid of die tekort daarvan was. Hoewel ek in die gevegskunste belanggestel het en hard daaraan gewerk het, het die talent en moed my ontbreek om ’n faktor in kompetisies te word.

Toe Grant se geveg van daardie dag se kompetisie begin, het sy opponent, wat waarskynlik sy reputasie geken het en korte mette van hom wou maak, hom met ’n lang skop na sy kop bevlieg. Grant het eenkant toe getree, vorentoe geleun en geslaan en die opponent teen die wang getref. Dit was ’n klassieke kizami-zuki, met die voorste hand gelewer en soos  die slangpik wat dit is, teruggetrek het sodat hy daarna vuis in die lug in die rondte getol het, triomfantelik. Die opponent het op die vloer inmekaargesak en daar gelê en ruk. Beamptes het om hom gebuk. Na ’n minuut of wat was hy by en het mense hom weggelei. Grant is die punt en die uitslag van die geveg toegeken.

“Hulle loop in die hou in,” was sy kommentaar toe iemand verwytend “haai, Grant” sê. Hy het so ’n trek in sy een mondhoek gehad wat ek vandag nog nie seker is of dit weens verleentheid of geamuseerdheid was nie.

Hy het daardie dag heelwat aandag getrek, meer as gewoonlik. Daar was senior Japanese karateka in die sportsentrum en hulle was daar om mense te werf vir ’n oefenprogram in Japan. Hulle was op soek na talentvolle jong vegters wat 18 maande kon afstaan.

Ek was natuurlik nie in dieselfde klub of dorp as Grant nie. Tog het nuus oor hom deurgesyfer, danksy my klubleier, sensei Maureen, wat gereeld in verbinding met die groot klubs was. Sensei Maureen was reeds in haar vroeë sewentigs, maar energiek en vlug van begrip, sodat sy ons jongmense sonder moeite gelei het. Sy het vertel dat Grant in die berge in die sneeu geoefen het. En dat die klub in Tokyo klein en bedompig was. En dat hy ’n sessie van ’n week op ’n afgeleë eiland meegemaak het. En dat hy na ’n volgende gordel gegradueer het en dat die gradering so streng was dat hy aan die einde daarvan gebewe het, byna soos die mense wat hy met sy kizame-zuki bygedam het. En dat hy klaarmaak met sy tyd in Japan en terugkom huis toe.

Met Grant se terugkeer was daar ’n kompetisie by Rondebosch-klub aangebied. Eintlik was dit vir my ’n dag om te vergeet, want ek het op die vloer gevries en kon nie ’n enkele karatebeweging onthou nie sodat ek gediskwalifiseer is, en ek sou die gebeurtenis heeltemal uit my geheue gewis het was dit nie vir die figuur van Grant nie. In die 18 maande wat hy weg was, het hy ’n entjie gegroei, aan spiermassa ook. Hy het regop geloop, sy gesig uitdrukkingloos, iets wat ek al vroeër van goeie karateka opgemerk het. Hulle gee niks weg nie.

Nog ’n man wat niks weggegee het nie, was die Japannees in sy geselskap. Ons het van hom as sensei Morita gepraat. Hy was heelwat kleiner as Grant sonder dat hy aan uitdrukkingloosheid en miskien selfs arrogansie te kort geskiet het. Hy het hard en kwaai gelyk en wanneer hy deur Grant aan mense bekendgestel was  ̶  altyd die senior karateka en nie ons jongeres en minder ervares nie  ̶  het ’n kopbuiging vir ’n glimlag ingestaan.

Hulle was nogal iets om te aanskou, die twee met hulle swart gordels en die demonstrasie wat hulle aan die einde van die dag gelewer het. Hulle bewegings was hard en skerp, hulle posture wanneer hulle stilstaan, gegiet. Hulle was toonbeelde van toewyding. Ons het in rye op die vloer gesit en kyk hoe hulle aan ons wys wat karate eintlik is en dit was iets om te sien, daardie twee lywe in wit geklee, in die daglig wat deur die oostelike vensters geskyn het. Hulle krete was diep en dierlik en ek is seker ek is nie die enigste een wat daar weg is met voornemens om harder te oefen nie.

Iets wat sensei Maureen aan my uitgewys het, is dat Grant se gevegstyl verander het. Hy het nie meer van die kizame-zuki gebruik gemaak nie. Sy het gesê sy vermoed hy het nie ver daarmee in Japan gekom nie en moes noodwendig sy taktiek verander en sy tegnieke verruim.

Sy het, soos ek reeds duidelik gemaak het, haar vinger op die pols van gebeure in die karate-wêreld gehad. Dis danksy haar dat ek een aand ’n gas was in ’n restaurant met ’n Japannese tema in die stad.

Wat ek die beste van daardie aand onthou, is die Japannees Morita se ontevredenheid met alles: die dekor, die ryswyn, die kos. En sy ontevredenheid met Grant. Telkens wanneer Grant vooroor sou leun om aan die bakkie ryswyn te teug, of sy eetstokkies gebruik, of aan iemand anders aandag gegee het, het Morita geblaf. Dis hoe hy gepraat het, sulke kort blafgeluide wat dadelik Grant se gedrag net daardie effens aangepas het. Dit was vreemd om te aanskou hoe die Suid-Afrikaner blykbaar afgerig word in Japanese maniere.

Ons was agt mense om die lae tafel, elkeen op sy eie kussing en seker almal lugtig vir die befoeterde Morita. Die een mens wat wel uit haar eie met hom probeer praat het, was sensei Maureen wat in haar lewe al baie gereis het, onder meer na Japan. Sy is keer op keer met die blafgeluid en ’n frons afgewys. Hy het wel met die senior Suid-Afrikaanse mans gepraat, in ’n mengsel van Japannees en Engels. Uit die Engels kon ek aflei dat hulle oor die keiser van Japan praat en oor Japan self, wat volgens Morita aan die agteruitgaan was onder Westerse invloed.

“Japan het ’n temapark vir Westerlinge geword,” het hy met ’n swaar aksent gesê, “soos ’n groot Disneyland.” Hy het na die restaurant om ons beduie, die kerse in die papierlanterns, die bamboesplantjies, die afdrukke van Japannese skilderye wat ek toe besef het moontlik nagemaak is. Teen ’n muur was die Japannese vlag met die rooi son daarop. Dit het meteens vreemd in Suid-Afrika gelyk. As ’n mens deur sy oë begin kyk het, kon jy byna aanvoel hoe vals die wêreld in werklikheid is. “Dis vertoon hierdie. Japan het ’n trotse kultuur gehad.”

Van die mans het versigtig met hom saamgesels. Sensei Maureen het nie weer probeer nie en eerder na my gedraai toe sy, nogal hard, kommentaar oor die lekker kos en die aangename atmosfeer van die restaurant lewer. Grant was stil. Nie dat ek hom eintlik voorheen sosiaal geken het sodat ek met sekerheid kon sê hoe hy gewoonlik optree nie, maar ek moes aflei dat hy geïntimideer was deur sy vriend. Hy het baie afgekyk, onthou ek, baie. Jare daarna sou ek foto’s van seuns in ’n inisiasieskool in die Oos-Kaap sien en ek sou hulle kyke herken, die onderdanigheid en selfs skrikkerigheid.

“Ons weet nou wie van Grant se kizame-zuki ontslae geraak het,” het sensei Maureen aan die einde van die aand gesê toe ons terugry dorp toe. “Dis hartseer. Die man is darem onbeskof.”

Grant sou nog een keer waarvan ek weet die koerant haal. Dit het gebeur ’n ruk nadat hy weer terug is Japan toe. Want terug het hy gegaan om sy lewe daar te hervat. Ek was opnuut afgunstig aangesien my eie ambisies vir my soms so klein en beskeie gelyk het. Na skool het ek rekeningkunde gaan studeer. Toe het ek by ’n maatskappy gaan werk wat sportskoene maak.

Vroeg in my loopbaan daar het ek ’n ruk in die fabriek gewerk, as deel van ’n program wat my oor al die areas van die vervaardigingsproses touwys moes maak. Op ’n dag het ek vroeg opgedaag en in die ontspanningsarea gesien iemand het die vorige dag se koerant tussen die vuil koffiekoppies gelos. Die skoonmaker was reeds besig om op te ruim. Ek kon die koerant net-net red.

Die berig oor Grant was op die tweede bladsy. “Suid-Afrikaner sterf in gepoogde staatsgreep in Japan.” Daar was ’n foto van Grant soos ek hom geken het toe hy nog kizame-zukis uitgedeel het. Hy staan in sy karatepak, kop skuins, trek om sy mond wat verleentheid of ’n glimlag kan wees, ’n mens kan nie sê nie.

Wat gebeur het, is dat Morita ’n beweging gestig het wat hom daarvoor beywer het om mense op te lei in tradisionele Japannese waardes. Hy wou ook terugkeer na ’n ouer tegnologiese wêreld en het dit as verfoeilik beskou dat Japan so goed vaar in die ontwikkeling en vervaardiging van wat hy as Westerse goedere in ’n Westerse era beskou het: motors, kantoortoerusting, rolprente. Japan moes terug na ’n ouer tyd. Dit het Morita geskryf, in ’n verklaring wat by sy liggaam in ’n regeringsgebou in Tokyo gevind is.

Morita en volgelinge het die bestuurder van ’n staatsdepartement gaan spreek onder die voorwendsel dat hulle ’n projek aan die departement wil verkoop. Daar gekom, het die volgelinge die bestuurder aangehou terwyl Morita in ’n atrium aankondig dat hy die regering met die hulp van die werknemers in die gebou wil oorneem. Die mense wat voor hom vergader het, meestal kantoorwerkers hoewel ook enkele besoekers en toeriste, was eers verbaas en het hom toe uitgelag. Morita het die kantoor binnegegaan, gekniel, sy tuniek oopgeknoop en die punt van ’n swaard in sy maag gedruk. Grant het as sekondant opgetree en die swaard hanteer waarmee Morita onthoof is sodat sy lyding nie te erg word nie. Daarna het iemand anders vir Grant onthoof. Die oorlewendes is in hegtenis geneem. Aanvanklike reaksie in die Japannese pers was dat die daad bisar, buitensporig en argaïes was.

In die fabriek het die volgende skof se mense ingekom en van hulle het my gevra hoekom ek so geskok lyk. Daar was niks om te sê nie. Ek het nie meer karate beoefen nie en ek het Grant in elk geval nooit werklik geken nie. Wat ek wel geken het, was die manier waarop een mens ’n invloed op iemand anders kan uitoefen. Ek het ook geweet dat ’n mens deur ’n saak of tydverdryf begeester kan word en dat dit jou kan oorneem. Ons soek seker almal na ’n manier van lewe wat goed en reg is, of dan vir onsself so lyk.

Ek dink baie terug aan die kompetisies en die karakters, ook ander mense wat ek by oefeninge en demonstrasies leer ken het. Selfs nou dink ek terug, jare nadat ek na ander belangstellings aanbeweeg het. Vandag is ek ’n syferman in murg en been en ek is trots op die finansiële portefeulje wat ek vir my en my gesin kon opbou, maar selfs al was ek ’n prokureur, werktuigkundige of toesighouer op ’n plaas iewers, sou ek volhou dat ’n mens jou eerste groot geesdrif nooit heeltemal afsterf nie.

Dus kyk ek soms laataand op die internet na karate-videos, of ek lees oor verskillende style en ek sien die jong sterk manne van destyds is die ou manne van vandag. Na hulle moet ons ook luister.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top