Titel: Rooi Luiperd
Skrywer: Francois Bloemhof
Uitgewer: Human & Rousseau
Formaat: Sagteband
ISBN: 9780798149921
Publikasiedatum: Augustus 2008
Aantal bladsye: 192
Klik hier om nou Rooi Luiperd van kalahari.net te bestel!
Benewens al sy kinder-, jeug- en tienerverhale het Francois Bloemhof ook al 'n goeie dosyn romans geskryf. Hy het geen bekendstelling nodig by die lesers van Afrikaanse spanningsromans nie.
Sy jongste roman, Rooi Luiperd, is weer eens in die kol vir almal wat daarvan hou om meegesleur te raak deur 'n storie wat volop aksie, spanning en romanse bied. Bloemhof gee voorin Rooi Luiperd dank en hulde aan Ian Fleming, skepper van die immergroen James Bond-karakter. Moet dus nie verbaas wees dat die hoofkarakter 'n soort Suid-Afrikaanse James Bond is nie. Soos Bond is hy 'n geheime agent, maar waar bond vir die Britse MI5 werk, met die enigmatiese M aan die hoof, werk Bloemhof se "Bond" vir Die Fabriek, met kolonel Duvenhage aan die hoof. Daar is selfs 'n Miss Moneypenny-tipe, vaal maar hoopvolle, assistent vir die kolonel. Moet jou egter nie laat mislei deur die vele ooreenkomste nie. Dinge verloop nie heelpad soos in die James Bond-verhale nie, want Bloemhof gee sy verhaal 'n paar kinkels waaraan Ian Fleming nooit gedink het nie.
Ek noem baie spesifiek nie die hoofkarakter se naam nie, want tot diep in die roman is daar 'n intense stryd tussen twee agente om die een te wees wat die nuwe Rooi Luiperd word. Die Rooi Luiperd is een van die Groot Vyf, die topagente met rooi klaring, soortgelyk aan Bond se "license to kill". Dit is eintlik jammer dat een van Bloemhof se interessantste karakters halfpad deur uit die storie moet verdwyn.
Soos in die Bond-stories, kom ons held uiteindelik man-alleen te staan teen die bose mag. Daar is natuurlik beeldskone meisies, aan die goeie én aan die bose kant. Daar is oorgenoeg spanning en aksie. Die bose mag is in besit van 'n geheime wapen wat sorg vir aksietonele wat grens aan die absurde. Daar is, soos te verwagte in hierdie genre, nie veel karakterontwikkeling nie, maar tog uiteindelik meer as verwagte selfinsig by die hoofkarakter. In hierdie opsig herinner hy nogal aan die James Bond van die heel eerste Bond boek, Casino Royale, wat, terloops, baie meer karakterdiepte het as die James Bond van die flieks. En daar is, soos dit hoort, die uiteindelike seëviering van die goeie oor die bose.
Daar is ook kritiek. Die aanloop tot die eintlike storie is te lank. 'n Mens is al 'n ent weg in die boek in voordat hy jou regtig begin boei. Die sekstonele is te gevoelloos, byna klinies, geskryf. Dit kon waarskynlik meer oortuigend gewees het om dit, met 'n paar suggesties, aan die leser se eie verbeelding oor te laat.
Maar uiteindelik, toe die storie my begin boei, het Rooi Luiperd my van die grootste deel van 'n nagrus beroof. Ek kon die boek net nie neersit nie. Ek móés net aanhou lees om te weet wat gaan volgende gebeur. En dit is vir my die sekerste aanduiding van 'n geslaagde spanningsroman.

