Graag wil ek reageer op Christo van der Rheede se kommentaar oor die woordewisseling – kan dit nie 'n debat noem nie – tussen my en De Vos van Ikeys in 2011. Ek sien dit nou eers, na al die vakansiegedoe, op LitNet raak.
Christo, ek stem grootliks saam met wat jy sê, ook betreffende die rooi kaarte aan De Vos én die twee aan my gerig. En dankie vir jou sobere, weldeurdagte toon en redenasies. Ek wil op die twee rooi kaarte aan my reageer.
Volgens jou moet ons "inheemse Afrikatale en inheemse kennispraktyke op ’n wetenskaplike wyse begin benut en ontsluit vir mense-ontwikkeling". Sekerlik is dit uiters noodsaaklik dat al die tale in hierdie land ontwikkel moet word, en aangewend word vir behoorlike opvoeding. Ongetwyfeld maak dit sin om, soos jy voorstel, kragte saam te snoer met ons inheemse taalgenote om so die stryd vir die behoud van Afrikaans as universiteitstaal oor die boeg van ’n ontwikkelingstrategie vir Afrikatale te gooi. Dit het ek self al meermale gesê, maar is toegesnou dat (a) ek nie die "reg" het om oor ander tale te praat nie en (b) ek die ander tale bysleep net om my eie "wit rassistiese" doeleindes te bereik, want "ons weet mos" dat die res van die elf, naas Engels en Afrikaans, nie bruikbaar is vir hogere studie nie. Word nie toegelaat om te sê maar dit kan wel gedoen word en ons behoort dit na te streef nie. Stilgemaak en beledig het ek 'n ruk lank maar ophou praat daaroor. Maar toe verloor ek my humeur toe daar nogmaals neerbuigend en kwetsend oor die saak van Afrikaans op Maties geskryf word deur iemand met kennelik geen benul van waaroor dit werklik gaan nie. En ek vat hom toe aan spesifiek oor Afrikaans.
Hier wil ek ook noem dat ek tydens my onderhoud vir Rapport met Hanlie Retief (wat sy uitstekend weergegee het) iets gesê het wat sy nie ingesluit het nie, waarskynlik omdat die ruimte ontbreek het. Dit was kommentaar op die stelling – êrens op die internet – dat mense soos ek seker dink doktersgrade moet nou in Zoeloe en Xhosa ook geskryf word, hahaha. Met die implikasie: almal weet mos dit kan nie anders as in Engels wees nie! Ek sê toe dis vir my enorm neerbuigend en oningelig. Russe skryf nie almal tesisse in Engels nie, so ook nie Spanjaarde, Franse, Bulgare, Duitsers ... und so weiter nie! Hulle skryf in hul eie taal en dan word daar opsommings en artikels en desnoods die tesis self vertaal in ander tale, nie uitsluitlik in Engels nie. Hoekom dan nie ook in Afrikatale oor navorsing verslag doen nie? Tale wat miskien nie akademies mondig is nie, kan uitgebou word, soos Afrikaans trouens uitgebou is, om wetenskaplik te kan dien. Maar dan moet die politieke wil bestaan om dit te doen, en die regering behoort dit te befonds, aangesien die Grondwet taalregte verskans. Die regering se gesloer met 'n behoorlike taalwet bewys egter dat hierdie wil nie bestaan nie. Soos in talle ander sfere van die lewe in hierdie land sal burgerlike organisasies dan maar moet optree om hierdie saak te probeer bevorder, omdat die staat in gebreke bly om sy plig te doen. En ek sal graag saamwerk, waar ek ook al sou kon bydra.
My reaksie op De Vos was tref-en-trap, ek erken dit. Maar dit is aangegryp en gepubliseer, terwyl ek tevore maande lank probeer het om 'n sobere artikel geplaas te kry waarin ek die kwessie van moedertaalonderrig oor die algemeen (met bronne) verduidelik. Telkens verander ek die aanloop om aan te sluit by iets tersaakliks in die nuus, en telkens word daar belowe om dit "te probeer plaas", maar dit gebeur nie. Uiteindelik verskyn dit toe wel in Die Burger kort voor die jaareinde, nadat ek nuuswaardig geword het weens die relletjie met De Vos. Maar helaas, nie lank daarna nie is ons terug by "die taalbulle" en die "wit rassistiese agenda", dus het ek klaarblyklik alweer my asem gemors.
Wat betref die tweede rooi kaart aan my: ek stem saam dat "Stellenbosch se primêre verantwoordelikheid is om akademiese uitnemendheid deur middel van Afrikaans na te streef", maar dit gebeur nie. Daar word grootliks direk na Engels toe beweeg. (Ek het groot waardering vir die fakulteite wat wel sorg dat daar 'n Afrikaanse aanbod is.) Maar wanneer jy daarby voeg: "... en sorg te dra dat sy studente ewe goed ook in Engels kan skryf en navorsing kan doen", dan verskil ek van jou. Die meerderheid dosente kan self nie ewe goed fungeer in twee tale nie, soos 'n dokument wat onlangs voor die Senaat van die US gedien het, dit uitdruklik stel. In geen land met twee taalgemeenskappe neem universiteite dit op hulle om studente akademies ewe vaardig in twee tale te kry nie. Byvoorbeeld nie in Kanada nie, ook nie in België nie. Hulle weet goed: om te sorg dat studente (enige studente) "ewe goed" in 'n tweede taal (enige tweede taal) kan skryf en navorsing doen, is 'n onbegonne taak. Met of sonder 'n goeie grondslag op voorskoolse, primêre en hoërskoolvlak. Het jy dit al probeer doen? Om studente te beweeg van die alledaagse kommunikasievlak van taalvermoë na 'n abstrakte akademiese vlak van taalbeheersing is 'n tydrowende, moeitevolle onderneming. Selfs studente wie se eerste taal die medium van onderrig is, moet hiervoor opgelei word. Jy moet soms mooi aan 'n Engelse moedertaalspreker verduidelik hoekom dit minder goed is om te skryf: "Hamlet was fed up with his mother."
Maar selfs in een taal is die taalvaardigheid van studente dikwels niemand se fokus nie. Ek sal jou sê wat deesdae gebeur by meer as een universiteit: dosente oor die algemeen gee nie veel aandag aan taal en uitdrukkingsvermoë nie. Nee, o aarde, kyk tog net na die inhoudelike en hoop op 'n handvol feitelike gegewens en 'n paar half-gangbare argumente en insigte. Vergeet van strukturering of logika, laat staan nog grammatika en spelwyse, anders moet ons te veel druip en dan haal ons nie die noodsaaklike slaagsyfer nie. Dan wonder mense hoekom kla die werkplekke dat studente ongeletterd by hulle aankom. Nee, Christo, so 'n vlak van algemene tweetaligheid soos jy voorhou, is 'n onhaalbare versugting. Enkelinge bereik dit, maar dis hoë uitsonderings.
Wat behoort te gebeur, is dat Afrikaanssprekendes in hulle moedertaal behoorlik onderleg word in hulle gekose vakgebied. Dit is stap een, en dis wat die US nalaat om vir die Afrikaanse gemeenskap se kinders aan te bied. Van watter rassegroep ook al. Trouens, dis eerder 'n klaskwessie as 'n raskwessie, want oor die algemeen geld die reël: hoe armer, hoe minder knap in Engels. Bied vir Afrikaanse studente goeie onderrig aan in 'n taal wat sowel die dosent as hulle self behoorlik kan praat. Sorg minstens dat hulle die grondbegrippe deeglik verstaan en toepassings ordentlik kan doen. (Hopelik dat hulle ook analities en sinteties en krities kan dink, maar dis al veel gevra, en gebeur volgens Jonathan Jansen alte dikwels nie.) Vaardighede wat jy in jou sterkste taal bemeester, kan jy dan oordra na taalomgewings waarin jy minder tuis is. 'n Mate van vaardigheid in Engels sal waarskynlik wel later bereik word, want handboeke is dikwels in Engels en so ook inligting op die internet. Vir 'n groot aantal studente sal dit genoeg wees. Lank nie almal gaan voort met nagraadse studie en navorsing nie. Vir dié wat wel wil voortgaan, behoort daar steeds 'n Afrikaanse opsie te wees. Engels is nie 'n sine qua non vir uitmuntendheid nie.
Nou ja, Christo, dit alles gesê, bly dit by woorde en nie by dade nie. Die stryd om taalregte sal nie deur akademiese argumente gewen word nie. Slegs twee remedies staan 'n kans om hond haaraf te maak. Die een is juridies, die ander omvangryke massa-aksie. Ek en my man Chris het vir jou 'n voorstel vir massa-optrede wat ons aan jou voorlê vir oorweging as uitvoerende hoof van die AHI. Dis iets waardeur ons sou kon kragte saamsnoer met ons inheemse taalgenote vir die bevordering van taalregte oor die hele spektrum heen.
Die voorstel
Ons stel voor dat 'n landwye simbool gebruik word as teken van ondersteuning aan inheemse taalregte, insluitend Afrikaans. Dit sou nodig wees dat die leidende organisasie, bv die AHI, die simbool as kenteken registreer.
Ons ontleen die simbool aan die retoriek van die stryd. In die huidige geval is “Taalbul” die voor die hand liggende simbool. Ons onderskep dus iets met negatiewe bedoelings en wend dit positief aan.
Die voorkoms van die simbool
Die simbool is ‘n Nguni-bul. Die bul se houding is dié van ‘n voortstormende stier. Die kleure is wit, swart en bruin. Die keuse val op ‘n Nguni omdat dit veelkleurig is, eie aan Afrika, en verskeie baie positiewe eienskappe besit, oa uiterste gehardheid en vrugbaarheid.
Gebruik deur individue
Vir individue kry die simbool gestalte in die vorm van ‘n klein ronde wapen met die bul daarop wat op die lapel, ‘n das, ‘n kraag, ‘n serp of ander toepaslike vashegplek gedra kan word. Individue wat ‘n wapen met die simbool koop en vertoon, dui hulle verbondenheid tot die beginsels van gelykberegtiging van landstale aan. Hulle:
– ondersteun die beginsel van moedertaalonderrig
– ondersteun die ontwikkeling van alle landstale as volwaardige spreek-, handels- en akademiese tale
– sal telkens beleefd versoek om in die taal van hul keuse bedien te word en teleurstelling registreer as dit nie gebeur nie
– sal by staatsorgane aandring op diens in die taal van hul keuse en teleurstelling registreer as dit nie gebeur nie
– sal by voorkeur organisasies ondersteun wat die bul-simbool vertoon.
Gebruik deur organisasies
Vir organisasies is die simbool ‘n ooreengekome afbeelding van die bul wat deur die organisasie aangebring kan word langs die organisasie se logo, by ingange of naas die organisasie se simbool of naam buite geboue, op dokumentasie of in reklamemateriaal.
Organisasies wat die simbool wil vertoon, onderneem die volgende:
1. Om, waar die organisasie met die Suid–Afrikaanse publiek werk, te sorg dat mense gehelp kan word in Engels, Afrikaans en minstens een ander landstaal ooreenkomstig watter taal oorwegend in die omgewing van die betrokke kantoor gepraat word. Nie al die personeel hoef drietalig te wees nie; daar moet net iemand beskikbaar wees wat die klant/kliënt in die taal van sy/haar keuse kan help.
2. Om in Afrikaans en minstens een ander landstaal te reklameer, in ooreenstemming met die land se taalsamestelling.
3. Om formele dokumentasie soos ooreenkomste, kontrakte en regeringsinligtingstukke beskikbaar te stel in die tale wat die burgers wat dit raak, die beste verstaan.
Die administratiewe onderbou
Hierdie inisiatief verg ‘n organisasie wat dit rugsteun. Die organisasie sal die volgende funksies vervul:
1. Oorhoofs sal die organisasie die simbool registreer en die unieke gebruiksreg juridies bevestig.
2. Vir individue sal die organisasie die lapelwapen bemark.
3. Die organisasie sal besluit oor die prys en die betrokke afsetpunte.
4. Die organisasie sal daardie organisasies wat die inisiatief ondersteun, se aansoeke keur aan die hand van die ooreengekome norme.
5. Die organisasie sal toesien dat organisasies wat die simbool gebruik, die spelreëls nakom.
6. Die organisasie sal ‘n register van organisasies wat die spelreëls nakom en die simbool ten toon stel, byhou en op die internet publiseer. Dit sal dit vir lede van die publiek moontlik maak om organisasies te identifiseer wat hulle met vrymoedigheid kan ondersteun.
7. Die organisasie sal bepaal watter gelde bepaalde kategorieë organisasies jaarliks moet betaal om met die simbool te identifiseer.
8. Die organisasie samel die gelde in.
9. Die organisasie wend die geïnde fondse aan ter bevordering van alle landstale.
Nou ja, Christo, hoe klink dit vir jou?
Vriendelike groete
Marié Heese