Rondomskrik beeld realiteit uit, maar gee ook hoop

  • 0
Michael le Cordeur is hoof van die B Ed-program aan die Fakulteit Opvoedkunde van die Universiteit Stellenbosch waar hy Afrikaansonderwys doseer op voor- en nagraadse vlak. Hy het tydens die afgelope US Woordfees diskoerse en teateraanbiedings saam met sy studente bygewoon. Hier deel een van sy studente haar mening oor 'n opvoering wat hul klas bygewoon het.

Rondomskrik - ’n verhaal wat hoop bring
Geskryf deur Rachelle Greef en religie onder  leiding van Hennie van Greunen en Pedro Kruger. Rolverdeling: Shaleen Surtie-Richards, Lee-Ann van Rooy, Chrystal-Donna Roberts en Richard September. Universiteit Stellenbosch Woordfees, 6–15 Maart 2015.

4 uit 5 sterre

Carina Stapelberg is 'n vierdejaar B Ed-student

Tydens die 16de US Woordfees is hierdie hartroerende toneeldrama, Rondomskrik, deur die skrywer Rachelle Greeff en haar span op die planke gebring. Rachelle verduidelik hoe hierdie toneelstuk die grusame moord en verkragting van Anene Booysen gebruik om ’n boodskap van, soos sy dit noem, “hopelik hoop” oor te dra. Hierdie tragiese gebeurtenis wat so baie Suid-Afrikaners se harte aangeroer het, het ook haar geïnspireer om hieroor te skryf. Rachelle het na Anene se dood baie tyd in Bredasdorp deurgebring, waar sy die gemeenskap beter kon leer ken en insigte kry oor Anene se eie lewe. Sy het saam met haar vervaardigers, Pedro Kruger en Hennie van Greunen, ná baie geskaaf en geskuur bevestig dat die toneelstuk reg is vir die verhoog.

Hierdie toneelstuk vertel die verhaal van Jasmien Jacobs, vertolk deur die bekende Shaleen Surtie-Richards, wat op hierdie klein dorpie, Rondomskrik, tussen die Overberg en die Karoo, haar lewe as onderwyseres opoffer om die lewe van kinders beter te maak. Sy ontmoet vir Antjie Fortuin, vertolk deur Chrystal-Donna Roberts, ’n tienermeisie só onskuldig-naief, uitgelewer aan die uitdagings van haar omgewing. Jasmien bly in hierdie tydperk met al die warboel van emosies vasklou aan haar oorlede pa se wyshede en word ’n “uitkyk-antie”, soos Rachelle dit beskryf, vir Antjie. Hierdie verhaal is dus nie een van wanhoop en mislukking nie, maar van hoop en hoe ’n sterk leiersfiguur, iemand soos Jasmien, kinders se lewens kan beïnvloed.

Richard September se veelsydige en dramatiese rolverdelings staan uit in die sin dat dit presies die gemeenskap en milieu waarin die stuk afspeel, uitbeeld en so goed saamvat. Hy sorg ook vir baie van die humor so tussen al die erns deur. Dit is dan ook nie verbasend dat Rondomskrik ses Kanna-benoemings gekry het wat onder andere Richard September as beste opkomende kunstenaar vereer het nie. Hy vertolk al die manlike rolle in die drama juis omdat die toneelstuk veral oor en vir vroue is.

Ten spyte van die bendes, alkoholmisbruik, afwesige ouers en dwelms wat deel is van die harde en hartseer werklikheid, slaag Rachelle Greef sonder twyfel in haar doel met die toneelstuk om hoop te bring in Suid-Afrika. Die werklikheid van jong kinders, spesifiek vroue en meisies, wat in hierdie toneelstuk uitgebeeld word, en die rol van opvoeders, is iets wat my sal bybly. Nie net die seer en smart nie, maar die groot verantwoordelikheid wat daar op ons skouers rus om hoop in ons land te skep. Ons behoort die “uitkyk-anties” te wees vir onskuldige, naïewe en sorgvrye kinders. Die openingstoneel beeld dit vir my mooi uit. Die skep van ’n illustrasie waar ’n groot hoop gevoude wit papiervliegtuigies daar lê, simboliseer vir my die onskuld en drome van soveel kinders daar buite. Kinders moet vlerke kry om te vlieg en hulle drome na te jaag!

In die geheel gesien was dit ’n toneelstuk wat met tye humoristies was, tog só eg en ook hartseer, maar ten spyte van die seer, hoopvol! In ’n kwessie van 90 minute word jy meegevoer na ’n wêreld wat ons dikwels nie ken nie. Wanneer ons uitstap, is ons insig verdiep, empatie vergroot en oë op die uitkyk.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top