Rona Rupert (1934–1995)

  • 1

Gebore en getoë

Carolina Wilhelmina (Rona) Davel is op 7 Februarie 1934 op Calvinia gebore. Sy was die jongste kind en het ’n ouer suster, Ina gehad.

Rona was maar ’n dogtertjie van sewe jaar oud toe sy al haar gevoelens en gedagtes op papier wou neerpen. Omdat sy die jongste kind was en sy nie baie maatjies gehad het nie, was haar verbeeldingswêreld en die karakters wat sy daar geskep het, haar speelmaats.

Die gesin het tot Rona nege jaar oud was, in Bloemfontein gebly waar haar pa dosent aan die Universiteit van die Vrystaat was.

Sy het aan Irma Louw in Rooi Rose (19 Mei 1982) vertel: "Daarom is ek vandag nog soos Snoopy, die strokiesverhaal-karakter, wie se sekuriteit in pen en papier lê."

Toe sy 10 jaar oud was, het haar pa besluit om te gaan boer. Haar ouma het ’n tuishuis op Calvinia gehad waar sy gebly het en Rona het besluit om eerder by haar ouma te gaan bly as om koshuis toe te gaan. Haar ouer suster was in Bloemfontein op skool.

Rona het die tyd daar so onthou (Klein koninkryk): "Vandat ek 10 was, het ek by haar gewoon, in háár helfte van die tweelingtuishuis op die dorp, in Hoopstraat. Waar die kombuiskraan somermaande gehoes het, en warm swaeldampe uitgeasem het as jy dit oopdraai, of so het dit geruik, en jy die water eers moes uittap en laat staan totdat die wit weer weg was. En die reuk.

"Toe Ouma 12 was, het ou-Fên (die goewernante) hulle al hul eie rokke laat maak. Toe ék 12 was, het ek nog gesukkel met die soom van die lelike geel naaldwerksak. Myne het nooit klaargekom nie, maar ek het van elke opnaaisel in daardie eerste selfgemaakte rok van Ouma geweet.

"Ek het darem my eer gered toe ek solo gesing het in die skoolkonsert. En in die middae het ek gaan oefen by tant Bet, in haar sitkamertjie vol tierlantyntjies, op ’n vals klavier wat met rooi tafsy en houtsnywerk versier was. Die uitslag van die musiekeksamen het ons tevrede onderwyser met sy leerlinge gaan vier met ’n aandvertoning in die Palladium Bioscope. (Solank dit net af en toe gebeur, het Ouma gesê, en onder omstandighede soos dié.) Ek het my geliefde blou-en-wit matrooskraagrok ’n winkelhaak reg van voor geskeur aan ’n spyker wat my gevang het toe ek in die ry voor iemand verby moes skuif. Dit het my twee dae se moed gekos om vir Ouma daarvan te sê, en toe was ek in trane. Maar sy het dit heelgemaak, en getroos, en my vertel van haar swart trourok (ook met opnaaisels) wat sy self gemaak het, en van die lemoenbloeisels in haar hare. (...)

"Ons al twee het altyd gehunker na die plaas, ek stormagtiger as sy. Doega se somertuin laat op ’n Vrydagmiddag, as die leiwater loop en die bont jakobregop en die pienk selonsrose die bye waansinnig aan die gons het, was die hémel vir my."

Rona se uitgebreide belangstellingsveld is hoofsaaklik aan haar pa te danke. Hy was in haar oë ’n "merkwaardige" man. "Hy het my aan die platteland van Vlaandere, die Venus de Milo, die Messias en Bach bekendgestel."

Sy het in 1950 aan die Hoërskool Calvinia gematrikuleer.

Verdere studie en werk

Ná skool in 1951 is Rona na die Universiteit van Stellenbosch waar sy haar BA-graad met musiek en Afrikaans as hoofvakke verwerf het, met haar onderwysdiploma in 1954. Musiek was haar groot liefde en sy het haar lisensiaat (klavier) gespeel voordat sy in 1955 haar musiekstudie in Amsterdam, Nederland voortgesit het. Daar het sy skoolmusiek aan die Muzieklyceum gestudeer.

Nadat sy na Suid-Afrika teruggekeer het, was sy onderwyseres aan die Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch. Hier het sy haar man Koos Rupert ontmoet en behalwe vir ’n paar jaar in Londen en Engeland (waar hulle enigste kind, Marian, gebore is), het die gesin op Stellenbosch gewoon.

Sy het aan Romi van der Merwe (Rooi Rose, 18 Desember 1991) vertel dat nadat sy vir Koos ontmoet het, hulle na ses weke wou trou, maar dat hulle darem toe hulle verhouding drie maande kans gegee het. "My pa het altyd gesê ek moet oppas vir die Eersterivier, want hy en my ma het daar verloof geraak. Ons het ook daar verloof geraak, en so ook my dogter Marian en haar man Francois!"

Sy het self aan NALN geskryf dat "musiek en woorde die leitmotiv bly". Nadat sy in alle erns begin skryf het, het sy voortgegaan om musieklesse in klavier en blokfluit te gee.

In 1967 word Rona Rupert se eerste boek, Koningskind van die Hantam, gepubliseer en is dit die begin van ’n baie suksesvolle skryfloopbaan. Sy het aan Romi van der Merwe vertel dat Koningskind ’n verhaal was wat "uitgespring het" en wat sommer so vanself sy opwagting by haar gemaak het. "Ek het dit geskryf omdat ek nie anders kon nie.”

In Die Burger van 15 Desember 1967 het RN geskryf dat Koningskind bedoel is vir die "eenvoudiges van gees - in die goeie sin van die woord". Dit is nie té sentimenteel nie en getuig ook van goeie smaak en dan is dit boonop ook uit ons eie bodem.

In ’n onbekende en ongedateerde berig is geskryf dat die boek net soos die Hantam is: "fris, eg en onopgesmuk. Net ’n kind van die Hantam kan so praat oor die Hantam, en Rona is ’n kind van die Hantam".

Hier volg kortliks opmerkings wat oor sommige van Rona Rupert se boeke verskyn het:

  • Die verhaal van die vrolike liedjie (1968): "Slim en ambisieus is Die verhaal van die vrolike liedjie van Rona Rupert, met tekeninge van Carine Calitz, en ontwerp en foto's van Jan Mostert. Dit is een van daardie heel moderne, pikante kinderboeke, met illustrasies ontleen aan die nuwere tipografiese tegnieke. (...) Daar is veel voor te sê. Die boek het die lekker gevoel van ’n blink nuwe sent. Hy's vrolik. Soos dit ’n storie van ’n vrolike liedjie betaam. Hy's kleurig. Maar daar is ook iets teen te sê. Die prente is vol ongerymdhede. (...) ’n Groter stilistiese eenvoud en ’n eenvoudiger visuele lyn sou hierdie mooi storie se weg deur die wêreld beter gedien het." (PG, Die Burger, 29 November 1968)
  • Elias loop in die ry (1968): "Hierdie verhaaltjie van ’n plaasseuntjie se eerste week op dorpskool is so natuurlik en eenvoudig vertel dat die leser miskien glad nie sal besef dat dit ’n klein meesterstuk is nie. Rona Rupert se taal en siening van die natuur en die mens is dié van ’n sensitiewe kind. Die egtheid van haar verbeelding tref die leser, veral dié wat self sy kleintyd op die platteland deurgebring het. (...) Dis ’n mooi boek, hierdie." (Vaderland, 21 Februarie 1969)
  • Brandkloof se kinders (1969):
    • "Die skryfster slaag daarin om goeie atmosfeer te skep en het klaarblyklik ’n fyn aanvoeling vir die woord. Sy slaag ook daarin om haar karakters as lewende mense te teken en stel ook die leser in staat om die agtergrond in sy geestesoog te sien. (...) Tog slaag die boek nie as kinderboek nie omdat dit te veel uit die perspektief van die volwassene geskryf is." (Lydia Pienaar, Afrikaanse Radiodiens 22 Januarie 1970)
    • "Brandkloof se kinders is daardie kinderboek wat ’n skoonheid, ’n suggestierykheid en innigheid het wat dit miskien vir grootmense nog dierbaarder maak as vir jong lesers. (...) Dis ’n mooi storie, vol humor en interessanthede - genoeg epiese kern vir wie bloot agter die storie-element aanlees. Maar dis die fyn persoonstekening, die subtiliteite van menslike verhoudings en waardes en wysheid wat die verhaal ’n dieptedimensie gee wat slegs in die allerbeste woordkuns aangetref word. Want dit is inderdaad kuns van die woord hierdie, sonder om ooit prosa ter wille van prosa te word. So fyn soos haar herinneringe en lewensaanvoeling, so fyn ook is Rona Rupert se gevoel vir die beeldende woord, die sprekende situasie, die treffende eenvoud van die waaragtige skoonheid van styl." (PD van der Walt, Transvaler, 6 April 1970)
  • By omdraai verby (1970):  
    • "Rona Rupert kán skryf, en nou bedoel ek taalgewys. Haar werk lees lekker en hier en daar verras sy met ’n aangename sinspeling. Maar die hantering van die hele situasie  is lomp en geweldig, maar absoluut geweldig, soetsappig." (Kobus Louw, Rapport, 21 Februarie 1971)
    • "Rona Rupert het eenvoudig die slag om ’n egte jeugboek te skryf. ’n Verhaal met ’n heel bekoorlike vermenging van avontuur en sprokie kry ons hier. Genoeg verhaal, spanning en afwisseling, ook in die stemming. ’n Boek dus vol interessante gebeure, maar ook met mensbeelding wat fyn en gevoelig is, ’n verhaal waarin ingebed is ’n sin vir die mooie en goeie in die mens." (Transvaler, 28 Junie 1971)
  • Cato van Brandkloof (1971): "Konsekwent beeldend gaan Rona Rupert te werk, daarom is Cato, haar susters en boetie, haar ouma en ouers oortuigend en lewend en boeiend binne die dramatiese werklikheid van hierdie stuk fiksie.  (...) Elke gebeurtenis, elke stadium van die verhaal is so netjies oorsaaklik gevoeg dat dit ’n pragtig afgeronde en saamhangende eenheid vorm: warm, boeiend, lewendig en humoristies - maar daar is ook ’n wonderlike diepte in die verhaal. (...) Cato van Brandkloof is die heel mooiste jeugboek van die jaar, een van die beste in ons hele letterkunde." (Transvaler, 24 Januarie 1972)
  • Martinus en die windpomp (1971): "Met hierdie kinderboek bewys Rona Rupert weer eens haar wonderlike gawe om ’n egte en daarby suiwer inheemse kinderverhaal te skryf. Die karakters is fyn en oortuigend gebeeld. Die kinderwêreld met sy elemente van skerp waargenome werklikheid en verdroomdheid is boeiend, die gebeure as sodanig interessant en spannend. Die hele verhaal is deurhuiwer van ’n sekere poëtiese kwaliteit. Dit is met een woord ’n puik kinderverhaal en die bewys dat Rona Rupert telkens ’n nuwe en beduidende bydrae tot hierdie moeilike genre lewer." (Die resensent was egter nie baie vleiend oor Cora Coetzee se illustrasies nie.) (Transvaler, 17 Maart 1971)
  • Molisana, die seun wat die klei-osse maak (1972): "Rona Rupert se fyn getekende siening van die kind en sy verbeeldingswêreld en Jacqueline Buhler se pragtige tekeninge wat die atmosfeer van Lesotho (waar die verhaal afspeel) volmaak aanvul, maak hierdie boek iets besonder moois. Die geheel het ’n treffende opregtheid." (Transvaler, 15 Augustus 1975)
  • Die eerste keer (1972): "Rona Rupert het daarin geslaag om andermaal ’n vrolike, maar ook leersame kinderverhaal uit te beeld. Maar by uitstek is dit een vir Paastyd en word vertel hoe daar in Tsjeggo-Slowakye Paasfees gevier word. Die boekie bied ook ’n insae, veral vir die stedelike kind van die lewe op ’n 'lelike ou stowwerige dorp.'"
  • Wat maak jy, Hektor? (1976): "Some writers have a special knack of 'seeing into' the souls of children and are thus able to produce an accurate picture of child-life. Rona Rupert is apparently one of them, and in this story of a practical-minded boy - Hektor Darries - who dedicates his practical efforts in aid of a crippled younger brother, Wellington - she excels with her delineations of juvenile behaviour." (The Friend, 8 September 1976)
  • 14 is anders (1977):
    • "’n Fynsinnige jeugboek is Rona Rupert se 14 is anders. Dit is veral die beelding van die veertienjarige meisie Sibella wat die verhaal iets besonders maak." (PD van der Walt, Transvaler, 30 Julie 1977)
    • "Rona Rupert se 14 is anders lees heerlik in ’n gemaklike styl wat plek-plek herinner aan Aucamp in styl en aan Krog se gevoelswêreld van Jefta. ’n Moet vir elke veertienjarige en dié wat daarna kom." (Trix Pienaar, Oosterlig, 4 Oktober 1977) 
  • Wegloopwinter (1978): Wenner van 1979 se Scheepersprys vir jeuglektuur. "Rona Rupert het haar reeds gevestig as ’n skryfster wat die wêreld van die kind ken. In Wegloopwinter, die verhaal van die vet seuntjie Manuel, kom ’n mens weer eens onder die indruk van hoe goed sy die frustrasies, drome en vrese van ’n 14-jarige seun deurgrond het. (...) Rona Rupert slaag daarin om ’n lewensles in die verhaal in te weef, sonder om in die slaggat van didaktiek te trap. Soos haar ander kinderboeke is die een nie net vir kinders bedoel nie, maar sal selfs volwasse lesers ’n insig gee in die jeug wat hulle so vroeg wou prysgee." (Henk Wybenga, Transvaler, 20 Januarie 1979)
  • Woorde is soos wors (1979): Wenner van 1979 se Scheepersprys vir jeuglektuur. "Veral in haar jonger boeke konsentreer Rona Rupert op die uitbeelding van armrige kinders wat daarby met  besondere probleme te kampe het. In hierdie boek is daar verdere 'gemene delers': soos in Wegloopwinter speel ’n jeugsirkus ’n belangrike rol. Die skryfster se liefde vir musiek (ook in Die musiek wat die koning wou hoor) kom in die verhaal tot uiting in die feit dat die hoofkarakter se beste maat ’n pa het wat in die stadsorkes speel en ’n suster wat lewe vir haar klavier. Soos byvoorbeeld in Brandkloof se kinders is hier ook weer ’n ek-verteller aan die woord. Maar die boek is ook iets geheel op sy eie, met ’n atmosfeer en wêreld eie aan homself – ’n werk van gehalte.

"Wat ’n mens opval, is die deeglike kennis wat die skryfster openbaar van die ruimte waarin sy haar karakters plaas: Kaapstad met sy wind en berg en dreigende winterreën in laat-April; ’n woonstel in ’n gebou wat ironies Brighton House heet; ’n hospitaal; en in die besonder ook die jeugsirkus wat die spil vorm waarom die hoofkarakter Josias se lewe wentel. Niks is vaag of lukraak nie; elke ding word beskryf asof dit werklik en lewend is." (Elsabe Steenberg, Die Burger)

  • Die aarbeimense (1980): "Dit is ’n ragfyn verhaaltjie wat die gemoed en die hart van elke jong kind sal raak." (Die Vaderland, 26 Maart 1981)
  • Die tweede verslag van ’n buitengewone ontmoeting (1981): "Hierdie keer neem Rupert nie die stad as agtergrond nie, maar wel Malgasbaai, ’n stranddorpie naby Saldanha aan die weskus. Elke klein besonderheid van die dorpie en veral die see word geteken soos die hoofkarakter Maria dit beleef. Die titel van dié werk is met die eerste lees ’n mondvol. Mettertyd word dit wel goed duidelik waaroor dit gaan – maar tog het dit veral op die slot betrekking en sou ’n meer algemene verwysing na die dolfyne, wat ’n besondere rol in die boek speel en ook betrekking het op die tema, beter geslaag het. (...) Vir die tiener wat iets meer in ’n boek soek as avontuur en uiterlike spanning, sal hierdie boek veel te sê hê." (Elsabe Steenberg, Die Burger, 21 Januarie 1982)
  • Aambraal, hoe gaan dit nog? (1983): "Een van die beste kinderboeke wat nóg in Afrikaans gepubliseer is, is Ambraal, hoe gaan dit nog? deur Rona Rupert. Wat die boek so heel besonders maak, is die illustrasies in die fraaiste lappieswerk deur Kaffie Pretorius, uitstekend gefotografeer en gedruk op goeie papier. Die verhaal self is ’n nostalgiese greep uit die skryfster se kinderwêreld. Die naam van die boek kom van ’n ou, ou speletjie waar gevra word: 'Ambraal, hoe gaan dit nog?' Solank die ander een antwoord: 'Die kind is siek', gebeur daar niks, maar sodra hy antwoord: 'Die kind is dood!' mag die vraesteller hom probeer vang.

Dwarsdeur die gevoelige stemmingsverhaal oor die grootwordstadium in ’n dogter se lewe, word die kultuurmilieu van omtrent sewe dekades gelede vervleg. (EV, Volksblad, 7 Januarie 1984)

    • "Everest, die tweede jongste van vier kinders, is swaksiende, maar sy ma sê hy is genoem na die hoogste berg in die wêreld omdat sy wéét hy sal nog ’n groot man word. Hy is ook kleurblind en kan net blou en geel sien. Toe gee sy oom vir hom ’n blou budjie present en meteens kan hy ook sien. Die verhaal het baie diepte: die innige en hegte gesinsverhouding, die deernis van die familie vir die gestremde kind kom subtiel na vore deur dialoog en gestaltegewing. Vir die leser wat dieper kyk, word die voëls die simbool van geluk. Solank die mens, die armsalige swaksiende en swakbegrypende mens, dit uitwendig wil ervaar, ontglip dit ons hande, maar as ons eers besef dat dit binne ons lê, besit ons dit." (EV, Volksblad, 20 Oktober 1984)
    • "Everest is ’n ongewone en interessante karakter. (...) Sy ma is liefdevol en begrypend, maar prakties en bereid om omstandighede te aanvaar en altyd op ’n positiewe aspek te konsentreer. Die name wat sy vir haar kinders uitgesoek het, gee ’n humoristiese element aan die verhaal, veral vir die volwasse leser. Elbert en Victoria, die tweeling, het koningsname gekry, want die mense het vir hulle presente aangedra soos vir ’n prins en prinsessie. En Born-Lady, die sussie, 'het die naam van ’n perd gekry wat die resies gewen het die dag toe sy gebore is.” (...)Al Everest se voëls (1984): Wenner van beide 1985 se MER-prys vir jeugliteratuur en Ou Mutual-prys.

"Die karakterbeelding en menseverhoudinge is oortuigend. Daar is ’n derdepersoonsverteller, wat soms as alwetend figureer, en soms weer vanuit die belewing van Everest. Hierdie twee vertellersperpektiewe word moeiteloos geïntegreer. In Al Everest se voëls word die ongewone intrige, karakters en menseverhoudinge en die abstrakte lewenswaarheid wat verkonkretiseer word met ’n kunstenaarshand gehanteer en geïntegreer. Dit is boeiende leesstof.

"Alida Bothma se kleurillustrasies is besonder gevoelvol, aantreklik en paslik. Hulle is kunswerke wat deur ’n ongewone kombinasie van kryt en collage onder andere Everest se gebrekkige visuele waarneming op ’n oorspronklike en effektiewe wyse uitbeeld. Ongelukkig word die besondere eenheid tussen teks en illustrasies versteur deur die ontoepaslike formaat. Die boek het ’n voorkoms van ’n prenteboek." (Lydia Snyman, Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Maart 1985)            

  • Nou wil almal sien (1987): Wenner van 1989 se Tienie Holloway-medalje. "Hierdie is sommer ’n baie spesiale en uiters bevredigende kinderboek en onderstreep andermaal die feit dat eenvoud een van die heel vernaamste bestanddele van die resep vir kinderboeke bly. Die verhaal, wat mooi aangevul word deur die illustrasies, draai om Wikus en sy bril. Die dag toe hy met ’n nuwe bril by die skool opdaag, gaan ’n hele nuwe wêreld vir hom oop. Want nou kan hy skielik soveel meer sien. Die ander kinders beny hom, maar sy bril help hulle nie om beter te sien nie. Dit bring die skryfster by die hart van die saak: Dit help nie net om goed te sien nie. ’n Mens moet ook weet hoe om te kyk." (Beeld, 20 Julie 1987)
    • "Damian, Lilia en klein Donovan Sijeur, hul pa en die mense van die woonbuurt net buite Stellenbosch, is regte mense by wie se lot elke leser ten nouste betrokke kan wees. As kinderkarakters in die verhaalskat van ’n taal so aangryp dat hulle onsterflik word, is Damian een van hulle. Alida Bothma se sensitiewe illustrasies dra ook by om dié verhaal onvergeetlik te maak vir elke agt- tot elfjarige." (Zirkëa Ellis, Die Burger, 1 Oktober 1971)
    • "Rupert fokus op die positiewe verhouding tussen Byron en sy ouers, tussen Byron en sy familielede en veral op die tentatiewe, sagte liefde tussen Byron en die mooi blinde meisie, Wahida. En, ervare skryfster wat Rupert is, omseil sy ook hier die fasiele en voor die hand liggende. Hierdie newetema word nie ontwikkel tot ’n stormagtige liefdesverhaal vir tieners nie. Maar dis ook nie ’n verlepte natgehuilde snesie nie. (...)
      "Die boek se ander pluspunte is die talle verwysings na musiek, komposisies en tegnieke. Die volwasse wyse waarop Rupert dit integreer met die verhaalgegewe behoort ander skrywers te oortuig dat die tyd van neerbuigendheid teenoor kunssinnige karakters vir goed verby is. Rupert behou ’n gesonde perspektief en balans. Sy konsentreer in die eerste plek op ’n vinnige, spannende storie wat sy met oortuiging na ’n verrassende klimaks voer. Dis slegs wanneer die skrywer die ouktoriële verteller opsy stoot dat Byron se perspektief verwring word met mooi eteriese frases. Maar vir die enkele klein mistastings vergoed Rupert se meesterlike situasieskepping, trefsekure waarneming en keurige taalversorging ruimskoots. (Marina le Roux, Die Burger, 26 Maart 1991)
  • Drie lemoene en ’n duif (1992):
    • "'Elke hartseer is ’n alleenheid', sê ’n ou vrou vir Sophia, die tienderjarige hoofkarakter van Drie lemoene en ’n duif. 'En elke alleenheid is anders, en niemand kan eintlik vir iemand anders help nie...' Dit is wat Sophia deur emosionele swaarkry leer in hierdie aangrypende, dog subtiele verhaal deur Rona Rupert. Sophia se grootste probleem is dat sy haar ma se nuwe vriend, Daniel, verwerp. Sy is besitlik oor haar ma en om haar pa se onthalwe jaloers op die nuwe kêrel. Die boek staan in die teken van menslike broosheid. (...) Hier is ’n verwikkelde boek vir sensitiewe lesers van alle ouderdomme." (Barrie Hough, Rapport, 1 November 1992)
    • "Rupert hanteer die spanningslyn met ’n seker hand sonder om die leser willens en wetens te manipuleer – die slot is ’n meesterstuk van die uitstel- en onthullingstegniek. Rupert benader seksuele sake met ’n innerlike, persoonlike taboe. Sy is een van die min skrywers wat hoogs erotiese momente so sensitief hanteer dat dit inderdaad intensiveer, sonder om ooit aanstoot te gee. Dit is ongelooflik, maar ook so verblydend dat Rupert oor ’n skrywersloopbaan van 25 jaar en byna drie dosyn boeke, telkens verras met ’n nuwe titel van hoogstaande gehalte." (Marina le Roux, Insig, Augustus 1993)
  • ’n Roofvoël uit die Ooste (1995): "Dit is ’n boeiende en besondere verhaal van twee jong mense en hulle vriendskap wat op ’n treffende manier oorgedra word. Dit is 1943 – oorlogtyd. Emma en haar gesin moet as gevolg van haar oupa se dood plaas toe trek. Sy gaan bly by haar ouma op die dorp waar sy moet skoolgaan. In die nuwe skool ontdek sy wat dit is om buite die kring te staan. Sy ontmoet vir Szymon, die Joodse seun. Hy is vir haar net so snaaks, maar weens haar eie belewing van vreemd wees, wil sy vir hom probeer verstaan. (...)

"Dit is min dat ’n jeugboekskrywer dit regkry om met historiese gegewe ’n verhaal te bou wat boei en aangryp. ’n Roofvoël uit die Ooste is so ’n verhaal. Hierdie boek van Rupert tref ’n mens nie as dramatiese verhaal nie, maar dit is juis die vermoë van die skrywer om die storie so te vertel dat die ondertone die verhaal saggies vertel, terwyl die skrywer tog die jong leser se ontwikkelingsvlak raakskryf, sonder dat dit ’n preekbundel word. Die verhaal trek die leser in en as jy klaar gelees het, bly dit nog lank in jou kop draai." (Leentjie Theron, Beeld, 21 Augustus 1995)

Oor die ontstaan van Te rooi vir woorde het Rona aan Irma Louw in Rooi Rose (19 Mei 1982) vertel dat sy in ’n straatkafee in Griekeland ’n dogtertjie gesien het wat onmiddellik "in ’n boek geklim" het. Die kafee was vol mans en toe sy die kafee binnestap en soveel kykies van die mans kry, het die dogtertjie haar soos ’n ware koningin gedra. Rona kon nie die ervaring van hierdie gebeurtenis verlore laat gaan nie en dit is as Te rooi vir woorde neergepen.

"Kindwees is ’n geloof in liefde, skoonheid en geloof; dit is om só klein te wees dat die elwe in jou ore kan fluister. Kindwees is die enigste wêreld wat vir my die moeite werd is en daarom sal ek nooit uitgeskryf word nie," het sy aan Irma Louw vertel.

Hoekom sy wat aan begaafde kinders musieklesse gee en wat haar musiekopleiding oorsee ontvang het, geskryf het oor kinders wat al met die verkeerde kant van die lewe te doen gekry het, het sy aan Sarie (23 September 1987) vertel dat dit moes gewees het in die wete dat kinders nie regtig so sonder sorge en in so ’n onskuldige omgewing grootword soos wat volwassenes altyd dink nie – dat alle kinders nie so gelukkig was soos sy nie. "Ook die besef dat dit die skrywer se plig is om deur wat hy of sy skryf, die kind te help om swaar en hartseer te verwerk. En om ander, meer bevoorregte kinders ’n begrip te gee vir dié met die seer vlerk."

Vir die illustrasies van Ambraal, hoe gaan dit nog? het Rona haar gewend na Kaffie Pretorius om dit met naald en gare te doen. Sy het Rona se storie met die hulp van lappieswerk gedoen. Kaffie het aan Rothea Kleynhans (Landbouweekblad, 27 Januarie 1984) vertel dat dit vir haar ’n ongelooflike uitdaging was toe Rona met die voorstel na haar gekom het om ’n storie te maak wat in 1912 in die Hantam afspeel: "Ek ken die wêreld en het dadelik geweet watter lappies ek sou nodig hê, maar om hulle in die hande te kry, was nie so maklik nie!

"Ek dink eers lank oor byvoorbeeld die dorpie. Dan maak ek die prentjie met papier, en daarna van lap."

Daar is nie een stuk lap spesiaal gekoop vir die illustrasies van die boek nie – dit is alles ouwêreldse lappies. "Dit was baie belangrik dat die lappies by 1912 moes pas. Gewaterde tafsy, outydse fluweel en sis is gebruik om ’n ieder en elk se verbeelding gaande te maak. Vir my was dit ’n heel nuwe wêreld," het Kaffie gesê. "Rona se geesdrif het my gedurig aangespoor. Sy was vreeslik opgewonde oor alles. (...)

"Met die simboliese prente wou ons die tradisionele patrone sy plek gee. Die mense van toeka het dié tipe laslapwerk gedoen, veral die diamantjies en die seskantjies."

Oor Ambraal het Rona gesê dat dit ’n "plesierboek" was wat op haar herinneringe aan haar grootwordjare gebaseer is. "’n Mens moet gedurig daarteen waak om nie sentimenteel te raak oor iets wat jou na aan die hart lê nie. Dit verg geweldige dissipline om eenvoud van taal te behou. Die storie was al lankal daar, ek het net gewag vir die vorm wat dit moet aanneem.

"Dit was my 23ste boek, en geeneen het my soveel plesier gegee nie. Dit was wonderlik om die ontwikkeling van die verhaal met iemand te deel en veral om met iemand te praat oor iets wat vir jou en ook vir haar lewend is." (Landbouweekblad, 27 Januarie 1984)

Rona het oor die ontstaan van Ambraal aan Linda van Deventer (Die Burger, 25 November 1983) vertel dat sy op Zürich se lughawe na tradisionele Switserse gebak gestaan en kyk het en toe skielik besluit het dat iets nét so huislik en "warm" haar boek met komplementeer. Geen gewone illustrasies sou "reg" wees nie.

"Ek dink die laslappiewerk weerspieël ook iets van die volheid van die wêreld waarin die verhaal hom afspeel en die wydheid van ’n mens se ervaring, ten spyte van fisieke beperkinge."

Kaffie Pretorius het vertel dat sy die kuns van lappieswerk in Amerika geleer het toe sy saam met haar man twee jaar daar gebly het. "Ek is ’n ouwêreldse mens en dit was dus vir my suiwer genot om die lappieswerk vir die boek te doen. Twee van die boompies is byvoorbeeld gemaak van ’n geblomde stof wat eintlik eers die sak op ’n vriendin se rok was. Die rooi dakke van ’n paar huisies kom weer van ’n mini-rok van Rona Rupert se dogter."

Agter in die boek is aanwysings om een van die twaalf ontwerpe te maak.

Rona Rupert is op 25 Augustus 1995 na ’n lang siekbed oorlede. Sy word oorleef deur haar man, Koos, en haar dogter, Marian van der Merwe. Haar man, ’n broer van Anton Rupert, is in Augustus 2007 aan ’n hartaanval oorlede.

Huldeblyke:

  • Marina le Roux: "Daar is musiek in Rupert se boeke, musiek van woorde en van instrumente. (...) Hierdie leitmotiv was part en deel van haar lewe - sy was immers musiekonderwyseres. In haar sonnige huis op die walle van die Eersterivier het die klanke van fluit en klavier vermeng met die musiek van die water en met kinderstemme. (...) Maar Rupert het nie net vir ’n intieme gesinsopset geskryf nie. Sy het ruim en gulhartig vir alle kinders geskryf, en dikwels oor en vir die minder bevoorregtes. (...) Hoe opreg Rupert ook pryse en bekronings waardeer het, was dit die waarderende briewe van lesers vanoor die hele land wat haar diep geraak en gemotiveer het. Dit was die geborgenheid van Stellenbosch en sy berge, die liefde van gesinslede en vriende wat haar geïnspireer het." (Vuka SA, November 1995)
  • Marina le Roux: "Met 33 kinder- en jeugboeke het Rona Rupert haarself bewys as ’n kwaliteitskrywer. Maar sy was ook ’n kwaliteitmens wat die lewens van almal rondom haar verryk het met lojale vriendskap, meelewing en integriteit: in der waarheid was sy 'tangible nobility'." (Die Burger, 30 Augustus 1995)
  • Lydia Pienaar: "Rona Rupert is oorlede. Soos haar lewe en persoonlikheid was, was die hantering van haar slepende siekbed en haar dood privaat, in ’n groot mate alleen, ánders as meeste ander mense, met ’n diepte aan gedagtes en ervaring wat vir die buitestaander onbekend of selfs verdoesel gebly het. Enkeles buite haar hegte familiekring koester kosbare gesprekke waarin die sluier vir kort oomblikke gelig is. Maar tog ken bekendes en onbekendes hierdie ongewone mens baie goed, want ’n stukkie van haar sit in feitlik al haar boekkarakters. Sy was uit die Hantam, verbonde aan die streek en sy mense, selfs so sterk sintuiglik dat sy soos Emma in haar laaste boek, die geure kon 'sien'. (...)

"Uit al haar werke spreek haar deernis met mens en dier, die bewustheid van lyding op alle   vlakke, in alle gemeenskappe en in alle omstandighede. Maar altyd word dit gedra deur hoop, geloof en die lofwaardige: 'Dit is beter om te vertrou as om nie te vertrou nie, en om te glo, is beter as om nie te glo nie'. Rona Rupert is nie dood nie. Ons hét haar ... dáár, binne-in ons kop!" (Boekewêreld, 13 September 1995)

  • Danie van Niekerk: "As ek ’n enkele eienskap van die skryfwerk van Rona Rupert kan uitwys, is dit die element van geluk wat uit elkeen van haar 33 boeke gestraal het. Sy was ’n gelukkige mens – weldadig geseënd met haar huismense en naaste familie - wat haar eie geluk aangegee het, in haar boeke maar ook in haar vriendekring. Wat my telkens by haar getref het, in hierdie gesofistikeerde, pragtige vrou wat in die mees gesofistikeerde kringe in ons land en oorsee beweeg het, was dat sy die graagste en met soveel oortuiging geskryf het oor eenvoudig, arm, gewone mense – die verskrompeldes, die gebreklikes, die eensames, die soekendes. En nog iets wat haar geselskap altyd so vrolik gemaak het, was haar gawe om in die mees alledaagse situasies ’n element van komieklikheid, van fantasie te sien.

"In die afgelope paar jaar was sy die besieling (saam met haar man, Koos, en hul vriende, die Coetzees van Calvinia) agter die vestiging van die Karoo-Boekehuis op Calvinia, ’n monument aan Rona se liefde vir boeke, maar ook vir haar gehegtheid aan haar hartland, die Hantam-Karoo." (Insig, Oktober 1995)

  • Elsabe Steenberg: "’n Aspek van Rona Rupert se benadering van haar verhale is dat sy nie kinder- en jeugboeke streng geskei het nie. Daar word geen toegewing aan kinderlesers gemaak wat styl en selfs die tema betref nie. Sy skryf realisties, maar fantasie kom ook aan die beurt in Luister, Lefa. Baie noukeurige aandag is aan ruimte gegee: dis geen vlugtige verwysing nie, maar ’n presiese benoeming tot op die naam af. Wat ’n belangrike vernuwing in ons kinderliteratuur is, is eerstens dat sy die moeilike saak aanpak om kinders in ’n gesin te laat figureer. Die ander vernuwing is dat die eerste persoon in boeke van gehalte gebruik word. Rona Rupert het by geleentheid gesê dat sy meer in Londen kom as in Johannesburg wanneer sy haar man op reise vergesel het. Tog is haar boeke getrou aan haar land. Besondere boeke van ’n besondere mens." (Tydskrif vir Letterkunde, November 1996)

In 1996, amper ’n jaar na Rona Rupert se afsterwe, verskyn haar laaste boek wat na inhoud en genre ver verwyderd is van haar vorige boeke. As huldeblyk aan haar en as aandenking vir haar lesers is hierdie onvoltooide laaste manuskrip gepubliseer onder die titel In die skadu van Berg Athos.

Dit bevat dagboek-inskrywings wat sy geskryf het op ’n Griekse eiland terwyl sy in 1983, 1984, 1986 en 1992 daar vakansie gehou het. Daar is ook één laaste inskrywing in April 1995 wat die uitgewer se nawoord beskryf het as "Rona Rupert se laaste woorde". Dit is geskryf gedurende Paasfees op die eiland nadat sy reeds siek was.

Toe sy op haar laaste siekbed gelê het, wou haar man by haar weet wat hy met die manuskrip moes doen – of hy en hul dogter die moet probeer klaarmaak. Haar antwoord was dat as dit uitgegee moes word, dit as ’n onvoltooide manuskrip uitgegee moet word, ’n verhaal wat nie klaar vertel is nie. Danie van Niekerk, destyds van Tafelberg Uitgewers, het dit boek vir publikasie begin voorberei ten bate van een van Rona se projekte, die Boekehuis op Calvinia, daar waar haar as gestrooi is.

In Beeld van 19 Augustus 1996 het Gretel Wybenga geskryf dat daar tog twee dinge in In die skadu van Berg Athos is waaraan mens iets van Rona Rupert die fiksieskrywer herken: "die duidelike aangetrokkenheid tot kinders en ’n sensitiwiteit vir die uitvoerende kunste en die verlossende vermoë daarvan, veral dan die musiek.

Barrie Hough het in Rapport (30 Junie 1996) geskryf dat nadat hy Berg Athos gelees het, die woorde van ’n karakter in ’n film van Ingmar Bergman "I am thankful for my life that has given me so much" by hom opgekom het.

"Dié teks is ’n dun reisverhaal, maar allesbehalwe skraal. Dit bied soveel meer as blote reisbeskrywings van die Griekse eiland Kalithea en die mense wat Rupert daar meegemaak het. Wanneer jy die boek neersit, voel jy dat jy as bevoorregte vriend van Rona Rupert, haar familie en vriende saam die geborgenheid en lewensvreugde van die dae op die eiland met sy antieke olyfbome, helder see en soel aande ervaar het.

"Deur Rupert se poëtiese beskrywings – vol  verrassende kleur, tekstuur en oorspronklike woordgebruik – leer ’n mens op ’n sonderlinge manier die Griekse landskap, kultuur en mense ken. Die skrywer se woorde is deurdrenk van wat Lawrence Durrell, ’n skrywer wat gek was na Griekeland, a spirit of place noem. (...)

"Rona Rupert bring ’n mens onder die indruk van die visuele van Griekeland en span ook elke ander sintuig tot die uiterste in. ’n Mens hoor in haar beskrywings die bokklokke en suising van die wind deur die olyftakke, voel die son op jou vel, proe die feta-kaas en vye; en ruik die see. In die skadu van Berg Athos is egter meer as ’n reisverhaal deur ’n skrywer met ’n besondere stilistiese vermoë, aanvoeling vir raak beeldgebruik en woordkundigheid. Dit is ’n dokument wat die skrywer, die vrou, die moeder, die vriendin se ruimheid van gees, lewensgeletterdheid, menseliefde en lewensvreugde weerspieël en by jou resoneer lank ná jy die boek neergesit het.

"Rona Rupert is op 25 Augustus 1995 oorlede, maar uit haar laaste boek lei ’n mens af dat sy, soos die karakter in die Bergman-rolprent, dankbaar moes gewees het oor wat die lewe haar gebied het."

Publikasies

Publikasie

Koningskind van die Hantam

Publikasiedatum

1967

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die verhaal van die vrolike liedjie

Publikasiedatum

1968

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Prenteboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Elias loop in die ry

Publikasiedatum

1968

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Brandkloof se kinders

Publikasiedatum

  • 1969
  • 1973
  • 1982

ISBN

  • 0624004058 (hb)
  • 0624017753 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

By omdraai verby

Publikasiedatum

  • 1970
  • 1973

ISBN

062400483X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Cato van Brandkloof

Publikasiedatum

  • 1971
  • 1975

ISBN

0624001083 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Martinus en die windpomp

Publikasiedatum

1971

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Iets wat vir Anna-Katrien mooi is

Publikasiedatum

1972

ISBN

0798101091 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Molisana, die seun wat klei-osse maak

Publikasiedatum

1972

ISBN

0798101237 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die musiek wat die koning wil hoor

Publikasiedatum

1972

ISBN

0624003221 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die eerste keer

Publikasiedatum

  • 1972
  • 1974

ISBN

0624006131 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die dag toe name volop was

Publikasiedatum

1975

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Wat maak jy, Hektor?

Publikasiedatum

1976

ISBN

0624008339 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

1976 CP Hoogenhout-medalje vir kinderboeke

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Luister, Lefa

Publikasiedatum

1976

ISBN

07981 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

14 is anders

Publikasiedatum

1977

ISBN

0624009572 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Wegloopwinter

Publikasiedatum

  • 1978
  • 1982
  • 1984
  • 1985
  • 1986
  • 1987
  • 1988
  • 1990
  • 1991

ISBN

  • 0624016986 (hb)
  • 0624021432 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken

1979 Scheepersprys vir jeuglektuur

Vertalings

1982 Engels Runaway winter

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Woorde is soos wors

Publikasiedatum

  • 1979
  • 1984
  • 1986
  • 1990
  • 1992

ISBN

  • 0624013146 (hb)
  • 0624020592 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken

1979 Scheepersprys vir jeuglektuur

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die aarbeimense

Publikasiedatum

1980

ISBN

0798108746 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die tweede verslag van ’n buitengewone ontmoeting

Publikasiedatum

  • 1981
  • 1985
  • 1989
  • 1990

ISBN

  • 0624015882 (hb)
  • 062402041X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Dis myne

Publikasiedatum

1981

ISBN

0868441821 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Qualitas

Literêre vorm

Prenteboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Te rooi vir woorde

Publikasiedatum

1982

ISBN

0798113375 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Wat wil jy maak as jy weet?

Publikasiedatum

  • 1983
  • 1985
  • 1987

ISBN

  • 0624018857 (hb)
  • 0624021807 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Ambraal, hoe gaan dit nog?

Publikasiedatum

1983

ISBN

0624019926 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Al Everest se voëls

Publikasiedatum

1984

ISBN

0798117001 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

  • 1985 MER-prys vir jeugliteratuur
  • 1985 Ou Mutual-prys

Vertalings

1988 Engels All Everest's birds

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Ek is Gideon

Publikasiedatum

  • 1985
  • 1987

ISBN

  • 0624022100 (hb)
  • 0624024660 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Nou wil almal sien

Publikasiedatum

1987

ISBN

0798121270 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

1989 Tienie Holloway-medalje

Vertalings

1987 Engels They all want to see

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

En wat van my?

Publikasiedatum

  • 1987
  • 1990

ISBN

  • 0624024490 (hb)
  • 0624026345 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Mamma! Ek is bang

Publikasiedatum

1988

ISBN

0798122471 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

1988 Engels Mama! I am scared

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die naamboom

Publikasiedatum

1989

ISBN

0947454063 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Anansi

Literêre vorm

Prenteboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Twaalf dae na Kersfees

Publikasiedatum

1989

ISBN

0795920334 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Prenteboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Foptyd

Publikasiedatum

1990

ISBN

062402850X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Prenteboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

1990 Engels Fooltime

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Mamma, ek gaan ry

Publikasiedatum

1990

ISBN

0798124865 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

1990 Engels Mama, I am going to ride

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Speel dit weer

Publikasiedatum

1990

ISBN

0624029832 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Drie lemoene en ’n duif

Publikasiedatum

1992

ISBN

0624031659 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Straw sense

Publikasiedatum

1993

ISBN

0671770470 (sb)

Uitgewer

New York: Simon & Schuster

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Roofvoël uit die Ooste

Publikasiedatum

1995

ISBN

0798133724 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

In die skadu van Berg Athos

Publikasiedatum

1996

ISBN

0798135263 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Reisverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Mallemeule

Publikasiedatum

1996

ISBN

0702136654 (sb)

Uitgewer

Kenwyn: Juta

Literêre vorm

Prenteboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Rona Rupert as vertaler:

  • Jones, D en Byars, Betsy: Die perd, die pampoen en John. Kaapstad: Human & Rousseau, 1984 [ISBN 0798116544 (hb)]
  • Daly, Niki: Nie so vinnig nie, Songololo! Kaapstad: Human & Rousseau, 1985 [ISBN 0798118687 (hb)]
  • Cleary, Beverley: Beste mnr Henshaw. Kaapstad: Human & Rousseau, 1986 [ISBN 0798119942 (sb)]
  • Baum, Louis: Is ons al amper daar? Kaapstad: Human & Rousseau, 1986 [ISBN 798109779 (hb)]
  • Stock, Catherine: Sophie se emmer. Kaapstad: Human & Rousseau, 1987 [ISBN 0798121351 (hb)]
  • Bouma, Paddy: Bertie gaan tandarts toe. Kaapstad: Human & Rousseau, 1987 [ISBN 0798122005 (hb)]
  • Bouma, Paddy: Bertie gaan kuier by Ouma. Kaapstad: Human & Rousseau, 1987 [ISBN 0798121998 (hb)]
  • Bouma, Paddy: Bertie en die hamsters. Kaapstad: Human & Rousseau, 1988 [ISBN 0798123796 (hb)]
  • Bouma, Paddy: Bertie in die sportsak. Kaapstad: Human & Rousseau, 1988 [ISBN 079812380X (hb)]
  • George, Jen Craighead: Julie en die wolwe. Pretoria: Qualitas, 1988 [ISBN 0868446262 (hb)]
  • MacLachlan, Patricia: Sarah, lank en vaal. Pretoria: Qualitas, 1988 [ISBN 0868446246 (hb)]
  • Himler, Ronald: Word wakker, Jeremia. 1989
  • Richardson, Jean: Die neutkraker. Kaapstad: Tafelberg, 1990 [ISBN 0624029166 (hb)]
  • Anderson, Keith Osler: ’n Tent vol sterre. Kaapstad: Tafelberg, 1991 [ISBN 0624029883 (sb)]
  • MacLachlan, Patricia: Lewerik. Kaapstad: Anansi, 1997 [ISBN 1868433781 (hb)]

Artikels oor en deur Rona Rupert beskikbaar op die internet:

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Miemie Wessels

    Baie dankie, ek het so gaaf gelees aan al die resensies. Voel werklik geïnspireer om alles weer nader te trek. ’n Besondere voorreg om die stof so saamgevoeg te kon deurleef.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top