Roman North Africa: Environment, society and medical contribution
Louise Cilliers
Uitgewer: Amsterdam University Press
ISBN 9778 94 6298 990 0
e-ISBN 978 90 4854 2680
Wanneer aan die Romeinse Ryk gedink word, fokus 'n mens gewoonlik (en heeltemal tereg ook) heel eerste op Rome, vir eeue lank die setel van die Romeinse wêreld. Vervolgens word Italië in die algemeen in herinnering geroep, waar daar nog sovele strukture is wat uit die Romeinse era dateer: van akwadukte en ou geplaveide paaie tot die ruïnes van die stad Pompeii. En wanneer ’n mens deur Europa reis, kom ’n mens ook nog op Romeinse strukture af: van amfiteaters tot verdedigingstrukture soos Hadrianus se muur in Brittanje.
Maar die Romeinse Ryk was natuurlik nie tot Wes- en Oos-Europa beperk nie. Toe dié "wêreldryk" van destyds sy hoogbloei beleef het, het die Romeinse grense ook groot dele van die Midde-Ooste en Noord-Afrika omsluit. Vir bykans 600 jaar lank, van 146 vC tot 439 nC, was die Romeine inderdaad in beheer van groot dele van Noord-Afrika.
In die buiteland is daar baie akademici wie se navorsing op die geskiedenis en kultuur van die Romeinse Ryk toegespits word, en daar verskyn steeds baie publikasies – sowel van ’n akademiese as ‘n populêre aard – oor al die fasette van die Romeine se lewenswêreld en die ryk wat hulle tot stand gebring het, en word die Latynse taal ook steeds bestudeer. Dit is egter nie aldag dat ’n Suid-Afrikaner, en op die koop toe ’n Afrikaanssprekende akademikus, ’n bydrae tot die Romeinse historiografie lewer nie. Dìt het wel onlangs gebeur toe Louise Cilliers, ’n navorsingsgenoot verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) en afgetrede professor in Klassieke Tale aan dié universiteit, en voorheen ook hoof van die Departement Latyn aan die UV – se boek Roman North Africa: Environment, society and medical contribution in 2019 deur die Amsterdam University Press in Nederland gepubliseer is.
Die boek fokus primêr op die omgewing en samelewing in Noord-Afrika gedurende die laat-Romeinse periode (4de en 5de eeu nC), en wel deur die lens van nagelate geskrifte van Helvius Vindicianus, Theodorus Priscianus, Caelius Aurelianus en Cassius Felix – al vier mans wat oor mediese sake geskryf het. Hulle het Griekse tekste vertaal, maar werp ook in hul geskrifte lig op die omgewing, ekonomie, bevolking, taal en mediese geriewe en gebruike in Noord-Afrika.
In hoofstuk 1 word ’n algemene oorsig van die geskiedenis van Romeinse Noord-Afrika gegee, insluitende stede soos Karthago en Cirta; die mense van die gebied, hul tale en kultuur, bekende skrywers, en intellektuele lewe. Die gesondheidsfasiliteite (insluitende hospitale) in Romeinse Noord-Afrika se stede kom in hoofstuk 2 aan bod, soos ook ander strukture van belang. In hoofstuk 3 word die Romeine, Grieke en Christene se sieninge omtrent die oorsake van aansteeklike siektes (en gevolglike epidemies) onder die loep geneem. In die lig van COVID-19 is dit interessant om van die epidemies te lees wat in die loop van die 4de en 5de eeu nC tot die dood van derduisende mense gelei het.
Hoofstuk 4 word aan die kennis en vlak van bekwaamheid (al dan nie) van mediese dokters in die latere jare van die Romeinse Ryk gewy, asook die opleiding wat hulle in die stede Alexandrië en Karthago kon ontvang. Vervolgens word die lewe en werk van Helvius Vindicianus in hoofstuk 5 aan die orde gestel – die heel eerste keer dat hierdie medikus se merkwaardige loopbaan ontleed en geëvalueer word. Theodorus Priscianus, een van Vindicianus se studente, se sieninge omtrent medisyne en behandeling word in hoofstuk 6 uiteengesit. Die werk van Cassius Felix, Caelius Aurelianus en Muscio word in hoofstuk 7 bespreek. Die bekende Christen-kerkvader Augustinus het ook ’n groot belangstelling in medisyne gehad. Sy werk word in hoofstuk 8 beskryf, asook sy vriendskap met Vindicianus.
In hoofstuk 9 word die Grieks-Romeinse en Christen-sieninge omtrent genesing beskryf en ontleed. In die slothoofstuk, hoofstuk 10, word gelet op die rol wat Romeinse Noord-Afrika in die bewaring en oordra van mediese kennis gespeel het. Ironies genoeg het buitelandse invalle daartoe gelei dat vlugtelinge die vertalings van mediese tekste, asook gepaardgaande mediese kennis, na Europa geneem het, waarna dit verder versprei en bewaar is. Alles in ag genome, blyk dit dat Romeinse Noord-Afrika ’n besondere bydrae op mediese en ander lewensterreine gelewer het.
*
Die boek het ’n treffende kleurfoto op die vooromslag, met 39 toepaslike illustrasies (meesal foto's) verspreid deur die boek. Op ble 231–3 is daar ’n omvattende bronnelys, wat Cilliers se indringende navorsing ten opsigte van sowel primêre as sekondêre bronne bevestig. Die bronne bevestig ook die waarde van ’n leeskennis van tale naas Engels, sodat oorspronklike Latynse en ander tekste geraadpleeg kon word. Die 851 voetnote is ook ’n weerspieëling van die uitstekende navorsing wat gedoen is, en van die feit dat die bronne goed ontgin is. Die register (ble 251–6) stel die ernstige navorser, student en enige ander belangstellende leser in staat om die teks maklik te ontsluit.
........
Kennis van die Klassieke tale, geskiedenis en kulture verryk en verruim ’n mens se leefwêreld. Dit plaas van ons eietydse vraagstukke in historiese perspektief, en verskaf insig op talle terreine. Die Romeins-Hollandse regstelsel het immers ook aan die suidpunt van Afrika ’n voetspoor gelaat, en van die tale wat in Suid-Afrika gepraat word, is direk of indirek deur Latyn beïnvloed.
.........
Kennis van die Klassieke tale, geskiedenis en kulture verryk en verruim ’n mens se leefwêreld. Dit plaas van ons eietydse vraagstukke in historiese perspektief, en verskaf insig op talle terreine. Die Romeins-Hollandse regstelsel het immers ook aan die suidpunt van Afrika ’n voetspoor gelaat, en van die tale wat in Suid-Afrika gepraat word, is direk of indirek deur Latyn beïnvloed.
Hoe primitief die Romeine se mediese behandeling en werkswyses ook al mag gewees het – dit is, gemeet aan 21ste-eeuse standaarde – het hulle, saam met die Grieke en baie andere, meegehelp aan die uitbou en ontwikkeling van die mediese wetenskappe. Cilliers ontruk ou mediese tekste wat uit die Laat-Klassieke tyd dateer aan die vergetelheid en werp nuwe lig op die werk wat deur medici en andere in daardie tyd verrig is. Sy kontekstualiseer deurlopend tekste, persoonlikhede, en hul sienswyses deur dit alles in (kultuur-) historiese perspektief te plaas.
Louise Cilliers se Roman North Africa: Environment, society and medical contribution lewer ’n unieke en dus ook ’n besondere bydrae tot die Romeinse historiografie. Hoewel dit die fokus plaas op sosiale geskiedenis en die geskiedenis van medisyne en die mediese wetenskappe, is dit terselfdertyd ook ’n baie besonderse kultuurhistoriese werk; en die teks beklemtoon opnuut ook weer die kaleidoskopiese aard van kultuurgeskiedenis. Die skryfstyl is gemaklik en die boek behoort by ’n wye gehoor aanklank te vind. Hierdie besonder insiggewende boek verdien om wyd gelees te word. Dit word sterk aanbeveel.
André Wessels, Departement Geskiedenis, UV