Robin Williams: die kaptein en die kluisenaar

  • 0

Wanneer ’n hoë boom in ons gemeenskap deesdae neergevel word, spring die ratwerk van die nuuskanale blitsig aan die werk: ek het deur ’n RSG-nuusbulletin van Robin Williams se afsterwe verneem. Dié boom se effek en waarde – in lewe én nadoods – word deurtastend ontleed en die vraag "Wat kan ons hieruit leer?" kom dikwels ter sprake.

Hierdie gesprekke sluit dikwels ook die "vertroostende" woorde in dat die persoon in herinneringe sal voortleef. Wanneer so ’n uitspraak gemaak word, is daar verskeie reëls in die Afrikaanse poësieskat wat resoneer: DJ Opperman se "hy wat drie maal sterf/ die sterf nie meer" en Ingrid Jonker se kind wat (ook in die poësie van onder meer Fanie Olivier, Bernard Odendaal en Carina Stander) nie dood is nie.

Alles waar en waardevol. ’n Mens moet egter ’n ander waarskuwing van Opperman in gedagte hou: in "Die mens is metafoor en meer" uit Komas uit ’n bamboesstok (1979):

Ek is traktaatjie
goedkoop preek
vir slordige predikant.

Terwyl ’n mens nou terugkyk na Williams se werk en die skrille kontras verwerk tussen die lagbuie wat hy ontketen het en die depressie wat hom in ’n donker binnewêreld vasgekluister het, moet jy fyn trap om nie te vinnig homilieë (klein prekies ter stigting en nadenke) uit sy lewe en loopbaan te formuleer nie. Want hulle lê so gerieflik voor die hand.

’n Waarheid wat redelik universeel aanvaar word, is dat Williams der miljoene fliekvlooie groot vreugde gebring het. Elkeen wat gemaklik voel in hierdie menigte, sal ’n gunstelingoomblik of –aanhaling onthou en as ’n kosbare kleinood saamdra.

Enkeles wat my blybly, is die volgende:

Die erns waarmee hy en ’n span kenners kammakots beoordeel ("Is die stukkies die regte grootte? En kleur? Is dit nie te loperig of te styf nie?") in Toys (1992), een van sy mees onderskatte rolprente. Veral nou, in die tyd van Gaza en die Oekraïne en Sirië en soveel ander, moet ons dit weer bekyk en die siening van militarisme wat daarin uitgebeeld word, opnuut bespreek.

Williams se vermoë om te improviseer is beroemd of berug, afhangend van hoeveel verantwoordelikheid jy gedra het om ’n produksie binne sy begroting te laat bly. Onthou jy hoe sy karakter in Mrs Doubtfire (1993) in die moeilikheid gekom het oor hy tydens ’n stemsessie vir ’n animasierolprent ’n stukkie improvisasie wou invoeg? Maar dis in The birdcage (1996) waar sy talent seker die sterkste geakkommodeer is: volgens oorlewering was die ooreenkoms met Williams dat hulle elke toneel eers streng volgens die draaiboek sal verfilm, en hom dan sal kans gee om te improviseer. Sekere oomblikke van sy improvisasie is in die finale prent ingesluit: wanneer sy lewensmaat, gespeel deur Nathan Lane, dreig om homself om die lewe te bring, maar besluit om ’n tandeborsel saam te neem, is Williams se reaksie: "How Egyptian!"

Hy het ook daarin geslaag om diepe erns met diepsinnige humor te verbind. Toys is een voorbeeld; en die manier waarop hy die radiogolwe aan die brand gil in Good morning, Vietnam! (1987) sal seker een van sy bekendste klankgrepe bly. Soms het hy egter humor feitlik heeltemal agtergelaat: in One hour photo (2002) speel hy die rol van ’n oënskynlik gewone mens wat ’n diepgesetelde boosheid met hom saamdra.

Vir my en my kollegas in die Edele Beroep is dit egter sy rol as onderwyser in Dead poets society (1989) wat ná jare nog onthoubaar en invloedryk is. Hierin demonstreer hy een van die bekendste stellings om jong onderwysers te inspireer: "’n Kind is nie ’n houer wat gevul moet word nie, maar ’n vuur om aan te steek." Williams se karakter, John Keating,1 wat so passievol oor die poësie praat, inspireer sy jong studente tot ’n dieper en eerliker kyk na die lewe. Die onderwysstelsel word uitgebeeld as ’n hartelose, konserwatiewe burokrasie wat skeibrekers mishandel en uitwerk – ’n ingesteldheid wat saam met die ondraaglike druk van ouers tot die sentrale tragedie in die prent lei.

Vir my as bibliotekaris en boekliefhebber was die toneel waarin Keating sy studente dwing om die teoretiese inleiding tot die poësiebloemlesing uit te skeur, nogal moeilik om te aanskou! Maar juis omdat dit so fisiek en ekstreem is, is die vrae wat opgeroep word, baie belangrik, vrae wat ek eintlik gereeld vir myself moet beantwoord:

  • Help ek my studente (aan wie ek dink as "my kinders") om hul eie insigte te vorm oor alles wat ons lees of waarmee ons te doene kry?
  • Laat ek hulle hul eie idees toe, of gee ek hulle te maklik die "regte" antwoord?
  • Steek ek die vuur aan, of help ek dit blus deur die burokrasie te verteenwoordig?
  • Staan ek genoeg op my eie lessenaar om dinge vanuit ’n ander hoek te betrag, of is ek heeltemal te tuis in my gemaklik-bekende sienings?

Natuurlik moet onderwysers hierdie vrae beantwoord selfs al was daar nooit ’n Robin Williams of ’n John Keating nie. Maar Williams se effek, die skadu van die groot boom, bring dit periodiek weer onder die aandag – en ’n mens is nie altyd gemaklik met die insigte wat ontketen word nie.

Op ’n meer persoonlike én dalk positiewe noot: ek onthou hoe ek eenkeer saam met my ouers na Dead poets society gekyk het (en ek moet dit nou eenmaal sê: die ontbrekende apostrophe pla my verskriklik!) en met diepe dankbaarheid besef het dat hulle my toegelaat het om my eie lewe en loopbaan te ontwikkel, in skrille kontras met hoe die jong hoofkarakter van die fliek se ouers hom behandel. Ook ’n taak wat onderwysers soms moet uitvoer: om kinders teen hul ouers se onrealistiese verwagtinge en onredelike druk te beskerm.

Terwyl ek op die Internet Movie Database deur Williams se rolle blaai, besef ek dat daar nog vreugdes voorlê: The night listener (2006), Patch Adams (1998), Deconstructing Harry (1997), om maar net ’n paar te noem. Dit val op dat hy reeds drie jaar voor Dead poets society in ’n prent met die titel Seize the day (1986) gespeel het. En die lys herinner my aan een van Williams se kleinste rolle ooit: as Osric in Kenneth Branagh se oordadige Hamlet (1996). Al was hy ’n reus in ’n dwergrol, het hy dié paar oomblikke op die skerm beklee met ’n ironiese krag wat min ander hom in dié rol sou kon nadoen.

Ek is saam met vele fliekvlooie ontroerd deur Robin Williams se heengaan, veral weens die besonderhede daarvan: die maklik misverstaande en versweë siekte depressie. Soos dikwels met so ’n verlies is daar dinge waaroor jy spyt kan wees (ek sal liggaamsdele aan navorsing bemaak as ek hom saam met Steve Martin op die verhoog kon sien in Samuel Beckett se Waiting for Godot!). Moes hy uit sy vier nominasies meer as net die een Oscar, vir Good Will Hunting (1997), gewen het?

Maar soms moet ’n mens deur middel van die clichés vasklou aan die positiewe dinge. Danksy ons herinneringe (en ja, ons hedendaagse tegnologie!) sal Robin Williams kultureel nie gou te sterwe kom nie. Ons sal nog lank kan piekniek hou in die skaduwee van hierdie besonderse en komplekse groot boom.

Bibliografie
Jonker, Ingrid. 1994. Versamelde werke (derde hersiene uitgawe). Kaapstad: Human & Rousseau.
Opperman, DJ. 1950. Engel uit die klip. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
Opperman, DJ. 1979. Komas uit ’n bamboesstok. Kaapstad: Human en Rousseau.
Robin Williams. 2014. Aanlyn beskikbaar by: http://www.imdb.com/name/nm0000245/?ref_=fn_al_nm_1. Datum geraadpleeg: 14 Augustus 2014.

1 Hierdie karakter se naam eggo dié van die digter John Keats. ’n Mens begin wonder of keat dus ’n werkwoord is wat met die skep van poësie verband hou.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top