Robert Conquest (15.07.1917 – 3.08.2015) is oorlede. Hy is veral vanweë sy boeke oor die Sowjetunie en by name Josef Stalin (1879-1953) bekend. Hierdie boeke is eintlik 'n uitvloeisel van voortgesette navorsing na voltooiing van sy doktorale proefskrif. Hy het baanbrekerswerk gedoen deur die afgryslikhede van 'n kommunistiese bewind wêreldkundig te maak, bv die groot gaping tussen die Sowjet-praktyk en die idealistiese visie van Karl Marx. Sy bekendste boek is The Great Terror (1968; hersiene uitgawe 1990). Simon Sebag Montefiore se Stalin (2003) oortref Conquest se boek, maar dit is omdat die outeur op sowel Conquest en andere se navorsingsresultate as nuut beskikbaargestelde argivale bronne kon steun.
In 1944 het Conquest die kommunistiese oorname van Bulgarye eerstehands waargeneem. Teen daardie tyd was daar niks oor van die kommunistiese simpatie wat hy as jong student in Oxford gehad het nie. Sy boek oor die Sowjet-georkestreerde hongersnood in veral die Oekraïne, The Harvest of Sorrow (1986), het opslae gemaak; veral in Brittanje en Ierland, want dit herinner aan die tweede groot Ierse hongersnood (1846-1852), maar daar was voor dit nog een (1739-1741).
Skryfwerk deur en oor Kingsley Amis (1922-1995) en Philip Larkin (1922-1985) het my belangstelling in Conquest gewek. Amis en Larkin het mekaar in Oxford leer ken. Hulle was lede van 'n groep genaamd The Seven. Die lede het hulle met poësie, jazz en drank besig gehou. Hulle voorkeur was nie noodwendig in daardie volgorde nie. Kommunisme was destyds hoog in die mode. Soos Conquest het Amis aanvanklik hierdie ideologie ondersteun. Larkin het egter 'n pa gehad wat met die Nazi's gesimpatiseer het. Sy aansien as mens (en selfs as digter) het later 'n knou gekry vanweë beskuldigings dat hy 'n rassis was.
Soos Conquest was Amis aanvanklik 'n digter. Later het hy veral vanweë sy romans bekend geword. Die eerste een, Lucky Jim (1954), is sy bekendste werk en vir my die interessantste omdat dit 'n blik op die universiteitslewe bied. Amis sou egter nie hierdie eerste groot sukses as literator behaal het as dit nie was vir die deeglike kommentaar wat Larkin deurlopend op die manuskrip gelewer het nie. Larkin se skrywersloopbaan was die teenoorgestelde van Amis s'n, in dié sin dat hy aanvanklik as romanskrywer sukses behaal het maar hom daarna aan die digkuns gewy het. Richard Bradford se boek, The Odd Couple (2012), handel oor Amis en Larkin se lewenslange vriendskap.
Conquest, Amis en Larkin was lede van 'n losse versameling digters wat as The Movement (1954) bekend gestaan het. Hierdie drie het oor en weer gekuier, gekorrespondeer en mekaar beïnvloed. Conquest en Amis het saam 'n roemlose roman, The Egyptologists (1965), geskryf. Mettertyd het Conquest en Amis nie net polities meer gematig geword nie, maar in werklikheid sterk konserwatief en regsgesind, dus nader aan Larkin se standpunt. Ten spyte van kwaai kritiek het hulle bv die Amerikaanse deelname aan die Viëtnamese oorlog gesteun. In sy boek oor Amis en sy seun Martin verwys Neil Powell na "Conquest's law that people are most conservative about what they know best" (Amis & Son, 2009, p 232).
Daar is seker minstens een biografie oor Conquest in wording. Inligting oor die driehoekige vriendskap is te kry in Kingsley Amis se Memoirs (1991) en Martin Amis se Experience (2000). Ek kan Zachary Leader se biografie oor Kingsley Amis (2006) en James Booth s'n oor Larkin (2014) aanbeveel. Larkin was sy hele beroepslewe 'n universiteitsbibliotekaris. Hy het die vermoë gehad om glasheldere, toeganklike gedigte, gebaseer op eerstehandse ervaring van alledaagse dinge, te skryf, soos die volgende outobiografiese een (Booth, Kindle 7755):
They fuck you up, your mum and dad.
They may not mean to, but they do.
They fill you with the faults they had
And add some extra, just for you.
Die romanskryfster Elizabeth Jane Howard (1923-2014) was met Amis getroud (1965-1983). Sy het vir Conquest en Larkin goed geken. In haar outobiografie, Slipstream (2002), het sy 'n kompliment aan Conquest gegee wat die verlies van sy afsterwe in 'n neutedop saamvat: "Bob was the most completely intellectual man I've ever met" (Kindle 5742).
Johannes Comestor


Kommentaar
Johannes
Ek wens ek het die tyd gehad om kwaliteit leestof te kan lees, soos wat jy blykbaar doen. Nietemin, jou juwele bydraes met jou opsommings prikkel die verhemelte om die onderwerpe te wil navors. Dankie daarvoor.