Rob Antonissen (1919–1972)

  • 3

Gebore en getoë

Robert Karel Jozef Emiel (Rob) Antonissen is op 23 Mei 1919 in Antwerpen in België gebore. Hy was die enigste kind van Petrus Emiel Antonissen en Louisa Maria Camps. Sy vader was ’n geoktrooieerde rekenmeester.

FEM Vaughan het in die Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek, Deel V (RGN, 1987) geskryf dat Rob Antonissen vanaf 1930 tot 1936 sy hoërskoolopleiding in Grieks-Latynse humaniora aan die Sint-Jan-Berchmanscollege in Antwerpen ontvang het.

Verdere studie en werk

Hierna is hy na die Universiteit van Leuven in België, waar hy vanaf 1936 tot 1942 sy studie voortgesit het in die wysbegeerte en lettere, veral in die Germaanse filologie. In 1940 het hy die Licentiaat in Germaanse filologie en die Aggregaat Middelbaar Onderwys (hoër graad) verwerf. Hy het op 11 Desember 1942 ook aan die Universiteit van Leuven gepromoveer tot doktor in die wysbegeerte en die lettere met ’n proefskrif getiteld “Herman Gorter en Henriëtte Roland Holst”. Hierdie proefskrif is vanweë die Tweede Wêreldoorlog eers in 1946 gepubliseer. Dit is in 1947 met die Letterkundige Prijs der Vlaamse Provinciën bekroon.

Antonissen het vanaf 1942 tot 1945 onderwys gegee in Nederlandse en Duitse letterkunde by die Belgiese middelbare onderwys, eers aan die Koninklijke Athenaeum te Berchem-Antwerpen, en daarna (tot 1950) was hy dosent in Nederlands aan die middelbare normaalskole (opleidingskolleges) vir meisies te Berchem-Antwerpen en Tielt in Wes-Vlaandere.

Antonissen is in 1944 getroud met Lisette Maria Victorina (Liesje) Broekmans en vier kinders (drie dogters en ’n seun) is uit die huwelik gebore.

Reeds in België het Rob Antonissen ’n belangstelling in die Afrikaanse letterkunde getoon, naas sy liefde vir die Nederlandse letterkunde. In 1943 is sy bloemlesing Zuidafrikaansche poëzie in Antwerpen gepubliseer en in 1947 het Zuid-Afrika: poëzie en proza na 1900 verskyn, asook sy vertaling van Mikro se Toiings in Nederlands. Ook in 1947 verskyn sy groot werk Schets van den ontwikkelingsgang der Zuid-Afrikaansche letterkunde. Dit was sy eerste bydrae tot die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde.

In 1949 is HA Mulder, wat op daardie stadium lektor in Afrikaans en Nederlands aan Rhodes-universiteit was, oorlede en daarmee is, volgens JC Kannemeyer (Boekewêreld, 15 Mei 1996), een van die fynste lesers van die poësie van Dertig nie meer daar nie. WEG Louw was destyds professor op Grahamstad en hy was die een wat die eerste voelers na Antonissen uitgesteek het om te hoor of hy nie belang sou stel om na Rhodes toe te kom nie. En Antonissen het wel belanggestel.

In Maart 1950 het hy en sy gesin na Suid-Afrika verhuis en hierdie verbintenis het tot sy afsterwe geduur. Hy het begin as lektor in die Departement Afrikaans en Nederlands en in 1953 is hy bevorder tot senior lektor, en met WEG Louw se verhuising na Kaapstad einde 1957 het Antonissen hom in 1958 opgevolg as professor en hoof van die departement. In 1959 is hy aangestel as dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte, ’n posisie wat hy beklee het tot 1963. Daarna het hy vir tien jaar in die raad van Rhodes-universiteit gedien en in 1971 is hy as viserektor aangestel. Hy het ook die plaaslike politieke toneel betree toe hy tot 1966 as stadsraadslid van Grahamstad gedien het.

Antonissen was bekend as ’n kenner van die Nederlandse letterkunde, beide van die noorde en die suide van Nederland. In Die Burger van 4 Oktober 1972 het R Pheiffer geskryf: "By die groot waardering wat daar onteenseglik moet wees vir sy werk as Afrikaanse literator (hy wat as simpatiek gesinde Vlaming hom so intens en diep ingeleef het in die Afrikaanse literêre lewe), mag dit nie gebeur dat sy betekenis as Nederlandskundige op die agtergrond geraak nie.

"Aan ons universiteit word sy omvangryke tweedelige bloemlesing gebruik – Digkuns van die Nederlande, 1100–1960, met Afrikaanse annotasies – een van die mees representatiewe wat ek ken. Daarvan kom Antonissen kort voor sy dood nog die jongste, uitgebreide uitgawe beleef.

"Sy klasse, wat ek vanaf sy koms na Suid-Afrika in 1950 vir drie jaar kon bywoon, was openbarend van ’n uiters skerpe intellek, ’n ongelooflike presiesheid en ’n onberispelike geleerdheid. ’n Onuitwisbare indruk het sy lesings oor die Middeleeue en die Middelnederlandse letterkunde gemaak, veral oor die digteres Hadewych en oor die epiek. Oor die sewentiende eeu in die Nederlande en die begrippe Renaissance en Barok in die algemeen kon Antonissen tegelyk oorsigtelik en indringend praat, en sy groot kennis van Vondel en Bredero het van tyd tot tyd neerslag gevind in model-artikels ..."

Terwyl Antonissen by Rhodes gewerk het, het hy heelwat op die gebied van die Afrikaanse letterkunde verrig. Hy het gedurende die volgende 20 jaar aangegaan met sy werk aan die Schets van den ontwikkelingsgang der Zuid-Afrikaansche letterkunde en dit na twee dele uitgebrei. Daarby het hy ook bydraes gelewer tot PJ Nienaber se Perspektief en profiel (1951), Ensiklopedie van die wêreld en die Standard Encyclopaedia of Southern Africa.

In Suid-Afrika het Rob Antonissen as een van die knapste kritici ontpop. Hy was vanaf 1955 een van die mederedakteurs van die letterkundige tydskrif Standpunte waarin hy, volgens Kannemeyer, "insiggewende kommentaar op nuwe publikasies" lewer. Kannemeyer het gemeen die uitmuntende kenmerke van Antonissen se opstelle was die "konstruktiewe opset en die vermoë om kernagtig tot die hoofmomente van ’n digbundel of roman deur te dring".

Dit het Antonissen nie lank geneem om, nadat hy in Suid-Afrika aangeland het, met leidende skrywers bevriend te raak nie. Hy het egter nie gehuiwer om sy siening van die letterkunde sonder skroom te stel nie. Hy was ook nooit ’n "onkritiese partygenoot" as dit by letterkundige aangeleenthede gekom het nie. So is die "orakel van Grahamstad" se oordeel en kritiek met ingehoue asem afgewag, het Kannemeyer geskryf (Boekewêreld, 15 Mei 1996).

Een van die voorbeelde van Antonissen se skerp kritiek wat Kannemeyer in sy artikel "Antonissen: een van ons knapste kritici" (Boekewêreld, 15 Mei 1996) genoem het, was dié van Hymne Weiss se Die towertapyt. Hy het haar "verwyt dat sy ewe 'geredelik as ’n skoolmeisie ... vreeslik literêr (raak en) die liewe verkleinwoordjies hoogty (laat) vier', terwyl sy haar idealisme 'tooi ... met handvolle van die blommigste woorde'. En oor die bundel Die rustelose skryf hy dat Vincent van der Westhuizen 'skribeer en transkribeer met onverdrote skribentemoed'."

Dit is dan ook te verstane dat Antonissen as gevolg van die uitsprake wat hy gemaak het, nie baie gewild as literator was nie. Daar was kringe waar hy byna ’n gehate persoon was, en die letterkundige tydskrif Helikon was gereeld die bron van "giftige aanvalle" op hom. Kannemeyer het Helikon beskryf as "die tydskrif van ’n groep mislukte skrywers in en rondom Johannesburg". In die laat 1950's het Antonissen hom in Standpunte negatief uitgespreek oor twee bundels opstelle van WEG Louw en dit het tot ’n redelik onsmaaklike polemiek gelei.

Benewens sy resensies en artikels wat in Standpunte verskyn het, het hy ook bydraes tot Ons Eie Boek en Huisgenoot gelewer. Maar sy belangrikste bydrae was beslis sy geskiedenis van die Afrikaanse literatuur, Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede, wat in 1955 verskyn het met nog drie uitgawes daarna waarin hy die inhoud elke keer aansienlik uitgebrei het, die laaste in 1973. Wat vir Kannemeyer opgeval het van hierdie werk, "is die skerp afbakenings, verbandleggings, en integrale behandeling van skrywersfigure, terwyl sy besprekings van bepaalde outeurs van juiste insig en oordeel getuig. Sy boek bly ’n bron waaruit die ondersoeker van vandag (1996) steeds kan put."

In Die Burger van Maart 1956 het Ernst van Heerden Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede as ’n "groot werk oor die Afrikaanse letterkunde" bestempel. In hierdie werk het Antonissen nie ons letterkunde stereotipies verdeel in poësie, drama en prosa nie. Dít was vir Van Heerden ’n "getrouer metode om die geestelike verskynsel bo en inhoud bo genre te stel en ’n skrywer se bydraes as entiteit te sien".

In 1955 is Antonissen en sy gesin vir ses maande met vakansie na Europa en met hulle terugkoms het hy gesê dat hy tydens sy  besoek net weer onder die indruk gekom het dat sekere aspekte van die Afrikaanse letterkunde van daardie tyd nie terug hoef te staan vir die Nederlandse letterkunde nie. Volgens hom was die Afrikaanse digkuns met digters soos NP Van Wyk Louw en DJ Opperman baie sterker. Veral van die Vlaamse letterkundiges het met hom saamgestem.

Antonissen het met sy terugkeer na Suid-Afrika aan Die Burger (17 Februarie 1956) gesê: "Die Nederlanders weet min of niks van die moderne Afrikaanse letterkunde. In sommige bloemlesings word werke van die ouer digters opgeneem, maar geen voorbeelde van die werk van die jonger digters nie. Die onkunde kan grootliks toegeskryf word aan dat daar feitlik geen Afrikaanse boeke in Nederlandse boekwinkels is nie. Ek het nêrens Afrikaanse boeke teengekom nie. Afrikaans word, op een uitsondering na, nie aan die universiteite gedoseer nie, hoewel daar sprake is dat ’n leerstoel in Afrikaans ook aan die Universiteit van Gent ingestel sal word."

Antonissen se belangrikste studies en kronieke oor die Afrikaanse letterkunde is in 1963 in Kern en tooi gebundel en in 1966 in Spitsberaad. Kern en tooi bevat resensies oor letterkundige werke van die tydperk tussen 1951 en 1960, wat almal betreklik kort na verskyning van die betrokke werke geskryf is as eerste indruk en hoofsaaklik in Standpunte gepubliseer is.  Antonissen se sonderlinge vermoë om so kort na die verskyning van 'n werk 'n juiste waardeoordeel te maak, word hierin bevestig. Die titel van die bundel verwys na sy doelwit om die kern van 'n werk te skei van die tooi of versiersel wat dit omring, sodat die wese nagespeur kan word. Hierdie tienjarige kroniek word opgevolg met die soortgelyke vyfjarige kroniek Spitsberaad, waarin resensies geplaas word van werke wat vanaf 1961 tot 1965 verskyn het. Hierdie resensies het ook hoofsaaklik in Standpunte verskyn, ander in Dagbreek en Sondagnuus, Die Huisgenoot en Kriterium, terwyl enkeles voorheen ongepubliseer was. (Kyk E Lindenberg: Kriterium, Oktober 1963; R Schutte: Standpunte, Nuwe reeks 51, Februarie 1964.)

WF Jonckheere het Antonissen se studies oor die Nederlandse letterkunde gebundel in Verkenning en kritiek wat ná Antonissen se dood gepubliseer is (in 1979). Die artikels en kritiek in hierdie bundel was nog nie voorheen gepubliseer nie. Sy intreerede, “Die Christelike en die tragiese”, is ook hierin opgeneem.

Antonissen se letterkundige artikels en boekresensies verskyn in verskeie publikasies, onder andere Belgiese Nieuw Vlaanderen, Dietsche Warande en Belfort, Kultuurleven en Boekengids en die Suid-Afrikaanse Standpunte, Jaarboek van die Afrikaanse Skrywerskring, Die Huisgenoot, Dagbreek en Sondagnuus en Kriterium.

Antonissen vertaal die Middeleeuse drama Die ware en wonderbaarlike verhaal van Mariken van Nymegen in Afrikaans en dit word in Julie 1963 by Rhodes-universiteit se kunsweek vir die eerste keer opgevoer. Die vertaling word later gepubliseer nadat dit deur sy dogter Rike Vaughan geredigeer is en Edith Raidt 'n inleiding geskryf het.

Behalwe dat hy ’n aktiewe bydraer tot buitelandse ensiklopedieë was, asook tot letterkundige tydskrifte in Nederland, het hy hom ook toegespits op die verdere studie van verskeie tale, soos Grieks, Latyn en Goties, en Frans, Duits en Spaans. Hy was ook ’n ywerige deelnemer aan regiewerk en kamermusiek, veral die klavier en orrelspel.

Antonissen was lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en was in 1972 lid van die keurkomitee wat die Hertzogprys moes toeken. Hy was ook lid van die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde in Leiden, en van die Koninklijke Zuidnederlandse Maatschappij voor Taal-, Letterkunde en Geschiedenis wat in Brussel gesetel is. Die Koninklijke Vlaamse Academie voor Nederlandse Taal- en Letterkunde in Gent het in 1969 erelidmaatskap aan hom toegeken. Ná die afsterwe van NP Van Wyk Louw in 1970 was Antonissen die enigste buitelandse lid van die Vlaamse Akademie.

Reeds voor sy afsterwe het die Belgiese regering besluit om ’n silwermedalje aan Antonissen toe te ken ter ere van sy bydrae tot die Nederlandse kultuur en sy diens aan die Nederlandse gemeenskap in België. Hierdie medalje is in November 1972 deur die destydse Belgiese konsul in Port Elizabeth, M Bovijn, aan Antonissen se weduwee oorhandig. Antonissen het hom voortdurend beywer vir die behoud van Nederlands aan Suid-Afrikaanse universiteite en wanneer hy as gasdosent in België getoer het, het hy die skakeling tussen die Nederlandse taal en Afrikaans beklemtoon, asook die skakeling tussen die twee kulture (Daily Dispatch, 10 November 1972).

In 1973 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die Gustav Preller-prys vir literatuurwetenskap en letterkundige kritiek postuum aan Antonissen toegeken. Tydens die toekenningsplegtigheid het CJM Nienaber gesê: "Belangriker as die omvang, die verskeidenheid en die invloedsfere van professor Rob Antonissen se bemoeiing met Afrikaans, is die gehalte daarvan. Sy werkywer het sinvol geword juis danksy ’n skerpsinnige waarnemingsvermoë en ’n ontwikkelde onderskeidingsvermoë. Daarvan getuig nie net sy herwaarderings van gevestigde werke nie, maar ook sy kensketsings en waardebepalings van nuwe werke. Boonop kon hy op ’n duidelike manier rigtings aandui, sowel vir die woordkuns as vir die kritiek, sodat sy invloed ook in dié opsig vormend was.

"En van kliekerigheid was daar by hom geen sprake nie. Indien gewettig, moes die werk van iedereen dit ontgeld, want hy het die objektiewe wetenskaplikheid van sy bedryf gestel bo persone." (Die Burger, 30 Junie 1973)

Rob Antonissen is op 23 September 1972 in Port Elizabeth aan longkanker oorlede nadat hy ’n hele rukkie siek was. Hy het sy vrou, Liesje, en drie dogters, Rike, Helga en Elizabeth, agtergelaat.

Hy is op 26 September 1972 vanuit die St Patrickskerk in Grahamstad begrawe. Die diens is deur vader Tom O'Dea gelei.

Huldeblyke

  • Aart de Villiers, nagraadse student van 1953 tot 1957: "Ek sal nooit die vitaliteit en polsende lewensvreugde van die fyn beskaafde, elegante dosent vergeet nie. Sy helder insig en akute humorsin, vlymskerp intellek gepaard met opregtheid en diep menslikheid het hom ’n ideale studieleier gemaak. Die artistieke integriteit, kennis en insig van die Afrikaanse letterkunde maak die geskrifte en gedagtes van prof Antonissen standaardwerke. Hy het ’n objektiwiteit in sy letterkundige kritiek openbaar wat ’n mens vergeefs by die gebore Suid-Afrikaner soek." (Die Transvaler, 25 September 1972)
  • WEG Louw: "Prof Antonissen het hom goed ingewerk in die Afrikaanse letterkunde en vanweë sy groot kennis van die literatuur in die algemeen, en sy besonder goed ontwikkelde smaak, was hy een van ons toonaangewende kritici. Hy was baie jare mede-redakteur van  Standpunte. Sy dood is vir ons letterkunde n groot verlies." (Rapport, 24 September 1972)
  • Ernst van Heerden: "Met die dood van prof Rob Antonissen verloor die Afrikaanse letterkunde sy skerpsinnigste kritikus. Hy het ’n standaard in ons letterkunde kritiek gestel wat waarskynlik nie gou geëwenaar sal word nie. Hy het nie gehuiwer om swak werk van reeds gevestigde skrywers genadeloos aan te val nie; die wenner van ’n letterkundige prys is net so objektief beoordeel as ’n beginner." (Rapport, 24 September 1972)
  • John Kannemeyer: "Prof Antonissen was deur sy werk oor sowel die poësie, prosa en drama die veelsydigste kritikus wat nog op die gebied van die Afrikaanse letterkunde werksaam was. Veral sy analises van Van Wyk Louw en Opperman behoort tot die beste kritiek wat ons in Afrikaans het." (Rapport, 24 September 1972)
  • TT Cloete: "Prof Antonissen was ’n deeglike kritikus wat hom met volkome begrip in ons letterkunde ingeleef het." (Volksblad, 25 September 1972)
  • AP Grové: "Hy was ’n skerp kritikus, maar baie deeglik. Hy sal onthou word vir sy belangstelling in die hele letterkunde." (Volksblad, 25 September 1972)
  • Mevr JL: "Behalwe ’n integere en bekwame literator was Antonissen ’n beminnelike mens met veelsydige kwaliteite, tuis in Afrika en Europa." (Zuid-Afrika, Oktober 1972)
  • JM Hyslop, destydse visekanselier van Rhodes-universiteit: "Rob Antonissen was a man of great intellectual power. He not only possessed an exhaustive knowledge of his own subject but also a tremendous fund of background knowledge that helped to make him such an interesting lecturer. When teaching he was completely absorbed in his work and he and students were often surprised to find how long they had continued beyond the end of a period on a timetable. In his work within the university he was known to be at all times conscientious, just and reasonable. This was in keeping with the unfailing courtesy that marked his relations with colleagues and students alike." (Weekend Post, 23 September 1972)
  • R Pheiffer: "Rob Antonissen se enorme werkkrag, wye belesenheid en sy nougesette aandag vir presiesheid en grondigheid het van hom ’n inspirerende dosent genaak. Onder sy meer persoonlike eienskappe het getel: ’n innemende geaardheid, beskeidenheid, en ’n immer aanwesige bereidheid om te help, daarby ’n diep toegewyde Christelikheid. Hy was intens musikaal – en was altans nog kort na sy koms na Suid-Afrika ’n bekwame en sensitiewe pianis." (Die Burger, 4 Oktober 1972)
  • Dirk JJ Pretorius: "As ek ’n monument aan die nagedagtenis van Rob Antonissen moes oprig, sal dit wees enkel om sy enorme bydrae tot daardie sy van ons letterkunde waar die veld skraal was, aan bevoegde outoriteite, sonder bymotiewe." (Daily Dispatch, 30 September 1972)

Ná Rob Antonissen se afsterwe het André P Brink ’n huldeblyk in Rapport (1 Oktober 1972) geskryf: "Met die alte vroeë dood van Rob Antonissen het daar vir die Afrikaanse letterkunde ’n venster toegegaan. Nie net ’n venster wat lig en lug van buite binnegelaat het nie, maar een wat dit vir ons moontlik gemaak het om van binne af buitentoe te kyk en te praat. (...)

"Deur sy lang verbintenis met die Rhodes-Universiteit as lektor, professor en naderhand vise-rektor, deur sy medewerking aan Standpunte en sy lang reeks publikasies het hy algaande die grootste kritikus geword wat ons literatuur nog geken het en in baie jare sal kan ken.

"Wat NP van Wyk Louw vir ons poësie beteken het, was Rob Antonissen in ons kritiek, en dan gebruik ek die woord 'kritiek' nie met die geurtjie wat daaraan kleef wanneer die meeste skrywers oor die meeste kritici praat nie. Rob was nie, soos soveel ander, ’n mislukte skrywer wat kritikus geword het nie, maar ’n skeppende mens wat hom in sy kritiese werk verwesenlik het. Skepper in sy eie reg, en eintlik medeskepper aan elke sinvolle werk wat hy ondersoek het. So onontbeerlik soos Vergilius vir Dante was, so onontbeerlik het Rob vir die literatuur van ons land geword. Innemende, skerp en weergalose gids deur onontdekte streke.

"In belangrike mate het hy dit geword omdat hy in sy werk, soos in sy lewe, geweier het om ooit ’n kompromie met middelmatigheid aan te gaan. Alleen deur die hoogste van die literatuur te eis, dit het hy geweet, kan die hoogste op die duur voortgebring word.

"In ’n situasie waar te veel mense verskoning soek in "'n jong literatuur" of "'n jong land" - asof jeug enige sondes vergoeilik – het hy onwrikbaar elke werk, van die belangrikste tot die onbenulligste, gemeet aan die beste wat geskryf kan word.

"Hiervan was selfs sy skryfstyl simptomaties. ’n Styl wat vir die oningewyde soms ’n struikelblok was, maar wat die ernstige soeker opgeval het as net so ’n fyn, veelduidige en gevoelige instrument as die styl van enige groot skrywer. Sy styl was so 'moeilik', want so saamgedronge en ryk, as dié van ’n Henry James of ’n James Joyce. Dit was deel van ’n instelling wat geen toegewings gedoog nie – nòg aan partydigheid, nòg aan vriendskap-agter-die-boek, nòg aan literêre 'politiek'."

Brink het verder vertel hoe daar nie net in sy eie laai nie, maar ook in baie van sy skrywersvriende se laaie, manuskripte lê wat nooit uitgegee sou word nie, bloot omdat Rob Antonissen nie gedink het dat dit goed genoeg is nie. Só het Antonissen se oordeel hulle gehelp om hulle werk, asook hulleself, beter te leer ken en te verstaan. "Wat hy op dié wyse in ons literatuur ingebring het – die sin van standaarde bowenal – het hy gebalanseer deur weer die Suid-Afrikaanse werk van gehalte oorsee bekend te stel deur lesingreise in Nederland en België, deur artikels in tydskrifte en ensiklopedieë in Nederland, Italië, Frankryk, Duitsland en Engeland. (...)

"Vir dié van ons wat hom in die konteks van ons werk leer ken het, skrywers en digters, dramaturge, akademici, studente, is sy dood ’n onherstelbare verlies. Vir dié van ons wat hom ook as mens geken het, is dit ’n ontsetting – nie net vanweë die Sartreaanse probleem van wat 'kan mens ken van ’n mens' nie, maar eenvoudig omdat jy stom gelaat word voor die herinnering aan soveel integriteit, soveel liefde, soveel nederigheid, soveel menslikheid. In hom is kennis gesuiwer tot wysheid en het die lewe ’n dimensie van betekenis bygekry. (...)

"'n Venster is toe, maar in ons het hy vensters oopgemaak wat nooit weer sal sluit nie. Ons is arm vandag. Ons sit soos Leipoldt met ’n klein handjie vol waboomblare en gnarrabosblare, maar deur die bietjie blare is ons, in Rob Antonissen, vir altyd ryk."

Publikasies

Publikasie

Handleiding in het Afrikaans: een praktisch overzicht

Publikasiedatum

1942

ISBN

(hb)

Uitgewers

Brugge: "Wiek Op"

Literêre vorm

Taalkundige handleiding

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Het individualisme van Willem Kloos: enkele kantteekeningen

Publikasiedatum

1944

ISBN

(hb)

Uitgewers

Leuven: Instituut Vla. Top.

Literêre vorm

Nederlandse letterkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Schets van den ontwikkelingsgang der Zuid-Afrikaansche letterkunde. 1e en 2e deel

Publikasiedatum

1946

ISBN

(hb)

Uitgewers

Diest: Pro Arte

Literêre vorm

Letterkundige geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Herman Gorter en Henriëtte Roland-Holst

Publikasiedatum

1946

ISBN

(hb)

Uitgewers

Antwerpen: De Sikkel

Literêre vorm

Nederlandse letterkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Zuid-Afrika: poëzie en proza na 1900

Publikasiedatum

1947

ISBN

(hb)

Uitgewers

Diest: Pro Arte

Literêre vorm

Letterkundige studies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede

Publikasiedatum

  • 1955
  • 1956
  • 1960
  • 1973

ISBN

062500163X (hb)

Uitgewers

  • Pretoria: HAUM
  • Kaapstad: Nasou

Literêre vorm

Letterkundige geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Kern en tooi: kroniek van die Afrikaanse lettere 1951–1960

Publikasiedatum

1963

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasou

Literêre vorm

Letterkundige kritiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

De hedendaagse Zuidafrikaanse letterkunde van 1930 af

Publikasiedatum

1964

ISBN

(hb)

Uitgewers

 

Literêre vorm

Letterkundige geskiedenia

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Spitsberaad: kroniek van die Afrikaanse lettere 1961–1965

Publikasiedatum

1966

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasou

Literêre vorm

Letterkundige kritiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Verkenning en kritiek: studies en referate. Saamgestel deur WF Jonckheere

Publikasiedatum

1979

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: HAUM

Literêre vorm

Letterkundige kritiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Rob Antonissen as samesteller

  • Zuidafrikaansche poëzie, bezorgde en ingeleid. Antwerpen: De Nederlandsche Boekhandel, 1943
  • Ek hou van Suid-Afrika: 24 éénstemmige Zuid-Afrikaansche volksliederen. 1944
  • Lyriek van Henriëtte Roland Holst-van der Schalk, bezorgd en ingeleid en van aanteekeningen voorzien. Antwerpen: De Nederlandsche Boekhandel, 1945
  • Een abel spel vanden winter ende vanden somer, naar het Hulthemsche handschrift uitgegeven; ingeleid en verklaard. Antwerpen: De Nederlandsche Boekhandel, 1946
  • Lyriek der Nederlanden. I tot IV, bezorgd en toegelicht. Antwerpen: De Nederlandsche Boekhandel, 1947, 1949, 1950 en 1953
  • Digkuns van die Nederlande. Deel 1 en 2. Kaapstad: Nasou, 1963

Rob Antonissen as  vertaler

  • Mikro: Toiings. Diest: Pro Arte, 1947
  • Alighieri, Dante: De goddelijke komedie. Antwerpen: De Nederlandsche Boekhandel, 1947
  • Banz, R: Geschiedenis der Latijn se letterkunde. Antwerpen: De Nederlandsche Boekhandel, 1949
  • Commelin, P: Antieke mythologie. Antwerpen: De Nederlandsche Boekhandel, 1950
  • Tolstoi: Anna Karenina. Antwerpen: De Nederlandsche Boekhandel, 1951
  • Drouven, Ernest: Om één jongensziel. 1956
  • Die ware en wonderbaarlike verhaal van Mariken van Nymegen. Kaapstad: Tafelberg, 1979

Artikels oor Rob Antonissen beskikbaar op die internet

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

  • 3

Kommentaar

  • Marianne de Jong

    Vir my as student in Afrikaans-Nederlands op Stellenbosh was sy resensies soms byna radikaal. Hy was die eerste literator wat Die ysterkoei moet sweet met die verskyning daarvan in 1967 sonder aarseling verwelkom en hoog aangeslaan het vir die vernuwing wat dit was. Met studentebetogings en -boikotte by Rhodes het die studente - veral ook die Engelssprekendes - hom baie simpatiek gevind. Ek hoop iemand kan bevestig dat sy boekery wat deur wyle Rike Vaughan se eggenoot, Fanie Oliver, aan die Afrikaanse Letterkundemuseum in Bloemfontein geskenk is, nog daar te besigtig is.

  • Rob Antonissen se boekery, vleuelklavier, etlike manuskripte en foto's, word beslis nog by NALN bewaar. Die omvang van die versameling is so dat alles nog nie ontsluit is nie, maar dit is beskikbaar vir besigtiging.

  • Gerrit van Wyk

    Is die boek, Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede, nog beskikbaar, dalk iewers op ’n webblad?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top