![]() |
Sêgoed van RK Belcher “As ek my lewe kon oorhê, sou ek my kinderjare weer só wou hê – net met meer kos en ’n bus wat my skool te vat.” (Beeld, 26 April 2003) In 2003: “Poësie is in ’n afwaartse spiraal. Daar is groot onkunde oor wat ’n gedig is. Digters is lui. Die rymwoorde, veral eindrymwoorde, is die belangrikste en plofbaarste in ’n gedig. Deesdae eindig reëls sommer op woorde soos en, dit en want.” (Beeld, 26 April 2003) Op sy 70ste verjaardag: “My 70 jaar is nie iets wat ek as ’n groot blok van sewe dekades ervaar nie. Dis ook nie stukkies tyd wat ek afgelê het nie. Ek het ’n sekere ouderdom bereik, maar ek glo nie in oudword of oudgeit nie. Ek het net toegevoegde jare.” (Beeld, 26 April 2003) Oor die debat oor Afrikaans: “In universiteitsverband het Afrikaans nie subjektiewe kampvegters nodig nie, maar objektiewe en kundige beplanners en besluitnemers.” (Die Burger, 26 Junie 2002) In 1987 met sy intreerede aan die Universiteit van Bophuthatswana: “It is the greatest love story to come out of Africa. It is the only language on earth, the only language in Africa, to be named after our Great Mother, Africa: Afrikaans. African.” Sy wynmaakfilosofie: “Die wyn moet soos ’n goeie gedig wees – leesbaar en toeganklik.” In 2002: “Dat daar op Stellenbosch altyd ’n plek sal wees vir die Afrikaner, is ’n feit wat nooit sal verander nie, selfs in die onwaarskynlike geval dat Afrikaans as onderrigmedium heeltemal van die toneel verdwyn. Die toekomsvisie van die Afrikaner moet egter van so ’n aard wees dat hy sal besef dat daar, onder meer vir die behoud en die ontwikkeling van Afrikaans, baie dinge is wat belangriker as Afrikaansheid is.” (Die Burger, 13 Julie 2002) Oor sy doel met Suiderkruis-uitgewers: "Ek wil digters help wat nou feitlik sonder heenkome sit omdat selfs groot name deur die gevestigde uitgewers weggewys word. Ek is nie Afrikaans-bedonnerd nie, want elke taal is vir my die mooiste ding onder die son. Maar oor die poësie is ek hartstogtelik." (Rapport, 5 Mei 2002) Met sy sewentigste verjaardag: "My 70 jaar is nie iets wat ek as ’n groot blok van sewe dekades ervaar het nie. Dis ook nie stukkies tyd wat ek afgelê is nie. Ek het ’n sekere ouderdom bereik, maar ek glo nie in oudword of oudgeit nie. Ek het net toegevoegde jare." (Beeld, 26 April 2003) |
Gebore en getoë
Ronald Kenneth (Ronnie) Belcher is op 21 April 1933 in Goodwood in die omstreke van Kaapstad gebore - die sesde kind van ’n Engelse gesin van twaalf kinders. En ná sy pa se tweede huwelik was daar nog ’n halfsuster. Sy pa het op ’n kleinhoewe geboer en Ronnie het die swaarkryjare onthou.
“Ons het kaalvoet geloop,” het hy aan Stephanie Nieuwoudt met sy 70ste verjaardag in 2003 (Beeld, 26 April) vertel, “en ek het weekliks honderde kilometers skool toe en terug op ’n ou fiets gery. Tog was dit nie in ’n geestelike sin moeilik nie.
“My ma en pa was liefdevolle gesagsfigure. As hulle gesê het jy moet iets doen, het jy gespring. Ons het respek vir hulle gehad, maar nie vrees nie.”
Ronnie het sy hoërskoolloopbaan by Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch begin, maar is ná standerd agt uit die skool gehaal om kleikapper en baksteendraer te word op sy pa se kleinhoewe in Bottelary. Toe het hy weggehardloop en sy matriek in 1950 aan die Hoërskool Goodwood-Epping gemaak.
Verdere studie en werk
Na skool het Ronnie verder gaan studeer, maar hy moes drie keer weens ’n geldtekort ophou. Hy het gedurende vakansies en in 1953 as ’n jong man in die Shabani-asbesmyne in die destydse Suid-Rhodesië (vandag Zimbabwe) gewerk om geld te verdien om vir sy studie te betaal. Nadat hy genoeg geld bymekaar gemaak het, het hy Stellenbosch toe geryloop en hom in 1954 ingeskryf vir sy BA-graad, wat hy in 1956 verwerf het. Daarna het sy BA Hons (1957), MA (1959) en DLitt gevolg. Hy het in 1962 gepromoveer as doktor in die lettere met die proefskrif “Die poëtiese-psigologiese grondslag van die sonnetvorm”, wat later as Grondslae van die sonnetvorm gepubliseer is. Tydens sy studentejare was hy redakteur van Matieland en bestuurder van die universiteitskoor en die universiteit se blaasorkes.
As student was hy brandarm: “Ek het gesukkel. Daar het weke verbygegaan dat ek niks gehad het om te eet nie. Ek het ’n buitekamer gehuur, maar kon nie komberse bekostig nie. Ek het onder koerante geslaap. Wanneer ek geld gehad het, het ek ’n sak suiker gekoop en elke dag suiker in water opgelos. Dit was dae lank my enigste ‘kos’. ’n Brood moes ’n week hou. Maandag het ek vars brood geëet, Dinsdag ou brood, Woensdag muwwe brood, Donderdag harde brood en Vrydag beskuit met suikerwater,” het hy aan Nieuwoudt vertel. Maar toe ’n vrouevereniging aan hom ’n daaglikse bord kos wou gee, het hy vernederd gevoel. “Ek het die aanbod van die hand gewys. Ek was te trots om dit te aanvaar.”
Al klere wat hy gehad om aan te trek vir klas, was een broek en een hemp wat albei tweedehandse "erfstukke" van sy swaer was. “Toe ek my laaste eksamen skryf, het ek net grrts gehoor toe ek opstaan. My broek se sitvlak het aan die stoel vasgesit. Ek het kaalgat die wêreld ingekom en het kaalgat my graad gekry.”
Abraham H de Vries (Volksblad, 25 Oktober 2006) vertel dat Ronnie se studentevriende in sy M-jaar graag vir Ronnie slaapplek gegee het as hy tot laat gesels het en “nou nie lu-hu-s-h het vir huis toe ry nie”. (Sy ligte stotter was net merkbaar as hy op sy senuwees was, maar as hy klasgegee het, gedigte voorgelees het of voorsitter was van die poësie-aande, het hy vlot gepraat.)
“Ons het ná ons studentetyd eers uitgevind hy het daardie M-jaar nie ’n kamer gehad nie en skaars geld genoeg vir kos. Hy het vir sy deurgeloopte skoene binnesole van karton uitgeknip. Vakansies het hy toe nog Rhodesië toe geryloop om in die asbesmyne van Shabani studiegeld te gaan verdien. Hy het later jare self die storie vertel, gekla het hy nie. Ronnie en lekker-eet was van daardie swaarkry-jare af ’n ander storie. Op Stellenbosch had hy as student ’n maerword-oefenkontrepsie wat hy self gemaak het van ’n stuk yster met weerskante sementgewigte wat hy in ’n koekblik gegiet het. Die gewigte het uitgekom oor hy eers die blik met olie gesmeer het,” vertel De Vries verder.
Ronnie het in sy jong dae rugby vir Westelike Provinsie se eerste liga gespeel en sy plettervatte was een van die kenmerke van sy spel. Hy was agtsteman vir die Markötterspan en het ook later vir Van der Stel gespeel. Sy dunk van vandag se rugbyspanne was nie baie hoog nie: “Ons voorrymanne geniet dit vandag vreeslik om te sien hoe ander mense in die losskrums sak. Ons is te bang om die opponente te loop dat hulle lê. Craven het destyds gesê as ons die dag professioneel begin rugby speel, gaan die spel daarmee heen wees. Dit gebeur nou.”
Ronnie het gewerk as taalkundige by Sanlam en verslaggewer by Die Burger, en in 1959 as redakteur by Tafelberg Uitgewers gewerk.
Voordat Ronnie in Maart 1964 aangestel is as lektor in Afrikaans-Nederlands aan die destydse Universiteitskollege van Wes-Kaapland, was hy dosent-assistent in die Departement Afrikaans-Nederlands op Stellenbosch, asook lektor in Afrikaans by die Bellville-kampus van die Universiteit Stellenbosch. In 1966 is hy as senior lektor aangestel by die Universiteit van Wes-Kaapland, waar hy tot 1971 gewerk het, maar nog tot Junie 1972 sy hulp aangebied het. Na sy termyn aan die Universiteit van Wes-Kaapland is Ronnie aangestel as publisiteitsbeampte in die departement van ontwikkeling aan die Universiteit Stellenbosch. Hy was ook senior lektor in Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Natal in Durban voordat hy in 1986 professor in Afrikaans aan die Universiteit van Bophuthatswana geword het.
Hy het in 1990 hier afgetree en het die Suider-Kollege op Stellenbosch begin – ’n onafhanklike kollege wat graad- en diploma-onderrig vir jong skrywers aangebied het op verskeie kampusse en studiesentra deur die land.
Ronnie is in 1960 met Ella getroud, Hy het haar ontmoet nadat hy sy doktorsgraad aan die Universiteit Stellenbosch behaal het. Hulle het twee kinders, Renée en Ronnie jr.
Braam de Vries vertel verder (Volksblad, 25 Oktober 2006): “Toe ek in Nederland gestudeer het, het ons gereeld gekorrespondeer, maar hy het met g’n woord vertel van die stuk grond wat hy tussen die Strand en Gordonsbaai gekoop het en van die huis wat hy self daar aan die bou was nie. Van Ella het ek wel gehoor, ook in die gedigte wat hy vir haar geskryf het.
“Maar toe haar ma ná die troue by Ella verneem of haar gordyne al hang, moes sy maar takties swyg dat die vensterrame nog nie eens in was nie! Ronnie het jare lank koppig geweier om dié ‘plotjie’ aan ontwikkelaars te verkoop. Tot hy in Bophuthatswana afgetree het. Toe was die aandrang van die ontwikkelaars profytlik genoeg dat hy dit kon verruil vir die wynplaas net buite die Paarl.
“Daardie einste huis se tweede stoof, ’n stokou Boillinder, het hy ook vir Ella as present gekoop op ’n vendusie op Van Wyksdorp. Dit was ingemessel in ’n plaasfamilie se Nagmaalhuis en hoe hy dit daar uitgebreek en op sy bakkie gekry het, weet ek nie. Hoeveel wakiste, uitwan-skoppe van hout en bloekomgaffels hét Ella present gekry? En dan moes sy nou nét waag om nie opgewonde en bitter dankbaar te wees daarvoor nie teenoor haar lewenslange óúwêreldse minnaar wat hom soms vermom het as hoogbeneukte eggenoot!”
Ronnie het later begin werk aan ’n tweede PhD onder leiding van Bun Booyens oor “Die volkskultuur van die Afrikaanse Kleurling met spesiale verwysing na die volkstaal en -letterkunde”. Hy het landwyd gereis om navorsing te doen oor mondelingse letterkunde van die Afrikaanse bruin mense en ’n groot deel van die navorsing het oor die Griekwas gehandel – hul volksletterkunde, musiek en geskiedenis. “Ek het soveel inligting dat ek seker drie proefskrifte kan lewer. In die lang lewe wat nog voorlê [vanaf 2003], wil ek ál die inligting orden," vertel hy aan Stephanie Nieuwoudt.
Hy is in die jare tagtig tot ’n ere-Griekwa verklaar. Ander eerbewyse is erelidmaatskap van die American Youth Symphony and Chorus, ’n eerbewys deur Duquesne-universiteit in Amerika vir die bevordering van internasionale betrekkinge, en in 2005 die Akker-prys vir verdienstelikheid vir die bevordering van Afrikaanse poësie.
Toe Ronnie in 1990 besluit om ’n wynplaas in die Paarl te koop, het hy dit, soos alles wat hy in sy lewe aangepak het, met volle oorgawe gedoen. Nadat hy “mooi afgekyk het hoe die wynmakers dit doen”, het hy ’n paar jaar lank self wyn gemaak en in 1992 met sy heel eerste wyne drie bronsmedaljes in die gesogte Veritas-toekennings vir sy wyne verower. Andrew Marais het geskryf dat hy dit nie glimlagwyne wil noem nie, maar dat die wyne wel heelwat van die baas, sy vriendelike vrou Ella en die pragtige Klein Drakenstein-omgewing wat die wyn se karakter help vorm het, weerspieël. Die drie wyne wat die medaljes gewen het, was ’n Riesling Special Reserve van 1991, Semillon 1992 en die Bouquet Blanc van 1992. Hy het van laasgenoemde versnit ook ’n vonkelwyn gemaak.
Ronnie se liefde vir wyn en die wynland skemer oral deur, soos in die volgende:
Die bottel is gebore
sonder kop of ore
maar sy nek en sy bek
sit op die regte plek.
En
Erdegoed en vase
vir die tafels van die base
maar die Here se genade
is in bottels en in glase.
Cassie du Plessis skryf dat hierdie raakvat-woordgebruik nie lank geneem het om deur te slaan in Ronnie die wynmaker nie. So het hy sy gunsteling-wynvat die Wenvat gedoop, en dit ook met bordkryt daarop geskryf - tot verwarring van die amptenare wat daar aandoen om ’n oog te hou vir die rekords. Nie lank daarna nie volg Vas-vat, Dal-josavat (vir Daljosaphat, 'n gebiedsnaam in die Paarl), Yassar Arra-vat, Boud-vat, Parra-vat en Vrou-vat!
Tydens die Tweede Wêreldoorlog het ses tot tien Italiaanse krygsgevangenes op die plaas gewoon en gewerk. Hulle het in die 1940’s ’n woonhuis (wat die Belchers later as gastehuis gebruik het), die skuur en ’n mooi, ronde toringagtige watertenk gebou. Ook sewe werkershuise was hul handewerk. Al die mure is van gekapte klip en die bouwerk is meesterlik gedoen. Kort nadat Ronnie die plaas gekoop het, het hy ’n gedenkkapel ter ere van die Italiaanse krygsgevangenes gebou. In die ou kelder het hy die proelokaal ingeruim en hy en ses wingerdwerkers het die hele nuwe kelderkompleks wat aan die oue grens, self gebou.
Op die Belcher-wynplaas het Ronnie en Ella maandelikse skrywersbyeenkomste in die kelder gehou waartydens Ella haar hart en siel ingegooi het en boerekos en tuisgebakte brood voorgesit het. Ronnie het die plaas in 1995 aan ’n Singapoerse ontwikkelaar verkoop. “Die Here het my ná ses jaar van alkohol verlos,” was spottenderwys die rede wat hy vir sy besluit om die plaas te verkoop, voorgehou het. (Beeld, 26 April 2003)
Sedert die begin van die 2000’s was Ronnie druk besig met sy eie uitgewery, Suider-Kollege Uitgewers, wat in 2002 agtien digbundels en twee prosawerke uitgegee het. Hy het ook ’n kursus uitgewerk waardeur skrywersbegeleiding aan jong skrywers gegee word onder die vaandel van die Kollege vir Literêre Kunste. “Hier kom soveel nonsens by my aan. As ek hoor iemand weet niks van poësietegniek nie, stel ek voor hy of sy werk eers deur die kursus. Ná dertig jaar in die akademie waar ek studente se werk gekorrigeer het, is ek soms nogal vól van korrigeerwerk.”
Hy het geen wins uit sy uitgewery gemaak nie. “Ek kan óf een óf ’n volle oplaag boeke druk, maar die skrywer moet self daarvoor betaal. Wanneer ’n boek verskyn en verkoop word, kry hy die geld.” (Beeld, 26 April 2003)
Belcher was ook rektor en visekanselier van Suider-Kollege, die eerste geregistreerde private hoër onderwyskollege wat deur die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie Outoriteit (SAKO/SAQA) as ’n universiteit geakkrediteer is.
Ronnie was nie net ’n digter vir volwassenes nie, maar het ook vyf bundels kinderverse die lig laat sien: Pampoenkoekies (1973), Sit om jou dassie (1973), Voëltjies met vlerkies (1979), Kokkewiet Kokkedoor (1980) en Rooikappie op rym (1981).
In Die Burger van 5 Oktober 1979 skryf Kerneels Breytenbach dat Belcher se aanvoeling vir die kind se wêreld van verbeelding besonder fyn is. Vir Hilda Grobler (Hoofstad, 6 September 1979) het Belcher se kinderverse "deurgaans ’n vaste en byna slepende ritme wat van versreël na versreël voortstu."
Dit was tydens sy werkery by die myn in Zimbabwe dat Ronnie sy eerste digbundel Mens en skepper geskryf het wat in 1956 deur Van Schaik Uitgewers in Pretoria uitgegee is. “Teen daardie tyd het ek bokse vol gedigte gehad wat ek uiteindelik weggegooi het. Ek het besef dis nie goed genoeg nie. As ’n mens kyk na die gehalte van dit wat vandag verskyn, kon ek 20 bundels uit dié gedigte gekry het,” het hy in 2003 aan Stephanie Nieuwoudt gesê.
In Standpunte van Mei tot Desember 1957 skryf die resensent dat daar erns in Mens en skepper is – "erns in die temas: die mens teenoor sy Skepper, wat hom 'roep' om ’n skepper te wees, ’n leier, ’n digter; Christus wat haweloos onder ons omgaan, noú, in ’n godvergete samelewing; en die liefde vir die vrou. Erns in die motiewemateriaal, geput uit die gevoelige belewing van ’n verskeidenheid verskyningsvorme van die religieuse, die poëtiese, die aards-natuurlike, wat tewens na ’n nie-onaansienlike geestelike bagasie verwys.” Die dertig sonnette in die bundel is oorwegend Petrarcaans, maar met gekruiste ryme in die oktaaf, en daar is enkeles wat sterk aan WEG Louw s’n herinner. Maar hulle is nie integraal sonnet én poësie nie. Daar is gedigte soos “District Six” wat werd is om aan die lig gebring te word, volgens die resensent, maar daar is te min van hulle om die publikasie van die hele versameling te verantwoord.
Die verse in Die ver land (1961) is konvensionele verse waar drome wat die digter bly ontwyk, die taak van die mens, die liefde en eensaamheid en om ’n lied te maak van dít wat verganklik is in voorkom. Hier is sy latere patroon van klank en ’n rympatroon al te bespeur. Die feit dat hy konsentreer op rymklank, bring soms ’n gedwongenheid mee wat die indruk skep van klank as bepaler van inhoud in stede van die volgorde, wat ándersom moet wees. Daar is gedigte in hierdie bundel waar die neiging tot die volkse al begin kop uitsteek. Hy sien die gedig as maaksel, as ’n reddende instrument waarmee hy úít die duister kan kom. ’n Mens kan verlies ly, maar so ’n verlies kan tóg omgesit word tot wins indien die smart woord kan word.
"In hierdie bundel is ’n gedig ('Vanaand wil ek aan jou onder die klein / deurreënde tentjie van jou lampeskyn / as eerste offer van die liefde bied: / my lewe kaalgestroop tot ’n kwatryn') waar die laaste versreëls profeties waar geword het. Ronnie het later ’n uitmuntende sanger in die kwatrynvorm geword. En sy kwatryne in bundels soos So is die lewe vir een pond sewe is ’n vreugdespel van die deug en ondeug: tematies en na aan die taal." (biografiese skets van RK Belcher by NALN)
André P Brink skryf in Rapport (1 April 1979) oor So is die lewe vir een pond sewe (1979) dat Ronnie nog ’n man is wat so rym-rym op die eensnaar-ramkietjie op die Klipwerk-paadjie aansuiker – “hier met ’n klingeling van ’n enkelring en daar met ’n oulap se rooi of ’n tiekie se wind wat tekeergaan. (...) Dis ’n voetpaadjie wat stofgetrap kan raak dié en die man wat hom wil loop, moet oppas vir sy kwarteltjies: hier het sekretarisvoëls al met groot oë gestap en bergganse vere laat val; hier is die ghaap en kambro al liplekkende geproe en ysmanne met karoosange op die tong verby; en van akkers wat val en vye wat breek, het dié stuk wêreld al wát gesien en gehoor. Opletloop dan, voetvolkie! En tog, ai my, hoe kan ek help om nog altyd plesier te haal uit dié lekkerlyfhartseerwals wat so kedoem-kedoem en tjiekelie-tjiekela? Voorspelbaar en patroonpas en lapgenaai dat jy die rygsteke met krap-oë op steeltjies kan sien – en tóg skop hy jou nog dan en wan van skone baldadigheid onder die gat dat jy dóér loop sit om die laghuiltrane uit jou affêrings te vee.
“Dis – soos ons al dié tyd van sulke versies te wagte is – ’n pril wêreld wat deur Belcher opgeroep word: ’n ‘haas preliterêre’ wêreld waar elke ding besweringskrag het, waar natuur gelaai is met hoër magte, waar alles elementeel blóót lê: ’n bestaan tussen geboorte en dood, met die baie seerkry en lekkerkry van liefhê en verlang tussenin. En met die seksuele in die sentrum: want hier, in klein-dood, begin die lewe:
Hom naam is Manuel
hom vrou se naam is Nel
hom slat haar met die kortsambok
lat sy uit haar rok uit swel. (...)
“Hulle is klein-en-getryn, dié versies, vanaf die insit tot by die laaste neersit: ’n eg-Afrikaanse, inheems ontwikkelde vorm wat op ónse manier en in óns idioom ons soort haikoe geword het. Nie altyd vry te spreek van die gedwonge of die alte bolangssnaakse nie; en op die duur bietjie dun vir ’n daler? Die gevaar van een-tonigheid en van rammeligheid staan jou vol-oog en aankyk in ’n bundel soos dié.
“Maar ons het jare laas van Belcher iets te lese gekry en dié buiging met die tarentaalveer in sy hoed is lekkerder as vingerlank. Hou tog maar die Morele Standaarde ver van dese af. Maar vir wie nie skaam is vir die knersklippertjies waartussen Boermense grootgeword het nie, is daar sommer baie genoeglike onse op Belcher se een pond sewe.”
In Die Transvaler (26 Mei 1979) het PH Roodt geskryf dat hierdie verse telkens die lag in mens losmaak en dat daar dink en wonder ook is: “Die heerlikheid lê in die lekker ritme, die ongedwonge ryme, die spontaneïteit. Die aanslag is lig, die klem lê op klankheerlikheid, dit is voorts verse wat meevoer, volks, aards en eenvoudig is.” Belcher se verse is subtiel en “geniet-verse”. Roodt meen dat daar in die destydse “verbete diepdoen” Afrikaanse literatuur volop plek vir die lag en eenvoud van die Belcher-poësie is.
Fanie Olivier meen in Die Burger (5 April 1979) dat die digter waarskynlik die eerste sal wees om sy kritici daarop te wys dat hierdie gedigte geen kwatryne is nie. “Daarvoor is die progressie, die gang, die klimaks wat op die spanning volg, al die dinge wat die kwatryn-teorie vereis, te duidelik afwesig.”
Olivier het voortgegaag: "Daar kan tematies ’n paar wêrelde geïsoleer word. Oorheersend is die liefde en die seksuele ’n wêreld wat pront-uit gesê word. Almal sal nie altyd hou van die taal en die trant waarop gepraat word nie, maar ’n mens moet Belcher toegee dat hy daarin geslaag het om die gees van ’n ander, kru en growwe mentaliteit goed vas te vang. Terselfdertyd is die hartseer van die mense in hierdie verse die vrees en hartseer van álle mense.
“’n Mens sou kon voortgaan met die uitlig van vers na vers,” skryf Olivier, “en terselfdertyd wys op die stewige aantal wat net nie wil werk nie, ook omdat hulle ritmies nie altyd bevredigend is nie. Die gemak waarmee die vorm gevul kan word, het vir die digter te dikwels ’n slaggat geword. Maar ek dink nie Ronnie Belcher wil hê ons moet dit as belangrike poësie sien nie. Ek vermoed dat hy dit net so lekker gelees wil hê as wat dit lekker was om te skryf. Juis daarom sal dit miskien ook een van ons lekkerste verkopers word: nie ’n koffietafelboek nie, maar ’n braaivleisboek!”
Dorothea van Zyl (Beeld, 28 Mei 1979) praat van die gedigte as ’n bundel lewe. “Die gedigte met hul groot wisseling in stem en toon, is klaarblyklik gerangskik sonder onderlinge samehang. Dit bring afwisseling mee en dui op die groot, bont mosaïek van die lewe, maar die werk lyk tog eerder na ’n losse versameling verse as na poësiebundel wat ook deur volgorde of groepering iets wil sê. (...) Nogtans is dit gedigte waarheen ’n mens telkens kan terugkeer vir die louter plesier daarvan. Die universele menslikheid wat daaruit spreek, maak dit poësie vir ’n wye publiek.”
Met die verskyning van Ronnie se volgende bundel, ’n Ding om te skil in die maand April, in 1981 (met ’n heruitgawe in 1993), skryf Charles Malan (Volksblad, 10 Maart 1981) dat die digter hier praat met die tonge van die Slams, die sedeprediker, die vryersklong en die Toiingse van ons land. “Wat hy te sê het, borrel uit in die vorm van volks- en aftelrympies, preke, liedjies, aforismes, en parodieë en agter dié kakofonie word daar soos in ’n moderne musiekkomposisie tog iets van ’n verskuilde, goedbeplande orkestrasie onthul, sodat die oënskynlik losstaande gedigte by ’n esteties bevredigende samehang betrek word. Om dan nou terloops verby die vrolikheid oor sulke swaarwigtighede te praat (want die kwaliteit van die gedigte vra daarom): die samehange is slegs by uitsondering tematies van aard, soos wanneer lawwe besinninge oor die liefde oorgaan in beelde van onmin (pp 12 tot 13).
“’n Belangriker patroonmatigheid, naas die onortodokse kwatrynvorm, is die argelose en tog gedissiplineerde klankstruktuur. Soos ’n mens kan verwag, oorheers die singerige jambe om gaaf te sluit met drieledige kwatrynryme. Maar hier is ook heelwat wat hinder, want die metriese reëlmaat word male sonder tal op ’n ongemotiveerde wyse versteur. (...)
“Die tegnieke waarmee Belcher sy satiriese en humoristiese affekte verkry, is meestal voorspelbaar genoeg, maar nie daarom minder skouspelagtig en geslaag nie. Paradoks, dubbelsinnigheid en veral suggestiwiteit in meer as een sin van die woord, anti-klimaks en hiperbool word gepaar met woordverdraaiings en verdelings meestal met ’n verrassingseffek. Selfs bebaarde clichégrappe word op die wyse opgekikker, maar gewoonlik minder suksesvol.”
In Die Oosterlig (27 November 1980) skryf EG dat ’n Ding om te skil in die maand April nie beskou kan word as letterkunde of kuns nie, maar dit is ook nie net rymelary nie. "Miskien lê die bundel se bekoring juis daarin dat die rymvorm gebruik word om sosiale kommentaar te lewer – ’n digvorm wat beperkende invloede kan hê."
Fanie Olivier (Die Burger, 22 Januarie 1981) meen dat hierdie bundel tematies baie nou aansluit by Belcher se eerste bundel, So is die lewe vir een pond sewe: “Verse oor die dood, die godsdiens, en veral oor die liefde en die seksuele oorheers. Verder is daar droogteverse, spotverse (veral provinsialisties gekleurd) en ’n groep politieke kwatryne waarvan sommige dinge besonder raak sê:
Die voortrekkersweep
dis waens op ’n streep
die Here stroop die wêreld wit
met ’n koekie boereseep.
“Die perspektief in die bundel bly oorheersend dié van ’n minder-gekultiveerde spreker, wat dit moontlik maak vir Belcher om ’n lekker speelse toon aan te slaan en om sy taal soepel en ongeïnhibeerd te gebruik. Terselfdertyd regverdig dit ook die grofheid wat soms saampraat. (...)
“As ’n mens eerlik moet, wees, sal jy erken dat hierdie bundel tog minder is as So is die lewe ..., miskien veral omdat die nuutheid en die verrassing ontbreek. Enkele kere doen ’n vers selfs vaal aan. Maar ten spyte daarvan, duik die egte digter elke nou en dan in die bundel op. Dis immers net die digter se visie wat die volgende kan sien: die swaeltjie bou my huis/ teen sy nessie vas!
“Die direktheid en pront manier van sê, gaan miskien daartoe lei dat Belcher nie oral ewe entoesiasties gelees en ontvang gaan word nie, maar soos met die vorige glo ek dat hierdie dinge wat geskil word, wyd, hardop met groot plesier gelees gaan word.”
Oor die herdruk het Lucas Malan in 1994 geskryf dat Belcher se ’n Ding om te skil in die maand April nie altyd voor groot Van Wyk Louw se “Klipwerk” hoef te wyk nie. “Dis meestal die lyf, die liefde en die dood wat in hierdie klinkende verse berym word:
Sy dink sy’s wie
maar sy ken van dié
al dra sy haar rokke
so onder die knie.
“Dis opvallend dat al die gedigte in RK Belcher se bundel uit drie kwatryn-strofes bestaan. Soms is die verband tussen die drie strofes nie so duidelik nie, maar met ’n bietjie verbeelding kom dit tog wel los: dit gaan telkens oor verskillende aspekte van ’n saak of ervaring soos afguns, ontrou, die dood en ander primêre emosies. Ek moet bely: ek het net rakelings kennis geneem van hierdie bundel se eerste uitgawe. Ná soveel jare in die vate kan ek dit nou aanbeveel as baie genotvolle poësie.”
Twee bundels van Ronnie is in 1983 deur Perskor gepubliseer, naamlik Halleluja Paternoster en Ringe in ’n geelhoutboom.
André P Brink (Rapport, 13 Maart 1983) het dit jammer gevind dat ’n boek wat so lekker lees soos Halleluja Paternoster so lelik uitgegee is, want so ’n bundel moet deur almal gelees word. "Hierdie bundel groei vanself uit die digter se vroeëre plesierige rympies uit: die genoeglike kwatryne van So is die lewe vir een pond sewe, waar die klein-menslike wel en wee, lief en leed, hartseer en fyndraai so gereeld afgeteken is teen die groter magte van lewe en dood, God en Bose.
“Net, hier is álles eintlik halleluja, in ’n baie behendige en bekkige saamdig van ’n verhewe Bybelse wêreld (die paternoster van die gebed) en ’n aardse kleinmenslike bestaan (Paternoster van die weskus). (...) Partykeer raak dit te maklik, te voorspelbaar; té geredelik word dit ’n ou liedjie op ’n nuwe deuntjie. Die bundel kon uitgedun gewees het. Heelwat van die affekte is te vlugtig en te bolanges. Taalontginning bly soms steek in blote taaláárdigheid. Maar as ’n pittige, kleurryke en meermale verdiepende versameling jubelinge oor die mens in sy religieuse dimensie, isHalleluja Paternoster iets heerliks. As ontginning van ’n naïwiteit waaragter verborge wysheid lê, is dit iets besonders. Die Sinode sal sekerlik aanstoot neem. Láát hulle.”
TT Cloete (Volksblad, 28 Mei 1983) het as volg oor Halleluja Paternoster geskryf: "Dit is meer in die trant van sy vorige bundels met dieselfde eenselwigheid van gedigvorme waartoe die digter in sy latere ontwikkeling geneig is. Die besondere van dié bundel met sy hoofsaaklik kort, flink gedigte van twee of drie strofes, is Belcher se taalvirtuositeit. Hy gebruik talle dialektiese woorde, wat hy in verklarende aantekeninge verduidelik. In hierdie taal word Bybelse voorvalle en gebeurtenisse op ’n byna Middeleeus naïewe manier oorvertel, met komiese elemente in die erns vermeng. (...) Op ’n eiesoortige manier het Belcher met hierdie bundel ’n bydrae tot ons poësie gemaak, daaraan ’n speelse toon gegee en ons digterlike taalskat uitgebrei.”
Ringe in ’n geelhoutboom is ’n bundel Engelse en Italiaanse (en, soos Johann de Lange (Vaderland, 31 Maart 1983) byvoeg, ánderse) sonnette. “Dit gaan uiteindelik oor die nietigheid en kortstondigheid van ’n mens (en ook die mens) se lewe gestel teenoor die ‘driehonderd ringe in ’n geelhoutboom’. Die meeste sonnette het dan ook die geskiedenis en die swart-wit spanninge as onderwerp. Die huwelik tussen die sonnetvorm en Belcher se soms banale humor is nie altyd so geslaag nie. As bundel bevredig Ringe in ’n geelhoutboom nie heeltemal nie. Belcher moes miskien die manuskrip eers nóg ’n ring of wat laat bykry het. Nietemin is daar mooi sonnette in.”
In Rapport (27 Maart 1983) was André P Brink die volgende mening toegedaan: "Dit vra durf om ’n hele bundel sonnette te publiseer en dit strek tot Ronnie se eer strek dat hy hierdie veeleisende, ietwat deftige vorm so gladdebek hanteer dat daar maar selde sprake is van ryme wat deurskawe of jambes wat jou aan die slaap dreun. Werklike vernuwing – veral by wyse van nuwe geldig-maak – van die vorm bring Belcher nie; maar hy is ougat genoeg om dit bo alles as klinkdig aan te wend, veral wanneer hy met sy (hoofsaaklik Shakespeariaanse) wendinge ’n netjiese satiriese swenk in die vers inbring. (...)
“Die bundel in sy geheel is dan inderdaad gewy aan die verkenning – histories en geografies – van die driehonderd jaar (van ons volksgeskiedenis): vooruitgang en ontwikkeling ...
“In vele gedigte hang die ironiese verloop saam met ’n statusvermindering, waarvan ’n knap voorbeeld die twee sonnette ‘Standbeeld van Vasco da Gama’ is: in die eerste staan die eertydse trotse seevaarder nou teenoor sy ‘nágestaltes’ (‘vis a vis a porra op ’n hoek/ met fish & chips waarop groen vlieë koek’: en die vernufspeletjie in die vis á vis hoef nie nog uitgespel te word nie!); in die tweede raak vanslewe se Cabo verminder tot ‘Kaap de Vuilgoedhoop’.” Brink voel egter dat Belcher in ’n klompie van die sterkste sonnette tog voortreflike werk gelewer het met ’n onbetwisbare hoogtepunt in die indrukwekkende ‘Godwana’ waar apartheid en broederliefde saamgedig word met die grootste verskuiwing van vastelande:
... klippetjie wat breek
wég van die moedersklont en seewaarts glip,
dan rif word, dan ’n kys
waar beendere verbleek,
dan weet dis eers as klip teruggedwing na klip
en kontinente weer kom lepellê
dat hy sy broer behoorlik lief sal hê.
In 1996, dertien jaar na sy vorige digbundel, word My hart sing sewe moppies deur Tafelberg uitgegee. AP Grové (Beeld, 28 Oktober 1996) skryf as volg: “Die hart mag wel sewe moppies sing, maar die bundel bring talle meer en wel in die gedaante van vierreëlige gediggies – 214 van hulle. Almal is seker nie moppies in die ware sin van die woord nie. Tussendeur is daar ook ernstiger voorbeelde, soms met ’n klaende, soms met ’n kritiese of wrangige bysmakie. Maar die meerderheid is inderdaad moppies – grappig, guitig, woordrats van aard.
“Die digter probeer hulle nie streng inhoudelik groepeer nie. Ook maar goed so want die stemminge en motiewe loop hier deurmekaar sodat grenslyne nie altyd skerp te trek is nie. Daar is van die versies wat terugspeel op Bybelverhale; ander kan geld as natuursienings; ander het met eet en drink te make, die wyn en die wingerdstok. Dan is daar dié wat liggies aan die politiek en die sosiale werklikhede raak, terwyl van die bestes met die liefde, die seksuele en die huwelik te make het en met die komplikasies wat soms daarmee verband hou.
“Die bekoring van hierdie versies moet egter nie in die onderwerpe gesoek word nie; ook nie in enige diepsinnige wysheid nie, maar eerder in die tergende speelsheid, die gevatheid en die puntigheid. Die moppies wil bekoor en vermaak eerder as om te onderrig of tot nadenke te stem – wat nie wil sê dat menige moppie nie ook sy eie, dikwels openbarende en verrassende kyk op die mens en sy doenighede bring nie. Die moppies is nie altyd so onskuldig as wat hulle lyk nie. Die digter bereik sy effekte op verskillende maniere. So is daar byvoorbeeld die spel met name. (...) Dikwels word met woordspel gewerk, ook met teenstellings. (...) Dubbelsinnighede met duidelike seksuele implikasies keer dikwels terug, guitig maar nie stuitig nie, skuins soms maar nie skunnig nie. Wat belangrik is, is die onverwagte wending, die ligte skok, die ongerymdheid, soos in die volgende voorbeeld met die kras vermenging van die sublieme met nugtere alledaagse, om nie te sê banale nie:
Die melkweg lê omhoog
haar wit pens span ’n boog
dit lyk of die sterre nader kruip
dis ’n sog wat haar kleintjies soog. (...)
“Al die verse is nie op dieselfde peil nie. Sommige is te redenerend, ander doen bewus en gedwonge aan. Party is te eksplisiet, terwyl ander weer, soos ’n stomp sweep, die fyn piets van die voorslag mis. Maar op sy beste kry ons ’n voorbeeld soos die volgende. Met sy klank- en woordspel, sy verskuilde suggesties is dit ’n tipiese moppie:
Makrielse en makouse
en meeuse en krabbeljouse
sy vang net visse en voëlse
in haar swart visnetkouse.
Volgens Abraham de Vries (Skrywers en Boeke, 10 November 1996) is die feit dat hierdie volkse kwatryne nie net hulle speelsheid nie, maar ook die guitige gedurfdheid van die volkse mondelinge tradisie behou het, deel van hulle sjarme. “Vanwaar die lyf se noppies wat rym met die koperbed se knoppies en die hart se moppies in die titelvers, is nie moeilik te raai nie:
Die koperbed se knoppies
my hart sing sewe moppies
en môreoggend voel my lyf
so vreeslik in sy noppies.
“Vir die broeders en susters wat van stemmigheid hou, is hierdie kwatryne minder geskik. Want op tipies volkse wyse word liefde, dood, godsdiens, Bybelse figure, eetgoed, drinkgoed, plekke, mense, diere, alles deel gemaak van ’n tuin vol aardse plesiere en met die slang op veilige afstand. (...)
“Maar wie teen net die guitige en grappige vaslees, sal hierdie verse maklik mislees. Want hoe volks en gevat hierdie kwatryne ook al is, die tematiek is tipies Belcher: die byna sektaries godsdienstige wars aan alle pretensie en die romantiese liefdesleed is reeds onderwerpe in sy eerste bundels Mens en Skepper en Ver land. In Kringe in ’n geelhoutboom staan die volkse reeds voorop, word daar selfs in ’n soort bendeAfrikaans ’n pragtige variant geskryf van die Onse Vader. Op die keper beskou, is ook hierdie verse volledig in die gees van Belcher se aardse romantiek; iets waarvoor hy nog nie na waarde geskat is nie. Want op sy beste is sy boerse kruheid verweer teen oorgevoeligheid, sy nors relativerings het in meer as een kwatryn die ondertoon van ’n klag:
Die wind is koud en tries
die son is vasgevries
al wat ons wêreld ken
is droefheid en verlies.”
Daniel Hugo (Insig, Januarie 1997) noem Ronnie Belcher een van die vlotste, snaaksste en ruigste rymers in Afrikaans en Phil du Plessis (Die Burger, 30 Oktober 1996) sê dat hy ure se plesier gehad het daaraan om gebruike vir die meeste van die moppies te vind en dat hy aan die einde behoorlik hoenderkop was!
Ronnie se veertiende digbundel, Bayeux (2000), waaraan hy veertien jaar gewerk het en wat net uit één gedig bestaan, is "die herskryf en déúrskryf van die wêreldse en religieuse geskiedenis wat gebaseer is op ’n reeks voortydse kosmiese versteuringe, waarin die planete Mars en Venus prominent was, en op die seismiese versteuringe wat daarmee gepaard gegaan het.
“Volgens die gedig het die wêreldreligieë en mitologieë ontstaan as interpretasies van dié versteuringe. So word, onder meer, Ou-Testamentiese geskiedenis en profesie sowel as Nuwe-Testamentiese profesie aan die hand daarvan herskryf en verklaar. (...)
“Die ‘beroering onder die nasies’ wat die verskyning van die twee komete deur middel van hulle invloed op die ‘getye van die bloed’ bewerkstellig het, word gemanifesteer as die oorloë wat sedert die gekende skeppingstydperk tot die huidige woed.
“Die vertrekpunt van die gedig is dat die gebeure wat bokant en op die aarde afgespeel is, regoor die aarde deur die verskillende volke gesien en verskillend geïnterpreteer is, en gelei het tot die magdom religieë en mitologieë wat ons vandag ken. (...)
“Die gedig rekonstrueer gedeeltes uit die Vediese himnes en die Bybelboeke Joël en Jesaja, waarin die planeet se woeste, losskietende meteoriete agtereenvolgens beskryf word as stormende Maroets, leërskares wat alles verteer, en die ‘skares in die verte’ vir wie God ’n banier sal ophef. (...)
“Bybelgebeure word opnuut geïnterpreteer en binne ander kontekste geplaas, soos byvoorbeeld, die skeppingstydperk wat gerekonstrueer word as die hérskepping van ’n vorige, vernietigde hemel en aarde: In die begin het God die hemel en die aarde uitgewis en word die Griekse alfabet – die ‘Woord’ – lettergreep vir lettergreep die verhaal van dié uitwissing. (...)
“Vanaf die openingsvers: ’n Nadroe ster het bo die heidene kom blaf, ontwikkel die gedig van afdeling na afdeling deur verskillende maar mekaar aanvullende scenario’s, met verskuiwende (en soms gelyktydige) invalle, invalshoeke, uitgangspunte, sprekers en aangesprokenes. Dit en die afwisselend liriese, profetiese, narratiewe, eksponerende, toepassend, transponerende/superponerende en apokaliptiese aard van die gedig – wat maak dat dit veel meer as net ’n epos is – word uitgespel in die strofe:
Jy wat my woord was. En die woord was die Woord wat skeer
oor vele waters soos ’n veer se punt oor perkament,
en naam op naam en beeld op beeld jouself herskep
my vleesgeworde woord: die hand agter my skrif ...
“Soos die Bayeux-tapisserie die inval in Engeland in 1066 deur Willem die Veroweraar uitbeeld – ’n inval waaraan die voorsate van die digter ook deelgeneem het – word in Bayeux die 1066-inval verweef met die groot invalle en veldslae vanaf die Bybelse skepping tot met die aanbreek van die jaar 2000. Ook invalle uit en veldslae in die ruim toe die Aarde beweeg het deur die stert van die twee planete (Venus was toe nog ’n komeet), en invalle en besettings deur hemelwesens soos gedokumenteer in die Bybel en ander tekste.
“Suid-Afrikaanse geskiedenis, en Afrikaans, vorm ’n subtiele maar belangrike gegewe, waarin, onder meer Eugène Marais se gedig ‘Die dans van die reën’ en vlugtige verwysings na ander Afrikaanse digters se werk, telkens deel van die verwysingsraamwerk word.
“Ten spyte van sy lengte – 500 strofes van vier versreëls elk – is die gedig van strofe tot strofe, van woord tot woord en dikwels van klank tot klank, ’n hegte ineenvlegting van uiteenlopende maar mekaar aanvullende gebeure, plekke, tye, persone en persepsies. (...)
“Die groot godsdienste van die wêreld – Judaïsme, Islam, ander Oosterse gelowe, die Christendom – word saam met die afgodery, primitiewe godsdienste, die mitologie en ander geloofsuitinge verweef, en kom ook in bloedige botsings met mekaar. Tog het hulle almal dieselfde ontstaan, te wete, die hemelse en aardse versteuringe in die voortyd. Die gevolgtrekking is
dat elke kruistog, elke brandoffer, elke jihaad
en elke trek interpretasies was van ’n verdwaalde klip
en dat
elke sienbare gesig
van Hom: ’n liggaam aan ’n kruis, ’n môrester,
’n afgodsbeeldjie of ’n vader se portret
maar skattings was van hoe ons Hom ervaar.
“Daarby word die eindgebeure beskryf met die ontsettende en ontstellende moontlikheid dat die Bybelse profesie oor en beskrywing van die wederkoms van Christus self net ’n interpretasie is van ’n voorspelde toekomstige terugkeer van Venus na die buitewyke van die aarde: die Môrester wat een van die Bybelse benaminge van Christus is. Ook van die duiwel: Lucifer, seun van die Daeraad. Die rooi draak bokant Patmos. Die Nuwe Jerusalem wat soos ’n bruid neerdaal. Met dié moontlikheid word die herskryf van die wêreld, die heelal en God voltooi, met die herskrywende hand die ganse Skepping, die Woord van God self.
“Die gedig met sy 2 000 versreëls, is die eerste Afrikaanse gedig wat in die jaar 2000 verskyn het” – aldus Kaapse Bibliotekaris van Jan/Feb 2002.
Hierdie breedopgesette digwerk, 'n outeursuitgawe, herinner AP Grové (Beeld, 22 Mei 2000) enigsins aan ’n bundel wat MM Walters vier jaar gelede onder die titel Sprekende van God gepubliseer het. "In Belcher se bundel het ons immers ook te make met die mens se siening van God en die eise wat Hy aan sy volgelinge stel. Maar hier eindig die ooreenkoms. Waar Walters veral die soekende, dikwels kritiese of agnostiese individu aan die woord stel, neem Belcher eerder die godsdienstige belydenis van uiteenlopende geloofsrigtings as uitgangspunt en lê hy klem op die gewig wat ’n volk of groep in benoude oomblikke aan ’n goddelike beskikking toeken.
“Hieruit volg vanself dat ons in Bayeux met verskillende gelowe en aksentleggings te doen sal kry: Judaïsme, Islam, die Christendom, die Griekse mitologie en ander beskouinge wat wissel van redelik tot primitief. Maar hoe die rigtings ook al verskil, is daar veral een gemeenskaplike faktor: die siening van die gode of God as toornig en wraakgierig is magte wat ’n kosmiese geweld kan uitoefen. Oor kontinente en tye heen maak hulle hulle verskyning en in die proses word ook na Bybelse profete verwys wat God meermale as toornig en dreigend voorstel.
“Hiermee hang saam die strydvaardigheid van menige aanhanger, ’n onverdraagsaamheid wat groei uit die aanname dat my geloof die enigste ware geloof is en dat God dus my strydgenoot is in die vernietiging van teenstanders, ketters en ongelowiges. Geloofsoortuiging en konflik loop saam dwarsdeur die geskiedenis. Ook in hierdie bundel. Iets daarvan kom trouens reeds na vore in die titel wat die beroemde Bayeux-tapisserie oproep met die voorstelling van Willem die Veroweraar se inval in Engeland byna duisend jaar gelede.
“So 'n opset sal vanselfsprekend poëties-formeel sy eise stel. Waar Walters met losstaande gedigte kon werk, kry Belcher se bundel met die ruim inspraak van die geskiedenis en die talle verwysings iets van ’n epiese karakter, ’n feit wat deur die vyfhonderd vier-reëlige strofes met hulle rymlose verse bevestig word.
“Ook die inset waarin die digter sy inspirasie tot en sy doel met die werk verwoord, naamlik om die ‘heelal en God (te) herskryf’, herinner aan die aanvang van meer as een epiese gedig. Voorts wil dit lyk of die telkens terugkerende verwysing na Marais se gedig ‘Die Dans van die Reën’ met die natuurwesens se verheerliking van die reent daarop bereken is om ’n eenheid in die veelheid te bewerk.
“’n Epos in die volle sin van die woord het dit egter nie geword nie. Daarvoor is die deurlopende epiese lyn nie sterk genoeg nie. En soos die digter oor eeue en kontinente heen met sy tallose historiese verwysings beweeg, speel chronologie nouliks ’n rol. ’n Mens sou hier eerder aan ’n tapisserie wil dink, ’n veelkleurige tapisserie waarin stryd, godsdienstige oortuiging, Godsopenbaring en historiese gebeurtenisse in vreemde samehang deureen geweef word. Maar dit neem nie weg dat etlike onderdele ’n sterk stromende gang vertoon nie. ’n Voorbeeld is die ‘herskrywing’ van die ses skeppingsdae. Dan ook die tekening van Islam en die eise wat Allah aan sy volgelinge stel. Verder bepaalde grepe uit die Groot Trek, die verskrikking van die Tien Plae en die tog van die Israeliete deur die Rietsee ...
“Eggo's van dié kragtige dade keer ook telkens terug onder meer in verwysings na die Griekse mitologie of die tallose oorloë waarin geloof ’n rol speel - ’n tapisserie inderdaad wat tog uiteindelik sy boodskap bring in die slotsom ‘dat elke sienbare gesig van Hom: ’n liggaam aan die kruis, ’n môrester, ’n afgodsbeeldjie ... maar skattings was van hoe ons Hom ervaar’.
“Naas gedeeltes wat meer opsommend en illustratief as dramaties aandoen, is daar ook treffende passasies waarin voortgang met sinvolle teenstelling gesuggereer word. ’n Goeie voorbeeld is te lees op bladsy 14 waar God as die Bybelse Alpha en Omega opnuut as Alpha tot Omega geteken word as dié Mag wat ’n aarde kan skep maar wat dit ook met water of vuur kan verdelg, net om op die puin ’n nuwe aarde in aanskyn roep.
“Nog ’n treffende voorbeeld is te lees op bladsy 39 en volgende waarin ’n Godgerigtheid teenoor ’n aardegerigtheid in ’n sprekende reeks kontraste uitgewerk word.
“So is hierdie werk: ’n interessante onderneming wat van veel studie en nadenke getuig, ’n werk wat naas opstapelende of bloot informatiewe gedeeltes telkens met dramatiese momente vorendag kom. ’n Omvattende gedig waarvan die literêre waarde eerder lê in die verkenning, die soeke na verbande en patroon as in die skepping van ’n sterk beeldende vers.”
TT Cloete (Rapport, 23 Julie 2000) het egter sekere voorbehoude gehad: "Belcher se gedig het al die tipiese kenmerke van die epos, byvoorbeeld die duidelike tydskakels deur die veelvuldige gebruik van 'Toe' of 'En', maar uiteindelik mis dit epiese gang, met ’n uitgesponne verloop, met diepsinnige en vertragende verwysings. Die strofes, wat een groot gedig vorm, vol los episodes, mis uiteindelik epiese gang, onder meer omdat daar te lank verwyl word by herkenbare historiese episodes, of te lank bloot herskryf word daaraan, al is die verse op sigself ook poëties hoe goed versorg, soms.
“Die magdom verskeidenheid is nie goed geïntegreer nie en wek die indruk van los naasmekaar-plasings. Ek vermoed min lesers gaan hierdie lang gedig enduit deurlees. Daar sit trouens soveel erudisie en ensiklopedie agter die gedig dat min lesers die verwysings almal of ’n groot deel daarvan sal kan verstaan.
“Die onderwerp self, ’n soort digterlike en kulturele ‘teenhanger’ van Hawking se A Short History of Time, is boeiend genoeg, maar dit is nie boeiend beskryf nie. Die verse is ook nie soos gedigte wat in ’n gewone digbundel staan nie waar jy na willekeur hier en daar kan lees of herlees; jy moet alles lees of uitsoek. Maar hoe soek jy uit?
“Daar is iets interessants in Belcher se perspektief op aarde en mense asof dit waargeneem is deur ’n ruimtevaarder, met herinneringe aan die moderne wetenskapfiksie, maar dit is toegeskryf in te veel barokagtige detail. Min lesers gaan die aantreklike onderdele uitsoek. ’n Bloemlesing uit die talle onderafdelings sal interessante en goeie leesstof verskaf maar dit moes die digter self gedoen het, en sy resultaat sou beter gewees het.”
Petra Müller (Die Burger, 17 Mei 2000) skryf dat sy ernstige probleme ondervind met die skeppingsrelaas. “Dit is basies ’n heersersretoriek, en ek kan dit nie liefhê nie. Soms word dit ’n viering van bloedstortings wat, veral in die relaas van die Duitse Derde Ryk, ’n element van ophemeling vervat. Soms kan ek die argument nie volg nie. Wie, byvoorbeeld, is die deurlopende ‘ons’ van die gedig? Die ongeborenes? Die toekomstiges? Die Normandiërs? Dalk ons Afrikaners? Hier is verwarring en afplatting.
“Millenniaal is die gedig, soos aangekondig. Maar van watter millennium? Bevat ons tyd nog genoeg gesamentlikheid van gemoed om 'n epos te verteer? In vertalings van die Ilias, Beowulf en Die Bybel, ja. Maar nuutgeskryf? Ek meen dat ons epos verskuif het na die teologie van fisika en tegnologie, na ruimtevaart, mikrobiologie, film en web.
“Ondanks dik stukke poësie bly Bayeux vir my ’n piëteitsdaad in ’n verkeerde stel eeue – ’n verdwaalde godekind.”
In 2000 is Van heidebos en klip by Ronnie se eie uitgewery, Suider-Kollege Uitgewers, gepubliseer. En dit is die bekende Belcher wat hier praat - die een wat bekkige kwatryne en volkspoësie skryf, asook gedigte oor Suid-Afrikaanse mense, landskappe en gebruike.
Karen de Wet skryf as volg op LitNet: "Hoewel die temas en die toonaard van die gedigte herkenbaar is, is dit die eerste bundel van Belcher wat deurgaans sonnette bevat en op drie na almal Shakespeariaanse sonnette. Sy voorliefde vir die verstegniese is dus weer in hierdie nuwe bundel teenwoordig.
“Ten spyte van die streng versvorm kry Belcher dit reg om sy kenmerkende praattrantpoësie te handhaaf – dikwels deur gebruik te maak van enjambemente. En natuurlik word die stromende reëls se orale trant verder gedra deur die tipiese woorde wat die geïmpliseerde verteller sou gebruik (‘Duisman’, ‘hotnosgod’, ‘hoogson’, ‘dat ons bloed heel huis toe kom’). (...)
“Hand aan hand met die historiese bewussyn wat deur die bundel loop, is daar ook telkens blyke van ’n politieke besef. En onomwonde so. En van vele kante beskou.”
"Die bundel sou gebaat het as die inhoud tematies georganiseer was, aangesien daar sulke sterk tematiese verbande tussen bepaalde gedigte bestaan. Maar die inhoud van Van heidebos en klip stem my baie opgewonde."
AP Grové het in Beeld (5 Junie 2000) geskryf dat Ronnie in Van heidebos en klip met mening teruggekeer het na die “waardige” sonnet, ’n vorm waarvoor hy in die verlede al op verskillende maniere ’n bepaalde voorkeur laat bly het. “En tog, by die erns wat so eie is aan die sonnet, sal lesers ook hier telkens die satiriese spot en guitigheid, moedswilligheid selfs, van die moppiedigter herken. Soos in ander werk van Belcher word ook hier erns en spel op vermaaklike en effektiewe manier vermeng.
“Die digter werk nie uitgesproke met rubrieke nie. Met rede, want die gedigte is tematies nie deurgaans skerp van mekaar te skei nie. Maar as daar dan tog ’n aanduiding van sy belangstellingsfere gegee moet word, kan ons sê dat ’n aantal gedigte die aksent op natuurbelewing lê, terwyl ander weer die politiek aanraak – ’n ryk veld vir die satirikus. ’n Aantal het te make met literêre modes en die kritiek, terwyl ander die kerklike sfeer betree. En nooit beweeg ons ver van die mens en sy eienaardighede af nie.
“Dit val ook op dat ’n hele aantal gedigte aktueel van aard is en die aksent lê op sake wat op die oomblik in die brandpunt van die aandag staan en waaroor daar skerp meningsverskille bestaan. Maar watter tema ook aangeraak word, deurgaans neem die gedig die vorm van ’n gegewe stuk werklikheid gevolg deur ’n stukkie puntige kommentaar wat soms goedig, soms ernstig is, soms selfs ietwat venynig aandoen.
“Daarom dat die sonnet hier as ideale vorm moet geld, meer bepaald dié sonnet waarin drie kwatryne gevolg word deur ’n koeplet wat as ’n puntige slotakkoord die angel in die stert verteenwoordig.
“Op elk van die terreine wat hierbo genoem is, is geslaagde voorbeelde aan te haal, voorbeelde wat telkens met ’n skok, ’n bepaalde kyk op sake by die leser tuisbring. Of ons met die ‘kyk’ saamstem of nie, is nie deurslaggewend nie. Dit bly in elk geval, mits die gedig geslaagd is, ’n literêr-geldige slotsom.”
Joan Hambidge (Die Burger, 31 Mei 2000) meen die "gedigte dreun (om die woord van die digter aan te pas) apokalipties soos ’n basuin (p 2) en dis asof die boodskap net te swaar vir die gedig is. ’n Aangeboude huis met te veel aangelapte kamers, by wyse van spreke. Iets in die stem van dié gedigte is te pedanties, te prekerig, selfs te vermanend. Die vormbeheer is dikwels gedwonge. Volgens haar is daar heuglike momente in ’n hand vol knap gedigte. Die verse is nie altyd polities korrek nie en die digter het ook die gawe om mense se aard vas te vang. Baie gedigte bly lank nog in die gemoed draai.
“Maar,” sluit Hambidge af, “mag ek dit skryf: Ronnie Belcher se métier is die speelse vers. Daardie stuitige gedigte van ’n oubaas wat al loer vir die ander boud by die ou vrou se begrafnis of die Kaapse moffies wat so lustig eet aan tjoklits en toffies. Soos hy self besef in ’n vers:
Nee, eerder lieg en skurwe rympies maak
oor snaakse goed wat ander siele raak ...
Maar smokkel met my siel se brood-en-jêm
voor al die vreemde wesens? Not-a-dêm!”
Vir TT Cloete (Rapport, 21 Mei 2000) is die gehalte van die 51 sonnette in hierdie bundel van ongelyke gehalte. “In die bestes herken ’n mens hom as digter wat die moeilike kuns van sonnette skryf goed bemeester. Daar is iets omvattends in sy kyk op die werklikheid (‘Kuslyn’, ook ‘See’), gesetel in ’n omvattende, amper onafgebroke, deurlopende ritme, almal dinge waartoe die sonnet hom goed leen. Dit is veral die natuurgedigte wat uitstaan. (...) In die bundel staan ’n handjievol kosbare, ware Suid-Afrikaanse gedigte.
“Baie van die sonnette het egter slegs in ruwe gedaante die vorm van ’n sonnet, met ’n sillabisme, byvoorbeeld, of met ’n onkonvensionele skeiding tussen die tradisionele segmente van die sonnet. Meestal stotter die ritme, of die metrum dreun deur, as gevolg van te min metriese verdoeseling.
“Die meeste sonnette is swaar betogend. Tog kan Belcher ’n lekker praatvers in die sonnetvorm skryf, soos ‘Kruisweg’ of veral ‘Kruising’. Miskien kan ‘Eva van die fort’ ook nog onder die bestes genoem word. Partykeer is dit net ’n vers of twee in ’n hele sonnet wat goed is, en dikwels is hierdie verse wat bo die ander uitstaan die slopkoeplet. (...)
“Al is die sonnette nie ewe goed nie, gee die bundel in sy geheel ’n taamlik komplekse kyk op ons werklikheid. Daar is baie kritiese en satiriese verse in die bundel. Die satire het van die beste verse opgelewer, oor sake soos die apartheidspolitiek, die blanke Afrikaner se nasionalisme, die godsdiens, die literatuur self, hebbelikhede soos ons manier van naamgewing, wat mens teenkom in ‘Onomastiek’, wat nie heeltemal geslaagd is as gedig nie, maar uitstaan bo baie ander gedigte.”
Met Ronnie se 70ste verjaardag in 2003 het die drukkersduiwel toegeslaan en het sy gelukwensing per ongeluk onder Die Burger se sterfgevalle beland en het mense van heinde en ver begin bel om hulle meegevoel te betuig. Sy reaksie was: “My vrou sê ek is gevrek, maar ek is darem nog nie morsdood nie.” (Die Burger, 22 April 2003)
Hy het op ’n onthaal vir familie en vriende ’n spesiale kort gediggie voorgedra wat hy self geskryf het. Die woorde is ook op die spyskaart gedruk en verskyn op die gelukwensing wat ’n sterfgeval-kennisgewing geword het:
Die lewe is ’n feesmaal,
maar nou nog in my fleur,
is ek op sewentig,
die spyskaart halfpad deur.
Hierdie “sterfgeval” van Ronnie het sy vriend, die skrywer Abraham de Vries, tot ’n verjaarsdag-epitaf gedryf, “’n Rondo vir Ronnie”:
Op 70 het sy naam die eerste maal
die Sterfgevalle van die k’rant gehaal
sy vriende dog die glips is nogal verby genade
dit kon onder Geboortes ook gepryk het, as die vader!
Maar met dié fout was daar g’n fout te vind.
“Drukkersengel,” het die baas van Nietvoorbij gesê,
“bedink ’n digterlike poets op ’n bakgat mens
ook namens ons hier op Boplaas geluk te wens!” (Die Burger, 24 April 2003)
Ronnie was ’n baie veelsydige mens. Hy het vir baie jare die rol van goewerneur Simon van der Stel gespeel tydens Stellenbosch se jaarlikse fees met Van der Stel se verjaardag. Benewens die bundels wat hier bo genoem is, het hy ook vyf bundels met kinderverse die lig laat sien. Hy het die Onse Vader in Tronkafrikaans oorgedig en ’n gedig oor die kruisiging in Kaaps geskryf wat deur Gerrit Komrij in sy bloemlesing opgeneem is, terwyl baie van sy volkskwatryne ondeund genoeg was om in restaurante, wynkelders, yskasmagnete, troukaartjies en begrafnisbriewe oorgedruk en oorgeskryf te word.
As ’n uitgewer het hy Zandra Bezuidenhout se Dansmusieke, Christine Barkhuizen-Le Roux se Dimensie, Chris Basson se Grepe in die Wind, Patricia Witz se Swart Papawer en Rika Cloete se Eensamigheid , asook twee bundels van die hip-hop-sangeres Magdaleen van Zyl gepubliseer en “werksessie”-raad gegee aan tientalle ander.Dansmusieke is met die Ingrid Jonker-prys bekroon.
In 2005 is die Akker-toekenning tydens die jaarlikse Versindaba aan Ronnie oorhandig. Dié toekenning is gemaak aan die persoon wat deur sy lewe op onbaatsugtige manier bygedra het tot die bevordering van die digkuns in die breë sonder om eie gewin daarin te soek.
Na Ronnie se dood in 2006 het sy familie en ander betrokkenes ’n poësieprys in sy naam ingestel. Die RK Belcher-gedenkprys – ’n kontantbedrag en ’n oorkonde – sou tweejaarliks op die Versindaba aan ’n Afrikaanse digter vir sy of haar hele oeuvre toegeken word. Dit het toe met die Akker-toekenning saamgesmelt. In 2007 het George Weideman dit ontvang. Met die afgee van die Versindaba-fees aan die Woordfees in 2009 is daar besluit om in die afwesigheid van ’n geskikte kandidaat nié ’n toekenning te maak nie. Woordfees het toe in 2010 begin met die oorhandiging van ’n prestasietoekenning met dieselfde oogmerk as wat die destydse Akker-toekenning gehad het.
Die commendatio wat by die geleentheid van die toekenning van die Akker-prys aan Ronnie voorgelees is, het onder andere gelui: “Om jong digters te help wat nie toegang tot ’n uitgewer kan kry nie - veral in die lig daarvan dat hoofstroom-uitgewers op daardie stadium huiwerig was om meer as een digbundel per jaar uit te gee - het Ronnie sy eie uitgewery, Suider-Kollege Uitgewers - gestig om dié digters publikasiegeleentheid te gee. Voorts het hy aan die skrywers van afgekeurde manuskripte ’n gratis kursus in poësie-skryf aangebied om hulle in staat te stel om hulle manuskripte op te gradeer voordat hy dit vir hulle publiseer. Sy uitgewery het hy sonder winsbejag bedryf. Die skrywer het die volle wins op sy boek gekry, en die uitgewer - en nie die skywer nie - kry ’n klein tantième - iets wat heeltemal uniek was in die uitgewersbedryf. Verliese het hy uit sy eie sak verhaal. Vir digters wat hulle bundels self wou uitgee en ’n uitgewersnaam benodig het waaronder hulle dit kon doen, het hy nog ’n uitgewery, Sonop-Uitgewers, gestig. Hierdie twee uitgewerye het Ronnie eiehandig bedryf. Hy het ook ’n boekbindery, Stelbind, gestig en die bindwerk self gedoen, ’n inisiatief waardeur hy werksgeleentheid aan werkgestremdes en ander werklose mense verskaf het.
“So ver dit Ronnie se poësie aangaan, word die bekendheid en gewildheid daarvan geïllustreer deur die feit dat van sy gedigte oral geskryf staan op die mure van kroeë en wynkelders, restaurante en openbare toilette, en op muurborde en ander ornamente in geskenkwinkels en ander plekke. Die gereeldheid waarmee van sy gedigte dikwels opduik op musiek-CD’s en ander uitreikings van sangers van ligte liedjies, en selfs ook op televisie en oor die radio en in ander letterkundige werke as synde ‘opgeteken uit die volksmond’, toon die mate waarin sy werk volkseie geword het en van hom ’n ‘people’s poet’ of volksdigter in die ware sin van die woord gemaak het.
“Sy gedigte is gewild onder toonsetters van ligter musiek sowel as komponiste van ernstiger werke. So is ’n versameling van sy gedigte oor wyn ’n jaar of wat gelede in die konservatorium van die Universiteit Stellenbosch uitgevoer onder die titel ‘Kelderkantate’ met musiek deur Paul Loeb van Zuilenburg. Ook word toonsettings van sy gedigte gereeld by die Klein-Karoo Naionale Kunstefees op Oudtshoorn gehoor. Net so duik sy gedigte dikwels op in voordragprogramme onder meer van die Universiteit se departement Drama en van plattelandse toneelverenigings, en word Ronnie se verse selfs van die kansel af gehoor!
“As poësieleermeester het hy deelgeneem aan slypskole vir voornemende digters, en is hy gereeld deur plattelandse poësieverenigings genooi om lesings te gee in die skryf van poësie – ’n diens wat hy gewoonlik gratis gelewer het. Ronnie was tot met sy siekte nog ’n gereelde aanbieder van gratis poësielesse aan lede van die gemeenskappe van Cloetesville en Kayamandi op Stellenbosch, wat gereël was as ’n projek van die dorpsbiblioteek. Voorts het hy maandelikse Afrikaanse poësie-aande op die Stellenbosse wynlandgoed Koopmanskloof gereël en is hy ook op ’n keer vereer tydens ’n banket wat aangebied was deur die Departement van Landbou se Winterreënstreek vir sy bevordering van wynbou in Suid-Afrika deur middel van sy poësie. Tot met sy siekte het hy nog steeds ’n kursus in poësietegniek per korrespondensie aangebied vir aspirant-digters reg deur die land.
“As akademikus is Ronnie veral bekend as ’n navorser oor en bevorderaar van die Afrikaanse mondelinge poësie, met toespitsing op dié van die bruin gemeenskappe deur die land, waarvoor ’n straat in die Heidedal woonbuurt in Bloemfontein na hom genoem is. Selfs in die Strand is daar ’n straat wat na Ronnie vernoem is. Vir sy bevordering van die mondelinge poësie van die Afrikaanse Griekwas, het die Griekwa Nasionale Raad ere-Griekwaskap aan hom toegeken. Hy is die beskermheer van die Griekwa Nasionale Koor, wat hulle eie liedere sing, en hy tree gereeld op as beoordelaar by Griekwa-koorkompetisies. Net so was hy by geleentheid ook ’n beoordelaar tydens die Nasionale Maleierkoorkompetisies.
“Sy optekening en bekendmaking van die mondelinge poësie van die Afrikaanse gemeenskappe is ongetwyfeld ’n werk van enorme bydrae tot die ontwikkeling en bevordering van die Afrikaanse poësie as sodanig.
“Sy bekendheid en gewildheid as digter is onder meer die gevolg van die gemak waarmee hy die ‘hoër paaie van die poësie’ en die ivoortoring van die akademie kon verruil vir 'n bekgevegverhoog voor ’n jillende gehoor. So het hy hom by verskeie geleenthede as ’n gedurfde ‘bekvegter’ bewys.”
Die Bekgevegte was ’n mal idee wat Louis Esterhuizen en Henning Pieterse in die laat ‘90’s gehad het om die vermaaklikheidswaarde van poësie te bevestig deur twee spanne digters teen mekaar te laat veg deur middel van verse wat gebaseer is op temas wat deur die gehoor gegee word. En om Ronnie as spanlid van die Kaapse span tydens 1999 se KKNK te kon gehad het, was inderdaad ’n voorreg soos min – want wie sal ooit vir “Rocky” Belcher kan vergeet waar hy op die verhoog staan met sy leesbril, goue boksjapon, kortbroek en vellies aan terwyl hy die een vers na die ander sommer so uit sy kop uit voordra? En natuurlik die Woordfees van 2000, toe hy as lid van die skrywerspan tydens die Filosofiekafee teen die filosowe moes meeding aan die hand van die woordjie “of” – eiehandig het hy deur middel van sy impersonasie van ’n prediker verhoed dat die skrywers totaal van die verhoog af gevee is deur die filosowe.
Aan die begin van 2003 het Ronnie regtig siek begin raak van die kanker waaraan hy gely het. Op Saterdag 21 Oktober 2006 is hy in die Stellenbosch Medi-Clinic oorlede. Naas Ella, sy vrou van 36 jaar, het Ronnie ook sy dogter Renée en seun Ronnie agtergelaat.
Huldeblyke
• Ella, sy vrou: "Hy het ’n geesdrif vir die lewe gehad en het alles wat hy gedoen het, met oorgawe aangepak. Hy was so ’n dinamiese man, maar hy het vol vrede gesterf." (Die Burger, 23 Oktober 2006)
• Abraham de Vries: "Hy was ’n mensliewende, robuuste aartsromantikus met ’n ongebreidelde afkeer van enige vorm van pretensie en grootdoenerigheid. (...) KKNK toe het hy nooit gegaan om opvoerings te sien nie, ook nie om sy gedigte te hoor wat deur verskeie sangers getoonset is nie; hy het op ’n stoepkafee gesit en melkskommels drink en met sy vriende gesels van vroegoggend tot laatmiddag. Hy kon net so hard lag as wat hy kon vloek. Vir sy rugbyklub, eers Union, daarna Van der Stel, het dié oudprofessor in Afrikaans en Nederlands vroeër agtsteman gespeel. Vir die Stellenbosch-universiteitskoor het hy onder meer die pragtige lied, “Heer, laat nou U dienskneg in vrede gaan” geskryf. (...) E subito sera. En skielik was dit aand, so kort ná dagbreek Saterdag. Want
... soms gebeur dit dat met hooggety
een skielik op ’n nag sy toue breek,
die oop see invaar en vir goed wegbly.
(“Vissersboot” uit Ver land)
Rus nou in vrede, RK." (Volksblad, 25 Oktober 2006)
• Louis Esterhuizen: "Ronnie was ’n gróót teenwoordigheid – wanneer jy hom ontmoet het, het jy gewéét jy’t ’n besonderse mens ontmoet – sy humor en empatie, sy lewensvreugde het van hom ’n allemansvriend gemaak. Hy was veelsydig, met wyd uiteenlopende temas en toon en is nooit werklik na waarde geskat nie, omrede mense hulle blindgestaar het teen die meer guitige aanslag van die verse in sy middelperiode toe hy hom met die randfigure in ons gemeenskap kon identifiseer en die tragikomiese in hul lewens deur middel van outentieke taalgebruik kon verken. Ek kan sê dat ek eerlikwaar nog nooit iemand teëgekom het wat dit meergeniet het om verse te maak en voor te dra as juis Ronnie nie – vir hom was poësie allermins net woorde op papier – dit was ’n lewensingesteldheid – ’n manier om die lewe voor die bors te gryp en te sê: Heita, ek’s 'Rocky' Belcher en ek’s ôk nog hier! Maar dit is ook vanweë die enorme invloed wat hy op ander, aspirerende digters gehad het waarvoor hy onthou sal word – ’n meer vrygewende mentor kan jy jou beswaarlik indink – van kommentare, na werkswinkels – van keurverslae en aanmoediging tot die uitgee van bundels – orals het Ronnie sy invloed laat geld. In dié mate dat die eerste Akkertoekenning tydens die Versindaba van 2005 aan hom gemaak is – dié toekenning wat juis erkenning gee aan ’n persoon wat in sy/haar lewe baie gedoen het om die digkuns in die breë te bevorder. Dit was ’n eenparige nominasie en ’n uiters gewilde keuse, geoordeel aan die terugvoer wat ons hieromtrent ontvang het.
"Inderdaad, Ronnie Belcher het sy skryfwerk geniet en dit op onbaatsugtige wyse gedeel met wie ook al in kontak met hom gekom het – en meer as dikwels het dit gepaard gegaan met daardie kenmerkende laggie van hom terwyl hy sy oë op skrefies trek. Maar ek wil afsluit met een van die mooiste gedigte in Afrikaans, ’n vers wat menige skolier sal onthou, naamlik 'Voël':
Met gras en waaisand half bedek
lê muf en benerig ’n voël
met stywe bene en wydoop bek.Die vlerke wat eers hoog en blink
gestyg het in die môreson
lê sonder vere en effens stinken waar ’n vloed van sange was
is alles stil, is alles dood
onder die waaisand en die gras.O moenie dat jou hande beef
want alles wat die dood afsny
moet jy laat leef.Haal dan jou sakmes uit
en sny ’n hol, wit beentjie uit sy bors
en maak daarmee ’n fluit.
(Uit: Ver land)
"By verskeie geleenthede het ek Ronnie dié vers hoor voordra – aan die einde het hy altyd vir so ’n oomblik gehuiwer en dan met ’n verleë laggie gesê: Ek vat natuurlik poetic licence hierso, want ’n voël se borsbeen is te klein om ’n fluit van te maak. Al wat óns hierop kan antwoord is dat dit wel só kan wees. Ronnie se lewe is sélf daardie beentjie wat uit die bors weggesny is – en daarvan is ’n fluit gemaak wat nog baie lank deur ons lewens weerklank sal vind."
• Christine Barkhuizen-Le Roux: "Oor al Ronnie se kwaliteite, en hoe hy grootgeword het (hy het swaargekry, dit weet ek), wil ek nie uitwei nie – daar is mense wat hom baie beter geken het as ek. Wel weet ek dat die Griekse woord aretê van toepassing was op hom – die term is deur die Grieke gebruik wanneer hulle gepraat het van die ideaal (veral op sportgebied in hulle geval) dat ’n mens in meer as een ding uitblink. Vir die Grieke was dit nie die hoogste of die grootste dat ’n persoon die wêreldrekord hou vir sê maar hoogspring nie, maar die een wat die mééste items góéd kon doen, hý was die beste. Hierdie term het ek die eerste keer teëgekom in Braam de Vries se boek Afspraak met eergister, sy reisjoernaal oor sy besoek aan Griekeland. En Ronnie was een van die veelsydigste mense wat ek ooit ontmoet het. Hy het op sy dag vir WP rugby gespeel, later Afrikaans gedoseer, huise gebou, wyn gemaak (die wyn was nie so lekker nie, maar nogtans), gedig, stories vertel ... Behalwe hom ken ek nog net twee sulke mense wat eintlik alles kan doen, maar dit is nie oor hulle wat ek skryf nie. Ek skryf oor Ronnie, wat met sy oë toegeknyp van die lekkerte om nege-uur in die oggend ’n pienk milkshake gedrink het, wanneer ander mense stigtelik met koppies koffie sit. Liewe Ronnie – dankie dat ek jou kon ken. Jy het onbedorwe deur die lewe gegaan, sonder dat jou slimheid en jou vaardigheid (in soveel opsigte) na jou kop toe gegaan het. En jy het, waar die meeste ander mense net práát, gedóén. Jy het mense, ook vir my, gehelp om ’n voet in die deur te kry in die skryfwêreld (wat meesal wreed en ontoeganklik is vir iemand wat nog buite staan). Jy was ook nie net die grapjas wat baie mense gedink het jy was nie. Iemand wat die gedig 'Voël' kon skryf, het dalk soms moes skuil agter die lag. Ons sal fluite maak vir jou, Ronnie. En vanoggend stuur ek vir jou ’n pienk milkshake vir brekfis." (LitNet)
• Daniel Hugo in 1994 oor Ronnie: “Ronnie Belcher is in dieselfde jaar as Ingrid Jonker gebore en het in dieselfde jaar as sy gedebuteer. Sy debuutbundel was beter as hare en is beter deur die kritici ontvang. Jonker is jonk dood en het wêreldberoemd geword. Hy leef nog en is ’n onderskatte en half vergete digter aan wie se poësie ek nog altyd veel plesier gehad het.”
In 2008 publiseer Protea Boekhuis ’n keur uit Ronnie se poësie wat deur Abraham H de Vries saamgestel is onder die titel Van heidebos en Skepper. Joan Hambidge (op LitNet) laat haar as volg uit oor hierdie keur: “Ek het nie veel erg aan die ernstige, verhewe Digter nie. Vir my is die essensiële en beste digter die een van die moppies, die parodie, die vinnige lopervers en speelse gedig. Miskien het dit iets te make met ons tradisie dat die speelse gedig, waaroor Daniel Hugo al uitvoerig geskryf het, nie na waarde geskat word nie. Ek het ’n bepaalde voorliefde vir die speelse vers wat op die oog af na ’n grap lyk, maar onder draai die duiwels rond. Hierom is Ogden Nash en Philip de Vos geliefde digters.
“Die versoeking is groot om elke gedig waaroor ’n mens opgewonde raak, hier aan te haal. Trouens, ’n mens se lagspiere word so gekielie dat jy later uitasem is van die lag. En wie kan dit regkry om jou vir ’n hele bundel te laat lag en vol bewondering te laat staan voor die woordvernuf, astrante ryme, belaglike wendings - en ... lewenswysheid?
“So is die lewe vir een pond sewe, ’n Ding om te skil in die maand April en My hart sing sewe moppies is van my mees geliefkoosde bundels. Deur menige melancholiese tye het hierdie boeke my al gedra en gewys dat Belcher se onhebbelike sin vir humor alles regmaak. Die humoris/satirikus is in wese ’n ernstige persoon en ’n mens kan dit sien aan Belcher se ander gedigte. Maar ek hou van die veerligte aanslag, van die vers wat sommer so speels én spuls uit die hand glip.
“Die gedigte is polities inkorrek, soos op bladsy 100:
Ons kan toor
en ons kan moor
want ons dra
ons keps agterstevoor
of
Kaapstad se lessies
drink wyntjies uit flessies
maar Stikland se stukke
sluk bliksem uit blikke.
“Humor is egter selde polities aanvaarbaar. Jy trap dikwels op ’n toon of misbruik ’n stereotiep om ’n effek te kry. Trouens, die speelse verse en uitinge hiervan, soos die limeriek, gedy op die skunnige. Belcher hanteer die fyn balans tussen en beeld en toepassing behendig. (...)
“Op die oog af lyk die gedigte maklik en selfs verspot, maar met ’n dieper lees en uitmekaarskroef besef die leser hoe knap die verse gefabriseer is. Die ernstige digter is nie vir my nie. Ek vind hierdie verse retories en selfs breedsprakig. Toe Ronnie op die toneel gekom het, was die Dertigers se Verhewe Verse al passé. Gee vir my die grappige/parodiese/satiriese/speelse vers, want hierin munt Belcher uit.”
Oor die versameling skryf Christine Barkhuizen-Le Roux (The Free Library) dat om ’n verteenwoordigende keur en keuse te maak uit ’n oeuvre wat oor amper vyftig jaar strek, nogal heelwat gevra is. Veral as dit, soos in die geval met RK Belcher, ’n oeuvre is wat oor die jare ingrypend van karakter verander het.
“Abraham H de Vries se seleksie in Van heidebos en Skepper laat hieraan reg geskied. Hy slaag daarin om aan iemand wat vir die eerste keer met Belcher kennis maak, ’n betroubare beeld te gee van die dominante temas in hierdie digter se werk, asook die uiteenlopende soort verse wat hy geskryf het. De Vries se keuse van gedigte kom uit Mens en Skepper (1956), Ver land (1960), So is die lewe vir een pond sewe (1978), ’n Ding om te skil in die maand April (1980), Ringe in ’n geelhoutboom (1982), My hart sing sewe moppies (1996) en Van heidebos en klip(2000). Soos De Vries tereg in die voorwoord opmerk, was daar nie net een Ronnie Belcher nie. Verstegnies ontwikkel sy poësie van ’n baie formele en tradisionele vers (van sy sonnette kan inderdaad as goeie illustrasie van hierdie subgenre voorgehou word) na ’n eiesoortige soort kwatryn, amper ’n moppie by tye. Hiermee saam loop daar ’n merkbare verandering in die idiolek waarin hy skryf: die formele Standaardafrikaans van die eerste bundels sou met verloop van tyd losser raak om aan te pas by die Kaapse sfeer wat later dikwels oorheers.
“Die tematiese wêreld in die versameling is wyd en ryk. Dit strek van die vroeë belydenisverse en liefdesgedigte tot gedigte waarin kwaai maatskaplike kommentaar voorop staan. ’n Beduidende religieuse vlak is ook van die begin af duidelik aantoonbaar. Wanneer ’n mens na De Vries se keuse kyk, word die ironiese in Belcher se werk steeds duideliker, terwyl die soms humoristiese en satiriese kwatryne wat op die oog (en oor) af eenvoudig lyk, veel meer om die lyf het as om slegs 'n proeslag uit te lok. Om hieraan in ’n resensie werklik reg te laat geskied, is eintlik nie moontlik nie.”
Barkhuizen-Le Roux meen dat De Vries goed daarin geslaag het om die verskeidenheid en rykheid van Belcher se poësie aan te toon. “Dit geld sowel vir die klankrykheid en ongedwongenheid van rym - ook in die formele verse uit die vroeë bundels - as vir die virtuose raakvat-woorde en slim segging van die digter. Die bloemlesing is inderdaad ’n prikkel tot die herlees en waardering van Belcher se oeuvre, altyd met die vermaning van Marthinus Nijhoff in die oor: ‘Lees maar, er staat niet wat er staat.’”
Publikasies
Publikasie |
Mens en skepper |
Publikasiedatum |
1956 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewers |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
— |
Publikasie |
Die sonnet as digvorm |
Publikasiedatum |
1960 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewers |
Stellenbosch: RK Belcher |
Literêre vorm |
D Litt-proefskrif |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
— |
Publikasie |
Ver land |
Publikasiedatum |
1961 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewers |
Kaapstad: HAUM |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
— |
Publikasie |
Grondslae van die sonnetvorm |
Publikasiedatum |
1969 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewers |
Kaapstad: HAUM |
Literêre vorm |
Literêre studie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
— |
Publikasie |
Pampoenkoekies: kinderversies |
Publikasiedatum |
1973 |
ISBN |
0798600926 (hb) |
Uitgewers |
Kaapstad: HAUM |
Literêre vorm |
Kinderversies |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
— |
Publikasie |
Sit om jou dassie |
Publikasiedatum |
1973 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Kinderpers van SA |
Literêre vorm |
Kinderversies |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
— |
Publikasie |
Voëltjies met vlerkies |
Publikasiedatum |
1979 |
ISBN |
0798603615 (hb) |
Uitgewers |
Kaapstad: HAUM |
Literêre vorm |
Kinderversies |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
— |
Publikasie |
So is die lewe vir een pond sewe |
Publikasiedatum |
1979 |
ISBN |
0798601698 (hb) |
Uitgewers |
Kaapstad: HAUM |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
— |
Publikasie |
’n Ding om te skil in die maand April |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewers |
Durbanville: Klipbok Uitgewery |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
— |
Publikasie |
Kokkewiet kokkedoor |
Publikasiedatum |
1981 |
ISBN |
0628017812 (hb) |
Uitgewers |
Johannesburg: Perskor |
Literêre vorm |
Kinderversies |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
— |
Publikasie |
Rooikappie op rym |
Publikasiedatum |
1981 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewers |
Durbanville: Klipbok Uitgewery |
Literêre vorm |
Kinderversies |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
— |
Publikasie |
Halleluja Paternoster |
Publikasiedatum |
1983 |
ISBN |
0628022204 (hb) |
Uitgewers |
Johannesburg: Perskor |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
— |
Publikasie |
Ringe in ’n geelhoutboom |
Publikasiedatum |
1983 |
ISBN |
0628022220 (hb) |
Uitgewers |
Johannesburg: Perskor |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
— |
Publikasie |
My hart sing sewe moppies |
Publikasiedatum |
1996 |
ISBN |
0624035050 (sb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Bayeux |
Publikasiedatum |
2000 |
ISBN |
062025629 (sb) |
Uitgewers |
Stellenbosch: Suider-Kollege Uitgewers |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Van heidebos en klip |
Publikasiedatum |
2000 |
ISBN |
062025635 (sb) |
Uitgewers |
Stellenbosch: Suider-Kollege Uitgewers |
Literêre vorm |
Poësie (sonnette) |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Rings of a thundering tree |
Publikasiedatum |
2000 |
ISBN |
0620264365 (hb) |
Uitgewers |
Stellenbosch: Suider-Kollege Uitgewers |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Van heidebos en Skepper: 'n keur uit die poësie van RK Belcher. Saamgestel deur Abraham H de Vries |
Publikasiedatum |
2008 |
ISBN |
9781869192488 (sb) |
Uitgewers |
Pretoria: Protea Boekhuis |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Ronnie Belcher as vertaler
- Bruna, Dick:
- Die appel. Parow: HAUM, 1980 [ISBN 0798600276 (hb)]
- Kietsie Kat. Parow: HAUM, 1989 [ISBN 0798600748 (hb)]
- Kleintjie. Kaapstad: HAUM, 1989 [ISBN 0798600241 (hb)]
- Kleintjie in die dieretuin. Parow: HAUM, 1990 [ISBN 079860025X (hb)]
- Snuffie. Kaapstad; Durbanville: HAUM; Garamond, 1989; 1994 [ISBN 0798600284 (hb)]
- Snuffie en die brand. Kaapstad: HAUM, 1972 [ISBN 0798600292 (hb)]
Artikels oor Ronnie Belcher op die internet
- Barkhuizen-Le Roux, Christine: ’n Milkshake vir Ronnie
- De Vries, Abraham H:
- Ferreira, Thinus:
- Malan, Hannes: Belcher-plaas het klipgeboue wat deur Italiaanse gevangenes gebou is
- Marais, Andrew: Ronnie Belcher se wyn soos goeie gedig
- Meiring, Martie: Rondo vir Ronnie met sy “afsterwe”
- Nänny, Pia: Ronnie Belcher verloor kankerstryd
- Nieuwoudt, Stephanie:
- RK Belcher
- Ronnie Belcher
Artikels deur Ronnie Belcher op die internet
- Afrikaans: Is dit ons reg?
- Gedigte
- Trek voordeel uit Engels se akademiese krag
- Universiteit nie tot een taal beperk
- Universiteite het Afrikaans ontgroei, dis nie afgeskaal oor druk
- Wit en bruin staan aan dieselfde kant van brug
Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.