RIV Kevin Ayers

  • 0

Die onlangse dood van Alvin Lee van Ten Years After het baie ou rock-liefhebbers se aandag getrek, maar ek wil vandeesweek eerder stilstaan by ’n ander rock-ster wat in die afgelope paar weke oorlede is: Kevin Ayers.

’n Mens bou soms onredelike vooroordele op teen kunstenaars. Ek het jare lank verseg om na Ayers se musiek te luister, weens sy gedrag voor die opnames van die konsertalbum June 1, 1974 saam met John Cale, Nico, Brian Eno en Mike Oldfield. Cale het op die aand van 31 Mei 1974 vir Kevin Ayers by sy vrou in die bed betrap, en omdat ek destyds in my jeugdige onnoselheid diep onder die indruk van Cale se uniekheid was (danksy Paris 1919), het ek besluit Kevin Ayers is ’n ghwar en hom jare lank geïgnoreer.

In 2004 het ek by Marita van der Vyver en haar man, Alain Claisse, in Frankryk gekuier, en het Alain my laat besef hoe stiksienig ek was. Kevin Ayers is ’n reus, en sekerlik een van die groot miskende geeste van die rock-era.

Sy lae profiel is deels sy eie skuld. Ayers was deel van die Canterbury-musiektoneel wat ander groot name, soos Robert Wyatt en Hugh Hopper, opgelewer het. Hy was lid van die psigedeliese jazz-rock-groep Soft Machine, was goed bevriend met Syd Barrett en die lede van Pink Floyd in hul ontstaansjare, was hand om die blaas met Jimi Hendrix.

Hy het vroeg in sy lewe al ’n voorliefde vir Frankryk ontwikkel, waarskynlik via sy vriendskap met Daevid Allen en die lede van Gong.

Ayers se probleem was dat hy uit ’n baie gegoede familie gekom het, en met ’n besonder posh Engelse uitspraak gepraat het. Hy sing ook so.

Hy het aan aanvanklik vir Soft Machine baskitaar gespeel, maar in sy solo-loopbaan het hy op kitaar en klawerborde gekonsentreer.

Ayers is selfs in sy latere jare beskou as een van die mees aantreklike mense wat in rock-musiek aktief was, en sy voorliefde vir goeie drank en sonnige klimaatstreke het ’n sekere dekadensie aan sy openbare beeld verleen. Later het dwelmverslawing hom ook laat struikel, maar hy het nie geval nie.

Nadat Alain my aangepor het, het ek al Ayers se albums in die hande gekry. Wat merkwaardig is van hulle, is dat selfs dié wat nie op hoë peil is nie, altyd ’n paar snitte het wat totaal verruklik is. Wikipedia se lys van sy albums is die heilige waarheid, en is die ondersoek werd. Gaan lees dit hier: http://en.wikipedia.org/wiki/Kevin_Ayers.

Ek kan die volgende albums sonder huiwering aanbeveel: Joy of a Toy (1969), Shooting at the Moon  (1970) (waarop Mike Oldfield bas- en gewone kitaar speel), Whatevershebringswesing (1971), Bananamour (1973), The Confessions of Dr Dream and Other Stories (1974), Falling Up (1988), Still Life with Guitar (1992) en The Unfairground (2007). Daar is heelwat meer, maar met daardie albums sal dit raadsaam wees om eers te luister voor jy belê.

Hierna ’n klompie videogrepe, by wyse van prikkeling.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top