Risikoreëling by koopkontrakte

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Vandeesweek iets oor die risikoreëling by koopkontrakte.

Met die sluit van 'n koopkontrak gaan die risiko vir enige toevallige onheil wat die koopsaak mag tref, op die koper oor, selfs al is die koopsaak nog nie aan hom gelewer nie. Al vereiste is dat die koopkontrak sogenaamd perfecta moet wees – met ander woorde, die kontrak moet onvoorwaardelik wees en sowel die koopprys as die koopsaak moet bepaal wees. 'n Voorbeeld hiervan sien ons wanneer jy reeds jou motor uitgekies het tussen verskeie modelle met verskillende kleure wat die handelaar op sy vertoonvloer mag hê.

Soos wat die gevaar vir onheil met die sluiting van die koopkontrak op die koper oorgaan, gaan ook die voordele wat die koopsaak te beurt mag val, op die koper oor – byvoorbeeld die vrugte in 'n vrugteboord; die aanteel van vee; die huurgeld wat 'n stuk grond mag oplewer, ensovoorts.

Dit is die normale reëling wanneer 'n koopkontrak gesluit word, maar 'n koper en verkoper kan dié reëling natuurlik in hul koopkontrak wysig soos dit hul die beste pas.

'n Sekere mnr Van Deventer het in 1958 'n woonhuis van 'n mnr Erasmus gekoop. Die koop was reeds perfecta: met ander woorde, die koopprys was reeds bepaal, albei partye het goed geweet watter huis verkoop word, en die koopooreenkoms was onvoorwaardelik. Kortom, die partye het reeds oor álles eenstemmigheid bereik.

Nadat die koopkontrak gesluit is, het die huis afgebrand. Die verkoper, mnr Erasmus, se versekeringspolis was nog van krag en die versekeringsmaatskappy het aan hóm die versekerde bedrag van net minder as R3 000 uitbetaal. (Ja, dít was die prys van 'n gemiddelde woonhuis in 1958!)

Die koper, mnr Van Deventer, het daarna 'n aksie teen mnr Erasmus ingestel waarin hy geëis het dat die R3 000 aan hóm oorbetaal word. Ingevolge die risikoreëling soos ek dit hier bo verduidelik het, was die verlies met die afbrand van die woonhuis die koper (mnr Van Deventer) s'n. Hy het egter aangevoer dat die versekeringsgeld wat aan die verkoper uitbetaal is, asvrugte van die koopsaak gereken moes word. Soos ek ook reeds verduidelik het, kom sulke vrugte die koper toe.

Die saak het voor die hooggeregshof in Pretoria gedien, en op 5 Julie 1960 het die regter beslis1 dat mnr Erasmus se kontrak met die versekeringsmaatskappy van 'n persoonlike aard was. Die koper, mnr Van Deventer, het daarníks mee te doen gehad nie; hy was nie 'n party daartoe nie. Die versekeringsgeld wat uitbetaal is, was dus 'n persoonlike voordeel wat die verkoper vir homself verkry het; dit het nie outomaties op die koper oorgegaan nie, want dit was nie deel van hul ooreenkoms nie. Natuurlik kon hulle hieroor 'n reëling getref het wat billiker vir mnr Van Deventer sou wees, maar hulle het nie. Die arme mnr Van Deventer moes dus maar met die afgebrande huis sit en moes boonop mnr Erasmus se regskoste ook betaal. Eish!

Hopelik besef jy teen dié tyd dat 'n mens haarfyn na die risikoreëling by 'n koopkontrak moet kyk - veral wanneer jy beplan om duur artikels soos 'n motor of 'n huis te koop. Die beste raad is om eers met jou prokureur te gesels voordat jy enige kontrak onderteken.

1  Vgl Van Deventer v Erasmus 1960(4) 100 (TPA)

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

                                                    
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top