Ring around the rosies

  • 0

I think they’ve done a superflu in China, too. And you think, “Okay, that’s great, guys, but don’t let it out of the box.” Margaret Atwood (2013)

1.

op die mark van woehan
wag honde in ’n draadhok
op die tafel bleekpienk ribbetjiesvleis
ietermagog pou ystervark wildevark wolf
’n man kniel langs ’n skottel binnegoed
vlermuise uit die joenan skyt
op vrugte en in die waterbak van sivetkatte
saamgepers in kratte kroes hoenders
bloed in die voortjies
aan die sandale van verkopers
kleef stekelrige bolle slangkak

spring die ligkransvirus van vlermuis na sivet na sjinees

om tare tuttare ture soha

 

2.

‘The towne grows very sickly’
kaal is die pleine van Europa
die vlermuise van die oriënt
kom broei in die nok van die katedrale
van balkonne af kla mense oor insomnia
in nagklubs sweet teen sweet
’n dans macabre

om tare tuttare ture soha

 

3.

corona het ek gehoor by mozart
vredegewende gekroonde wat vertroos
nou nodiger as die meksikaanse treksel
van cervecería modelo
brand maar roosmaryn jenewerbos en alwee
maak beurte om die blikkerige klokke
te lui in ons oosblokstyl-kerke
of stook vure in kaggels en braaidromme
ons sweet in elk geval in die somer
stuur ’n klomp leather bears uit met katse
om die virus te verdryf metaalwigte in rûe
soos die flagellante van boergondië

in sjinese winkels stamp die tafels om
of laat die minister van nasionale sinsoeke
deklameer: in die jaar van die rot
maak alle katte (heksgespeendes) vrek

vir die kubaansgeleerde artse
haak aan ’n snawel vol kruisement
vetgesmeerde handskoene leerjas met byewas
’n punthoed en stewels
laat hulle die miasma inwag
deur glorende glasoë
sitroenpille engelkruidroosblaar sandelhout knoffelmuskus kamfer
in ’n pomader om die lyf
asyn sprinkel om die huis
en die gordyne doop in laudanu

om tare tuttare ture soha

 

4.

st petrusplein is leeg
god en maria gekwartier
politici en biochemici
lei die nuwe orde
in die kanale van venesië
swem dolfyne

om tare tuttare ture soha

 

5.

wantrou mekaar meer
met elmboë en vuiste
elke nies ’n doodsgeroggel
elke hoes maak ons ’n statistiek
ons gorrel sout en asyn
oorleef op lou water
was die velle van ons hande af
ons stuur die bediende huis toe
met handsaniteerder vitamienpille
deur die venster gluur ons vir die bure
vergader aanlyn bedink reddingsplanne
in ons lugkanale klodder die snot
steek die kroon sy punte in ons witbloedselle

om tare tuttare ture soha

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top