
Titel: Rietspruit
Digter: Johann Lodewyk Marais
Uitgewer: Naledi, 2025
ISBN: 9 781067 234690
Johann Lodewyk Marais is ’n bekroonde digter en ook bekend as historikus, letterkundige, samesteller van versamelbundels en tydskrifredakteur. Rietspruit is sy vyftiende digbundel en moet binne Marais se oeuvreverband gelees word, aangesien van die vorige temas, soos ekologiese bewustheid, maar ook die mens se brose verhouding met die natuur, herhaal. Rietspruit tref die leser allereers as herinneringspoësie, waar die hengelervaring voorop gestel word.
Vir sy debuutbundel, Die somer is ’n dag oud (1983), het Marias die Ingrid Jonker-prys in 1985 ontvang, en vir Diorama (2010) is hy met die South African Literature Award for Poetry in 2012 bekroon. In 2013 was hy Innibos se eerste feesdigter.
Hy het drie boeke oor die geskiedenis van die Oos-Vrystaatse dorp Harrismith en omgewing gepubliseer, wat in sy gedigte neerslag vind.
Hy het insgelyks reisboeke oor Mosambiek, Kenia en Botswana geskryf, asook talle akademiese en populêre artikels.
Die titel Rietspruit is interessant. Daar bestaan geen dorp of munisipaliteit met die naam Rietspruit nie. Dit is eerder ’n algemene Afrikaanse pleknaam wat “rietstroom” beteken en wat op verskeie plekke voorkom, meestal as plaasname, riviere, damme of klein nedersettings. In die bundel figureer (die) Rietspruit as ’n magiese spruit wat die seun as spreker-digter onthou, en wat as herinneringspunt dien vir die digterlike beriggewing oor visvangervarings met (veral) sy vader. Talle gedigte vorm dan ’n outobiografiese opgaaf en verwys na die Oos-Vrystaat en na plekke van die digter se heenkome en grootwordjare.
’n Tweede betekenis van Rietspruit kan ’n mens lees as ’n jong riet, die spruit van riet (’n loot of uitloper), wat resoneer met die jeugervarings van die spreker-digter.
Die woorde riet en spruit, afsonderlik, dra ook simboliese betekenis. ’n Riet is sinoniem met vrugbaarheid, groei, maar paradoksaal ook broosheid, buigsaamheid, transformasie en veerkragtigheid. Alhoewel daar geen volkssimboliek vir die riet bestaan nie, word dit in die Afrikaanse letterkunde en Suid-Afrikaanse landskapskonteks geassosieer met die wind wat deur riete waai (ruis); eensaamheid; die natuur se sagte krag; en waterbronne.
En dan natuurlik die woord spruit, wat op ’n klein rivier of sytak van ’n rivier, of waterloop kan dui, maar ook ’n kind, nageslag of afstammeling impliseer. Al hierdie betekenismoontlikhede is teenwoordig in Marais se bundel; net een voorbeeld hoe hy te werk gaan met gelade betekenis. Die gedigte in Rietspruit is bedrieglik eenvoudig – of komplekse eenvoud.
Visvang vorm ’n kernmotief in die bundel, wat nie net letterlik uitgebeeld word nie, maar ook poëtiese en simboliese lae dra. Met ’n sterk fokus op die natuur, jeugherinneringe en menslike verhoudings gebruik Marais visvang as ’n uitgebreide metafoor vir introspeksie, familiebande, die siklusse van lewe en dood en die brose verhouding tussen mens en omgewing, soos reeds genoem. Die bundel is gestruktureer om oorwegend herinneringspoësie te wees, waar die spreker-digter (dikwels ’n seun) terugkyk na sy kinderdae by varswaterbronne, soos die Rietspruit, Dwaalspruit en Lakenvlei.
Visvang is ’n ryk poëtiese troop in literatuur wêreldwyd, veral in herinneringspoësie, waar dit dikwels staan vir die onbekende en die onbewuste. Die varswaterbron, Rietspruit, verteenwoordig die vloei van tyd, memorie en emosies. Visvang “vis” dit wat verborge lê uit die dieptes van die geheue of die onbewuste, soos genoem – ’n psigologiese “duik” in die verlede, soos in Sigmund Freud se beskouing oor die onbewuste as ’n meer met sy verborge inhoud.
Vis word gevang, skoongemaak en geëet, wat die siklus van lewe en dood simboliseer.
In vader-seun-narratiewe, soos in Norman Maclean se A river runs through it, is visvang ’n ritueel van kennisoordrag, manlike binding en die oorgang na volwassenheid. Dit impliseer nostalgie, verlies (byvoorbeeld die afwesige pa) en heling. Hierdie temas figureer ook sterk in Rietspruit.
In die Afrikaanse poësie kry visvang uiteraard ’n plaaslike kleur: Dit verbind die landskap met vroeëre droogtes en simboliseer veerkragtigheid, maar ook die meedoënlose gang van tyd.
Marais, as Afrikaans se voorste ekodigter, integreer visvang nie net as jeugherinnering nie, maar as ’n brug tussen die spreker-digter se persoonlike geskiedenis en ekologiese bewustheid. Die bundel se eerste afdeling is opgedra aan die pa, Hendrik Salomon Marais (1916–1970), en visvang dien as ’n infleksiepunt vir die seun-as-spreker se herinneringe.
In gedigte soos “Vadersdag” (41) word visvang ’n daad van liefde – die pa gaan visvang “ter wille van mý”, terwyl die seun dit doen “ter wille van hóm”. Dit simboliseer wedersydse toegeneentheid en omgee, met die water as ’n gedeelde ruimte vir stilte en wedersydse verbintenis. Die vaderfiguur staan vir oorgang: Hy leer die seun nie net visvang nie, maar ook lewenslesse, soos geduld en die aanvaarding van mislukking (as geen vis gevang word nie). Dit weerspieël ’n nostalgiese verlange na die pa se afwesigheid waar visvang ’n metafoor word vir die “visvang” van verlore tyd.
Die Rietspruit tree as’t ware op as ’n karakter in eie reg met sy eie geografiese, selfs emosionele en simboliese onderstrominge – riete buig, maar breek nie, en spruite borrel op as nuwe begin. In “Die laaste dag” (45) gaan die pa alleen na die Rietspruit vir vrede, sonder om vis te vang. Dit simboliseer ’n soeke na innerlike rus, met die water as ’n liminale ruimte en oorgang tussen lewe en dood. Varswater staan vir die vloei van herinneringe: Dit “borrel op” uit die verlede, maar kan ook modderig of besoedel wees.
Die bundel is gerubriseer in vier dele, en tematies handel die gedigte oor visvang as leitmotief wat dui op die jeugdige en ouer spreker se verbintenisse met familie; die groter natuur en ekologiese omgewing; Afrika; familievriende; bywoners; sy vader en moeder; intergenerasiespanning; ooms; die groter plattelandse omgewing van sy jeug; watersiektes; Sloepek Mokwena en Klein-Sloepek; voorsate; visvang as Messiaanse motief; die dood van ’n vader; rivierverskynsels; familiegeheime; en meditasies oor hengel.
Die gedigte het ’n boeiende, paradoksale uitwerking op die leser: Dit is enersyds afstandelik, maar andersyds “intiem” geskryf. Onder die rus van die viswaters skuil daar inderdaad veel meer, selfs onrus. Anders gestel: Dit verteenwoordig tegelykertyd die rustige, dog spanningsvolle wag op die vis om te byt (bladsy 34 verwys byvoorbeeld na gevare, soos die teenwoordigheid van ’n rinkhals). Elke gedig lees soos ’n sorgsame ritueel in die kleine.
Dit is dan ook by die viswaters wat die jeugdige spreker-digter bewus raak van sy seksuele ontwaking:
Jong vrou
Ek kom naby jou, naby jou liggaam
op die spruit se oewer, naby die brug;
om my oor die gladde klippe te help,
steek ek instinktief my hand uit na jou
en ontdek hoe sinnelik ruik ’n vrou. (22)
Die tweede afdeling fokus op varswaterspesies, waar die visspesies deur ’n kritiese, ekologiese lens bekyk word. Marais het in die verlede verskeie spesiebundels gepubliseer en hierdie een is ’n voortsetting van sy oeuvre. In “V Baber (Barbus barpus)” (58) word die baber gepersonifieer as getuie (en slagoffer) van aardverwarming.
“Rivierkrap I” (53) beskryf ’n krap, gevang en as speelding gehou in ’n olieblik tot ’n knyper afgebreek het, simbolies van die onskuldige wreedheid van die jeugdige spreker. Die gedig betrek die digter Ted Hughes se beskouing dat die krap God se enigste speelding is. Hughes is insgelyks ’n seminale digter as dit by spesie- en natuurpoësie kom.
Vis en ander waterdiere word “gevang” as trofeë, maar kan ook gesien word as skakels na die dooies/voorgeslagte, byvoorbeeld in “Aandete” (37), waar die vis soos ’n verskietende ster in die aangesig van die afgestorwenes is.
Uit Rietspruit hier op die tafel
tussen groente uit die tuin
lê die groot geelvis blinkoog
soos ’n verskietende ster
in die aangesig van die dooies.
Die gedetailleerde beskrywing van visgerei (soos dobbertjies en lyne) verryk die noukeurige omgang met hengelpoësie tematies.
In “Begin” (11) word visskubbe en ’n gebreekte visoog simbole van die digter se eie lewe – met die sweet en bloed van ’n visserman wat visvang koppel aan ’n ars poëtikale proses (poësie as die “vang” van woorde). Visvang as skeppende digproses herhaal in “Woordeloos” (23) en in “Dullstroom” (70).
Maar terug na die gedig, “Begin”:
Wat dryf dié onverwoesbare
na die waters? Kan ek opsom?
Die ink vir hierdie gedigte
kom uit jou are en my hand.
Sweet en bloed van ’n visserman
is oor dié bladsye gesmeer,
skubbe lê om my uitgesprei
en ’n vis se oog het gebreek.
Bogemelde gedig dra eggo’s van Genesis 1: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape. En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters.” Die digterlike skeppingskrag vorm ’n analoog tot die goddelike skeppingskrag, oftewel die onverwoesbare.
In “Lakenvlei” (68) bied riet en papirus ’n toevlug, met ’n forel as simbool van geestelike rus te midde van die natuur se siklusse.
Visvang in Rietspruit is nie bloot ’n aktiwiteit nie, maar ’n poëtiese lens vir herinnering: Dit vang die essensie van kinderdae vas; dit handel oor die verwerking van verlies en pleit vir ’n deernisvolle verhouding met natuur. Dit maak die bundel ’n teer, introspektiewe werk wat nostalgie met ekologiese besinnings meng. Marais se vyftiende bundel is inderdaad ’n waardevolle toevoeging tot sy oeuvre.
Maan
Die maan se geduld, getrou aan haarself
en hoe sy nog altyd was, bly my by
in hierdie groot en wye Suidernag.
Ek kyk uit oor die spruit, op in die lug
waar haar lig gedemp oor die aarde val
en die kollektiewe geheue is
van hulle wat, soos ek, haar aanskou het:
deur die tye heen op haar vaste baan,
geyk deur die kragte van die planeet.
O sielsgenoot, o tydige werpsel
in die groot hemelruim en ewigheid,
laat jou lig skyn oor ons wat iewers is
al trek jy ons stille waters skeef. (75)


Kommentaar
... en wanneer jy resenseer dan doen jy dit so deeglik, Nini. Mag mense lees.
'n Lieflike en inspirerende rensensie, Nini. Baie dankie!
Really sounds worth reading.