Riana Mouton (geboortejaar onbekend)

  • 0

Gebore en getoë

Riana Mouton is in die laat 1980’s in Pretoria gebore. Sy is die jongste van vier kinders en spandeer haar grootwordjare in Pretoria.

Sy bring haar vormingsjare deur in ’n ouerhuis met ’n stabiele agtergrond in ’n Afrikaanse omgewing. Haar broers en susters is almal lief vir die kunste en het dieselfde liefde by haar gekweek. Hulle gesin het gereeld tydens vakansies in Europa getoer en só het sy geleer om van jongs af haar vlerke te sprei en haar horisonne te verbreed.

Riana was elf jaar oud toe sy die wonderwêreld van storieskryf ontdek het. Hettie Myburgh was haar Afrikaans-onderwyseres in die laerskool en sy het Riana se talent raakgesien en haar aangemoedig om te begin skryf. Myburgh het daarin geslaag om vir Riana plek te kry in ’n buitemuurse skool vir begaafde kinders en daar is sy aan die geheime van die skryfkuns bekendgestel.

Verdere studie en werk

Nadat Riana haar skoolloopbaan voltooi het, het sy Suid-Afrika as reisiger aangepak en deur die land getoer. Sy het aan die Goudstadse Onderwyskollege studeer en na haar studies haar in alles wat op haar pad gekom het, begewe. Maar dit was in die Transvaalse Laeveld waar sy haar liefde vir skryf herontdek het.

Sy en haar man, Anton (“die Engel” soos sy hom noem), gaan saam terug na die destydse Wes-Transvaal (vandag Noordwes). Sy vertel op haar webwerf dat sy mal is oor dié streek se landskap, die gemeenskap wat in die aarde gewortel is en die rus en kalmte wat die dorpsgebiede kenmerk.

Riana en haar man is die ouers van twee seuns, Naude en Arno, en ’n dogter, Maryke, maar Maryke, is in 1998 in ’n ongeluk oorlede en dit het die hele gesin platgeslaan. Hierna was sy vasbeslote om haar twee seuns in die platteland groot te maak.

Sy het daarna ’n ruk lank by ’n radiostasie gewerk, waar sy haar veral op kinder- en aktualiteitsprogramme toegespits het. Tydens haar tyd by die radio het sy agtergekom dat daar agter elke storie ’n situasie is en so het die joernalis in haar na vore gekom. Sy het vryskutwerk vir Die Noordwester, Beeld, Rapport en Huisgenoot gedoen. Op haar blog skryf Riana dat sy met haar vryskutwerk in ’n “kreatiewe milieu” leer skryf het. Sy het ook begin om oor meer ernstige nuusgebeure te rapporteer en het só ’n empatie met die unieke omstandighede van verskillende mense ontwikkel.

Van die boeke wat sy toe gelees het en wat haar diep geraak het, was A child called It deur Dave Pelzer en I am David deur Anne Holm – boeke wat die belangrikheid van keuses by haar ingeprent het, en haar ook laat vrae vra het oor die lewe en haar gedwing het om nie so oppervlakkig na gebeure en mense te kyk nie.

Gedurende ’n besoek aan die skrywer en akademikus Tom Gouws het hy haar gemotiveer om ’n roman aan te pak. Sy het die begin van die roman met klein treetjies en ook met ’n mate van angs aangepak, maar haar diepgaande navorsing het ’n neerslag in haar skryfwerk gevind. Dit was egter eers toe sy ’n nadoodse ondersoek en die belydenis van ’n reeksmoordenaar self ervaar het dat sy begin wonder het oor wat die beweegredes agter so ’n persoon se gedrag is.

Haar soektog het begin – sy wou nie meer misdade ondersoek nie, maar die persone daaragter beter leer ken. Terselfdertyd het sy Gerald Labuschagne, hoof van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se psigiatriese eenheid, ontmoet, en hy het haar meer begin vertel van die donker wêreld van die mens se psige en dit in ’n mate vir haar oopgemaak.

In 2006 verhuis die gesin na Nieu-Seeland, waar hulle hul in 2010 in Whangaparaoa vestig. Een van die redes hoekom hulle dit gedoen het, was om aan hulle seuns meer geleenthede te kan gee. “Ons het twee pragtige seuns,” vertel sy aan Ilse Salzwedel (Rapport Boeke, 1 Augustus 2010), “wat albei baie goed is in sport, veral rugby en krieket. Hulle speel albei op provinsiale vlak.”

Die dood van hulle dogter het ’n groot invloed gehad op hoe sy en Anton ouerskap ervaar: “Ons is steeds broos daaroor en sal vir die res van ons lewe daarmee moet saamleef. Daarom is daar niks wat ons nie vir ons kinders sal doen nie. Ons het baie opgeoffer om hierheen te kom en gaan hier bly tot die seuns universiteit toe kan gaan.”

Oor hulle tydelik aangenome land vertel Riana aan Salzwedel: “Ons vind die land pretensieloos, rustig en ondramaties. Die aanpassing was reusagtig omdat ons amper ’n persoonlikheidsverandering moes ondergaan om aan te pas.

“Dis ’n pragtige land. Senutergend groen. Dit reën baie hier en ons moes gou die gewoonte aankweek om reënjasse, sambrele en rubberstewels in ons motors te hê. Daar kan soms vier seisoene in een dag wees en die weer hier is uiters onvoorspelbaar. Maar dis rustig en veilig hier.”

In 2008 word Riana se eerste boek by LAPA gepubliseer onder die titel Reuk van die dood. As agtergrond vir die boek bestudeer Riana vir ’n paar jaar die Suid-Afrikaanse reeksmoordenaar Stewart Wilken se lewe. Hy was nie net een van die wêreld se afgryslikste moordenaars nie, maar ook ’n selferkende menseter, pedofiel en nekrofiel.

Wilken is in 1998 skuldig bevind aan sewe moorde, asook vyf gevalle van sodomie, en lewenslank tronk toe gestuur. Dit het gebeur tydens Riana se werk as radio-omroeper en as deel van haar navorsing het sy drie dae in die tronk saam met Wilken deurgebring. (Kaapse Bibliotekaris, Maart/April 2009)

Wilken het vroue met ’n passie gehaat, dus moes Riana by ’n sytafel in die ondervragingslokaal sit terwyl ’n spesialis-sielkundige haar vrae aan Wilken gestel het. Sy mag nie aan dieselfde tafel as hy gesit het nie en ook nie enige oogkontak met hom gehad het nie.

Behalwe die lykskouings wat sy bygewoon het, het Riana ook ’n jaar lank onderhoude gevoer met sielkundiges en speurders wat te doen gehad het met Wilken se saak. Sy het die saak effens aangepas en dit as basis vir Reuk van die dood gebruik.

Oor die outopsies wat sy bygewoon het, vertel sy aan Lapa: “Alhoewel ek dit nooit weer sal doen nie, was dit nodig. Ek wou weet. Ek wou dit sien en ek wou dit beleef. Ek kon vir dae daarna nie die reuk uit my gedagtes kry nie. Dit kleef aan jou.” (LAPA-boeke-katalogus, Oktober–Desember 2008)

Kort nadat sy die lede van die SA Polisie se Ondersoekgerigte Sielkunde-eenheid ontmoet het, het sy aan Reuk van die dood begin werk: “Hierdie is mense met uitsonderlike kennis, besondere insig, en is ongelooflik behulpsaam. Met hulle hulp kon ek ’n klein stukkie van reeksmoordenaars begin verstaan.” (LAPA-boeke-katalogus, Oktober–Desember 2008)

In Reuk van die dood is iemand besig om jong vroue in Mafikeng te ontvoer en te vermoor. Telkens is daar ‘n vinger van die slagoffer verwyder, dus is daar net een gevolgtrekking waartoe die ondersoekers kan kom: Daar is ’n reeksmoordenaar los. Die moorde is onheilspellend, want die slagoffers word gemartel en uit woede vermoor. Dit is die ergste soort moordenaar wat 'n mens kan kry, want hy is intelligent en hy geniet die kat-en-muis-speletjie.

Junior Scheepers, die speurder aan die spits van die ondersoekspan, het tesame met die opsporing van die reeksmoordenaar ook ander probleme: Sy lewe val uitmekaar na sy egskeiding en hy sukkel om by sy eie donkerte verby te kom. Hy is agtelosig en aggressief, wat groot struikelblokke in die pad van die ondersoek is.

In Taalgenoot (Desember/Januarie 2008/2009) skryf Stephanie Nieuwoudt: “Vir enigiemand met ’n belangstelling in die sielkunde, sal dié spanningsverhaal oor ’n reeksmoordenaar baie bied om oor na te dink. Die moordenaar se moordlus word hier skynbaar gevoed deur die knak wat hy kleintyd gekry het toe sy ma hom mishandel het. Maar die skrywer slaag knap daarin om tot aan die einde die moordlustige se ware identiteit geheim te hou.

“Interessante sielkundige afleidings kan ook gemaak word van die speurder Junior Scheepers, die hoofkarakter, se onvermoë om sy hande van vroue af te hou. Hy voel tog skuldig hieroor, selfs al is sy bedmaats gretige meedoeners.

“In die boek betrek Riana Mouton, ’n debuutskrywer, ook ’n hele klomp sosiale probleme waarmee Suid-Afrika gekonfronteer word. Daar is armoede, inherente rassisme, kindermishandeling, verkragting en natuurlik moord. Die karakters is goed geteken en die leser voel dat jy met hulle kan identifiseer. Daar is veral ’n uitstekende vertrouensverhouding tussen Junior en sy kollega Terry Khumalo.

“Dit lyk asof hier ’n resep is vir ’n reeks oor Junior Scheepers en sy vernuf as speurder. Riana het dit reggekry om ’n interessante en veelkantige karakter te skep.”

JB Roux is die resensent van Reuk van die dood op LitNet en hy het voorbehoude oor die boek: “Dis gou duidelik dat die skrywer die óú resep nadergesleep het: Die held, ’n polisiespeurder, is groot en sterk met ’n plofbare humeur. Hy rook, al wil hy nie, en dwing homself om gereeld te gaan draf. Daar is ’n fout in sy draadwerk: in dié geval kan Junior Scheepers nie sy hande van getroude vroue afhou nie, al wroeg hy daaroor.

“Sy missie is – hoe anders? – om ’n reeksmoordenaar op te spoor wat vroue martel en een van hul vingers afsny voor hy hulle doodmaak. Die moorde neem toe en so ook die druk op Junior en sy kollegas. Daar is verskeie verdagtes en kinkels en doodlooppaaie, presies soos genre-aanhangers daarvan hou. (…)

“Selfs gereelde lesers van spanningsromans verwag dikwels iets nuuts en besonders bínne die voorspelbare resep; hulle smag na daardie één boek wat hulle ná ’n jaar steeds sal onthou, al het hulle intussen vyftig soortgelyke romans gelees. Daar ís hier en daar ’n tikkie oorspronklikheid, soos dat dit wil lyk asof ons met twéé reeksmoordenaars te doen het wat dieselfde modus operandi volg. Maar eindelik is hierdie boek net nog ’n boeiende verhaal oor ’n uitgeslape reeksmoordenaar. Of twee.

“Met misdaadrillers is die sielkundige aspek belangrik. ’n Skrywer moet weet hoe haar karakters se koppe werk en hóékom hulle só werk; daar moet geloofwaardige verklarings wees vir hoekom haar karakters op bepaalde maniere optree en bepaalde besluite neem. Dit geld veral die skurk, of skurke, wat uit die aard van die saak ’n stewige klap van die windmeul weg het: niemand sal glo iemand moor sommer uit verveeldheid nie. Dan is daar die speurder-held (wat self ’n hopie emosionele bagasie het) wat met die hulp van deskundiges moet probeer raai wat in die moordenaar se kop aangaan en wat die volgende skuif sal wees.

“Met uitstaande misdaadrillers is dit juis die sielkundige spel tussen speurder en moordenaar, skrywer en leser wat die deurslag gee. Dié aspek moet bydra tot die spanning en inherent deel wees van die verhaalstruktuur eerder as om die pas te vertraag.

“Reuk van die dood is in dié opsig ’n belowende boek … maar dis beloftes wat nie nagekom word nie. Die gevolg is ’n ‘lugleegte’ in die verhaalgegewe. (…)

“Die skrywer trap dus in dieselfde slaggat as vele gemiddelde spanningsromanskrywers: sy impliseer sommige mense is ‘boos’ en ander ‘goed’, en klaar – asof dit werklik so eenvoudig kan wees. ‘Dis genrewerk!’ hoor ek sommige lesers sê. ‘Spanningsromans wérk maar soos hierdie een.’

“Die verskil is: hierdie boek smeek om werklik uitstáánde genrewerk te wees, maar voldoen nie aan die verwagtinge nie. Die leser hou van die speurder-held, het selfs deernis met hom, maar word weer gekul deur ’n gebrek aan sielkundige motivering. Junior se losbandigheid word aan sy ma se bedenklike gedrag toegeskryf, maar wat van daardie ‘doelbewuste besluit’ wat ongewenste optrede voorafgaan?

“Wanneer Junior een van sy kollegas te lyf gaan, kry ’n mens die indruk dat die skrywer dié brutaliteit regverdig, maar waaraan het hierdie kollega hom skuldig gemaak waaraan Junior nie óók skuldig is nie? As hy later berou sou hê oor sy optrede, sou Junior meer ‘gerond’ wees, maar ook dié karakter bly so plat soos ’n pannekoek.

“Dis asof die skrywer bang was haar speurder is nie ‘macho’ genoeg om as held in ’n speurverhaal te kwalifiseer nie. Die algemene indruk is dat sy die potensiaal vir iets groots geskep het, maar gekortwiek is deur haar vrees om die oeroue genre-grense te oorskry en iets spesiaals bínne hierdie grense te probeer doen. (…)

“Dat ’n mens nogtans voel jy het ’n lekker leeservaring agter die rug, bevestig Mouton se potensiaal. Reuk van die dood bewys dat ’n skrywer met moord kan wegkom as sy vlot en boeiend kan skryf. Maar wie wil nou ’n moord op jou gewete hê?”

In 2013 is Reuk van die dood aan die mark onttrek nadat Mouton se uitgewer bevind het dat daar “ongemaklike ooreenkomste” is met John Sandford se Broken prey.

Elsabe du Toit, ’n destydse bibliotekaresse van Wellington, het Die Burger op hierdie ooreenkomste gewys. Izak de Vries, destyds bemarker van LAPA-uitgewers, het as volg op die probleem gereageer: “Die eenvoudige antwoord is dat ons die saak ondersoek het en uiteindelik besluit het om die boek te onttrek. Ons het alle verkope gestop en die regte aan die outeur teruggegee. Ons bevinding was dat die ooreenkomste ons ongemaklik gelaat het” (Beeld, 30 Mei 2013).

Riana se reaksie hierop was dat sy haar eerste roman as ’n “oningeligte beginnerskrywer” geskryf het. “Ek was in ’n vreemde land, moes in ’n vreemde taal oor die weg kom en het net die telefoon gehad as enigste skakel tussen my en my ‘moontlike’ redakteur. Reuk van die dood is deur ses manuskrippogings.

“Ek het die boek in ’n laai gebêre en begin skryfoefeninge doen – ek het bekende misdaadskrywers bekyk en my eie verhale geboetseer op hul styl. Aanvanklik het ek ’n hele paar kortverhale geskryf. Eers sukkel-sukkel, terwyl ek uit ander se werk geleer het. Ek het ook dele uit ’n boek van John Sandford begin vertaal.

“’n Vriendin, wat die vertaalde verhale gelees het en baie daarvan gehou het, het voorgestel dat ek die kortverhale inweef in Reuk van die dood, en my toe daarmee gehelp. Ek het dit met behulp van haar kundige spookhand binne my verhaalraam geïntegreer en aangepas – die werk het soos myne gevoel, en geklink. Ek het nooit gedroom dat dit plagiaat genoem sou kon word nie. Dit het net met my debuutteks gebeur. My ander twee boeke het ek selfstandig geskryf.

“My opregte apologie aan John Sandford, Lapa-uitgewers, en veral my lesers – dit was nooit my intensie om oneerlik met my skryfwerk te wees nie.”

Riana se volgende roman word in 2010 onder die titel Spoorloos gepubliseer. Oor haar navorsing vir Spoorloos vertel Riana aan Ilse Salzwedel dat sy meestal van die internet moes gebruik maak omdat hulle toe reeds in Nieu-Seeland gewoon het: “Gelukkig het ek luitenant-kolonel Blikkies Blignaut leer ken en hy het my gehelp met die navorsing oor wapens en gevegskuns.”

In Spoorloos is die hoofkarakter Alex Cloete. Die leser maak met hom kennis in ’n polisiesel nadat hy ’n hele naweek gefuif het. Hy sien vir hom geen toekoms nie – sy vrou het hom gelos met hul seuntjie en sy is besig om hom finansieel te ruïneer. Dan sterf sy eksvrou, Mercia, in ’n motorongeluk. Hul seun, Zander, was saam met haar in die motor, maar hy het spoorloos verdwyn.

Alex se lewe kry weer rigting toe hy na Zander begin soek. Hy moet al sy ervaring in die weermag gebruik in die soektog na die skurke wat sy kind gevat het nie. Ongelukkig kan hy nie die hulp van die polisie inroep nie, aangesien hy ’n donker verlede het.

In Volksblad (10 Julie 2010) skryf Stoffel Cilliers dat Riana spanning skep “deur haar held se haarfyn, logiese beplanning, al wil hy innerlik ontplof; deur dramatiese dialooggebruik, wisselende sinsbou, grafiese beskrywings van die oorvloedige uiterlike aksie en hewige, intense gemoedskommelings. (…)

“Dit is egter veral duidelik dat sy haar intrige ver vooruit beplan. Sy is besonder bedrewe in die plasing van leidrade en verskaf sodoende vir die oplettende leser ’n opwindende skattejag-avontuur om te kyk watter van sy raaiskote die kol tref.

“Heel gepas in ons valse samelewing: Elke tweede karakter het ’n geraamte in die kas. En wanneer dit poppemeester Riana Mouton se netjies beplande intrige pas, tuimel daardie geraamte op die vloer.

“Die skrywer is ewe tuis in haar uitbeelding van vroue- as manskarakters. Deur een van haar sterk punte, natuurlike dialooggebruik, verskaf sy insig in haar karakters en bevorder sy terselfdertyd haar besonder boeiende styl. Opvallend is feitlik alle hoofkarakters toon in die loop van die verhaal individuele groei.

“Dit gebeur omdat die skrywer haar deurentyd toespits op ‘n sterk sielkundige onderbou as deel van haar oortuigende karakterbeelding. Die ontknoping dui dan ook bevredigend aan watter invloed die intens spannende gebeure op die onderskeie karakters gehad het. (…)

“Met Spoorloos sal sy waarskynlik meer as ’n hand vol aanhangers permanent in haar web vang. ’n Kenmerk van haar jongste werk is die leser word deurgaans van betekenisvolle inligting, meer net as ’n spannende intrige, voorsien. Dit maak daarvan ’n belangwekkende, stewige spanningsroman, afgerond met ’n hoogs bevredigende klimaks.”

Ook JB Roux (Beeld, 15 November 2010) is redelik positief oor Spoorloos: “Een ding wat hierdie boek nié doen nie, is om die leser te verveel. Die storielyn is styf gevleg, vol kinkels en draaie, raaisels en afpaaie. Die spanning bou stelselmatig op, amper tot breekpunt. En eindelik maak alles sin: die afloop is logies en bevredigend.”

Jeanette Ferreira is die resensent van Spoorloos in Die Burger van 6 September 2010: “Mouton kombineer eietydse en Suid-Afrikaanse gegewe met berugte mafia-tegniek en -karakters. Deur een intrige vir ’n rukkie op die ys te sit en ’n ander te hervat, verhoog sy die spanning.

“Lewensgetroue dialoog, goeie navorsing en karakters wat oortuig, is deel van haar sukses. Sy bou trouens ook deernis in, sowel as begrip vir sommige van die bose karakters, waardeur sy die roman van tipes red.

“Om die roman uitmuntend te noem, sal ietwat oormoedig wees. Maar wie wil ontspan met die boeiende ontrafeling van ’n misterie, sal nie teleurgesteld wees nie.”

“Daar is min mense met ’n natuurlike aanleg vir ’n uitdagende genre soos spanningsfiksie,” skryf Ilse Salzwedel in Rapport-Boeke (1 Augustus 2010), “maar Mouton het wat nodig is en sal haar lesers hopelik nog lank verbly. Sy spin die leser nie toe in ’n vervelige web van onnodige woorde en oorbodige karakters nie. Die pas in Spoorloos is vinnig, die verhaal, nes in haar vorige boek, gestroop van tierlantyntjies en vol naelbyt-intrige en interessante kinkels.”

Salzwedel se gunstige mening oor Riana Mouton se skryfwerk hou nie hiermee op nie: “Mouton doen deeglike navorsing; dit wys in haar boeke. Dis hier waar haar natuurlike aanleg vir die genre duidelik blyk, want ’n minder bedrewe skrywer sou dalk maklik die spoor tussen soveel detail byster geraak het. Of erger nog, dalk nie eens aan al die detail gedink het nie.

“Daar is familiegeheime en karakters uit die verlede wat die leser al dieper in die web van intrige trek. (…) Spanning is daar genoeg. Ook skop, skiet, en natuurlik bloed. Alex is nie verniet opgelei in die gevegskuns nie. Die verhaal ontplooi oor drie vastelande en heeltyd tik-tik-tik die horlosie. En tussendeur moet Alex ’n paar van sy persoonlike duiwels besweer en dele van sy verlede agter hom laat. Hoe bevredigend vir dié leser om ’n karakter te sien groei!

“Mouton skryf blykbaar moeiteloos. Haar dialoog is vloeiend en gemaklik, en dis duidelik dat sy haar karakters intiem ken. Interessant genoeg is albei haar boeke se helde manlik, maar nog meer verfrissend is hoe maklik sy haar manlike karakters se stem vind en hoe skynbaar moeiteloos sy hulle lewende, driedimensionele karakters maak. (…)

Spoorloos hoort, net soos Reuk van die dood, op die boekrak van elke liefhebber van spanningsfiksie.”

In 2012 verskyn Riana se volgende spanningsroman, Nemesis. En vir JB Roux (Beeld, 10 Desember 2012) is dit verstommend waar die uitgewers, LAPA, aan al die goeie skrywers van spanningsverhale kom.

In Nemesis is Ben Hugo die sentrale karakter – ’n man met ’n “vanselfsprekende sin vir geregtigheid, ’n goeie dosis verbetenheid en ’n stewige suksesrekord. Hy kom nie met al sy kollegas oor die weg nie en het ’n goeie kwota persoonlike probleme. Hy is nooit met die ma van sy 14-jarige dogter (wat skielik by haar pa wil gaan bly) getroud nie, maar dié vrou versuur sy lewe. Daar sit ’n koeël in sy skedel vas en hy moet knaend pille sluk om van die hoofpyne ontslae te raak.”

Weer is daar verskeie moorde wat wag om opgelos te word. Die slagoffers was almal seksoortreders wat almal net voor hulle dood gekastreer is. Die moordenaar (dalk nie net een nie) moet opgespoor word, al dra die slagoffers nie almal se simpatie weg nie. Die saak raak ook vir Hugo al meer persoonlik.

“Die tema – ’n moordenaar of moordenaars wat pedofiele uit die weg ruim – is interessant en een waarvoor nie baie skrywers in hierdie genre sou kans sien nie, maar Mouton hanteer dit goed,” skryf Roux verder.

Nemesis tel nie onder die heel beste spanningsverhale wat al in Afrikaans geskryf is nie, maar dis ’n lekker leesboek, vlot en oortuigend geskryf en goed gestruktureer. Mouton se aanhangers sal presies weet wat om te verwag.”

In ’n onderhoud met Marion Erskine (Riana Mouton.com – Riana’s interview with Marion Erskine) reageer Riana op ’n vraag van Erskine of dit vir haar makliker is om ’n storie uit ’n manlike perspektief te skryf: “Dit is nie vir my moeilik om uit ’n manlike perspektief te skryf nie, want ek het drie van hulle by my dag en nag. Ek is in ’n ewigdurende stryd met hulle om my vroulikheid te laat geld. Ek hou egter van my man en seuns se onpretensieuse standpunte. My Engel is passievol en intens en baie van sy goeie karaktertrekke en van my seuns s’n skemer soms deur in die persoonlikhede van my karakters.” 

Publikasies

Publikasie

Reuk van die dood

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780799342406 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Lapa

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken

Kortlys vir ATKV-prys vir spanningsverhale 2009

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Spoorloos

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780799346626 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Nemesis

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780799358445 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor en deur Riana Mouton beskikbaar op die internet:

Riana Mouton se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2021-11-30 gepubliseer.

Bronne:

  • Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie. 

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top