Rian Malan: Suid-Afrika se Hunter S Thompson

  • 0

Skrywer: Rian Malan
Titel: Resident Alien
Uitgewer: Jonathan Ball
ISBN: 9781868423569
Prys: R166.50
 

 

’n Resensent vir die Londense Sunday Times het Rian Malan eenmaal beskryf as Suid-Afrika se Hunter S Thompson. Thompson was een van die hoë priesters van die Amerikaanse “new journalism” van die sestigs en sewentigs, wat literêre tegnieke in hul joernalistiek gebruik het en ook dikwels die joernalis midde-in die storie geplaas het.

Dit is nie heeltemal korrek om die twee te vergelyk nie: Malan is beter as Thompson.

Maar die vergelyking is in elk geval nie van pas nie. Malan het veel meer gemeen met die tradisie van “muckraking” joernalistiek en kruisvarende joernaliste soos IF Stone, wat die Pentagon Papers aan die lig gebring het, en ook die laaste dekade van sy lewe gewy het aan ’n poging om te bewys dat Sokrates nie so onskuldig was as wat almal dink nie. Malan se beste joernalistiek word aangedryf deur ’n soortgelyke obsessiwiteit.

Malan, ’n afstammeling van die apartheidsleier DF Malan, het gewerk as ’n verslaggewer vir The Star gedurende die donker jare van die 1980's voor hy die land verlaat het om sy naam te maak as joernalis vir bekende tydskrifte soos Rolling Stone en Esquire. In 1990 keer hy terug na Suid-Afrika en skryf My Traitor’s Heart, ’n apokaliptiese visie van Suid-Afrika op die vooraand van demokratisering. Twintig jaar later is die boek nog steeds die moeite werd, alhoewel, soos Malan self erken, sy prognose elke dag sedertdien verkeerd bewys is (en ook bevestig is).

Resident Alien is ’n versameling van Malan se joernalistiek van die afgelope twee dekades. Die artikels, meestal tydskrif- en koerantartikels wat plaaslik en oorsee gepubliseer is, raak aan politiek, reis, kultuur en humor. Hy is aweregs en kontroversieel , maar sy werk is meer as blote polemiek. Hy skyn ’n lig in die donker hoeke van die Suid-Afrikaanse samelewing en weier om maklike antwoorde te aanvaar. Malan maak geen pretensie van objektiwiteit nie. Soos hy dit stel in die voorwoord: daar is nie so iets soos ’n ware storie in Suid-Afrika nie. Die feite mag korrek wees, maar die waarheid wat hulle beliggaam, is altyd vir iemand anders ’n leuen. “What can I say? My name is Rian Malan and I called it as I saw it.”

Moet egter nie dink Malan se werk is bloot opinie of sosiale kommentaar nie. Malan is nie skaam om sy opinie te laat deurskemer nie – inteendeel! – maar hy is op sy beste in sy ondersoekende joernalistiek, waar sy obsessiewe geaardheid en noukeurige navorsing tot hul reg kom. Drie artikels staan uit.

“In the Jungle” is die verhaal van Solomon Linda, skepper van die lied "Mbube",en hoe sy werk deur Westerse kunstenaars en maatskappye toegeëien is. Die storie is nou redelik bekend, danksy ’n uitstekende dokumentêr, gebaseer op Malan se werk, wat deur die SABC uitgesaai is. Maar die oorspronklike artikel, wat in 2000 in Rolling Stone gepubliseer is en deels speurverhaal, deels sosiale geskiedenis is, bly een van die beste voorbeelde van ondersoekende joernalistiek nog deur ’n Suid-Afrikaanse joernalis.

In “A Question of Spin” (1999) ondersoek Malan die Boipatong-bloedbad en die aantygings – deur die Waarheid-en-Versoeningskommissie aanvaar as feit – dat die polisie die aanvallers daadwerklik ondersteun het. Malan oorweeg al die getuienis en kom tot die slotsom dat die aantygings van waarheid ontbloot is. Sy gevolgtrekking behoort nie kontroversieel te wees nie – drie regters (insluitende die huidige hoofregter, Sandile Ngcobo) het die saak immers apart ondersoek en tot dieselfde slotsom gekom – maar die artikel druis tog in teen die ortodoksie en het Malan die gramskap van die ANC en die linkse establishment op die hals gehaal. Tog is dit ’n skerp kommentaar op die gebruik van propaganda, die waarde van ’n swart lewe en die liggelowigheid van die Suid-Afrikaanse media.

Die beste stuk in Resident Alien is een wat nooit gepubliseer is nie. Rolling Stone het Malan in 2000 aangestel het om 'n artikel te skryf oor president Thabo Mbeki se “descent into Aids madness”. Vir Malan was dit ’n gelukslag: soos hy dit stel, het hy al lank gewag vir ’n kans om Mbeki se kop op ’n literêre skinkbord aan te bied. Maar namate hy die saak ondersoek het, het hy besef dat die feite nie so gemaklik strook met die konvensionele wysheid nie. “The Body Count” (2000) is dus ’n brief aan sy redakteur waarin hy verduidelik hoekom hy nie die storie wat hulle wil hê, kan lewer nie. Ek kan nie in ’n kort artikel soos dié Malan se hele betoog tot sy reg laat kom nie. Kortom, ná ’n ondersoek van statistiek soos die jaarlikse sterftesyfers en skattings oor MIV-besmetting, gesprekke met dokters en doodskisvervaardigers, en reise deur Afrika se Vigs-hinterland, kom Malan tot die slotsom dat die doemprofete verkeerd is, en dat MIV nie so ’n groot getal mense affekteer as was algemeen aanvaar word nie. Enigeen wat die moeite doen om “The Body Count” te lees, sal moet saamstem dat hy ’n punt beet het. Malan is nie ’n “Aids dissident” (iemand wat die verband tussen MIV en Vigs bevraagteken) nie. Hy ontken nie dat Vigs ’n groot gesondheidsprobleem is nie. Maar hy argumenteer dat om dit te oorskat, net sulke negatiewe gevolge kan hê as om dit te onderskat.

Ná ’n weergawe van "The Body Count" gepubliseer is en sy siening oor MIV/Vigs bekend geword het, is Malan deur die Aids-establishment uitgekryt as ’n leuenaar, “national fool” en selfs massamoordenaar. Maar nou, tien jaar later, is dit duidelik dat hy reg was. Die jongste sterftesyfers wys dat veel minder mense aan Vigs beswyk het as wat die doemprofete voorspel het, en dat Suid-Afrika se sterftesyfer aan die afneem is. Vigs het nie die ekonomie vernietig nie; die bevolking groei nog gelukkig voort. Dit het egter nog nie tot die Aids-establishment deurgedring nie. Soos Upton Sinclair, ’n skrywer met wie Malan heelwat gemeen het, eenmaal opgemerk het: “It is difficult to get a man to understand something if his salary depends on his not understanding it.”

Malan se werk is uniek in Suid-Afrika – en dit sê iets omtrent die Suid-Afrikaanse media dat sy beste werk nie hier nie, maar in oorsese publikasies verskyn. Resident Alien is joernalistiek op sy beste: onafhanklik, onverskrokke en meevoerend.

 

<< Terug na die miniseminaar: Resident Alien | Back to mini-seminar: Resident Alien <<

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top