Rev Adam Smallbone
Hello
Die onlangse siklus van briewe uit die hand van Pro-dink, soos afgeskop deur Angus se brief, en Perdebytjie se kommentaar daarop verwys.
Daar word dus nie gepoog om in hierdie brief om kommentaar te lewer op die geldigheid van die argumente soos verwoord in die siklus van briewe nie, maar dit laat my toe om tog iets te skryf oor my gunsteling TV-reeks op hierdie stadium.
Dit is op BBC Entertainment en is getiteld, Rev.
Rev, is Adam Smallbone, ’n Anglikaanse vikaris, en nuut vanaf ’n klein dorpie na London gekom om herder van St Saviour’s te wees.
Net soos daar kennis geneem word van die bevryding wat in die briewe bespreek word, kan fiktiewe Adam Smallbone tog iets wys oor hoe die gelowige funksioneer in vandag se samelewing. Die optrede van Adam Smallbone getuig nie van ’n persoon wat onder ’n las gebuk gaan, of bevry moet word nie.
Dit is die portret van ’n goeie man en alledaagse uitdagings wat sy dag vul. Soms hunker hy agter ’n vrou wat nie sy eie is nie, net soos hy jaloers op ’n prediker wat meer kerkgangers as hy het of ’n kollega van hom wat meer sukses op BBC het as ’n stem vir die Anglikaanse Kerk.
Soms betwyfel Adam die werking van God, maar vind ook tog gereeld die pad terug na God, en die mense in sy gemeente.
Die portret van ’n alledaagse man, ’n verligte gelowige wat uitreik na Islam en homoseksuele en dus meer gematig oorkom as wat ’n meer fundamentalistiese gelowige sou wees en dit is dalk die rede van sy sukses.
’n Goeie persoon, met innerlike struwelinge wat ’n plek vir homself en die kerk waarvan hy lid is, probeer vind en homself en sy kerk se rol daarin probeer verstaan.
Dit bied egter nie ’n skets van ’n persoon wat onder ’n las gebuk gaan nie, en word daarom ’n manier hoe ’n ateïs soos ek kan poog om te verstaan hoe die ervarings van ’n gelowige daarna sal uitsien, net soos daar verstaan word dat die aard van die wisselwerking tussen mense en die invloed van geloof op ’n gelowige apart van hierdie TV-reeks ook ondersoek moet word.
Nietemin, dit is ’n goeie reeks en hierdie ateïs beveel dit ten sterkste aan.
Baie dankie
Wouter

