Wat hou dié banale naam tog in?
’n Futiele verlewendiging van lyke
opgebaar in terugkerende drome
jonkheid verword tot drogfigure
oumensgesigte wat hartlik lag uit skedels
met verweerde tande vergane hare
slap nekke soos kalkoene
dof en doof en afgedop
soos weggooispeelgoed
die hele spul nou onbenullig
ingekrimp of opgeskeep met pense.
Ná vyftig jaar takseer matrieks mekaar
toets hul die waters slu soos slange
om met die tweede heildronk
losser van tong die sorgelose jare
op te roep met foto’s en verhale
elk selekteer sy seges
liegstories word waargemaak
danksy die hansworstery
van saters en hul gades
ellendes bly sorgvuldig ingekis
geraamtes kry gestalte in ’n heldegalery.
Reünies hou voorlopig
’n fossiele-kabinet in stand
lank leef die kabaret van gryses
die karnaval van amper-malles.

