In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Kom ons gesels vandeesweek ’n bietjie oor retensie- of terughoudingsregte; in Engels: "liens". Dis ‘n geleerde woorde vir ’n alledaagse verskynsel. ’n Retensiereg verleen aan iemand die reg om die eiendom van ’n ander persoon in sy besit te hou totdat hy vergoed word vir geld of arbeid wat hy aan die betrokke eiendom bestee het. Die reg ontstaan byvoorbeeld wanneer ’n motorhawe-eienaar iemand se motor uit hoofde van ’n diensooreenkoms herstel of versien. Die retensiereg dien as versekering van betaling van die motorhawe-eienaar se rekening vir sy arbeid en onderdele. Nou is dit al klaar duidelik dat hierdie reg kan bestaan slegs as die motorhawe-eienaar arbeid aan die motor verrig het. Die tweede belangrike vereiste is dat hy die reg het slegs solank die motor in sy besit is. Sy sekuriteit lê juis opgesluit in die waarde van die motor self. Die oomblik as die motor uit sy besit gaan, is hy ook sy retensie- of terughoudingsreg kwyt.
Dit bring ons by vandeesweek se hofsaak. ’n Sekere mnr Louw het ’n vliegtuig – ’n Beechcraft 90 – op huurkoop gekoop. Daarna het hy die volgende boeke aangeskaf om te voldoen aan die vereistes van die lugvaartwetgewing: ’n ritjoernaal, ’n vliegtuiglogboek, twee enjinlogboeke en twee skroeflogboeke. Van al dié boeke word slegs die ritjoernaal ín die vliegtuig gehou. Die ander boeke word, volgens regulasies, nie in die vliegtuig gebêre nie, want dit kan in ’n ongeluk beskadig word, en dit sal die ondersoek na die oorsaak van die ongeluk in die wiele ry. Mnr Louw het hierdie boeke in ’n aktetas in sy woonhuis gebêre.
Ingevolge die lugvaartregulasies is die eienaar van ’n vliegtuig verplig om dit jaarliks te laat inspekteer en nasien. Wanneer die vliegtuig in dié geval nagesien word, word die aktetas met die dokumente aan die werktuigkundiges gegee sodat hulle die werk wat hulle doen, in die logboeke kan aanteken, soos deur die regulasies vereis word.
Gedurende 1993 het mnr Louw sy vliegtuig na ’n sekere instansie geneem vir die jaarlikse verpligte inspeksiediens. Nadat ’n stryery tussen hom en die werktuigkundige ontstaan het, het hy nie die rekening betaal nie. Sy vliegtuig is aan hom oorhandig, maar die aktetas met die logboeke is teruggehou. Toe mnr Louw ’n jaar later weer sy vliegtuig by ’n ander werktuigkundige laat inspekteer het, het hy die logboeke nodig gehad sodat die besonderhede van die inspeksiediens daarop ingevul kon word. Die eerste werktuigkundige het egter geweier om die aktetas met die logboeke aan mnr Louw te oorhandig, omdat sy rekening nog nie betaal was nie. Hy het, met ander woorde, sy retensiereg - wat ek so pas verduidelik het - uitgeoefen.
Mnr Louw het daarna by die hooggeregshof in Pretoria aansoek gedoen om ’n bevel wat die werktuigkundige sou verplig om die aktetas met logboeke aan hom te oorhandig. Mnr Louw se advokaat het geargumenteer dat die werktuigkundige sy retensiereg verloor het die oomblik toe hy die vliegtuig aan mnr Louw oorhandig het. Hy het aangevoer dat die opskrywing van die logboeke slegs ter nakoming van die wetlike voorskrifte was.
Die werktuigkundige se advokaat, weer, het geargumenteer dat dit deel van die kontrak tussen mnr Louw en die werktuigkundige was dat die logboeke óók opgeskryf moes word. Daar is, so is geargumenteer, wel "werk" aan die logboeke bestee en daarom was die werktuigkundige geregtig om die logboeke terug te hou - nie alleen totdat hy betaal is vir die inskrywings wat in die boeke gemaak is nie, maar ook totdat hy vir die volle diens van die vliegtuig betaal is.
Regter Botha het op 7 Julie 1994 sy uitspraak gelewer.1 Dit was die werktuigkundige se gelukkige dag, want die hof het beslis dat daar wel arbeid aan die logboeke bestee is, deurdat die werktuigkundige dit moes opskryf. Daarvoor kon hy ook ’n rekening lewer.
Die regter het aandag geskenk aan die vraag of dit nie dalk onbillik was van die werktuigkundige om die logboeke, wat in sigself nie baie geld werd was nie, te hou as ’n retensie vir die duur werk wat hy aan die vliegtuig self bestee het. Dit is natuurlik nie ’n vreemde verskynsel nie. Sê nou byvoorbeeld ’n motorhandelaar vervang die battery van ’n duur BMW-motorkar. Die battery in sigself kos, sê maar, R1 000, maar die motor self is oor die R300 000 werd. Tog sou die handelaar ’n retensie oor die hele motor hê, al is sy rekening maar net R1 000.
Die uiteinde van mnr Louw se saak was dat die hof beslis het dat die werktuigkundige geregtig was om die aktetas met logboeke te hou totdat die dispuut oor sy rekening opgelos is. Vir mnr Louw het dit beteken dat hy nog vir ’n rukkie langer moes wag voordat hy weer ’n sertifikaat kon kry om met sy geliefde Beechcraft-vliegtuig bokant Gauteng te kon rondvlieg.
1 Louw h/a Intensive Air v Aviation Maintenance and Technical Services (Edms) Bpk en ’n ander 1996(1) SA 602 (TPA)
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.


Kommentaar
Op 24 Junie 2013 word my voertuig gediens (major service). Op 5 September 2013 breek my voertuig se timingbelt, skaars 2000 km na die diens. Die valves het gebuig a.g.v die timing belt wat gebreek het. Ek kontak die motorhawe en my voertuig word baie vinnig sonder om vrae te vra gelaat insleep. Die voertuig word herstel en nou moet ek R12 300 opdok om my voertuig te kry. Volgens diensinstruksies moes die timingbelt vervang word met die diens. Die diensbestuurder sê dat die timingbelt nog reg gelyk het met die diens dus het hulle dit nie vervang nie. Hulle weier om my voertuig te gee en dagvaar my ook nie vir die skuld nie. Het hulle retensiereg op my voertuig. Dié motorhawe is die handelaar van my voertuigfabrikaat.
Beste Neville - dankie vir jou navraag. Ek durf regtig nie op die feite wat jy verskaf 'n mening waag nie. Die bedoeling van "Regsalmanak" is ook nie om as regsadvies te dien nie. Onthou egter: daar's 'n Engelse spreuk wat lui "possession is 90% of the law". Die hersteller van jou voertuig het dus - al is dit tydelik - die hef in die hand, want hy het tans besit van jou voertuig. Ek raai jou aan om die aangeleentheid te rapporteer by die Ombudsman vir die motorbedryf; so nie die klagte-afdeling van die vervaardiger van jou motor. "Google" gewoon hul besonderhede - jy sal dit vind. Sterkte! Gustaf Pienaar
Geagte Gustaf
Ek is 'n boer wat dagoud-braaikuikens lewer aan boere vir grootmaak en slag. Ek het 'n kliënt wat my R1.9m skuld en hy is intussen onder "Business rescue" geplaas. Sedertdien het hy my gevra om hom te help en kuikens aan hom te lewer, hy sou dan my betaal en die skuld sal dan aan die oudste faktuur afgeskryf word met die verstande dat ek nou 'n "preferred creditor" kan word om sodoende my geld te verseker. Verder het hy my mondelings belowe die kuikens bly myne totdat hy betaal het. Nodeloos om te sê is dat 'n luiperd verander nie sy kleure nie. Hy het gevolglik die kuikens geslag en is vort daarmee. Daar is nog ander kuikens op ander "kontrak groeiers" se plase. Het ek die reg om beslag te lê op daardie kuikens van my?
Beste Thimus - Sjoe! R1,9 miljoen is 'n klómp geld om te verloor. Ek stel voor jy gaan spreek 'n prokureur om jou met die invordering van daardie bedrag te help. Dalk het hy hom ook skuldig gemaak aan een of ander misdryf; die feite wat jy verstrek is effe skraps. Jou prokureur sal ook vir jou verduidelik dat jy nie sonder 'n behoorlike regsproses op jou kuikens in wie ookal se besit beslag sal kan lê nie. Sterkte - Gustaf
My man is mede-eienaar van Aubrielek, die ander eienaar het aan 'n Volvo S40T4 gewerk, maar die eienaar van die voertuig kon hom nie betaal nie, en die voertuig het daar gestaan vir maande, die eienaar van die voertuig het gesê dat Aubrie die voertuig moet verkoop om die skulde te delg en 'n paar rand in die eienaar van die Volvo se sak te gee. Aubrie (eienaar) het weer my man Johan geld geskuld en die Volvo vir my man gegee, Johan moes R18 000.00 gee en Abrie moes R10 000.00 gee, ons het ons R18 000.00 betaal maar Aubrie betaal nog af aan sy R10 000, dit is nou al 4 jaar later ons het intussen 2 enjins en 'n paar sensors vir die Volvo gekoop en ingesit, Die eienaar wil nie die karpapiere vir ons gee nie omdat Aubrie hom nog geld skuld, hy neem die lisensie uit elke jaar en hou die skyfie, dit beteken dat ons nie die voertuig kan ry nie, want ons het nie die skyfie nie. Dus staan die voertuig nou net in ons erf en verniel.
Hoe vat 'n mens retensie reg op die voertuig, Help asb.
Groete.
Stephanie
Beste Stephanie. Dankie vir jou navraag. Ek durf egter nie vir jul van regsadvies bedien nie. Dit is immers nie die doel van "Regsalmanak" nie. Die bedrae betrokke is egter nie groot nie. Gaan spreek 'n prokureur wat bereid is om vir jou vir 'n halfuur of so gratis regsadvies te gee. (Baie doen dit, op versoek van die verskillende Prokureursordes.) Miskien kan die geskil daarna verder in die Hof vir Kleineise gevoer word - dis ook bykans kosteloos. Groete. Gustaf
Ek het ’n voertuig wat in ’n ongeluk was by iemand gekoop. Ek het vir die voertuig R38 000 betaal . Ek het die bedrag oor 3 maande betaal . Toe ek klaar betaal het kon hy nie vir my die voertuig se papiere gee nie. Hy het vir my gevra om geduldig te wees dat hy besig is en dat hy dit vir my sal gee sodra hy dit kry. Ek het solank aangegaan met die herstel van die voertuig. Einde laaste het hy vir my gesê dat die voertuig Absa s’n is. Die vorige eienaar wat in die ongeluk betrokke was het dit nagelaat om sy assuransie te betaal en die voertuig kon toe nie reggemaak word nie . Toe sê hy die voertuig is nie klaar betaal nie en Absa is nog die wettige eienaar en dat hy besig is om die papiere by hulle te kry. Ek het hom toe gevra hoe het hy aan die voertuig se besit gekom waarop hy gesê het dat hy die voertuig op ’n veiling gekoop het omdat die Absa gesê het dat hulle nie stoorgelde gaan betaal nie. Nou sit ek met die probleem ... het ek enige seggenskap op die voertuig wat nou al bykans 2jaar by my staan . Volgens die man wat die voertuig aan my verkoop het het ek retensiereg op die voertuig en moet ek net met Absa praat en ’n geringe fooi aanbied vir die sleutels en papiere van die voertuig. Anders moet hulle my uitbetaal vir stoorgeld en herstelwerk op die voertuig. Ek is al raadop want dit was nie die ooreenkoms toe ek die voertuig gekoop het nie . As ek die voertuig klaar betaal het sou ek die sleutels en papiere gekry het . Goeie raad sal baie waardeer word . Dankie.
Beste Frikkie - met verskoning vir die vertraging: dankie vir jou navraag alreeds van 11 Julie. Soos met ander navrae van hierdie aard moet ek jou teleurstel: ek durf nie vir jou regsadvies gee nie; dit is nie die doel van "Regsalamanak" nie. Met dit gesê, dink ek jy kan 'n goeie saak uitmaak dat jy oor 'n herstellersretensiereg t.a.v. die voertuig beskik. Ek is ook verbaas dat die bank - volgens die man by wie jy die voertuig gekoop het - klaarblyklik toegelaat het dat die beskadigde voertuig aan hom verkoop word. Die bank moes tog voorsien het dat die registrasiedokumente in so 'n geval aan die koper gelewer moet word, nie waar nie? Ek wonder of die bank nie nou belet ("estop") sal word om aan te voer dat hy nog die wettige eienaar van die voertuig is nie. Hoe ookal: ek stel voor jy gaan spreek 'n prokureur om die saak namens jou met die betrokke bank verder te voer. Jy sal egter 'n prokureur moet soek wat nie vir die betrokke bank in ander aangeleenthede optree nie. Prokureurs is verplig om belangebotsings te vermy. Sterkte! Gustaf
Goeie middag,
Ek is nie seker of hierdie onder die retensiereg val nie. My broer en 'n vriend het 'n besigheid saam begin. Die vriend het die finansiering toegestaan vir die besigheid my broer kon nie. Maar my broer het wel sy gereedskap en rekenaars verskaf vir die besigheid se doeleindes. Daar is geen ooreenkoms dat my broer wel deel is van die besigheid nie. Hy het onttrek weens verskeie redes maar nou weier die vriend om enigsins sy gereedskap en rekenaars terug te gee. Hy het gesê my broer moet hom eers terug betaal vir die besigheid oopmaak ens voordat hy sy goed kan terug kry. Hy het nie enige gelde ontvang vanaf die mede-eienaar nie behalwe vir die wat hy op die voertuie ens reg gemaak het is hy betaal voor. Wat doen mens in so geval?
Beste Bianca - dankie vir jou navraag. Dit lyk nie vir my - uit die inligting wat jy verstrek - dat jy korrek is dat daar "geen ooreenkoms" is dat jou broer "wel deel van die besigheid is nie." Straks het daar stilswyend 'n vennootskap tussen jou broer en sy vriend tot stand gekom. Hy moet maar 'n prokureur gaan spreek om hom te adviseer. Groete - Gustaf
Goeie dag, ons huur ñ tuin woonstel uit. Die huurder betaal nie sy maandelikse huurgeld. Mag ek retensie reg op sy meubels hê en vir hoe lank. Die bedrag is nie groot nie en wil ek nie ñ hof geding begin. Wil net seker maak van my regte. Huurder het reeds uitgetrek en van sy meubels is nog in die woonstel.
Die verhuurder het altyd 'n verhuurdershipoteek oor die roerende bates op die huurperseel (hoewel daar enkele uitsonderlike omstandighede is waar die hipoteek nie vestig nie) welke aangewend kan word om die bates te gelde te maak ter vereffening van die bewese agterstallige huur, maar slegs by wyse van 'n geldige regsproses en hofbevel. Jy is egter verplig om ook jou eie skade te beperk deur die woonstel weer so spoedig as prakties moontlik te verhuur indien die huurooreenkoms met die huidige huurder (in verstek met die huurgeld) wel regsgeldig beëindig is.
Ek en my man het ons Tavern verlede jaar 03/ 05/ 2016 verkoop. Die koper het R100 000 inbetaal en sou einde September 2016 die res betaal. Tot op hede het hy nog nie betaal nie. Hy het veranderinge aangebring en wil nie kansellasie teken nie. Sy prokureur wil my dagvaar vir retensiereg. Hy het nie geld nie en my man is oorlede op 01/06/2016. Die Tavern was voetstoots verkoop. Enige advies asseblief.