Resepmatige stappe tot geluk:
- Hartchirurgie
Druk lank en hard
genoeg op die bors;
totdat die hand deur
die ribbes glip
en die vingers die
polsing sekuur
omsluit. Verwyder
met ’n plukaksie.’n Mens kan
leef sonder ’n hart - Stikwerk
Vul die hartholte
sorgvuldig met
lug
om cicatrix manet,
a consciousness of
lost limbs (of ‘n soortgelyke toestand)
te voorkom.
Stik netjies toe.’n Mens kan
leef sonder ’n hart - Fopdos
Pluk aan die senudrade
om die mondhoeke
effe te lig,
spuit oogdruppels teen die
helder illusie
van verliefdheid en
blos die wange om
doodsheid te verbloem.’n Mens kan
leef sonder ’n hart.

