Resensie: Vandag is boordensvol: Pablo Neruda in Afrikaans, vertaal deur De Waal Venter

  • 0

Vandag is boordensvol: Pablo Neruda in Afrikaans
Vertaal deur De Waal Venter
Uitgewer: Naledi 

ISBN: 9781928426851

Die digter en vertaler Daniel Hugo het op ’n keer gesê die graad van kulturele sofistikasie wat ’n taal bereik het, word dikwels gemeet aan die vertalings van klassieke tekste uit die wêreldletterkunde. Die vertalings van Europese taalskatte het insgelyks ’n rol gespeel om Afrikaans as volwaardige kultuurtaal te vestig. Uys Krige het in Spaanse dans (1969) Afrikaanse lesers bekend gestel aan die Spaanse digkuns van sowel die Spaanse landskap as die digters uit Suid-Amerika.

Pablo Neruda was ’n Chileense digter en diplomaat wat die Nobelprys vir letterkunde in 1971 verower het. As een van die bekendste en mees geliefde digters op die wêreldverhoog is hy bekend vir sy reuse-oeuvre wat bestaan uit historiese en epiese poësie, politieke manifeste, liefdesgedigte, en bloot verse wat handel oor alledaagse mense en onderwerpe. Neruda word gereken as die grootste Latyns-Amerikaanse digter van die 20ste eeu. Sy versamelde werk beslaan ongeveer 3 500 bladsye en is ‘n legio kere vertaal.

Venter se bundel is die eerste uitgebreide versameling van dié aard in Afrikaans. In Vandag is boordensvol se liriese en seminale inleiding beaam Charl-Pierre Naudé: “De Waal Venter, Afrikaanse digter en skrywer, bring met hierdie wye keuse van vertalings die sorgsame en elementele wêreld van Neruda met groot toewyding aan die Afrikaanse leser.”

Venter is, op sy beurt, ’n gevestigde huishoudelike naam en bekend as die skrywer van kortverhale, jeugverhale, radiodramas en gedigte – en hy is ook werksaam as een van die veelsydigste vertalers in Afrikaans. Dié 78-jarige skrywer se oeuvre is merkwaardig, soos ook G Brits se waarderingsblog op Versindaba oor Venter se bydrae tot Afrikaans (10 Februarie 2016) getuig. Vandag is boordensvol is onlangs met die Akademie se Vertaalprys bekroon.

Daar is talle uitdagings wat ’n vertaler in die gesig staar: Daar moet gewaak word teen ’n té letterlike vertaling van die bronteks. Die vertaalde gedig in die teikentaal moet uiteindelik oor ’n sekere vlotheid en leesbaarheid beskik; dit moet geloofwaardig wees; outentiek klink, asof dit in Afrikaans geskryf is. Wat verlore kan gaan tydens die vertaalproses, is versklank, kulturele weerklanke, meerduidighede, betekenisassosiasies en nuutskeppings. Sekere “vibrasies” kan net deur die moedertaaloor opgevang word. Daarbenewens is dit moeilik (of haas onmoontlik) om sekere komponente van taal te vertaal, soos die visuele elemente in poësie, spreekwoordelike en idiomatiese taalgebruik, eksperimentele verse, onsinrympies, byname en onomatopee. In ’n onderhoud met Gert Brits op Versindaba verwys Venter na sy vertaalmetode wat hy die “poëson-werkswyse” noem. Laasgenoemde het nie ’n streng teoretiese onderbou nie, maar betrek eerder die vertaling van poësie as ineengevlegte digterlike idees, ’n intuïtiewe proses waarin die essensie van poëtika uit die vertaler se skeppende onbewuste gediep word. Venter is ook bekend vir sy jare lange persoonlike blog waar eie Afrikaanse sowel as vertaalde poësie gereeld verskyn.

Die bundel beskik nie oor ’n formele rubrisering nie, maar die verse is losweg gerangskik as liefdesgedigte, sonnette, odes, en so meer – die vertaler het eerder gefokus op ’n tematiese interseksie uit Neruda se reuse-oeuvre as wat hy besluit het op ’n teoretiese (of akademiese) aanbod. Venter het dit al meermale duidelik gemaak dat hy nie Neruda se politieke gedigte vertaal het nie, omdat dit nie op dieselfde peil as sy ander werk is nie. ’n Mens sou stellig kon vra of die vertaling van dié sosialistiese gedigte nie dalk juis die veelkantigheid van Neruda se oeuvre sou rugsteun nie, alhoewel die vertaler se keuse van ’n seleksie goed gefundeer is. Vandag is boordensvol is sonder omhaal ’n bloemlesing van Neruda se mooiste en belangrikste poësie.

’n Sinvolle ontsluiting van die bundel is die gekose programgedig, “Môre, kan ek inloer?” (2):

Môre … kan ek inloer? My naam
is Pablo Neruda, ek’s ‘n digter. Kom nou net
uit die noorde, die suide, die middel van
die see, daardie myn wat ek in Copiapó besoek het.
Ek kom van my huis op Isla Negra en
ek vra toestemming om by jou huis in te stap, sodat
jy my gedigte kan lees, sodat ons kan gesels.
(…)

Die bekendstelling van die digter, Neruda, trek ook die “gewone” leser dadelik in die ontvouende digterlike narratief in. Venter se vertalings poog om nie net die literêre leser te bereik nie, maar ook Jan Alleman wat graag poësie lees. Dit resoneer met die Nobelpryswenner se uitsprake dat poësie aan alle mense behoort. In sy leeftyd was Neruda immers ’n mensch wat betrokke was by die alledaagse gebeure van die mense van Chili.

Die vertaler lewer toeligting op die 12 gedigte in die kanto “Hoogtes van Macchu Picchu” (118–20). Hierdie kanto is Neruda se ikoniese werk uit Canto General (1950). Al 12 gedigte, ook kanto’s genoem, is vertaal in ’n klinkende en assosiatiewe idioom en handel oor die mense van Suid-Amerika se stryd teen armoede en nasionale en internasionale onderdrukking. Neruda het in 1943 die antieke Inka-stad Macchu Picchu in Peru besoek. Die fokus val op die geografie, fauna en flora, asook die omstandighede waarin die Inkas gewoon het. Spiritualiteit en skoonheid word gejukstaponeer met ’n gevoel van nihilisme – en die digter se soeke na ’n menslike en kosmiese essensie word aangrypend verbeeld.

Neruda is allereers bekend as hartstogtelike minnaar; as digter van die liefde. Ek haal graag die alleenstaande “Nuevas odas elementales / Ode aan ’n pragtige naakfiguur” aan:

Met ’n kuis hart, met suiwer
oë,
vier ek jou skoonheid,
en hou die bloedlyn
sodat dit kan opwel
en jou buitelyne kan afteken,
jou kontoere,
sodat
jy in my ode lê
soos in ’n boswêreld, of in die branders:
in geurige tuingrond
of in die musiek van die see.
(…)

Uit watter materiale,
agaat, kwarts, koring,
is jou liggaam saamgestel,
swellend soos brood
in die oond,
en wat is soos
versilwerde heuwels,
omvang van ’n enkele blomblaar, soetheid
van diep fluweel,
tot net die kreun oorbly
van die pragtige fyn vroulike figuur?

Dit is nie net lig
wat op die wêreld uitgestort
in jou liggaam
sy gedempte sneeu uitsprei nie,
maar die helderheid kom uit jou uit
asof jy van binne verlig is.

Die maan lewe onder jou vel. (154–5)

Daar bestaan baie vertaalteorieë, maar vertalers stem saam dat die vertaler se stem as’t ware moet “verdwyn” uit die teks. Dit is egter onafwendbaar dat die vertaler se stem sal deurskroei, aangesien hy in  simbiotiese verhouding tot die digter staan. Tydens die vertaalproses word sekere taalnuanses ingeboet, maar ánder weer teruggewen in die teikentaal. Om verse uit ’n Romaanse taal soos Spaans na Afrikaans te vertaal, bied eiesoortige uitdagings aan die vertaler. In die gedig hier bo byvoorbeeld sing en dans die vertaling heerlik in Afrikaans en word die gevoel van hartstog moeiteloos oorgedra. Alhoewel die bundel kon baat met ’n indeks en uitgebreide bronnelys, het Venter sy Neruda-gedigte gekies en saamgestel uit ’n keuseregister waarvan die toetssteen vertaalbaarheid is. Die bundel is ’n ryke toevoeging tot die Afrikaanse letterkunde; ’n bundel wat met reg ’n ereplek op enige boekrak kan inneem.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top