Resensie-gesprek: Volledige kodes ontbreek dikwels by kommunikasie

  • 0

Hierdie gesprek vind sy oorsprong in die resensies van David Attwell en Derek Attridge se The Cambridge History of South African Literature.

Lees Waldemar Gouws se reaksie op Helize van Vuuren se resensie van Attwell en Attridge se boek. Hieronder reageer Hennie van Coller op Waldemar Gouws.

Dit is gevaarlik om te reageer op ’n resensie van ’n boek wat jy nie gelees het nie. Nóg gevaarliker is dit om te reageer op daardie selfde (ongelese) boek. Dit laat my altyd dink aan Lena van Wyk wat 37 keer (of was dit op 37 plekke?) geprikkel is deur ’n boek van Etienne Leroux – en sy het hierdie reaksie gehad bloot op ’n klompie aanhalings uit die boek. Stel jou haar toestand voor as sy die werklike boek sou gelees het!

Waldemar Gouws reageer op nogal neerhalende wyse op ’n resensie van Helize van Vuuren van Attwell en Attridge se pasverskene literatuurgeskiedenis The Cambridge History of South African Literature en deel ook ’n paar klappe na my kant toe uit. Só vra hy: “Sal Van Coller ’n nuwe hoofstuk uit Perspektief en profiel oor Suid-Afrika se rotskuns inisieer? Sal dit polities korrek wees? Soos ‘regstellende aksie’?”

Wat sy wrewel wek, is Van Vuuren se opmerking dat Van Coller sou beweer het dat rotskuns deel sou wees van die Suid-Afrikaanse letterkunde. Om Gouws die moeite te bespaar om my hoofstuk te lees, haal ek die betrokke gedeelte volledig aan:

The opposing viewpoint holds that Afrikaans had a long history as a spoken
variant of Dutch, but only emerged in a written form in the latter half of
the nineteenth century as the bearer of a literary culture. According to this
approach, this period represents the actual beginning of Afrikaans literary
history, and can be found in a few Afrikaans literary histories (Beukes and
Lategan, Skrywers en Rigtings, 1952; Dekker, Afrikaanse Literatuurgeskiedenis,
1935, 1967 and Lindenberg et al, Inleiding tot die Afrikaanse Letterkunde, 1965).
Although Dekker argues that the establishment of the Dutch colony at the
Cape by Jan van Riebeeck in 1652 constitutes the obvious origin of Afrikaans
literature, he discusses the early Dutch texts in a cryptic and incomplete
manner (Afrikaanse Literatuurgeskiedenis, 1961 edn, p 3).

All texts from and in reference to South Africa, including precolonial documents
in for instance Portuguese, and with a specific focus on the South
African subcontinent – even rock art as narrative – should be regarded
as part of South African literature. This view is particularly common
amongst proponents of an inclusive South African literary system, mirroring
political unity after 1994 (see also Willemse, Aan die Anderkant, p 37 and
further).

Uit bostaande aanhaling sou Gouws kon aflei dat ék nooit beweer het dat rotskuns deel uitmaak van die Suid-Afrikaanse letterkunde nie, maar dat ek verwys het na ’n bepaalde siening van die (ontstaan) van die Suid-Afrikaanse literatuursisteem. Dit is duidelik dat by die skryf van ’n geskiedenis, soos die Suid-Afrikaanse, die hipotetiese beginpunt (Jan van Riebeeck of die strandlopers of die Boesmans?) én dit wat ingesluit word (die Portugese seevaarders?) uiteraard bepalend is, metodologies en in die praktyk.

Maar miskien is dit goed om ’n paar van Gouws se stellinge op ’n rytjie te sit. Ek haal aan:

Die “dream writing” waarna Van Vuuren verwys, bestaan inderwaarheid uit verfbeelde en gravures op klip – nie die soort skepping wat as skryfwerk of literatuur kan deurgaan nie. Die Boesmanwerke is nie pikto- of ideografiese artefakte nie. Daar is nie ’n kode volgens Jakobson se definisie wat ons kan dekodeer om by die sin van die gewaande narratief uit te kom nie. André Breton en […] het hul wel met “dream writing” opgehou. En iemand soos Magritte met “dream painting”.

Uit die aanhaling blyk dat Gouws skrif vooropstel. Wat dan van eeue se orale literatuur (en orale geskiedenis)? ’n Literatuurgeskiedenis hou hom nie net (of selfs primêr) besig met wat ons vandag as literatuur sou beskou nie. Dit sou lei tot ’n ahistoriese benadering. In die geskiedenis van byvoorbeeld die Middelnederlandse letterkunde word baie aandag bestee aan álle vorme van skrif – selfs kwitansies en regskennisgewings, maar ook vorme van narrasie soos wandskilderye en gravures op klip.

Voorts het ek nogal ’n probleem met die verwysing na Jakobson se kommunikasiemodel, asof daar vir elke vorm van kommunikasie dadelik en geredelik ’n kode voorhande sou wees. (Volledige) kodes ontbreek dikwels by kommunikasie (veral by letterkundige werke) en moet moeisaam ge(re)konstrueer word ten einde tot ’n proses van dekodering te lei. Voortgaande navorsing (byvoorbeeld oor die Boesmanmitologie) sou kon bou aan ’n kode om die “gewaande narratief” van rotstekeninge beter te begryp.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top