Titel: Wynie – my bloed is blou
Skrywer: Wynie Strydom (met Alita Steenkamp)
Uitgewer: Zebra Press
ISBN: 9781770227705
Die skrywer begin met ’n terugkyk op sy jeugjare (toe sy rooi hare aan hom sy bynaam besorg het), vakansies saam met sy gesin en dan sy betrokkenheid by die land se suksesvolste rugbyspan.
Gert Johannes (Wynie) Strydom was 38 jaar as speler en spanbestuurder (16 jaar) by die Bulls en Blou Bulle betrokke en vir TV-kykers ’n bekende gesig langs die veld voordat hy in 2013 op verpligte pensioen gegaan het.
Mense wat onthullings en binnestories te wagte is – soos in in ’n menigte ander rugby-outobiografieë – gaan teleurgesteld wees. In al sy jare het Wynie net goeie mense ontmoet en dit het selfs in slegte jare goed gegaan, ook toe die span in 2002 nie een wedstryd in die Super14-kompetisie kon wen nie. Ook nie in die tyd toe ’n paleisrevolusie gedreig het en daar amper jaarliks van afrigter verwissel is nie (iets waarvoor Saru die skuld kry). Strydom het hom in ’n vergadering sterk uitgespreek, met beter gevolge)
Die boek skets Wynie as ’n mens wat sy lewe lank ’n opperste karnallie, poetsbakker en plannemaker van formaat was. Soos toe hy en twee maters by die boksgeveg tussen Kallie Knoetze en John Tate in Mmabatho sonder kaartjies as Kallie se "veiligheidswagte" ingeglip en sitplekke langs die kryt gekry het. Daar is heelparty sulke stories wat die leser sal verkneukel.
Die ellelange lys verpligtinge – nie net op buitelandse toere nie – bied ook aan die oningeligte ’n interessante kykie in die lewe van ’n spanbestuurder. Die tradisies van die Pretoriase span, die spelers se lojaliteit aan die unie en die moeite wat gedoen word om ’n hegte familiegees te skep, kry ook herhaaldelik aandag.
Buitelandse toere, ook in lande soos Indonesië en Georgië, word in ’n dagboekstyl weergegee wat tog interessanthede bevat. ’n Mens lees heelwat van poetse, maar kry nie veel insig in die uiteenlopende karakters wat die toere onderneem het nie – die pitkos waarna sommige lesers smag.
Vanselfsprekend maak die Bulls se drie seges in die Super14 – twee van hulle opeenvolgend – ’n interessante deel van die boek uit. Dis lekker leesstof, veral in ’n tydperk waarin dit nie alte goed met die unie gaan nie.
Hoofstuk 14 word gewy aan staaltjies wat deur verskeie spelers, beamptes en vriende bygedra is. Van hulle is nogal matig interessant. Die hoofstuk oor die “pad na Orlando” (die Supereindstryd in Soweto) toon hoe groot die Bulls se ondersteunerskorps is, sowel as die welwillendheid tussen swart en wit – iets wat ongelukkig daagliks deur die politieke meesters en onrusstokers beduiwel word.
Daar is 14 bladsye met glansfoto’s en ’n nuttige en volledige indeks agterin. Die boek is goed geskryf, hoewel die soms onnodige gebruik van Omgangsafrikaans en enkele taal- en skryffoute (soos die verwysing na "die" Griekwas, wat ’n bevolkingsgroep is, maar hier word sekerlik ’n rugbyspan bedoel) die taalpuris se oë effens laat rol.
In sy slothoofstuk sê Strydom: "Om te gee, is een van die grootste voorregte in die lewe." Dit is iets wat hy baie jare vir die Bulls en die Blou Bulle gedoen het, wat waardering verdien en wat duidelik uit die boek blyk.
Dis ’n boek wat veral vir Blou Bul-ondersteuners en die groot aantal spelers en mense met wie Wynie se paaie gekruis het, ’n bate sal wees.


