Resensie: Wreed én mooi is die dood – verhale oor verlies, hunkering en heling.

  • 0

Titel: Wreed én mooi is die dood
Samesteller: Tobie Wiese
Uitgewer: Jonathan Ball
ISBN: 9781868429431

In die negentigerjare was ek as student werksaam by ’n groot boekwinkel. Daar het gereeld voornemende klante ingestap en gevra of ons ’n “boek oor die dood” in voorraad het. Die versoeke was spesifiek: ’n boek wat siekes, bejaardes, sterwendes en mense wat rou, sou begelei of troos. Of bloot ’n boek wat die dood meer genaakbaar maak.

Vir Afrikaans lesers was daar op daardie stadium oorwegend Christelike publikasies oor die onderwerp. Eers jare later verskyn Wreed én mooi is die dood, daardie noodsaaklike boek wat uiteindelik die leemte in die mark sou aanspreek.

In die inleiding sê die samesteller, Tobie Wiese: "In ’n sekere sin is dit ook die oogmerk met hierdie boek: om die groot stilte oor die dood – die ontkenning daarvan deur swye – te help verbreek. ’n Mens kan die ingesteldheid selfs die mees algemeen aanvaarde leuen noem. Dit is nie die eerste Afrikaanse boek oor die dood nie, maar vergeleke met wat reeds elders in die wêreld – van die Verre Ooste tot die nabye Weste – daaroor verskyn het, is die oes maar skraal."

“Verhale oor verlies, hunkering en heling,” lees die aanbod op die voorblad. Maar die boek is véél meer: die dood word kaalvuis getakel vanuit die perspektiewe van die sielkunde, antropologie, patologie en selfs die reg. Daarbenewens word intellektueel-filosofiese essays afgewissel met kortverhale en eg menslike anekdotes oor die heengaan van geliefdes.

Die bundel open met ’n meesterlike vertelling deur Karen Brynard, "My lief": die dood as katarsis, as spreekwoordelike dark night of the soul kom aan bod. Die verhaalgegewens steun op die dubbele fokalisering van die afsterwe van ’n geliefde eggenoot; enersyds dié van ’n bejaarde moeder met demensie; andersyds die pynlike belewenis van die verteller.

Die rubrisering van die verhale is vernuftig. Wiese weet hoe om momentum te skep en te behou, en Antoinette Pienaar se "Ons is nie hier vir die verblyfste nie" is volgende. Die verhaal getuig van meelewing en ’n aardse, panteïstiese wysheid, en die geliefde karakter oom Johannes Willemse maak ’n kameeverskyning.

"Mooi is die lewe en die dood is mooi" deur Wilhelm Jordaan dien as meditasie oor die mens se vier vernaamste houdings jeens die dood. Digters, filosowe en ander bekendes tree in gesprek met mekaar en die dood se angel word figuurlik getrek.

Maar die dood het vele gesigte; die veelbekroonde Marita van der Vyver se "Die begin van ’n storie" vertel van die pynlike rouproses na die dood van ’n kind. Verhale soos dié is outentiek en onvervals en van onskatbare waarde vir die leser wat deur ’n soortgelyke rouproses (moet) gaan.

Dana Snyman vertel in ’n lokaal-gemoedelike styl van die belewenis van die dood van ’n plattelandse skoolseun, terwyl Merwe Wiese berig oor ’n jong paramedikus se ontmoeting met die dood.

Maar dood kan ook met die “lewendes” gebeur. "Opeens magteloos en stom" deur Valda Jansen bied ’n ironiese kyk op die lot van ’n kankerlyer wat as gevolg van haar sosiale isolasie reeds deur die gemeenskap as “dood” beskou word.

In die vierde gedeelte, "Begeleiding op die laaste lewensreis", word die fiktiewe aard van die vertellings onderbreek en voortgesit as nugtere essays rondom sterwensbegeleiding en die juridiese aspekte rondom self- en bystanddood. Laasgenoemde is geskryf deur Willem Landman, en DignitySA se uitgangspunte word vermeld. Landman lig dan ook die sluier op die skrywer Karel Schoeman se opspraakwekkende dood in 2017.

Kerneels Breytenbach skryf rasioneel oor die afsterwe van sy vrou, Carien, in "Verlossing", ’n verhaal wat onder meer die genesende waarde van foto's ondersoek. In Heinrich Wyngaard se vertelling word die helende krag van briewe soortgelyk beskryf. Jo-Ann Floris se verhaal, "Hoe die dood my vlerke gegee het", is ’n welkome toevoeging tot die bundel en bied ’n interessante perspektief oor die waarde van ’n mens se intuïsie in die aangesig van die dood.

Die sterfproses is egter nie beperk tot mense nie. Surine Bezuidenhout se skets oor ’n perd, Othello, wat sterf, skep ’n blywende indruk.

Heelparty essays in die bundel put uit die Christelike eskatologie; gelukkig word dit afgewissel met die belewenis van die dood deur die Khoi-San, Moslems, Boeddhiste en Afrika-boorlinge.

Cas Wepener benader die dood antropologies in "Die krag van nuwe rituele" en vertel meer van die mensdom se rites, rituele en liminale gebruike tydens die sterfproses. George Claassen se wetenskaplike en agnostiese blik sorg vir ’n nodige teenmiddel teen die “magiese denke” wat die dood so dikwels omring; en in Gert Saayman se geregtelik-geneeskundige bydrae word die dood as kliniese verskynsel letterlik en figuurlik gedissekteer.

Tobie Wiese is deeglik in die taksering van sy onderwerp – ook parapsigologiese sienings rondom nadoodse ervarings word belig in "Tussen engele – en die duiwel".

Hierdie is nie ’n boek wat ek in een sitting kon deurlees nie. Dit is ’n werk met ’n bepaalde gravitas, en die doodstematiek mag die leser tydelik rondslinger. Gelukkig sorg satire en humor vir ’n ligter toonaard en noodsaaklike pouserings, byvoorbeeld die sketse van Johan van Wyk en Annelie Botes.

Wreed én mooi is die dood is ’n boek wat op elke boekrak ’n tuiste behoort te vind; ’n belangrike bundel wat die jare lange leemte na so ’n werk aanvul; en dis ’n boek wat in sowel omvang as diepte en reikwydte rondom hierdie sensitiewe onderwerp al die lof verdien wat dit toekom.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top