Resensie: Tussen toeval en willekeur deur Kobus Lombard

  • 0

Titel: Tussen toeval en willekeur
Skrywer: Kobus Lombard
Uitgewer: Naledi
ISBN:978-1-928426-34-9

Kobus Lombard het in 2001 gedebuteer met die bundel Geknipte naelstring. Sedert hierdie debuut, wat besonder goed ontvang is deur die poësiegemeenskap, het Lombard hom as ʼn besonder knap digter gevestig en het daar nog drie bundels gevolg, te wete Tussen wysvinger en duim (2005), Vlerke vir my houteend (2010) en Skadu oor die sonwyser (2015). Al hierdie bundels het by Protea Boekhuis verskyn.

Meestal skryf Lombard kort, netjies-afgeronde gedigte wat gestroop is van enige pretensie of deklamasie. Met sy nuwe versameling dig hy voort op hierdie vormgewing wat ook sy vorige bundels kenmerk. Struktureel vertoon sy gedigte die prosodie van waarneming en/of stelling wat gladweg verloop na ʼn toepassing op voorafgaande gegewe as slot. Dikwels bevat die slotreëls ʼn ironiserende teenstelling wat aangebied word as ʼn opsomming óf nuwe insig ten opsigte van die voorafgaande gegewe.

Hierdie prosodie het mymerende, bekoorlike gedigte tot gevolg, eerder as onthutsende of aardskuddende verse. Nogtans het ek hierdie gedigte as ryp, deurleef en deeglik afgerond beleef; gedigte wat van ʼn bykans argetipiese lewenswysheid getuig.

Ter illustrasie, die verbluffend eenvoudige gedig op bl. 61:

Skaduwee

bedags volg jy my getrou
teen hoogmiddag staan jy
wydsbeen bo-oor my
soos die skemer nader
loop jy verder voor my uit
en in die nag as die aarde
sy gesig wegdraai van die son
val jy my
onsigbaar in.

Tussen toeval en willekeur is ʼn besonder goedgekose titel vir hierdie versameling, aangesien “toeval” dui op aspekte van die lewe waaroor die mens nie beheer het nie, terwyl “willekeur” teenstellend daartoe weer op ʼn bepaalde eiesinnigheid (eie wil) dui. Tussen dié pole lê dit wat waarskynlik óf moontlik is.

In die titelgedig, “Toeval en willekeur” (bl 4) stel die digter dit soos volg:

ek het ʼn nuwe skryfplek
ʼn kantgordyn met vars patrone
die greine op my tafel
loop om ʼn ander kwas
op die wit ringmuur
blom bougainvilleas
dieper pers

tog rangskik ek steeds
woorde en spasies
met toeval en willekeur
binne die perke
van waarskynlikheid.

Hiervolgens word die titel direk by die digproses betrek weens die “woorde en spasies” wat tussen toeval en willekeur “gerangskik” word ten einde die gedig binne die perke van waarskynlikheid te vestig; ʼn prosodie wat dadelik ʼn assosiasie met die digter se tweede bundel, Tussen wysvinger en duim, teweegbring omrede ook dié titel op die skryfhandeling dui met die pen tussen wysvinger en duim geplaas.

Die verwagting word daarom gewek dat daar in hierdie nuwe versameling heelwat herhaling en voortdigting op vorige, bekende temas in die digter se oeuvre gevind sal word, en dit is inderdaad so. Nogeens is die Namibiese landskap en die land se mense ʼn sterk teenwoordigheid en fokus die gedigte dikwels ook op klein waarnemings en/of ruimtes, soos die skryftafel. Ook vind ons opnuut die temas van godsdiens (eerder ʼn godgerigtheid) en liefde.

Wat tematies wel verrassend en nuut is in hierdie versameling, is die groter gevoeligheid ten opsigte van sosiopolitieke kwessies (“Huis van Afrika”, “Ou lokasie”, “Nama-vergadering” en veral “Vlugtelinge”, om enkeles te noem), asook enkele reisverse; dikwels met ʼn satiriese inslag: “Koningin van die Middellandse See” en “Quiet zone” byvoorbeeld. Ook is dit opvallend dat daar veel minder biografiese verse in hierdie versameling opgeneem is as in Lombard se vorige bundels. Nog ʼn opvallende kenmerk is die totale afwesigheid van aanhalings, motto’s en intertekstuele verwysings wat vantevore deur die digter gebruik is om die reikwydte van sy teksaanbod te vergroot.

Struktureel is hierdie versameling in ses afdelings verdeel wat elkeen rondom ʼn bepaalde tema en/of fokuspunt gegroepeer is. So sentreer Afdeling I hoofsaaklik rondom die ambag van skryf. As deurlopende fokus word sintuiglike waarneming, soos gehoor (“Doofstom”) en veral sig (“Eye of the beholder”, “Onsigbare gode” en “Illusie”) geneem om as saambindende prinsipe te dien.

ʼn Besonderse hoogtepunt in dié afdeling is die lieflike gedig “Manuskrip” (bl. 13):

ek stuur gerangskikte woorde
satellietlangs, ver oor die Gariep
tot waar ʼn oog
agter ʼn vreemde ruit
deur kantgordyne
silhoeëtte in my kamer
kan herken

Die gedigte in Afdeling II getuig van ʼn bepaalde godgerigtheid. As fokus word handearbeid en ambagte (soos byvoorbeeld die timmerman in “Loopbaanbeplanning”) geneem. Ook word talle morele kwessie by dié gedigte betrek. Hiervolgens word gay-regte, welvaartverdeling en terreur aangespreek in gedigte soos “Godvresend”, “Godskreiend” en “Verdeling van rykdom”.

As ʼn hoogtepunt in dié afdeling kan onderstaande gedig voorgehou word:

Goeie herder

die Here van die Namib
is my herder
by droë gorras
laat hy my opkyk
na wolklose lug
tussen son en klip
lei hy my
na die Dooie Vlei
in die sleepmis
voor sy vangkierie
struikel ek aan
in blinde geloof.

Hierteenoor bevat Afdeling III meestal liefdesverse. Die toon van hierdie gedigte is sowel sober as teer en gevolglik is hierdie lieflike verse gestroop van sentimentaliteit en pretensie.

Ter illustrasie kan “Laaste seevaart – Vir Zouna” op bl 26 geneem word:

ek sal nooit meer
langs die see gaan draf
tot agter die verste brander swem
of my lyf soos ʼn jong man
deur die son verbruin nie
ek sal wel nog my bed opmaak
en met wankelrige knieë
strandlangs skuifel
totdat my oë mistig raak
dog my hart sal aanhou bokspring
telkens as jou stem
bo die breek van branders klink.

Die verse in Afdeling IV spreek merendeels sosiale en politieke kwessies aan; dikwels met ʼn satiriese inslag. Wat opvallend is in dié gedigte, is die sterk Afrika-gerigtheid waarvolgens veral op die teenstelling tussen ryk en arm gemeenskappe en/of individue gefokus word. Ook die impak wat tegnologie (veral sosiale media) op ons lewens het, word tematies betrek. In hierdie opsig is “Huis van Afrika” en “Vlugtelinge”) besliste hoogtepunte.

Afdeling V bestaan uit gedigte wat oor die natuur en ekologie handel. In hoofsaak word die teenstelling tussen tydloosheid en verganklikheid tematies as fokus geneem.

Tematies skakel die gedigte in Afdeling VI met veroudering en verwante kwale soos geheueverlies. ʼn Hoogtepunt in hierdie afdeling is die treffende “Mobiliteit” (53) wat die moontlikhede wat tipografie bied, effektief ontgin:

Mobiliteit

skop
       kruip
             loopring
                      fietsie trap
                                          hardloop
                                                         perdry
                                                                     motorkar
                                                                                             4x4
                                                                               kierie
                                                                loopraam
                                                   rolstoel
                                    traliebed

twee paar hande
draai jou in die nagwaak
telkens op ʼn ander sy

Die versameling eindig met die “Siklies” (63), wat die bundel op ʼn vernuftige wyse sluit weens die slotverwysing na “gryswit”. Hierdeur eggo die gedig terug na die eerste verse in die versameling waar pertinente kleurverwysings na veral wit, swart en rooi (“Eye of the beholder”) die sirkelgang tussen toeval en willekeur voltooi.

die wêreld word al kleiner
tot die laaste kamer
soos ʼn duikpak pas
dat ek spermrats
terugswem tot waar
ek gryswit was.

Soos reeds gesê, word Lombard se digkuns gekenmerk deur genuanseerde, pretensielose verse: eg, eerlik en genotvol. Wat my opnuut getref het, was juis die berekende beheerstheid wat die digter ten opsigte van vormgewing én gelade woordgebruik aan die dag lê; inderdaad delikate verse wat deur ʼn besonder vaardige digter geskryf is.

Nie net is Tussen toeval en willekeur keurig uitgegee deur ʼn uitgewer wat tans ʼn uiters belangrike bydrae tot die Afrikaanse digkuns lewer nie, maar die versameling getuig ook van die digter se voortgesette vakmanskap, en daarvolgens verteenwoordig dit gewis ʼn hoogtepunt in Kobus Lombard se bewese digterskap.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top