Resensie: Trance

  • 0

Trance

Regie: Danny Boyle

Rolverdeling: James McAvoy, Vincent Cassel, Rosario Dawson

Uitdagende flieks met verborge raaisels het in die laaste paar dekades algemeen geraak – ek dink sommer vinnig aan Being John Malkovich, Adaptation, Eternal Sunshine of the Spotless Mind en Inception. In dieselfde kategorie hoort Trance, waarvan die titel dui op hipnose, maar ook op die mallemeule van beelde en waanbeelde wat die kyker meevoer.

’n Skildery van Rembrandt ter waarde van 27 miljoen pond word in Londen opgeveil; die jong afslaer Simon (James McAvoy) is goed opgelei om die sekuriteitsmaatreëls te volg in die geval van ’n rooftog. ’n Rooftog word dan inderdaad ook beplan deur Franck (Vincent Cassel) en sy bende, en dit blyk gou dat Simon hulle man aan die binnekant was. Maar die rooftog loop skeef en ná ’n harde hou teen die kop kan Simon nie onthou waar hy die gesteelde skildery weggesteek het nie. Simon word na ’n hipnoterapeut, Elizabeth (Rosario Dawson), gestuur. En dis wanneer die hipnosesessies begin dat die kyker moet kophou, want Elizabeth krap veel verder in Simon se geheue as net die rooftog.

Eers teen die einde kom ’n mens agter wie werklik vir wie bedrieg het, maar ek is nou nog nie seker hóé dit gedoen is nie, en of die regisseur leidrade verskaf het wat ek nie raakgesien het nie. So, dis eintlik ’n fliek wat jy saam met iemand moet gaan kyk sodat julle ná die tyd notas kan vergelyk.

Die drie hoofakteurs is uitstekend en pas elkeen perfek in die rol, wat betref houding sowel as voorkoms. Ná sy puik vertolking in Black Swan is dit goed om Cassel weer in ’n groot rol te sien. McAvoy se mooi Ierse blou oë verskuil ’n swart hart, maar die film behoort deur en deur aan Dawson.   

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top