Resensie: The Imitation Game

  • 0

The Imitation Game

Regisseur: Morten Tyldum

Spelers: Benedict Cumberbatch, Keira Knightly, Mark Strong, Matthew Goode, Rory Kinnear

Van flieks oor die Tweede Wêreldoorlog het ek lankal genoeg gehad, maar ek het onlangs twee gesien oor onbekende of vergete stukke geskiedenis wat wonderlik interessant is: The Monuments’ Men en nou The Imitation Game. Laasgenoemde is gegrond op die boek deur Andrew Hodges wat in 2012 verskyn het.

Een van die dinge wat kuns weergaloos doen, is om vanuit die spesifieke die universele te belig, en andersom. In hierdie fliek oor die Britse wiskundige Alan Turing word sy persoonlike lyding weens vervolging oor sy gay-identiteit geplaas teen die agtergrond van algemene menslike lyding in die oorlog.

Toe dit lyk of die Duitsers die oorhand kry oor die Geallieerdes, het Turing (Benedict Cumberbatch) hom by die Britse magte gaan aanmeld vir ’n hoogs geheime projek om die Duitsers se Enigma-seinkode te ontsyfer – so by so die Geallieerdes se laaste kans om die oorlog te wen. Turing se werk was deurslaggewend om die vroegste rekenaars te ontwikkel, wat inderdaad bekend gestaan het as “Turing machines”. Hy was ’n briljante wetenskaplike, maar sosiaal só onbeholpe dat hy moeilik die samewerking kon kry van sy spanlede, wie se bydraes tot die projek ewe belangrik was.

Benedict Cumberbatch het reeds beïndruk in die rol van Julian Assange in The Fifth Estate, en met hierdie film vestig hy hom as ’n werklik uitstaande akteur. Sy vertolking van Turing as ’n eensame, gefolterde man gryp jou aan die hart.    

The Imitation Game is meer menslike drama as historiese of oorlogfliek. Dit word hoog aanbeveel.

Sterre:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top