Resensie: Siembamba – immergroen rympies vir kinders, saamgestel deur Wendy Maartens

  • 0

siembamba_rympieboek650

Siembamba: Immergroen rympies vir kinders

Saamgestel deur Wendy Maartens

Illustrasies deur Alzette Prins

ISBN: 9780799370577

As iemand wat, net soos die skrywer, met gediggies en rympies grootgeword het en nou die liefde en lekkerte van rymelary met die volgende geslag deel, het ek by groot dele van Siembamba: immergroen rympies vir kinders aanklank gevind. Die raak lees van my pa se graad 1-gediggie “twee, vier, ses, ag, Mien sit by die hek en wag”, sowel as my eie eerste skoolgediggie, “Klop klop hamertjie, is daar iemand tuis?”, het my laat glimlag en my vlugtig geneem op ʼn nostalgiese reis na my eie grootwordjare. Baie van die gediggies wat ek aan moedersknie geleer het, is mondelings oorgelewer en dit was ‘n lekker verrassing om van hierdie skatte in druk te sien. Die boek is kleurvol geïllustreer en het my plek-plek herinner aan die prentjies in my kinderverseboeke van weleer. My kleuter het die prentjies ook baie geniet, veral omdat dit van die langer rympies se betekenis raakvat en hom gehelp het om meer sin daarvan te maak.

Wendy Maartens het baie moeite gedoen om ‘n groot verskeidenheid gediggies en rympies, uittelrympies, volksliedjies, raaisels en gebedjies in oorspronklike formaat in die boek saam te vat en alhoewel dit vir die immergroen kinders van my generasie (35- plussers) wat met hierdie versies grootgeword het, heerlik is om te lees, is dit ongelukkig ook die argaïese formaat wat groot gedeeltes van die boek vir die nuwe geslag kelder. Met ʼn jong en dinamiese taal en kultuur soos Afrikaans verdwyn en verskyn algemeen-gebruikte woorde blitsvinnig, en van die taalgebruik, woorde, gebruike en speletjies is volksvreemd vir die nuwe geslag kinders. Woorde soos katkisasie, ouderlings, klontjies, tabak en snuif behoort tot ʼn era wat ons kinders nooit gaan ken nie, veral ook omdat van my generasie se kennis weer oorlewerings is van die vorige geslag. Dit het met tye vir my so lank gevat om woorde, gebruike of situasies te verduidelik dat die genot van rympies lees effens getaan het. Die boek word aanbeveel vir kleuters van 3 jaar en op, maar ek dink baie min voorskolers sal aanklank by die verouderde trant en selfs grootmenshumor van die meeste van die rympies vind. Ouer skoolgaande kinders sal meer van die humor verstaan, maar die versies is weer nie op hulle gemik nie.

Heelwat van die raaisels, tongknopers en uittelrympies wat in die boek saamgevat is, het met die nodige verduideliking groot belangstelling en opgewondenheid gewek by beide my kleuter en die kinders wat ek sien vir remediërende lees. Hierdie groep histories-benadeelde kinders, wat wissel in ouderdom van 5 tot 15, het met groot entoesiasme op veral die aksie- en uittelrympies toegesak wat nader aan hul eie Afrikaanse kultuurerfenis lê, en alhoewel mondelingse oorlewering en streekstaal hier en daar woorde of uitdrukkings verander, was dit ‘n wonderlike aanknopingspunt tot die lees en skryf van meer formele gediggies. My eie kleuter het my verras deur een aand “Tien dapper kêreltjies” in die bad op te sê!

Ek vermoed die boek sal ‘n nuttige aanvullende naslaanboek in enige laerskooljuffrou se arsenaal van poësiehulpbronne raak en vir ouers dien as ‘n nostalgiese terugblik wat met hul kinders gedeel kan word. Siembamba: Immergroen rympies vir kinders is egter nie so omvattend soos Opperman se Nuwe Kleuterverseboek of so toeganklik soos My Eerste Rympie Boek nie en die feit dat slegs klassieke Afrikaanse rympies saamgevat is, sonder enige poging tot vernuwing of die insluiting van moderne versies, verminder ongelukkig die trefkrag en impak daarvan, veral in die lig van die verskeidenheid versie- en rympieboekie wat deesdae op die rakke beskikbaar is en waarmee die boek moet meeding.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top