
Saving Mr Banks
Regisseur: John Lee Hancock
Spelers: Emma Thompson, Tom Hanks, Colin Farrell, Paul Giamatti
Die Mary Poppins-boeke staan saam met talle ander op ’n wil-dit-nog-lees-lys in my agterkop. Hierdie besonderse film het my belangstelling só geprikkel dat die storie oor die vlieënde goewernante met die pratende sambreel heelwat plekke opgeskuif het op daardie lys.
Die film is gegrond op ’n ware gebeurtenis (blykbaar taamlik vry vertolk). Sedert die eerste Mary Poppins in 1934 verskyn het, wou Walt Disney dit verfilm, maar die skrywer, Pamela Travers, het verseg dat haar geliefde karakter in ’n verspotte en ligsinnige Pollyanna-tipe verander word. Teen 1961 het sy die geld eenvoudig te nodig gehad en het haar agent haar oorreed om van Londen na Los Angeles te gaan om ’n ooreenkoms met Disney te sluit.
Nou as jy al óóit ’n iesegrimmige, onplesierige, sarkastiese, stywebolip Britse tante in aksie gesien het . . . hier is die een wat alle ander oortref. Mrs Travers (sy het daarop aangedring om só aangespreek te word) het die arme vermaakkoning behoorlik laat bontstaan, met nie die minste waardering vir sy beroemde Mickey Mouse-karakter en sy baie gewilde Disneyland-temapark nie. Mettertyd maak haar gekwelde kinderjare deur middel van drome en herinneringe egter al meer inbreuk op haar samewerking met die filmspan. Disney had self nie die wonderlikste kinderjare nie, en stadig maar seker begin hy haar ingewikkelde verhouding met haar pa ontrafel.
Emma Thompson is eenvoudig wonderlik as PL Travers, met Tom Hanks wat ’n baie oortuigende Walt Disney skep, maar die warm hart van hierdie film is Paul Giamatti as Ralph, Travers se chauffeur. Colin Farrell, wat Travers se pa speel, het my aangenaam verras.
Ek het nooit kon dink dat daar so ’n stewige drama uit Disney se ateljees sou verskyn nie, maar hierdie fliek is regtig die kyk werd.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

