’n Mens sou kon argumenteer dat resensies van kreatiewe werke (van watter aard ook al) ’n onding is. Enige resensent kyk of luister tog vanuit ’n bepaalde voorkeur wat uit sosiale konteks, kultuur, blootstelling en persoonlike smaak gevorm is. Miskien verleen musiek, as die mees onmiddelik-emosionele van kunsvorme, sigself die meeste tot hierdie subjektiwiteit. My voorkeure lê, op ’n paar uitsonderings na, redelik ver van “elektroniese” musiek af – daarom dié klein disclaimer. (Mens hoop tog dat die verantwoordelike musiekliefhebber iets in konteks kan waardeer vir wat dit is.)
AWOLNATION is ’n rekordhouer in die sin dat die groep/kunstenaar1 die tweede langste aan die Billboard Hot 100-ranglys geklou het. Dit is vermag deur “Sail”, die internasionale treffer waarmee AWOLNATION eintlik bekend geraak het, en wat agterna beskou dalk ’n Achilleshiel mag wees. “Sail” het 6x-platinum-status bereik. Let wel: die song, nie die album waarop dit verskyn nie.
Die album self staan so effens in die skadu van sy gunstelingkind, en waarskynlik sal niemand behalwe die grootste AWOLNATION-aanhangers meer as twee ander songs vanaf dié album kan noem nie. Die tweede album, Run, loop miskien ook die gevaar om deur “Sail” se grootse gewildheid gyselaar gehou te word.
Met die eerste luister na Run kan daar darem in Aaron Bruno se verdediging gesê word dat hy nie probeer om “Sail” na te maak nie. Die album is oor die algemeen aangenaam genuanseerd vir elektroniese musiek,2 met ’n donker ondertoon en min liedjies wat dieselfde klink. Dié presedent word gestel deur die openingsnit, wat halfpad in met ’n harde stukkie kitaar verras,3 en opgevolg word deur die veel rustiger “Fat Face” met sy klavierbegronding (’n sagter kant wat deurlopend in die album deur onder andere “I Am”, “Headrest For My Soul” en “Holy Roller” deurgetrek word).4 Die vocals in “Fat Face” is egter growwer, wat vir interessante teenstelling sorg – mens kan Run nie van eentonigheid beskuldig nie.
Gepraat van: die vocals val merendeels vas tussen die uiterstes van óf hard óf sag. Aaron benut sy kenmerkende geskreeuery miskien soms bietjie te veel. Alhoewel mens (net) twee uiterstes kan verwag, word jy tog op jou tone gehou in die sin dat daar redelik onvoorspelbaar en oorspronklik met die twee gegoël word. Die saamsingstruktuur van die meeste snitte en die anthem-agtige lirieke en vocals leen hulself goed tot live shows – iets waarmee AWOLNATION seerseker goed is.
Lang storie kort: ek is verras deur hoe positief hierdie resensie op die ou end is. Run sal oor ’n maand seker nie meer in my spreekwoordelike CD-speler draai nie, maar dis ’n geslaagde eksperiment (met verrassende diepte) wat van integriteit getuig; waarskynlik dié belangrikste musiekbestanddeel.
2 Vooroordeel!
3 AWOLNATION word, onder andere, skynbaar as “electronic rock” geklassifiseer. Vir my is die rock-deel van hierdie benaming meer gevind in die donkerder ondertoon van die musiek, en Aaron se voorkeur vir skree (iets wat sommige kere minder geslaagd as ander is) eerder as in instrumentaliteit.
4 Terloops, ek sal geld daarop sit dat “I Am” baie gewild op die radio gaan wees. Dis baie meer toeganklik as die huidige radio-single, “Hollow Moon (Bad Wolf)”. Laasgenoemde snit, en dié se musiekvideo, is waarskynlik wel baie bewustelik gekies; iets van throwing down the gauntlet vir diegene wat gereken het dat AWOLNATION nie die post-“Sail”-pyp sou kon rook nie.


