| Michael le Cordeur is hoof van die B Ed-program aan die Fakulteit Opvoedkunde van die Universiteit Stellenbosch waar hy Afrikaansonderwys doseer op voor- en nagraadse vlak. Hy het tydens die afgelope US Woordfees diskoerse en teateraanbiedings saam met sy studente bygewoon. Hier deel een van sy studente haar mening oor 'n opvoering wat hul klas bygewoon het. |

Fotobron: https://bijouthebaws.wordpress.com/2013/11/19/what-its-like-to-be-a-guide-dog-the-life-of-bijou-rudolph/
Rondomskrik – ’n oog op die werklikheid
Op 14 Maart 2015 is die Rondomskrik-dramastuk in die Stellenbosch Hoërskool se skoolsaal opgevoer met ’n kykie in die lewe van Antjie (vertolk deur Crystal-Donna Roberts) en haar ontberinge. Met min is baie verrig. Sonder ’n imponerende teater het die akteurs dit reggekry om Antjie se lewe met akkuraatheid en werklikheid aan ’n gehoor uit te beeld.
Dit begin by die einde van Antjie se tragiese verhaal, wat die gehoor nie aan die begin verstaan nie: juffrou Jasmien (vertolk deur Shaleen Surtie-Richards), maak haar skuldgevoel teenoor Antjie, wat sy ervaar sy gefaal het, duidelik en haar gesprek met haar pa (Richard September) verduidelik die motief van die vliegtuig. Die motief word deur die loop van die hele drama gesien.
Die betekenis van die vliegtuig is dat mense met potensiaal gemotiveer word om uit die verdriet van die gemeenskap na ’n beter lewe uit te styg. Gigi (ook vertolk deur Richard September) is ’n voorbeeld van een van die mense wat as kind op die vliegtuig geklim het.
Gigi vertel ook van die “uitkyk-anties”, wat verwys na mense soos juffrou Jasmien Jacobs wat uitkyk vir kinders wat dit nodig het, soos Gigi en Antjie. Hulle sien die potensiaal in die kinders en kyk uit vir hulle sodat hulle nie verpletter word deur omstandighede nie. Die idee van “uitkyk-anties” gee die gehoor hoop dat daar wel mense in ’n gemeenskap is wat “uitkyk” vir kinders wat swaarkry en ook dié met ’n pleegma soos Rose (vertolk deur Lee-Ann van Rooi).
Deurentyd is die gehoor bewus van Antjie se omstandighede en wat met haar gaan gebeur, maar tog laat die skok van die uitbuiting van Rose op Antjie die gehoor verslae. Die doel van die drama is om die werklikheid van wat in ’n gemeenskap kan gebeur, aan die gehoor oop te vlek, maar tog ook elkeen met hoop te laat vir mense soos juffrou Jasmien wat self ’n optelkind is wat uitgestyg het en later self begin “uitkyk” vir ander kinders.
Die akteurs se uitmuntende vertolking van hul karakters het die gehoor aangegryp en sommiges in trane gelaat. Daar is ook geen struikeling oor kras woorde wat bydra tot die uitbeeld van die karakters nie. Die taalgebruik is oortuigend en die kwesbaarheid van die mens word duidelik in die vertolking gesien.
Vier akteurs het al die rolle vertolk, behalwe Antjie en juffrou Jasmien, wat in karakter gebly het. Richard September het nege karakters uitstekend vertolk en Lee-Ann van Rooi het ook meer as een karakter oortuigend uitgebeeld. Die passie en lewe wat in elkeen se stem gehoor kan word, maak die karakters lewend.

