’n Spook in die huis
François Loots
Uitgewer: Umuzi
ISBN: 9781415210055
Dit is byna ’n dekade sedert die gebeure rondom die moord op Anni Dewani daagliks op die voorblaaie van Suid-Afrikaanse koerante verskyn het. Hierdie storie oor die Dewani-egpaar het aanvanklik byna té maklik ingepas by die bestaande diskoerse oor gewelddadige misdaad hier te lande. Mettertyd het die medianarratief verander toe dit begin lyk asof Anni se man, Shrien, dalk by haar moord betrokke was. Tot die media se groot plesier het dit nogal ook geblyk dat Shrien sekere seksuele voorkeure gehad het wat nie strook met konserwatiewe nosies van wat aanvaarbaar is nie. Die res hiervan wil ek nie eens opdiep nie, want dit laat steeds ’n wrang smaak in die mond.
Die besef dat die gebeure rondom hierdie moordsaak denkbeeldig by die gebeure van François Loots se nuutste roman, ’n Spook in die huis, betrek word, kan lesers dus miskien bedug laat. Die wyse waarop die outeur die Dewani-saak by die plot inspan, is egter juis deels om krities te kan kyk na die narratief wat destyds daaroor geskep is. In elk geval is daar meer aan Loots se roman as ’n blote herhaling van ’n bekende moordsaak – sowaar baie meer, en met tye in oormaat.
’n Spook in die huis handel oor twee karakters wie se paaie nooit werklik kruis nie. Paul is ’n nagsub by mediakonglomeraat Dia Dia in Kaapstad en het vanweë die aard van sy betrekking ’n deurmekaar en ongesonde lewe. Tussendeur tye van onderbroke slaap in sy gemakstoel hou hy hom besig met allerhande heerlike gebak. Div se lewe is in baie opsigte die teenoorgestelde: Hy werk by ’n staatsdepartement waar hy die uitgawes van allerhande streekskantore nagaan om te verseker dat die boeke klop, en in sy vrye tyd leef hy sy BDSM-fantasieë uit. Gou word dit egter duidelik dat daar iets is wat elkeen van hierdie karakters jaag. Of, sou ’n mens kon sê, iets spook by hulle. Paul se werk en Div se betrokkenheid op die BDSM-toneel is die ankers waardeur hierdie verhaal aan die Dewani-saak verbind word.
Die ervarings van die protagoniste word deur die loop van die roman toenemend Kafkaägtig. Paul verdwaal byna elke aand in die doolhof van die groeiende Dia Dia (’n taamlik oppervlakkig versluierde parodie van Media24 en Naspers, al word sulke vergelykings in die nawoord van die roman ontken), terwyl Div per abuis die verkeerde lêers aanvra en uitvind dat die korrupsie by sy werkgewer so diep loop dat daar geen bodem aan is nie (inderwaarheid nogal ’n voorstelling van Jan Alleman se dikwels vae begrip van staatsdepartemente). Intussen moet die karakters ook rekening hou met gebeure van ’n persoonlike aard wat dreig om hulle lewens heeltemal te verander.
Benewens die roman se duidelike intertekste en verwysings na die werk van Franz Kafka (wat deur Loots in die nawoord bevestig word) is ’n ander teenwoordige motief dié van die rekenmeester. Ongeag of laasgenoemde interteks soos die Kafkaverwysings opsetlik in die verhaal ingeskryf is, sal baie lesers waarskynlik die tematiek van DJ Opperman se "Ballade van die grysland" (Versamelde gedigte, 1987, Human & Rousseau) herken, al is dit heelwat aangepas vir ’n hedendaagse konteks. In hierdie opsig is die twee karakters in die roman amper teenoorgesteldes van mekaar: Paul lyk aanvanklik byna rigtingloos en laat met die meeste dinge Gods water oor Gods akker loop, en Div se lewe is hoogs geroetineerd en afgehok, soos dit ’n meester van beheer betaam. Dus handel die roman oor die menslike behoefte aan beheer oor ons omgewings en lewens, en origens beheer oor onsself, ons drome en drange – en uiteindelik hoe ons daarmee reken en afreken, want o, die vrees as die rekenmeester kom!
Paul se verhaal is ’n verkenning van spiritualiteit (ja, die naam is simbolies) en die problematiese kant van die nuusmasjien, maar ek kan nie te veel daaroor verklap sonder om die storie te bederf nie. Wat Div se lewe as BDSM-beheerser betref, verdien die roman lof omdat dit nie sensasioneel omgaan met hierdie vorm van seksuele uiting en identiteit nie, en dus daag dit konserwatiewe seksuele normatiwiteit uit. Tog is dit opvallend dat daar met tye ’n soort fetisjering van die fetisj aangetref word, soos wanneer daar gereeld na Div se leefstyl verwys word as "aweregs", of wanneer dié woord keer op keer ingespan word om elemente van so ’n leefstyl te beskryf, soos in die geval van die "aweregse ikoon op sy foon" (’n verwysing na ’n BDSM-gefokuste weergawe van apps soos Tinder of Grindr) (bl 169). Hoewel dit seker nie onrealisties is dat so ’n beskouing van die self posvat by lede van ’n subkultuur nie – dit is immers ’n nodige soort strategiese essensialisme waardeur ’n minderheid hulself met goeie rede wil beskerm – word dit te dikwels herhaal. Ek het naderhand begin voel, ja-ja, ek snap wel, hoor. Die verhaal verval ook so nou en dan in ’n didaktiese toon, al is dit duidelik as gevolg van ’n poging om die tradisionele negatiewe tipering van sadomasochisme teen te gaan: "Duskant jou vrees lê vryheid, maar dít verg wedersydse instemming. Ons leef mos nie meer in die era van die Markies de Sade wie se bloeddorstige fantasieë eens as eroties bestempel is nie!" (86) en "Hy is aweregs en het as jongman dikwels gewonder hoekom hy soveel geweld in hom dra. Uit sy interaksie met ander soos hy het hy geleer dat dit nie geweld is nie, maar ’n erotiese optrede wat van nature kom" (163). Op narratiewe vlak is dit dus ’n geval van the master doth protest too much, methinks, en ek as leser het effens onderskat gevoel.
’n Mens se ervaring van die roman sal grootliks afhang van jou geduld met Kafkaägtige narratiewe truuks en surrealistiese beelde en gebeure. Hoewel daar erken moet word dat die outeur met vaardigheid die benouende aard van verskillende burokrasieë uitbeeld, doen die fantastiese elemente in die roman met tye oordadig aan – veral omdat die moontlikheid van ’n kragdadige kritiese perspektief (op die kleingeestige mag van die staatsamptenary enersyds en kapitalistiese hebsug andersyds) gebuk gaan onder metaforiese beskrywings wat menigmaal opduik. Soos ook die geval is in Loots se Die diepblou see (2017, Umuzi) word seemetafore met oordrewe reëlmaat gebruik. In ’n Spook in die huis begryp ek hierdie verwysings nog minder as met die outeur se 2017-roman, waarin die hoofkarakter darem ten minste ’n swemgewoonte had wat die roman se gebruik van herhalende waterbeelde tot ’n mate geregverdig het. Tydens die lees van ’n Spook in die huis het ek ophou tel hoeveel keer daar na ’n seksuele drang as ’n "deining" verwys word (120, onder vele andere), of hoe gereeld ander beelde van hierdie soort ingespan word: "Oomblikke gelede was hy in die see. Hy het geswem en na ’n lyk gesoek. Hy kon dit nie opspoor nie en het vanuit die see na loodregte kranse opgekyk" (134); "Want die lewe is soos die stormagtige see met sy sleurgetye" (136); "[Hy] staan in koue en nat sand na die see en staar. ’n Bestendige skip, wat ook al die gety is" (137); "’n Jong man wie se lyf reeds aan die brand geslaan het en die dieptes van verborge kerkers en seekastele wil intuimel" (188); en "Daar’s ’n vuur onder in die diepsee. Daar’s ’n vulkaan op die oseaanvloer wat wil uitbars" (233). En dit is werklik net ’n handjie vol hiervan!
Die bogenoemde is lastig, en jammer genoeg het ek verder ’n hele paar taalfoute in die teks aangetref. Dit sluit in die gebruik van "brawe" (12) en "brawer" (227) wanneer "dappere" en "dapperder" bedoel word, en ook ’n paar anglisistiese stelwyses wanneer daar bevestigend gevra word "Jy het?" en "Hy het?" eerder as "Het jy?" en "Het hy?" (96 en 202). Ek kan seker daarvan beskuldig word dat ek al weer ’n taalvos is, maar noukeurige taalversorging bly nou maar eens van belang.
Terwyl die plot van die roman oor die algemeen goed voortbeweeg, verdien die subplots waarin die karakters gedompel word, meer kritiek. Die talle addisionele karakters wat te voorskyn kom – verál die spoke – lei soms na vermoeiende afdraaipaadjies. Daar kan seker aangevoer word dat dit deel uitmaak van die genoemde Kafkaägtigheid van die roman, maar dit het vir my gevoel asof daar té veel stories in die gebak was om alles behoorlik te laat rys. Die persoonlike togte van die karakters en die verband daarvan met die verontmensliking wat hulle by die werk ervaar, skep ’n hele aantal verwagtinge by die leser, maar dit val ’n bietjie plat. Paul en Div se ervarings met gewetenlose, siellose, dog magtige, instansies eindig vir my ’n bietjie laf, en die uitweg uit hulle morele penaries word gevind wanneer hulle hulself bloot vanuit hierdie problematiese sisteme onttrek. Dít is op sigself seker ’n soort stellinginname, maar die roman het vir my te kragteloos afgeloop.