Resensie: My mother’s mother’s mother deur Pieta van Beek en Annemarié van Niekerk

  • 1

Title: My mother’s mother’s mother: South African women’s writing from 17th century Dutch to contemporary Afrikaans
Outeurs:
Pieta van Beek en Annemarié van Niekerk
Publisher:
Leiden University Press
ISBN:
9789087283186

’n Aansienlike korpus Afrikaanse tekste is beskikbaar in Engelse[1] vertaling – waarvan die onlangs hersiene Afrikaans poems with English Translations (Van Coller, Van Vuuren en Viljoen, 2018) maar die punt van die ysberg verteenwoordig,[2] en net in die poësie. Elisabeth Eybers het so vroeg as 1948 ’n keuse uit haar poësie in Engels gepubliseer (kyk Eybers en Kirsch 1948). ’n Konstante stroom vertalings in Engels van veral Afrikaanse gedigte, romans en kortverhale bly verskyn (reeds aansienlik meer as wat tot 2000 opgeteken is[3]) en daar is meerdere skrywers in die Afrikaanse lettere wat al aangedui het dat hulle gelyktydig in twee tale skryf (Afrikaanse en Engelse titels van dieselfde boek word onder die outeur se naam gepubliseer), terwyl titels wat gelyktydig in Afrikaans en Engels gepubliseer word sonder dat een aangedui word as ’n vertaling of verwerking, ook ’n groeiende onlangse gebruik skyn te wees. Wat die kanon beskikbare Afrikaanse letterkunde in Engelse vertaling betref, is dit interessant om te sien hoeveel vertaalde keuses uit die oeuvres van Afrikaanse digters al gepubliseer is,[4] en die lys groei flink wanneer vertaalde enkelbundels ingesluit word, en ook die talle vertaalde gedigte wat geredelik beskikbaar is via webwerwe soos dié van Versindaba, Poetry International en Badilisha Poetry X-change.[5]

Alhoewel die Afrikaanse letterkunde ingesluit word in Engelstalige Suid-Afrikaanse literatuurgeskiedenisse[6] en ook in Engelstalige versamelings Suid-Afrikaanse tekste,[7] is dit eers onlangs dat die eerste literatuurgeskiedenis van Afrikaans in Engels verskyn het: A history of South African literature: Afrikaans literature. Part one: From the 17th to the 19th century (Koch en Ferens 2015). Die pas verskene Engelse vertaling (Jansen 2019) van Ena Jansen (2015) se Soos familie: stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste kan ook hier bygehaal word as deel van die groeiende korpus tekste waarin die Afrikaanse letterkunde en sienings daaroor in Engels beskikbaar gestel word.[8] Dit is in hierdie geselskap van Afrikaanse tekste, literêre perspektiewe, vertalings en internasionalisering dat Pieta van Beek en Annemarié van Niekerk (2019) se My mother’s mother’s mother: South African women’s writing from 17th century Dutch to contemporary Afrikaans tuiskom.

Die doel van die boek word aan die einde van die inleiding soos volg saamgevat (bl 61):

With this book we want to contribute to making Afrikaans and its literature, and in particular the work of female authors, more accessible to interested people abroad, as well as make it possible for foreign scholars to engage with this fascinating language, its development and women’s contribution to its literature.

Alhoewel elke inskrywing in die boek fokus op ’n bepaalde vrou uit ’n bepaalde era en toegelig word deur haar skryfwerk, sodat die indruk dié van ’n literêr-historiese werk is, beklemtoon die skrywers die waarde van die boek as ’n versameling brontekste (waarvan meer as die helfte moeilik bekombaar is) aan die hand waarvan ’n unieke taalontwikkeling bestudeer kan word:

The hybridisation that occurred in South Africa between Dutch (often non-standard or dialectical Dutch) and other European, slave and indigenous languages, and which resulted in the creation of Afrikaans, is a very uncommon language situation. The rarity is especially related to the fact that this originally hybridised language eventually developed into a full-fledged, standardised and scientific language, even into an official language. Afrikaans and its literature therefore present an ideal linguistic laboratory for the study of language change. The texts included in My mother’s mother’s mother offer a bird’s eye view of this development. (33–4)

Die titel van die boek is geneem uit Diana Ferrus se Ons komvandaan en dit word ingespan om die boek te raam as ’n teks waarin dit juis generasies vroue is wat deur hulle skryfwerk aan die woord kom. Dit is hierdie versameling tekste, geskryf in Nederlands (en vervormings daarvan) en in Afrikaans (en vroeë vorme daarvan) en waarin vrouens in Suid-Afrika hulle lewens, belewenisse en waarnemings verwoord, wat die gloeiende kern van die boek uitmaak. Mens hoef nie met ’n navorsingsbelangstelling te lees om die fassinerende skryfwerk in die boek te geniet nie. Die vroeë tekste sluit handskrifte van egodokumente (briewe, dagboeke, reisjoernale, ’n rekeningboek) en ook godsdienstige liedere (“hymn poems”, 246) en gedigte (geleentheidsgedigte ter herinnering en viering, akrostiese gedigte en anagramme) in. Deur hierdie tekste word ’n narratief geweef waardeur die leser ’n ruim blik verkry op daaglikse roetine, persoonlike belewinge, reise, verskillende samelewings en gebruike en die verloop van sosiopolitieke en ruimtelike veranderinge en ontwikkeling aan die suidpunt van Afrika sedert koloniisering. Alhoewel die literêre tekste wat in die tweede deel van die boek opgeneem word (dis tekste ná 1925), nie in die eerste plek egotekste is nie, sluit dit tematies heg aan by die narratief wat in die eerste deel begin ontvou. Dit is steeds vroue aan die woord, een generasie ná die ander, en in ’n Suid-Afrika waar die ruimtes en stemme bly verander.

Alhoewel My mother’s mother’s mother sterk steun op die skryfwerk van die vroue wat in die boek aan die woord gestel word, is die boek meer as net ’n bloemlesing. Die inleiding bied ’n blik op die historiese tydperk wat die tekste verteenwoordig en is geskryf uit die perspektief van koloniale en amptelike tale en taalontwikkeling. Elke profiel bied ’n bondige biografiese oorsig wat skrywer en teks sosiokultureel sowel as literêr-histories plaas. Hierna volg dan die tekste wat gekies is om die skrywer, die tyd, die sosiopolitieke ontwikkelinge te illustreer. Hierdie pragmatiese manier waarop ’n magdom materiaal georganiseer en beskikbaar gestel word, dra daartoe by dat die boek wel as navorsingsbron geraadpleeg kan word – vir vrouestudies, literatuurgeskiedenis en literatuurstudie, vir voorbeeldmateriaal oor taalontwikkeling, vir studie oor sosiohistoriese en sosiopolitieke gebruike en ook as bron met beskrywings van die samelewing en die landskap. Waarmee die skrywers geluk gewens en voor bedank moet word, is dat hulle daarin slaag om daardie dele van die boek waarin die primêre skryfwerk ingebed word, eweneens soos ’n ontvouende storie te laat lees. Die trant van die skrywers se skryfwerk is nie te gelade of formeel nie, sonder dat dit integriteit of diepgang inboet – ’n groot wins vir die toeganklikheid van die boek. Ten spyte van die verskeidenheid stemme en tale deur eeue heen, snoer die bindingsteks My mother’s mother’s mother saam, sodat die boek soos een groot narratief lees. Die storie wat deur die bykans 1 000 bladsye heen ontvou, is die storie van vroue uit Suid-Afrika: van Krotoa tot Kamfer. Krotoa, wat Eva genoem is, en wat ons leer ken deur die optekenings wat Van Riebeeck in die 1650’s van haar woorde gemaak het. Sy wat so flink Nederlands aangeleer het dat sy die eerste tolk en enigste vroulike lid van Van Riebeeck se handelsekspedisies (126) was. En drie en ’n half eeue later: Kamfer, as verteenwoordiger van die bruin vrouestem in Afrikaans (879).

Maar drie en ’n half eeue is lank en minder as 1 000 bladsye is kort. In die uitgebreide voorwerk motiveer die skrywers die benadering tot die boek en die afbakening van die inhoud. Dit is in die eerste plek ’n blik op “Dutch and Afrikaans writing by women of South Africa” (21):

The lives, concerns and experiences of these women are tracked by following the trails of their words and writing – from the earliest Dutch texts written on South African soil up to contemporary Afrikaans texts of all genres (except plays, a genre from which it is difficult to select comprehensible excerpts).

Om die omvang te beperk, is gekies is om in die eerste deel (tekste voor 1925) die klem op die onbekende te laat val – sodat vroue en hul werk oor wie reeds navorsing gepubliseer is, nie opgeneem is nie (27). Waar onbekendheid van ‘n skrywer en moeilik bekombare tekste gebruik is as een van die riglyne vir insluiting in die eerste deel, is die meeste van die skrywers en tekste in die tweede deel, wat die tydperk ná 1925 dek, bekend as gepubliseerde skrywers. Die skrywers motiveer hulle keuse as “intentionally follow[ing] the lines along which women’s literature changed over the centuries” en noem dat die tekskeuses gemaak is op grond van elemente “representative of a writer’s work, or an extraordinary feature of her work” terwyl ook “literary merit” gebruik is in die strewe daarna om ’n “justifiable or representative image of Afrikaans literature” (28) te bied. In ’n voetnoot word 43 name gelys van Afrikaanse vroueskrywers, “to name just a few”, wat die skrywers graag sou wou ingesluit het (28–9). ’n Werk soos hierdie sou kon gekies het vir ’n omvattende en insluitende benadering, en sou dan byvoorbeeld in meerdere bande kon verskyn het. In My mother’s mother’s mother was die keuse om die narratief te weef deur daardie vroue en hul tekste wat as verteenwoordigend en illustratief beskou word, te kontekstualiseer, te vertaal en te bundel.

Die boek stel dit spesifiek dat dit ’n groter gehoor wil bereik, en ’n waardevolle hulpmiddel hiertoe is die toeligtende voetnote. Was die boek slegs op die literatuurgeskiedenis afgestem, sou ’n woord soos “capons” (uit Johanna Maria van Riebeeck se notas oor voedselvoorrade: “Bataviase ... kapoenen”, 151) waarskynlik nie toegelig gewees het nie. Binne die konteks van die Kaap as verversingstasie en lysies wat vrouens oor kos gemaak het vir die lang seereis na Europa, is die voetnoot wat voorsien word, wel verhelderend – nie enige hoender uit Batavia nie, maar “a cockerel or rooster that has been castrated to improve the quality of its flesh for eating” (ibid).

Die titel by elke profiel gee vooruit ’n aanduiding van hoe die skrywer se werk hier geraam word. Dat dit nuuskierigheid prikkel en soms selfs ’n glimlag (van instemming, van afwagting) ontlok, strek die skrywers tot eer. Illustrasies hiervan by die vroeë werk is byvoorbeeld: “Interpreter, beautiful maiden, malicious woman” (Eva/Krotoa); “A mother of Israel at the Cape” (Machteld Smith); “A shining light in a remote region” (Magdalena Jonker); “Like a bush in the desert” (Catharina Allegonda van Lier); en “Your father is already so infatuated with you” (Maria Hamman ea). Met in die tweede deel: “Women you will not find in Vogue” as opskrif by die werk van Rachelle Greeff; die tong-in-die-kies “The ‘French Connection’” (Maritha van der Vyver); die akkurate “Juggler of genres and virtuoso in all” vir Marlene van Niekerk; en “Changing the pale face of Afrikaans poetry” vir Ronelda Kamfer.

Wanneer die titels van die inskrywings opeenvolgend gelees word, bied dit ook ’n interessante blik op die historiese chronologie van die galery vroue wat in Afrikaans skryf – en in kontras met ordenings volgens debuutdatums waar die plasing afhang van wanneer ’n vrou gedebuteer het: op 18 of eers teen 48. Deurgaans word die leser bewus gehou van die verloop van sake deur generasies heen. Vergelyk byvoorbeeld die titels: “Developing and educating her people” (MER); “The first Afrikaans writer on feminism” (Marie du Toit); “The first female doctor in South Africa (Petronella van Heerden); en later: “First woman of colour to publish a book in Afrikaans” (EKM Dido). Deur die loop van die boek word op heelwat eerstes (deurbrake) gewys, soos Krotoa wat die eerste tolk was; soos die eerste gedrukte teks van ’n vroueskrywer wat onder haar eie naam verskyn het (Johanna Grobbelaar – presies 100 jaar ná die eerste drukpers in Suid-Afrika aangekom het); die eerste Suid-Afrikaanse vrou wie se werk gedurende haar leeftyd gepubliseer is (alhoewel anoniem, naamlik Petronella Camijn); die eerste vrou met ’n permanente pos by ’n koerant of tydskrif (Ella Neethling). Die lys loop aan:

  • “first women editor” van Die Burger (MER)
  • “first medical thesis written in Afrikaans” (Petronella van Heerden in Amsterdam)
  • “first female poet to publish a volume of poetry in Afrikaans” (Elisabeth Eybers)
  • “first female poet to receive the prestigious Hertzog Prize” (Elisabeth Eybers)
  • “first woman to explicitly introduce the Jewish voice in Afrikaans poetry – a substantial and significant contribution” (Olga Kirsch)
  • “first Afrikaans novel ever” to win the “prestigious Noma Award [for publishing in Africa]” (Triomf, Marlene van Niekerk)
  • “first poet in South Africa to explicitly write about lesbian sex” (Joan Hambidge)
  • “first female Afrikaans crime writer of colour” (Bettina Wyngaard).

My mother’s mother’s mother is ’n seminale boek in omvang en aanbod. Die lees daarvan lewer meer verrassings op as hierdie lysie eerstes en dit gryp nie net die leser se verbeelding aan nie, maar is ook aangrypend om te lees. Dit bied ’n tot nog toe ongeëwenaarde perspektief op Suid-Afrikaanse vroueskrywers en hulle geskrifte – in Nederlands, in Afrikaans, en hier nou ook toeganklik gemaak in Engels.

Verwysings

Attwell, D en D Attridge (reds). 2012. The Cambridge history of South African literature. Cambridge: Cambridge University Press.
Brink, AP en JM Coetzee (reds). 1986. A land apart: a South African reader. Londen: Faber.
Cope, J en U Krige (samests), 1968. The Penguin Book of South African Verse Paperback. Londen: Penguin.
France, P (red). 2000. The Oxford guide to literature in English translation. Oxford: Oxford University Press.
Jansen, Ena. 2015. Soos familie: stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste. Pretoria: Protea Boekhuis.
Jansen, E. 2019. Like family: domestic workers in South African history and literature. Johannesburg: Wits University Press.
Joubert, M (red), Andre P Brink (samest) en JF Cilliers ea (verts). 2014. In a burning sea: Contemporary Afrikaans poetry in translation. Pretoria: Protea Boekhuis.
Koch, J en D Ferens (verts). 2015. A history of South African literature: Afrikaans literature. Part one: From the 17th to the 19th century. Pretoria: Van Schaik.
Toerien, B (samest). 1998. Afrikaans literature in translation: a bibliography. 2de hersiene uitgawe Kaapstad: Tafelberg.
Van Coller, HP, H van Vuuren en L Viljoen (samests). 2018. Afrikaans poems with English translations. 2de uitgawe. Pretoria: Protea Boekhuis.

Gepubliseerde werke wat keuses uit die oeuvres van Afrikaanse digters bied, in Engels vertaal

Breytenbach, B en AJ Coetzee (reds). 1978. And death white as words: an anthology of the poetry of Breyten Breytenbach. [Tweetalige teks met Engelse vertalings (uit die Afrikaans). Verskeie vertalers.] Londen: Collings; Kaapstad: David Philip.
Breytenbach, B en D Hirson (vert). 1978. In Africa even the flies are happy: selected poems 1964–1977. Londen: Johan Calder.
Cussons, S. 1985. Poems: a selection. [Outeur se vertaling. Parallelle publikasie.] Kaapstad: Tafelberg.
Eybers, E en O Kirsch (verts) 1948. The quiet adventure: Selected poems with English translations. Johannesburg: Constantia. 
Hambidge, J en CJF Cilliers, J de Lange, J Nel en DR Skinner (verts). 2018. The coroner's wife: poems in translation. Kaapstad: Dryad Press.
Jonker, I, J Cope en W Plomer (verts). 1968. Selected poems. Londen: Cape.
Jonker, I, AP Brink en A Krog (verts). 2007. Black butterflies. Kaapstad: Human & Rousseau.
Jonker, I en S Jonker (vert). 2019. Waterfall of moss and sun. Sl: Minimal Press.
Knobel, W (samest), G Ulyatt, T Ulyatt en CJF Cilliers (verts). 2015. Die ongewapende man op 80 – in vertaling. Kaapstad: Bel Monte.
Krog, A. 2000. Down to my last skin. Johannesburg: Random House. [Vertaal deur die skrywer.]
—. 2013. Skinned. Johannesburg: Random House; New York: Seven Stories. [Uitgesoek en vertaal deur die skrywer.]
Louw, NP Van Wyk en A Small (vert). 1975. Oh wide and sad land: Afrikaans poetry of NP Van Wyk Louw. Kaapstad: Maskew Miller.
Marais, EN en AE Thorpe (vert). 1956. Gedigte – Poems. Pretoria: JL Van Schaik; Johannesburg: Witwatersrand University Press.
Müller, P. 2006. Night crossing. Kaapstad: Tafelberg.
Stockenström, W en J de Lange (vert). 2009. The wisdom of water: selected poems. Kaapstad: Human & Rousseau. [Inleiding: Tim Huisamen.]
Van Heerden, Ernst en J Branford (vert). 1986. The runner and the shadow: a selection. Kaapstad: Tafelberg.
Vos, CJA en L de Kock (vert). 2011. Duskant die donker - Before it darkens. Pretoria: Protea Boekhuis.

 

Voetnote
[1] Hier word slegs na Engels verwys, aangesien dit die taal is waarin My mother’s mother’s mother gepubliseer is.

[2] In 2004 het die eweneens parallelle publikasie van Afrikaanse gedigte met Engelse vertaling, In a burning sea: Contemporary Afrikaans poetry in translation (Joubert, Brink, Cilliers ea 2004), reeds 14 meer digters se werk verteenwoordig as wat teen 2018 in Afrikaans poems with English translations opgeneem is (Zandra Bezuidenhout, Martjie Bosman, Marius Crous, Johann de Lange, Gilbert Gibson, Tom Gouws, Marlise Joubert, Johan Myburg, Carina Stander, Wilma Stockenström, Dolf van Niekerk, Ilse van Staden, Cas Vos en MM Walters).

[3] Dit is reeds twee dekades sedert die hersiene Afrikaans literature in translation: a bibliography (Toerien 1998) verskyn het, en Peter France (2000) se The Oxford guide to literature in English translation is ook verouderd.

[4] Vergelyk die gepubliseerde versamelings vertalings van onder andere Breytenbach (twee in 1978), Cussons (1985), Eybers (1948), Hambidge (2018), Jonker (1968, 2007, 2019), Krog (2000, 2013), Knobel (2015), Louw (1975), Eugène Marais (1956), Müller (2006), Stockenström (2009) en Ernst van Heerden (1986). Kyk aparte bibliografie.

[5] Kyk http://versindaba.co.za/category/vertalings-translations; https://www.poetryinternational.org/pi/poems/filter/language/Afrikaans/page/0/en/tile; en http://badilishapoetry.com/?language=afrikaans.

[6] Kyk byvoorbeeld die onderskeie bydraes van De Kock, Olivier, Van Coller, Viljoen en Willemse in Attwell en Attridge (2012) se The Cambridge history of South African literature.

[7] Byvoorbeeld Cope en Krige (1968) of Brink en Coetzee (1986).

[8] Ook die talle akademiese artikels wat in Engels oor die Afrikaanse letterkunde geskryf is en word, moet hier verreken word.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Annemarié van Niekerk

    Dankie Karen de Wet vir ‘n deeglike lees en weldeurdagte resensie van ‘My mother’s mother’s mother’.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top