Resensie: Mooier as Marilyn deur Anita du Preez

  • 0

Titel: Mooier as Marilyn
Skrywer: Anita du Preez
Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795801907

Mooier as Marilyn is ’n vermaaklike, hoewel frenetiese, blik op hoe vrouens reageer nadat hulle verkul is en hoe ’n wraakbende vrouens een man se lewe donker en duister wil maak. Nié ’n teks wat jy met ’n polities korrekte bril van vrouebemagtiging, soos deur vroueregte-pleitgroepe voorgestaan, moet lees nie, want die vryheidstryd draai veel meer rondom uitskoponderrokke, vloeibare oogomlyner en ikone soos Marilyn Monroe en Lady Anne Barnard as om saam te kom om wette te verander.

Vir die soveelste keer wentel ’n boek rondom die vraag oor of daar lewe na ’n egskeiding is. Hierdie verhaal bied die kitsantwoord: Ja, mits jy ’n Uber kan nader haal, genoeg lugtyd het om ’n WhatsApp-boodskap betyds te stuur en jou selfaangestelde lewensafrigter, die altyd beskikbare selfoon-Siri, te raadpleeg. Wat is die lewe sonder tegnologiese foefies en katoeters?

Dr Desiree de Lange (oftewel Van Vuuren ná die skille van haar oë af geval het) se vervelige doktersvroubestaan kom tot ’n einde wanneer haar chirurg-eggenoot die kat in die donker knyp. Haar eie doktorsgraad in geskiedenis het lank reeds in die vergetelheid van ’n dienende Martha vergaan. 

Net daar begin die gerits van een Kaapse restaurant na ’n volgende en die onwaarskynlike blik op die band wat daar tussen vrouens ontstaan as gevolg van één man. Om hul wraakstrategie te laat slaag, hou hulle vergadering, bak en brou saam en pas mekaar se keffers op. Nou nie juis Thelma and Louise nie.

So ontvou die lewens van te veel kartonkarakters wat dikwels papierdun met rekwisiete soos klere en musiek gekarakteriseer word en net te komkommerkoel is om uit hul stereotipes te ontsnap. 

In terme van die teksversorging kon daar dalk meer dikwels alternatiewe vir “flippit” gewees het. Ook die dokterheld se dialoog val swaar en vals op die oor: “Ai Desiree, ek het gedink ons kan gesels. Oor alles. Ek het nie gedink jy sal vanaand hier rondstaan soos ’n halfbesope has-been-aktrise met dialoog uit ’n L’Oréal-advertensie nie” (63). Ek ken nie Kaapse medici of selfs media-tipes uit Johannesburg wat só praat nie, maar miskien het ook ek ’n identiteitsverandering nodig.

Die teks loop soos stroop sodat die verhaal se pas vinnig en op ’n drafstap in hoë hakkies op Kaapse keistene is. Die skrywer is stewig in beheer van elke vrouekarakter se kenmerkende dialoog. Klere, mode en veral die vintage-gier in Kaapstad en waar om in die glipstroom van Obs haute couture te gly, speel ’n groot rol. Die klem op hoe mens se haarkapper jou identiteit kan bepaal (“Om blond te word is nie net vir haar dye nie” (56)) en dat die regte skoene jou toekoms kan verander, gee mens so ’n heerlike gevoel van aspirasie soos wanneer jy op ’n Sondagmiddag ’n goeie glansvrouetydskrif gelees het. Die slagspreuk “styl is alles” oorheers veral die lewe van die koopgierige Christine, wie se longsiekte vir die hoofkarakter Desiree ’n dryfveer word om haar selfaangestelde alter ego, Marilyn Monroe, soos ’n after-the-fact groupie te gaan navors. Christine is ammal-se-pel wat jou deur dik en dun met haar geduldige kredietkaart en lewensraad sal bystaan.

Die openingstoneel en eerste hoofstuk oortuig die leser reeds dat hierdie teks ’n wipwaentjierit is en sit die boek se tema duidelik uiteen: die soeke na identiteit. Alhoewel die oppervlakkighede van so ’n soeke veral in die hormoonstormjare die verhaallyn dryf, is daar hier en daar ’n dieper blik op hoe mens op vir-ewig-vyf-en-dertig wel jou lewe in ’n oogwink kan verander wanneer jy die charades van jou lewe beëindig.

Name van karakters gee reeds ’n aanduiding van wat die skrywer wil kommunikeer met die hoofkarakter wat haar begeertes en drome moet definieer as Desiree en Christine wat eers Ina was.

Die liefdestonele is stoomwarm en meer as ’n lusmakertjie (“ ... dit maak die stripper in enige vrou los” (222)). Die skrywer behoort eintlik meer dikwels haar karakters tussen die lakens te kry, want sy weet hoe liefdestonele op ongebreidelde begeertes met post-koïtus Calvinistiese aanvalle werk en is bedrewe om enige drifblussers, soos agtergrondmusiek, weg te werk wanneer haar hoofkarakter se hormone, soos vir haar Jan Ellispoeding, telkens omgeklits word (“Ek leun terug teen sy bors asof ek smelt” (224)).

Die manne word goed teen mekaar afgespeel, met ’n poniestert-restauranteienaar teenoor die kliniese chirurg. Hulle ondergaan darem ook self ’n identiteitsverandering of twee danksy die verlede wat hulle gerieflikheidswys en sepieteksgewys vir die verhaal se nadraai inhaal. Soos die inleidingsin juis sê: “Die lewe vat en gee mos.”

Te veel onnodige storielyne, soos die skelmpie se eggenootintriges, deurlopende insetsels (e-posse met spyskaarte) en onfunksionele newekarakters, soos die stiefdogter se bestie, fragmenteer die verhaal en die skrywer kon eerder op haar sterk punt gekonsentreer het: om te skryf oor die bevryding van ’n vrou wat haar seksualiteit ontdek (“die soet plekke in my lyf” (280)). ’n Opvolgboek met dié tema uit haar pen sal welkom wees vir ’n wintermiddag se innige lees op ’n stoep met soveel uitsigte as wat daar in die 281 bladsye lofsang aan Kaapstad is.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top